Hul lewe lyk baie aanloklik, veral tydens die goue gloriejare van Hollywood toe aktrises die toonbeeld van elegansie en glansrykheid was. Én hulle het skouers geskuur met al daardie romantiese helde van die silwerdoek. Dit was egter nie maanskyn en rose nie. In ’n onthullende boek oor die lot van vroue in die filmbedryf sedert die ontstaan van Hollywood word die ongenaakbare houding teenoor vroue in dié industrie ontbloot.
In haar resensie oor Women vs Hollywood: The Fall and Rise of Women in Film deur Helen O’Hara (Little Brown, R355) skryf Marzanne Schoeman:
"Aktrises het nie ’n sê gehad in die rolle wat hulle gespeel het nie. Hul romantiese verhoudings is beheer én in geval van swangerskap is hulle is gedwing om aborsies te ondergaan. Onder meer moes Lana Turner verskeie aborsies ondergaan waarvan een op ’n publisiteitstoer in haar hotelkamer in Hawaii uitgevoer is, sonder narkose en boonop is die doktersfooie van haar salaris afgetrek."
Die filmkritikus Helen O’Hara verken in die boek die rol van die vrou voor en agter die kamera binne die geskiedenis van die rolprentbedryf van Hollywood.
Die onthullings oor hoe die lewe vir vrouens aan die begin van die filmbedryf agter die skerms was, is skokkend en meesleurend. En die standaarde? Seksisties. Vroue het teen ’n stelsel probeer veg wat hul talente en skoonheid uitgebuit het, maar wat geweier het om hulle dieselfde respek as hul manlike tydgenote te betoon.
Regisseurs soos Dorothy Arzner en Alice Guy-Blanché wat gehelp het om die bedryf te vorm, se bydraes is uit die filmgeskiedenis geskryf. Selfs vandag nog is die persepsie dat regie ’n man se werk is en is die oes van vroulike regisseurs maar skraal.
Aktrises is ook tydens die oorsprong van Hollywood deur moeilike tye gesit om aan die eise van hul kontrakte te voldoen. Sommige ateljees het die aktrises opsetlik met wurms besmet om hulle maer te hou. Aktrises het nie ’n sê gehad in die rolle wat hulle gespeel het nie. Hul romantiese verhoudings is beheer én in geval van swangerskap is hulle is gedwing om aborsies te ondergaan. Lana Turner moes verskeie aborsies ondergaan waarvan een op ’n publisiteitstoer in haar hotelkamer in Hawaii uitgevoer is, sonder narkose en boonop is die doktersfooie van haar salaris afgetrek. Maar sy was nie die enigste nie . . .
Tot onlangs toe nog was daar berigte dat aktrises minder as hulle manlike tydgenote betaal word. En dat hulle seksueel geteister word. En ander selfs verkrag is. Die stelsel is wrééd teenoor vrouens. Die lewe is nóg moeiliker vir vroue van kleur. Gelukkig het dinge begin verander, veral vandat vroue hul stemme dik maak en in die openbaar praat oor die ongelykhede.
Volgens O’Hara is vrouens duidelik besig om as aktrises en regisseurs opslae in die filmbedryf te maak. Tog sal dit waarskynlik nog jare neem voordat daar werklik geslags- én rassegelykheid in die industrie sal wees.
Die boek is relevant, inspirerend en informatief. O’Hara se navorsing is deeglik en haar advies om die gaping te verklein, toepaslik. Die boek is ’n moet-lees as jy lief is vir films en dieper wil delf in die geskiedenis van geslagspolitiek in die rolprentbedryf.