Deel

Bekroonde skrywer praat openlik oor eie geestesgesondheid

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die jong skrywer An-Mari do Carmo is onlangs met outisme gediagnoseer en sy ly ook aan depressie. Vir haar is dit belangrik om haar stem as skrywer te gebruik om oop te wees oor geestesgesondheid en neurodiversiteit, omdat daar nog soveel stigmas, stereotipes en wanopvoeding bestaan – selfs in ons moderne eeu.

Haar jeugboek, Toe als groen was, (Luca, *R250) is bekroon as die wenner van die 2023 Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys vir debuutwerk.

Dié verhaal is geïnspireer deur An-Mari se eie ervarings van haar jeugjare as besoeker by KwaSizabantu en later as leerder by die Sendingskool op KwaSizabantu.

Die beoordelaars van die prys se kommentaar oor An-Mari se boek was:  “Hierdie verhaal gebaseer op die KwaSizabantu Sending, hanteer op ’n besonderse wyse die teologiese kwessies wat jongmense pla en daar word op ’n subtiele manier gewys hoe ’n alternatiewe verstaan van geloof kan lyk. Hierdie is sonder twyfel ’n briljante – en dapper – debuutroman, ontroerend en hoopvol. Dis ’n jeugroman wat lesers van alle ouderdomme sal aanraak.”

 
geestesgesondheid

Op die vraag waarom sy so sterk voel om openlik oor haar geestesgesondheidskwessies te praat, antwoord An-Mari: “Baie mense glo byvoorbeeld nog dat depressie en angs sonde is, maar jou brein is ’n orgaan net soos enige ander orgaan in jou liggaam.

“En net soos enige ander orgaan kan jou brein soms ongesteld raak, en dan het jy behandeling nodig – of dit nou in die vorm van leefstylveranderinge, terapie, medikasie of wat ook al is.

“Hoekom is dit normaal om vir ’n longkwaal of gebreekte arm professionele hulp te soek, maar as jy dit vir ’n geestesongesteldheid doen is jy ‘swak’ of ‘sondig’? Dit maak nie vir my sin nie.”

Volgens haar geld dieselfde vir neurodiversiteit soos outisme, ADHD en disleksie.

“Daar is soveel jongmense wat ongediagnoseer bly omdat hulle nie soos die stereotipes voorkom nie; so baie jongmense wat daarvan beskuldig word dat hulle net lui is of nie hard genoeg probeer nie, terwyl hulle brein eintlik net bietjie anders funksioneer as wat ’n tipiese skoolopset vereis.

“Verbeel jou jy moet in ’n klaskamer doodstil sit en konsentreer, maar jy is pynlik bewus van dosyne sensoriese elemente: Nie net die onderwyser wat praat nie, maar ook die onderwysers in al die klasse rondom jou, iemand wat hoes, iemand wat neus blaas, die geritsel van potlood op papier, jou hemp se kraag wat jou wurg, jou skoene wat jou druk, die reuke van skoonmaakmiddels en iemand se gekookte eiers in hul kosblik en twintig ander kinders se spuitgoed wat meng, jou selfoon wat in jou sak vibreer . . .

“Verbeel jou jou brein is van alles om jou bewus en moet alles gelyk probeer verwerk. Dit veroorsaak ‘sensory overload’. Baie neurodiverse mense, soos ek self, kan nou weer glad nie konsentreer as ek nie my hande kan besig hou deur notas te neem of met ’n ‘fidget toy’ of met my hare te speel nie, maar ek is dikwels op skool aangespreek omdat die onderwysers wou gehad het ek moet doodstil sit en ‘ophou vroetel’.

“Om ongediagnoseerd deur die lewe te gaan, beteken jy voel altyd asof jy nie goed genoeg is nie; asof jy gebreek is; asof daar iets fout is met jou. Ongediagnoseerde neurodiversiteit lei amper altyd na erge angs en/of depressie.

“Wanneer mense aan outisme dink, is die beeld wat opkom dikwels nog een van ’n jong seuntjie wat in ’n hoekie sit en wieg en skree as iemand aan hom wil vat. Dis ’n baie nougesette en verouderde siening daarvan.

“Wat ek vir mense probeer wys, is hoe wyd die outistiese spektrum is. Daar is natuurlik sekere eienskappe wat kenmerkend van outisme is en waarmee amper alle outistiese mense sukkel, maar elke persoon het unieke uitdagings.

“Ek wil my daaglikse lewe as ’n outistiese persoon deel; nie net die uitdagings nie, maar ook die goeie dele. Want ja, daar is goeie dele – soos my vermoë om op ’n taak te hyperfocus en om intense belangstellings te ontwikkel sodat daar baie diverse onderwerpe is waaroor ek kennis het.

(Ek het nog baie meer hieroor te sê, maar ek kan mense dalk sommer na my blog verwys waar ek onlangs twee plasings juis hieroor gedoen het: https://www.anmaridocarmo.co.za/blog)

geestesgesondheid

Jou boek is onlangs aangewys as die wenner van die 2023 Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys vir debuutwerk. Hoe het dit gevoel toe jy die nuus kry?

Die nuus het ’n rukkie geneem om in te sink! Dis ’n baie groot voorreg om hierdie prys te ontvang, en ek sien uit na die funksie die 26ste Mei. My hoop is altyd dat enige tipe bemarking en blootstelling sal help om lig te werp op die hartseer realiteit wat by KwaSizabantu Sending bestaan.

In die skrywersnotas agterin jou boek skryf jy dat jy in graad tien besluit het om na die Sendingskool op KwaSizabantu te gaan. Waarom toe en waarom daar?

Ek het grootgeword as deel van KwaSizabantu (KSB) en ons het gereeld daar gaan kuier, alhoewel ons op ’n plaas in Noordwes gebly het.

Ek en my broer het tuisskool gedoen, maar as tiener wou ek graag ’n onderwyseres word en ek het gevoel ek moet darem ’n bietjie ervaring in ’n “regte skool” hê.

Omdat ons deel was van KSB was hul skool, Domino Servite School, die natuurlike keuse: Enige ander skool was te “wêrelds”, is ek geleer. Noudat ek ouer is en terugdink daaroor besef ek my keuse was meer gebaseer op die feit dat ek my hele lewe lank gevoel het ek is nie “goed genoeg” nie.

’n Deel van my het gedink dat as ek KSB toe gaan en daar bly vir ’n paar jaar, sal ek uiteindelik ’n goed genoeg Christen word.

Wat het jou gedryf om die boek te skryf? En waarom juis ’n fiktiewe jeugverhaal en nie ’n outobiografie nie?

Daar was baie dinge wat bygedra het tot my besluit om die boek te skryf. ’n Groot deel daarvan is werklik dat ek voel die Here het my daartoe gelei. Efesiërs 5:10-11 het swaar op my hart kom lê: “Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is, en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak.”

Ek het geweet ek kon nie langer stilbly nie, maar ek moes my deel doen om die aaklige dinge wat KwaSizabantu doen aan die kaak te stel.

Om dit in die formaat van ’n storie te doen, was vir my die natuurlikste ding op aarde. Skryf en stories en boeke was van kleins af my grootste liefde, my ontvlugting. Ek het nog altyd geweet ek wil eendag ’n boek skryf.

Ek dink baie skrywers, of hulle dit nou wil erken of nie, put maar tot een of ander mate inspirasie uit hul eie lewens, maar dit was eintlik my Skryfkuns-dosent op die PUK, Prof. Franci Greyling, wat my eerste aangemoedig het om hierdie storie te skryf.

So, ek het al vir jare geweet ek wil ’n storie oor KSB skryf, maar ek kon net nooit die regte invalshoek kry nie. Ek het daaraan gedink om dit as ’n outobiografie of memoires te skryf, maar ek het geweet ek is nie bekend of belangrik genoeg vir my eie ou lewensverhaaltjie om regtig ’n impak te maak nie (haha).

En op die ou einde is en was ek nog altyd ’n storie-skrywer. Om die verhaal as fiksie te skryf het my die kreatiewe vryheid gegee om nie net my eie ervaringe weer te gee nie, maar ook die stories van ’n paar uit die honderde mense wie se lewens deur een of ander manier deur KSB beïnvloed is.

Alhoewel die storie as fiksie uitgegee is, dink ek baie mense sal geskok wees as hulle besef presies hoe baie van die gebeure regtig met iemand gebeur het. En laastens gee die fiktiewe baadjie ’n mate van anonimiteit en beskerming vir my naastes en geliefdes.

Die boek is gedeeltelik gegrond op jou eie ervarings wat jy vermeng het met die van ander mense. Het die skryf van die boek jou ’n mate van afsluiting gegee oor jou jeugervarings op KwaSizabantu Sending?

Dit was beslis vir my ’n terapeutiese en helende ervaring gewees, en dit het my die geleentheid gegee om baie dinge te verwerk wat daar gebeur het.

Ek dink egter nie ek sal ooit heeltemal afsluit daarvan kan neem terwyl KSB nog bestaan en voortgaan om presies dieselfde dinge, en nog erger, aan ander jongmense te doen nie.

Jy skryf in die verhaal oor hoe hierdie ervarings jou hoofkarakter se ervaring van geloof beïnvloed het. Wil jy meer hieroor sê?

Ek het altyd meer hieroor te sê (haha). Alhoewel die dinge wat met Marné, my hoofkarakter, gebeur grootliks fiksie is, is haar geestelike en emosionele reis baie sterk gebaseer op my eie.

Een van die dinge wat my die kwaadste en hartseerste maak, is dat KwaSizabantu soveel onreg pleeg “in die Here se naam”. Hulle glo, of sê hulle glo, dat alles wat hulle doen die Here se wil is. En soos Marné het ek dit geglo, as kind.

As jy van kleins af geleer word iets is waar en reg, dan glo jy dit. Soos ek ouer geword het, het ek ontsettend ontnugter geword toe ek begin besef het dat dit wat KSB as die “waarheid” en die “weg” verkondig, in baie gevalle direk in teenstand met die Bybel is.

Soos vir Marné was dit vir my ook bitter moeilik om die waarheid van die leuens te moet onderskei en ek het dikwels gewens dat ek alles wat ek geweet het, kon ontleer en weer van voor af begin.

As jy vir meer as 20 jaar geleer is dat iets reg of verkeerd is, vat dit baie lank om van daai breinspoeling of doktrine los te breek en dis iets waarmee ek vandag nog sukkel.

Wat beteken geloof vir jou in jou eie lewe en het jou ervarings jou tot ’n dieper aanvaarding en insig van ander mense se geloofspraktyke gegee?

My geloof is my fondasie, my raison d’être. My grootste begeerte is dat my lewe eer aan die Here sal bring. My ervarings het my geleer net hoe feilbaar mense is, en hoe mense godsdiens kan misbruik vir hulle eie doelwitte en agendas.

Dit het my beslis ook geleer om mense nie vinnig te oordeel nie en om alle mense met liefde te behandel, soos Jesus ons beveel het.

Het jy kritiek van mense gekry wat betrokke is by KwaSizabantu?

Verbasend genoeg, nee! Ek het dit verwag, maar ek het nog geen direkte kontak van enige KSB-mense gekry nie. Ek het wel al kritiek gekry van mense wat net vaagweg by die sending betrokke was, wat dink ek probeer net “wraak neem” of dat ek ongeldige beskuldigings maak.

Daar is baie mense wat glo ek moet net vergewe en vergeet.

Hoe ontvang jongmense die boek, wanneer jy skole besoek of die boek bemark?

Sover ontvang jongmense die boek baie positief, waaroor ek vreeslik dankbaar is. Dis natuurlik lekker dat soveel volwassenes ook die boek geniet, maar as ek ’n boodskap van ’n tiener kry wat sê dat hulle baie met die karakters kon identifiseer of dat hulle dit nie kon neersit nie, is dit vir my ekstra spesiaal.

Een ma het nou die dag op Facebook gesê dat Toe als groen was haar 17-jarig dogter se gunstelingboek is, en dit het my hele week gemaak!

*Prys kan verander sonder vooraf waarrskuwing

JONGSTE UITGAWE

Mei/Junie-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees