Boek: Verhale van hoop in mense se eie woorde

akkreditasie
FOTO Unsplash
FOTO Unsplash
Hoe hanteer jy dit as jou geliefde of ’n familielid aan ’n geestesiekte ly? Dis ’n groot uitdaging omdat mens nie altyd weet hoe om die situasie te hanteer nie.

Geestesgesondheid word dikwels in Suid-Afrika geïgnoreer, juis omdat mense nie weet hoe om dit te hanteer nie. In Pieter van Zyl se nuwe boek, Verhale van hoop (Lapa Uitgewers, R295), vertel mense hul stories en hoe hulle die wêreld om hulle ervaar. Aan die einde van elke hoofstuk gee professionele sielkundiges en psigiaters praktiese raad oor die beste manier om die uitdagings te hanteer. Van die siektes wat onder die loep kom, is bipolêre geestesversteuring, depressie en verslawing.

 
 inspirasie, woorde

Theo ly aan bipolêre versteuring en sy verhaal word vanuit sy lewensmaat, Jerome, se oogpunt vertel. Jerome deel sy angs en vrees omdat hy nooit weet wanneer Theo gaan ontplof en hoe hy hom kan kalmeer nie.

Saam met Neill se voormalige meisie ry die leser ’n wipwaentjierit van leuens, leë beloftes en die bose siklus van dae lange verdwynings. Neill vertel self van die stryd om nee te sê, om uit die kloue van die dwelm-onderwêreld te ontsnap. Maar hoe ontsnap jy as jy in ’n emosionele tronk is?

Francis se man vertel van haar depressie wat hulle hele lewe oorgeneem het. Hy deel sy ervaring van magteloosheid toe hy net kon toekyk hoe sy alles rondom haar ten gronde laat gaan het. Hoe sy haar lewe lank deur gedagtes van selfdood geteister is. 

Die verhale is eerlik en openhartig. Omdat dit deur lyers en mense in hul binnekring geskryf is, gee dit lesers die geleentheid om vir ’n oomblik self die uitdagings te ervaar. 

Lees hier hoe Francis se man oor haar depressie skryf.

Die donker engel

“Jy is die oorsaak,” moes ek hoor. Haar depressie is my skuld. Daarom wou sy my verlede jaar voor die voorval skei. Ek wou nie, maar Francis het geglo as ons paadjies finaal skei, sal sy uit die donker maalkolk van depressie kom. Haar sielkundige het selfs saamgestem, omdat sy hom in daardie stadium net sekere inligting gegee het. Nou weet ek dit het al maande voor haar selfdoodpoging begin. Die depressie.

Francis kon nooit tevore haar vinger lê op wat ek nou kwansuis verkeerd gedoen het om haar in die donker dieptes af te trek nie. Nou weet ek sy het net die “duisternis” al meer en meer begin voel. Dit was nie my skuld nie. Ek het al gehoor selfdood is die kanker van die siel, ’n psigologiese beroerte.

Ek het begin agterkom sy skilder verwoed, asof iets haar dryf. Francis is bekend vir haar sagte, vroulike blomskilderye. Terwyl ons in ons vorige huis bokant Kanonberg buite Stellenbosch gewoon het, het sy in 2013 ná tien jaar as argitek besluit om die tuig neer te lê en op haar kuns te begin fokus.

Die boubedryf was net nie meer pret vir haar nie. Ek het haar 150 persent ondersteun in daardie besluit. Ons bou nou weer, maar ek kies die baddens, krane …

Weens haar depressie het daar in die laaste tien jaar niks gebeur nie.

Ons moes die plek weer opknap.

Toe ons haar depressie vir die eerste keer aan ons twee jong kinders moes verduidelik, het Francis gesê: “Ek is heeltyd hartseer oor alles. Ek is so sad, jy wil nie meer lewe nie.”

“Maar wat van ons?” wou hulle weet. “Het jy ons nie lief nie?”

Dis toe dat sy Harry Potter inspan: “Ek sal altyd vir julle lief wees. Dis iets binne-in my soos die Dementors. Hulle suig happiness uit mens, soos hulle Harry se siel gesteel het. Dit was nie Hermione of enigiemand anders se skuld nie.”

Sedertdien is sy baie eerlik met ons as sy af voel.

Sommige dae het sy net opgestaan om die kinders by die skool te gaan haal. Hulle is haar lewe. Maar vir my en haar vriende het sy al hoe meer begin wegstoot. Sy het ’n sielkundige en ’n psigiater gaan spreek wat vir haar antidepressante voorgeskryf het, maar die newe-effekte was so goor dat sy eenvoudig daarmee opgehou het.

Groot fout. Toe gebeur Dit.

Sy drink byna al die pille in ons huis …

Dit was 13 September 2015. Al haar emosies was daardie dag weg. Daar was geen geluk, opgewondenheid, vrees, liefde of seer nie. Haar gemoed was ondeurdringbaar. As sy niks kon voel nie, wou sy nie meer lewe nie. Dit was alles so leeg vir haar. Daarom het sy daardie dag ’n skildery begin van ’n swart engel wat in haar hande huil.

Sy het die gewoonte om elke dag een van haar vrolike blommekunswerke op Facebook te plaas. Dis haar kuberkunsgalery wat haar baie vreugde verskaf. Op dié manier kry sy onmiddellike terugvoer sodat sy weet of sy op die regte pad is. As sy nie een like kry nie, verwyder sy dit aanlyn en begin weer daaraan werk.

Kritiek? Sy was in daardie tyd nie goed daarmee nie. Ná wat met haar gebeur het, behandel haar Facebook-vriende haar met kid gloves. Sy sal net een klein dingetjie post, dan inboks mense haar om te vra: “Is jy oukei?” Selfs toe sy nou die dag ’n foto van haar op Bloubergstrand geplaas het. “Wat gaan jy doen?”

Op daardie dag was haar plasing somber; die swart engel met die titel “Broken”. Francis het ’n uur sit en huil voor sy na haar kamer toe is om al die pille te drink.

Soos ’n veldbrand het die kommer onder haar duisende volgers versprei. Iets was verkeerd. Gelukkig het ek ook snuf in die neus gekry en huis toe gejaag. Ek was saam met ’n vriend op ’n visvanguitstappie langs die Weskus en sou eers die volgende dag teruggery het.

Die SMS wat sy gestuur het, het geklink asof sy my en die kinders wou groet. Ek kan nie onthou wat presies daarin gestaan het nie, iets het  net vir my gesê: Kom by die huis en gou. Dit was ’n jaagtog om lewe  en dood.

Toe ek ons kamer instap, sien ek haar op die bed lê en “slaap”. Langs die bed was ’n afskeidsbrief aan my en die kinders in dieselfde trant as die SMS.

Ek het Francis probeer wakker maak en gevra wat fout is. Sy het vaag gereageer en gesê sy het pille gedrink. Toe kom ek eers agter die kamer lê vol leë pilhouertjies.

Ek het die nooddienste ontbied en haar probeer wakker hou. Die kinders was gelukkig onder in die huis besig om TV te kyk. Ek het hulle daar gelos tot die ambulans opgedaag het en vriende na hulle kon kyk terwyl ons hospitaal toe is.

Dit was so surreal. Ek het op daardie stadium net daaraan gedink om Francis lewend terug huis toe te vat. Dis nie iets waarop jy jou kan voorberei nie.

By nabetragting sien jy die waarskuwingstekens. Ek het geweet daar was depressie. Ons was daarom mos besig om te skei en op die punt om die dokumentasie in te handig. Daarom het ek die naweek weggegaan. Dit was haar besluit. Sy wou skei. Wat kon ek anders doen om dit te keer? Sy het gedink alles is verkeerd in haar lewe en as sy haarself verwyder, sal dit beter gaan.

Die dokters kon die oordosis suksesvol behandel. Toe Francis wakker word, was sy woedend. Sy was kwaad vir my omdat ek vroeër huis toe gekom en haar lewe gered het. Sy was bedonnerd omdat sy steeds lewe.

Nadat sy ontslaan is, het sy ’n nuwe soort antidepressant geneem. Dit het gewerk. Stadig maar seker het sy begin beter voel, twee weke nadat sy met die nuwe medikasie begin het. Dit was net voor Kersfees.

Ons het gesit en gesels en sy het vertel: “Daardie aaklige gewaarwording het net een oggend die oorhand gekry. Nou hoor ek al die voëltjies in die tuin buite sing en die paddas kwaak.”

Dit was moeilik om te glo, want daar was al sulke opflikkerings toe sy op ander medikasie was, maar dit het nie lank gehou nie want dit was nie die regte soort en dosis nie.

Haar ginekoloog wil die dosis van haar medisyne laat aanpas tydens haar menstruele siklus. Sy kan dit nie op haar eie doen nie en moet heeltyd dokters spreek. Toe sy in die hospitaal opgeneem word, het die psigiater haar op pille gesit wat haar nou op hierdie goeie plek gekry het. Sy is wel bang haar liggaam raak gewoond aan die dosis en sy beland weer in die dieptes. En dit weet sy vir seker: Dis gevaarlik om die pille net op te hou drink. Sy sal dit nooit weer doen nie, belowe sy.

Ek het ook ’n rukkie lank ’n sielkundige en ’n psigiater gespreek. Maar gelukkig was my depressie nie klinies nie en hoef ek nie soos Francis psigiatriese medisyne te neem nie. Dis nie ’n chemiese wanbalans in my brein nie.

Laas jaar se gebeure het my diep getref. Ons het deur baie gegaan. Ek het ’n senior posisie by ’n onderneming. Ek sukkel met angs en dit het my slaapure opgevreet. Daarvoor het ek ’n ruk medikasie geneem. Dit was egter goed om te sien hoe sy haar eie manier ontwikkel om te cope. Haar onafhanklikheid is nou baie opvallend.

Dis vir Francis baie moeilik as depressie kreatiwiteit uit haar wring. Sy staar na die leë doek en verduidelik: “Mense sê vir my om te gaan skilder, dan sal ek daaruit kom. Dis soos om te sê jy moet gaan draf as jy nie eens lus is vir stap nie. Jou bene het lood in.”

As ons al twee op ’n slegte plek is, gaan doen elkeen sy eie ding. Haar buie het ’n uitwerking op my.

Reeds as kind het sy in haar kop gelewe; het sy ’n verbeelde maatjie gehad, ene Jannie, omdat haar sussies en boetie baie ouer is as sy. Op ’n dag het Jannie net “verdwyn”. Sy het daardie verlies baie diep gevoel en wou hê hy moes terugkom, maar het dae later daarmee vrede gemaak dat hy in ’n vlieënde piering weg is en nooit gaan terugkom nie. Haar pa het vir haar twee eendjies gekoop, maar voor hulle later die jaar op vakansie gegaan het, het hy hulle plaas toe gevat en sy het hulle nooit weer gesien nie. Weer eens was daar die diepgaande gevoel van verlies.

Sy was as dogtertjie heeltyd “’n klein bietjie dood”. Elke verjaarsdag was haar laaste. Op haar sestiende verjaarsdag, in ’n vertrek vol maats, kon sy net aan die dood dink. Tot met haar een-en-twintigste verjaarsdag, toe sy besef sy sal dalk nie sommer net so doodgaan nie.

Francis het op Bloemfontein Argitektuur gaan studeer en alleen in ’n woonstel gebly. Haar ouers het in haar tweede jaar Kaapstad toe getrek. Sy het toe reeds pynmedikasie by verskillende apteke gekry om haar beter te laat voel; die pille met wyn afgesluk. Sy het dit aanhou doen, later as ma ook. Maar tot met haar selfdoodpoging het ek nie daarvan geweet nie. Daar was sakke vol leë houertjies in haar laaie en kaste weggesteek. Sy doen dit nie meer nie.

Ek het al voorheen ’n sielkundige gespreek toe ek deur ’n moeilike tyd gegaan het, in die vroeë negentigs oorsee. Ek was vir drie jaar in Nederland tydens die ekonomiese resessie. My broer was toe reeds in Europa om te studeer. Ek het gesukkel om werk te kry en te behou.

Ek het teruggekom Suid-Afrika toe en aan die Universiteit van Kaapstad studeer. Ek en Francis, wat intussen Kaapstad toe getrek het, het ontmoet deur gemeenskaplike vriende op ’n “blind drunk date” by ’n kampterrein op Elandsbaai, waar ek gaan duik en branderplankry het. Ons was al twee in ons twintigs en het gedink ons gaan net goeie vriende bly. Sy vertel my nou ek het vir haar vastigheid gebring toe ons ontmoet het. Ons het twee jaar lank uitgegaan voor ons getroud is.

Ons huwelik is ’n uitdaging. Ek is ’n baie logiese persoon. Ek moet weet hoekom sekere dinge gebeur. Ons is bewus daarvan dat ons negejarige seun dalk met angstigheid sal sukkel en bewapen ons nou al met inligting oor hoe om daarmee om te gaan. Ons hou hom fyn dop. Hy is ’n baie sensitiewe kind, emosioneel en kwesbaar.

Francis se oupa was eksentriek. Hy het sy broek met toue vasgemaak en met pampoene op sy karretjie se agtersitplek rondgery totdat dit ryp was. Haar pa was ook uniek, anders. As student het hy haar eenkeer op die lughawe in Kaapstad kom haal en gesê hy is op pad Amerika toe en kom nie weer terug nie. Hy sou haar help met ’n finalejaarprojek om ’n gebou in die stad op te knap … Dit moes mos ’n rol in haar geestesgesondheid gespeel het?

Sy raak eufories gelukkig en dan crash sy weer. Sy speel met die kinders en ons het pret en dan gaan klim sy in die bed en huil. Sy kan dit nie verhelp nie; dis ’n brander wat oor haar breek. Sy gaan sit op die strand by Blouberg en staar na die berg en see en dan is sy weer fine.

Nou, met die opknapping van die huis, is daar baie stof en sy moet teen die einde van die maand ’n uitstalling klaar hê vir Johannesburg. Sy het my gevra om met die stofsuier skoon te maak soveel ek kan en ek het geweet dit sal haar beter laat voel. As dit nie vir die medikasie was nie, sou sy geflip het.

Nou die aand het alles te veel geword en ons dertienjarige dogter het aangevoel daar is iets verkeerd. Sy het by haar gaan sit en gevra: “Mamma, is jy oukei?”

“Dis die bouery, dis die stof, die geraas. Dis hoekom ek nie oukei is nie.”

Sy hou haar ma dop. Sy is baie oplettend.

Ek probeer ook baie meer bewus wees. As Francis nie goed voel nie, sal sy dit vir my sê. Want ek is nie baie ingestel op sulke dinge nie. Sy het vir my gevra vir ’n engel vir ons tuin. As sy iets wil hê, sal ek hoog en laag gaan soek daarvoor.

Ek het oral gaan soek en ’n swart engel gekry, net voor Kersfees. Dis die enigste mooi engelbeeld wat ek kon kry. Ek het vir haar gesê om haar oë toe te maak.

Toe sy dit oopmaak en sien dis ’n swart engel, het haar gesig gespreek van verbasing en ’n titseltjie skok. Sy het begin huil.

“Ek het ’n swart engel geverf daardie dag toe ek my lewe wou neem!”

Ek het haar getroos en gesê dit kan ’n gedenksteen wees om haar daaraan te herinner dat sy bly leef het.

Ons het darem later daardie engel in die tuin wit geverf.

RAAD

Ons praat met: Cizelle Louw, ’n sielkundige van Pretoria; Richard Hawkey, skrywer en motiveringspreker wat met depressie saamleef; dr. Hannes Swart, ’n bedryfsielkundige van Bellville; dr. Rosa Bredekamp, ’n Kaapse sielkundige; Cassey Chambers, ’n bedryfsdirekteur van SADAG; dr. Ajesh Janki, psigiater by die Akeso Kliniek.

Algemeen

Spreek ’n dokter as jy of iemand langer as twee weke enige van hierdie simptome ervaar:

•           voortdurende hartseer, angstigheid en ’n gevoel van leegheid;

•           ’n gesukkel om te konsentreer, details te onthou of besluite te neem;

•           moegheid en minder energie;

•           skuldgevoelens, ’n gevoel van waardeloosheid, hulpeloosheid en/of pessimisme;

•           slapeloosheid, om soggens vroeg wakker te skrik of uitermate lank te slaap;

•           geïrriteerdheid of rusteloosheid;

•           ’n verlies aan belangstelling in aktiwiteite of stokperdjies wat vroeër genotvol was;

•           ’n verlies aan aptyt of oormatige eetlus.

Depressie is ’n biologiese siekte en kán behandel word. Bel SADAG se hulplyn by 011 234 4837, sewe dae per week tussen 08:00 en 20:00. 

Wat kan geliefdes van ’n depressielyer doen?

•           Moedig die depressiewe persoon aan om hulp te kry voor simptome vererger.

•           Bied hulp aan met sy werklas tydens behandeling vir depressie.

•           Te veel empatie kan ’n depressielyer se gedrag versterk. Handhaaf ’n goeie balans.

•           Help sover moontlik keer dat lyers hulle aan drank vergryp. Drank kan hul depressie vererger. Wees veral versigtig as hulle medikasie gebruik.

•           Betrek hulle by aktiwiteite; lyers is geneig om hulle te onttrek.

•           Probeer by ’n roetine hou en sien toe dat lyers nie te veel of te min slaap nie.

•           Los die familierusies, sluimerende vetes en ongelukkige verhoudings, veral wanneer iemand met behandeling begin. Deernis en vergifnis help met genesing.

•           “Nee” is nie ’n vloekwoord nie. Depressielyers gebruik dit moontlik omdat hulle nie die energie het om aan jou versoek te voldoen nie.

•           Laat die depressielyer verstaan jy kan net van hulp wees as jy kan vra watter hulp en ondersteuning hy nodig het. Die depressielyer moet sy of haar behoeftes direk kan kommunikeer.

 

Wat om te doen en nie te doen nie

•           Stel ’n skriftelike ooreenkoms op oor wat julle gaan doen as daar ’n risiko is dat die depressielyer homself of ander mense kan beseer, as dié persoon drank misbruik of dreig met selfdood en as die persoon nie by die ooreenkoms hou nie.

•           Vermy enige optrede, werkwyse of gedrag wat die depressie vererger.

•           Eksterne stimuli kan depressielyers maklik ontspoor. As julle iewers saam is, wees bedag daarop dat die depressielyer gouer ’n behoefte gaan ondervind om terug te keer huis toe. As die depressielyer weet jy verstaan hierdie behoefte, help jy om die angstigheid te verminder wanneer julle in sosiale omgewings is.

•           Help die depressielyer om sover moontlik van fuifdrinkery af weg te bly. Alkohol is ’n depressant. As dit misbruik word, gaan dit die depressielyer erger laat voel. Wees veral versigtig as hy op medikasie is.

•           Probeer by ’n roetine hou, byvoorbeeld om altyd dieselfde aantal ure slaap in te kry.

•           As medikasie voorgeskryf is, maak seker die lyer neem die regte dosis en so gereeld soos die voorskrif aantoon.

•           Hou op die juk van skuld dra. As ’n skuldgevoel oor enigiets jou en/of jou geliefde oorval, sê bloot: “Daar is volgende week genoeg tyd om skuldig te voel.” Doen dit gereeld, dan sal die skuldgevoelens jou nooit lamlê nie. 

Teenvoeter vir uitbranding by depressielyers en hulle geliefdes

•           Handhaaf ’n balans in julle lewe. Herstel van die spanning by die werk deur te ontspan en sport te beoefen.

•           Vind vreugde in die klein dingetjies in die lewe, soos om met julle hond te gaan stap, saam met die kinders te speel en saam met vriende te kuier.

•           Eet gesond en doen gereeld oefening.

•           Vermy alkohol en dwelmmiddels.

•           Omring julle met positiewe, ondersteunende mense.

•           Wees realisties en moenie julle steur aan wat ander as volmaak beskou nie. Bepaal wat julle gelukkig maak en belangrik is.

•           As jy of jou geliefde oorweldig voel, spreek julle huisdokter. Dié sal jou na die beste kundige kan verwys.

 

 

 

 

JONGSTE UITGAWE

NOVEMBER/DESEMBER 2021

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees