Boek: ANC is besig om homself te vernietig

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dié reus van die Suid-Afrikaanse politiek wat eens onoorwinlik gelyk en geglo het hy sal regeer “tot Jesus kom”, is besig om homself te vernietig.

So sê die gerespekteerde politieke ontleder, dr. Ralph Mathekga, in sy jongste boek, The ANC’s last decade (Tafelberg).

Vanjaar sal die politieke toneel in Suid-Afrika moontlik tot ’n groot mate oorheers word deur die ANC se volgende nasionale konferensie in Desember wanneer hy weer sy leiers kies en beleid vir die volgende vyf jaar bepaal.Volgens Mathekga kan die ANC by dié konferensie  - 110 jaar ná sy stigting -  voor sy Rubicon staan.

boeke, inspirasie, politiek

The ANC’s Last Decade oor die toekoms van die ANC wat al die laaste sowat 28 jaar aan die bewind is, het verlede jaar kort voor die plaaslike verkiesings op 1 November verskyn. Die regerende party het swak vertoon in die verkiesing,  alhoewel hy steeds die meeste munisipaliteite in die land beheer.

Die konferensie (dit is nog nie bekend waar dit sal plaasvind nie) sal ook ’n sterk aanduiding gee van die rigting wat die land in die toekoms sal inslaan solank as wat die ANC nog aan die bewind is.

Mathekga skryf dié konferensie kan bepalend wees vir die ANC se vertoning by die volgende algemene verkiesing in 2024.

Die party het die laaste paar jaar algaande steun verloor. Met die pasafgelope plaaslike verkiesings kon hy net 46% van die stemme op hom verenig. Dit was die eerste keer sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994 wat die ANC minder as 50% steun in ’n verkiesing gekry het. Dit kan moontlik daarop dui dat ’n moeilike algemene verkiesing in 2024 op die regerende party wag.

Die ANC het by die vorige nasionale konferensie (die hoogste besluitnemende liggaam in die party se strukture) in 2017 by Nasrec amper geskeur weens diepe verdeeldheid. Pres. Cyril Ramaphosa is op die konferensie met ’n baie klein meerderheid verkies bo dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, die kandidaat van die radikale ekonomiese transformasie-faksie in die party wat oudpres. Jacob Zuma steun.   

Die boodskap wat die ANC op sy nasionale konferensie sal uitstuur, sal eerder lê in watter soort leiers hy verkies eerder as in die woorde van beleidsdokumente, skryf Mathekga.

Hy waarsku die ANC kan nie langer belangrike vraagstukke, soos byvoorbeeld duidelikheid oor die land se toekomstige ekonomiese rigting en die stryd teen korrupsie, ontduik nie.

Anders as by Nasrec sal die party, wat weens die twee faksies niks anders is as twee partye in een nie, dié keer nie ’n middeweg oor korrupsie kan volg nie.

Hy meen die ANC se sogenaamde topsesleiers kan heelwat anders lyk as die huidige topses (Ramaphosa, adj.pres. David Mabuza, Gwede Mantashe (voorsitter van die ANC), Paul Mashatile (tesourier-generaal), Ace Magashule (die geskorste sekretaris-generaal) en Jesse Duarte (adjunksekretaris-generaal).

Mabuza, wat in 2017 ’n sleutelrol gespeel het in Ramaphosa se oorwinning toe hy op die laaste nippertjie sy rug op die Zuma-faksie gedraai het, kan Ramaphosa weer help om ANC-leier te bly, terwyl die 37-jarige Ronald Lamola, die huidige minister van justisie en korrektiewe dienste, Stella Ndabeni-Abrahams, ’n voormalige minister van kommunikasie en digitale tegnologie (43) en Zihle Zikalala (47), premier van KwaZulu-Natal, ook aanspraakmakers kan wees op topposte. 

Mathekga spreek ’n wye verskeidenheid sake in dié lekkerlees boek aan.

Hy skryf reeds in die voorrede van die boek dié reus van die Suid-Afrikaanse politiek en die oudste bevrydingsbeweging in Afrika wat eens onoorwinlik gelyk en geglo het hy sal regeer “tot Jesus kom”, is besig om homself te vernietig. 

Dit word vir al hoe meer kiesers duidelik Suid-Afrika se heil lê nie by die ANC alleen nie, maar solank as wat die Suid-Afrikaanse kiesers toelaat dat die kwynende reus die son uitblok,  sal niks in sy skaduwee groei nie. Die toekomstige politieke diskoers in die land moet dít weerspieël.

Mathekga skryf die ANC het nie geleer uit die lesse van ander bevrydingsorganisasies wat later regerings geword het nie. Die party moes die slaggate van demokratiese sentralisme (waar al die mag in die hande van die regering en die regerende party lê) die laaste 30 jaar vermy het.

Hy skryf eertydse bevrydingsbewegings het gewoonlik ’n lewensduur van so rondom 30 jaar as regerings voordat agteruitgang intree, maar waarsku dit gebeur baie keer dat hulle buitengewone maatreëls in plek stel om aan die bewind te bly.  Zanu-PF in Zimbabwe is ’n goeie voorbeeld.

Die ANC moes sy leiers as individue verantwoordelik gehou het vir die besluite wat hulle in regering geneem het. Pleks daarvan om dít te doen, het hy sy leiers toegelaat om weg te kruip agter die konsep van “kollektiewe verantwoordelikheid”.

Mathekga meen Suid-Afrika is nog nie ’n gefaalde staat nie hoewel hy al hoe meer eienskappe van een aanneem soos swak dienslewering waaraan Suid-Afrikaners begin gewoond raak. Suid-Afrika se netwerk van instellings, insluitende die regering is op so ’n manier gerig dat swak politieke leierskap die land nie tot ’n val sal bring nie. Die skrywer gee ’n baie goeie oorsig oor wat die laaste dekade of wat in die party skeefgeloop het. Dit sluit in staatskaping, kaderontplooiïng, die ineenstorting van staatsondernemings soos Eskom, Transnet en die Suid-Afrikaanse Lugdiens en die negatiewe invloed daarvan op die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Ten einde te oorleef, sal die ANC se nasionale leierskap poog om die mag in die staat te sentraliseer, sal politieke ontwikkelings uiteindelik daartoe lei dat die ANC op streeksvlak gedwing word om meer federal en outonoom te word om te kan oorleef.

Ondanks die afname aan steun vir die ANC en die moontlikheid dat die party met die algemene verkiesing in 2029 sy absolute meerderheid sal afstaan, sal hy ’n politieke mag bly om mee rekenskap te hou.

Lees gerus dié boek om beter begrip te kry van die drama wat hom in die volgende jaar in die aanloop tot die 2022-leierskapskonferensie in die ANC sal afspeel.

 *Sarel van der Walt is ’n politieke joernalis van Netwerk24, Beeld, Die Burger en Volksblad.

 

JONGSTE UITGAWE

Januarie/Februarie 2022

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees