Deel

Bekroonde skrywer Jay Shetty wil jou dié keer wys hoe om liefde te vind en te behou

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Almal soek na ware liefde, na daardie een lewensmaat wat voldoen aan ’n mens se verwagtinge oor die liefde. Die vraag is of daardie verwagtinge oor die liefde realisties is.
Die skrywer Jay Shetty tydens ’n praatjie in 2022.
Die skrywer Jay Shetty tydens ’n praatjie in 2022. Foto: Getty Images.

In sy nuwe boek, 8 Rules of Love, beskryf Jay Shetty sy eie reis met die liefde en bespreek sy navorsing oor liefde en alles wat verband hou met romantiese verhoudings.

Dis nie die skrywer se eerste boek waarin hy die wyshede deel wat hy op sy lewensreis opgedoen het nie. In sy no.1-topverkoper, Think Like a Monk, gaan dit oor kalmte in jou eie gemoed en hoe om met dankbaarheid te leef.

Dié boek is gegrond op sy eie ervaring toe hy vir drie jaar ’n Hindoe-monnik was. Vir sy nuwe boek oor die liefde put hy weer uit sy studies van daardie tyd.

 
liefde

Sy uitgangspunt is dat niemand ons leer hoe om regtig lief te hê nie. Dikwels is ons opvatting oor liefde gegrond op romantiese rolprente, boeke en popkultuur wat eintlik onrealistiese verwagtinge by ons skep. Of ons kyk hoe mense in verhoudings rondom ons optree, wat nie altyd perfek is nie.

Van buite af lyk verhoudings baiekeer rooskleurig, terwyl dit alles behalwe die geval is.

Hy vertel hoe hy die mees romantiese afspraak gereël het om sy geliefde te vra om te trou. Nadat hy die duurste diamantring gekoop het, het hy haar gevra om saam met hom langs die Teemsrivier te gaan stap.

Op ’n plek met ’n mooi uitsig het ’n man haar verras met ’n ruiker blomme. Terwyl sy nog ‘oe’ en ‘aa’ oor die blomme begin ’n a capella-koortjie Bruno Mars se liedjie, Marry you, te sing.

Shetty, op sy knie, het haar gevra om met hom te trou. Sy het onmiddellik ja geantwoord. Albei het so ’n bietjie gehuil, voordat hulle by ’n tafeltjie (wat hy vooraf daar geplaas het) aangesit het om aan ’n veganistiese maaltyd te smul.

Maar dit was nie die einde nie! Toe hulle ná al die opgewondenheid terugstap, het ’n perdekar hulle ingewag vir die rit na haar ouers se woning om die goeie nuus te deel.

Wat eintlik ’n wonderlike en romantiese afspraak moes wees, het egter vinnig rampspoedig geword. Sy geliefde is allergies vir perde en het in rooi kolle uitgeslaan, met die gevolg dat haar eerste woorde aan haar ouers oor haar allergiese reaksie was, en nie die wonderlike nuus dat sy verloof is nie.

Toe Shetty mooi dink oor die afspraak het hy besef hy het alles beplan volgens wat hy gedink het sy geliefde wil hê. Maar eintlik hou sy nie van groot openbare gebare nie, ook nie van diamante nie. En sy sou eerder ’n warm en smaaklike ete in ’n restaurant wou eet as die koue, smaaklose ete wat afgelewer is.  

Hy erken hy was baie gelukkig, want “Rahdi said yes and never complained about any of it – but my proposal wasn’t particularly personal. [. . .] The hives were a gentle hint that I didn’t know what I was doing; that I should think about the person standing in front of me instead of the images of faitytale love that constantly bombard us.”

Vanuit hierdie perspektief benader Shetty in sy nuutste boek die liefde en wat liefde eintlik moet behels. In die vier dele bespreek hy die agt reëls wat hy vir die liefde het.

Hy skop dan ook af met hoe jy eers moet leer om alleen te bestaan en dat jy jouself goed moet ken, voordat jy holderstebolder in ’n verhouding inboender.

liefde

Alles wat hy skryf maak sin, want van die eerste reël af lei hy jou deur die hele komplekse verhoudingsiklus, van die eerste afspraak tot om saam in ’n woonplek in te trek, tot hoe om ’n verhouding te beëindig en hoe om weer van voor af te begin.

Hy skryf toeganklik en gebruik voorbeelde uit sy eie lewe of gevallestudies waaruit die leser die toepassings van die reëls kan sien vorm aanneem. Die boek bevat ook praktiese oefeninge waardeur jy kan werk om jou vaardighede en kennis oor die liefde te slyp.

Al is jy ’n ou getroude en al het die vlam van die romantiese liefde getaan tot net ’n vonkie, sal jy iets kan leer wat jou kan help om opnuut die vuur in jou verhouding aan te steek.

Vir jonger lesers wat nog soek na ’n pasmaat, sal dit nuttige inligting wees wat hul vrae oor die liefde kan beantwoord. Selfkennis en realistiese verwagtinge, nie die Disney-soort nie, is ’n goeie eerste tree op jou soeke na daardie ridder op sy wit perd, of die prinses in haar kasteel! 

‘8 Rules of Love: How to Find it, Keep it, and Let it Go’ deur Jay Shetty is uitgegee deur Thorstons (HarperCollins) en kos * R350.

* Prys kan verander sonder vooraf kennisgewing.

JONGSTE UITGAWE

Mei/Junie-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees