Boeke: Reis na die verlede

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
FOTO Unsplash
FOTO Unsplash
Die verlede het ’n manier om mens in te haal. Jy kan nooit daarvan ontsnap nie. Veral nie as jou lewe daardeur gevorm is en dit jou daaglikse bestaan bepaal nie.

In hierdie Afrikaanse verhale speel die verlede ’n beduidende rol in al die karakters se optrede en hoe hulle die lewe benader.

   
inspirasie, verlede

n Ballade vir Nkunzi, Ben Viljoen (Lapa Uitgewers, R300)

Bennie Welman vertel die storie van sy grootwordjare en fokus hoofsaaklik op sy komplekse verhouding met sy pa. Danksy die pa se gewoontes is die gesin, wat bestaan uit sewe kinders, in haglike omstandighede gedompel. Bennie se kinderjare is deur armoede, mishandeling, geweld en hongersnood gekenmerk. Ten spyte van die groeiende verwyt wat dié seun vir sy pa voel, is hul liefde vir musiek ná al die jare die brug tussen hulle.

Die era waarin die storie afspeel is akkuraat beskryf en die leser word teruggevoer na ’n tyd waar die suide van Johannesburg stofstrate gehad het en om ’n motor te besit ’n luukse was. Die karakters is werklik en voel soos ou bekendes. Die boek is glad nie vervelig nie en roer jou diep. Ben Viljoen het dit meesterlik geskryf en dit is nie al dag dat ’n storie jou so lank bybly nie. - Danica Gouws

 
inspirasie, verlede

Dinge van ’n hond, SP Benjamin (Penguin, R280)

Op Gatlek, die Fourie-familieplaas, word daar gewoonlik aan die einde van die jaar omtrent groot partytjie gehou. Dawid Fourie het ’n baie goeie verhouding met sy plaaswerkers en die partytjie is sy manier om hulle vir hul harde werk te beloon. Ongelukkig is dit met hierdie laaste groot vleisbraai waar dinge regtig skeefloop. Dawid se vrou word op daardie aand vermoor en die plaas dreig om van al die geheime oop te bars. Hoe vêr sal jy gaan om jou skokkende geheime diep weg te steek? 

Jare ná die laaste vleisbraai op Gatlek is al die mense wat daardie aand op die plaas was se lewens nog in flarde. Jan-Vlok is Dawid Fourie se seun en hy is verbitterd dat hy nie sy erfplaas besit nie. Hy kan sy pa nie vergewe dat hy die plaas sommer net so maklik laat gaan het nie. Dawid bly saam met sy broer, Outa, op die dorp en spandeer die hele dag daaraan om grafstene te maak. Outa bring sy dae in ’n donker kamer deur, terwyl hy met sy eie illusies worstel.  

En dan is daar Klippies en Bettie Rondganger. Klippies kom ook van Gatlek af en maak ’n lewe vir homself deur op vullishope rond te krap. Dis hier waar Klippies vir Bettie ontmoet en saam probeer hulle hulle bes om hulle verlede weg te bêre. Klippies sorg vir Bettie en wanneer haar verlede haar inhaal, is Klippies die enigste mens wat sy met haar geheime vertrou.

Al die karakters word deur Gatlek aan mekaar verbind, alles wat daar gebeur het en wat deur almal weggesteek word. ’n Verhaal wat stadig ontvou en almal se geheime maar moeilik opgee. - Antoinique van Staden

 
inspirasie, boeke

Die miskruier en die maan, Carié Maas (Protea Uitgewers, R265)

Vir hierdie leser word die onderliggende tema van Maas se roman omvat op bladsy 254: Argitektuur is “… om iets nuuts op die gebrokenheid van die verlede op te rig.” Die argitektuur ter sprake is die Nubiese woestynruïnes van die Soedan, ’n vergete, dog hoogs ontwikkelde beskawing van 5 000 jaar gelede.

Argitek Karel Nel is pas afgedank, sy huwelik wankel en sy gewese baas, Gideon, flirteer met sy vrou. As laaste projek vir Gideon moet Karel ’n huis volgens die styl van die Soedan se Nubiese tempels ontwerp. Hy maak ’n draai in Duitsland, eintlik op die spoor van sy voorouers, maar besoek terselfdertyd museums wat Nubiese relieke bewaar. Daarna besoek hy en sy kollegas, insluitend Gideon, die Soedan om die tempels en piramides vir hulself te sien. Vir die leser word dit ’n roman, ’n reisverhaal, ’n geskiedenisles en ’n filosofiese geskrif wat spreek tot post-apartheid Suid-Afrika met sy koloniale ongemak. Maas dra haar boodskap op kreatiewe maniere oor – ’n spitsvondige poppespel, briewe aan ’n oupaoupagrootjie en teksboodskappe aan ’n suster.Daar is heelwat gesprekke wat in Engels gevoer word. In Afrikaanse literatuur moet ’n besluit dikwels geneem word: Moet Engelse gesprekke nie eerder in Afrikaans vertaal word nie? Veral waar Engels so baie voorkom soos in dié roman, mag dit vir sekere lesers steurend word.

Dan is daar natuurlik die wonderlike titel van die boek, ’n Afrikanisering van die legende van Sisyphus. Die maan beloof om met die miskruier te trou indien die miskruier al die gemors van die wêreld opruim – wat Karel laat besef hy moet sy miskruierding doen, sy lewe regruk en sy vrou terugwen. Want ’n miskruier kan heelwat probleme veroorsaak vir ’n arend, sy aartsvyand. Lig loop, Gideon!   - Mercia S Burger

inspirasie, boeke, verlede
 

Die Getuienis, Francois Smith (Tafelberg, R250)

Gerhard en Retha het alles in die lewe verloor, maar hul geloof in Vader is onwrikbaar. Tans bestuur hulle ’n Christelike bedieningsentrum, waar hulle God se groter doel kan uitleef. Die storie begin toe Gerhard deur ’n ou skoolvriend genooi word om by ’n seminaar te kom preek. Hy en Retha is dit eens dis Vader se wil om te gaan en dus sal Hy voorsien.

Die Getuienis is die aangrypende verslag van hul sendingreis vol wonderwerke, visioene en vloeke, maar ook ’n interessante reis terug na die verlede. Dit word aangebied in die vorm van ’n getuienis as’t ware, wat onderskeidelik in Gerhard en Retha se stem vertel word. Daar is nie hoofstukke in hierdie boek nie, maar dit is so meesterlik geskryf dat die leser nooit twyfel wie aan die woord is nie. Dit is nie ’n boek oor godsdiens of enigsins kritiek oor godsdiens nie. Dit is bloot ’n vertelling deur ’n baie godsdienstige paartjie van hul realiteit en verhouding met Vader. Dit word mettertyd duidelik dat elkeen se weergawe van die reis verskil van mekaar en die integriteit van die karakters word deur die leser bevraagteken. Dit is ’n boek wat baie gevoelens wakker maak en tot op die einde meesleur. – Danica Gouws

Pryse is aanbevole pryse en kan wissel van winkel tot winkel.

 

JONGSTE UITGAWE

Januarie/Februarie 2022

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees