Boeke vir die fliekflooie

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
FOTO Verskaf
FOTO Verskaf
Hy is wêreldbekend in die rolprentbedryf en geen onbekende vir akteurs soos Whoopi Goldberg, Sidney Poitier, Denzel Washington en Idris Elba nie.

Dit was die flikkerende swart en wit beelde van Charlie Chaplin op ’n laken in hul voorhuis wat dié bekende as kind bekoor en gedryf het om vir hom ’n beroep in rolprente oop te kap. Vandag skuur Anant Singh skouers met die groot sterre van Hollywood, maar sy pad om daar te kom, vertel van harde werk, waagmoed en deursettingsvermoë.

inspirasie, boeke, rolprent
Anant Singh

Daai kleintyd beelde was ’n fantasiewêreld waarin hy kon ontsnap van die realiteit van apartheid Suid-Afrika in 1960’s. ’n Tyd toe hy nie vrylik in enige rolprentteater kon instap om sy passie vir rolprente te voed nie. Sy droom om films te maak het aanhou groei, al was daar in die 1970’s nie geleenthede vir swart filmmakers om groot rolspelers in die bedryf te word nie. Veral nie in sy geboorteland waar die politieke stelsel elke moontlike struikelblok in die pad van swart filmmakers gelê het.

inspirasie, boeke

In sy memoires, In Black and White (Picador, R260) vertel Anant boeiend hoe hy homself opgewerk het van ’n jong seun wat films teruggerol het op spoele vir R1 ’n dag tot die wêreldbekende rolprentmagnaat wat hy vandag is. Tydens sy jeugjare in Durban het hy in ’n rolprentverhuringswinkel gewerk. Toe hy later die geleentheid gebied is om die winkel te koop, het die 20-jarige Anant sy kans gebruik. Ten spyte van inperkende wetgewing het hy films uitverhuur reg deur die hele Suid-Afrika, toe in die rolprentmarkte van Afrika, asook die internasionale rolprentmarkte. Toe video die rolprent vir tuisverbruikers vervang het, het Anant met sy maatskappy, Videovision Enterprises, hom ingeburger as ’n vernuftige entrepreneur wat sy plek in die wêreldmark verseker het.

Maar hy hon nooit onstnap van die droom om self rolprente te maak nie. Al was dit ’n waagstuk het hy hom op dié terrein begewe. Uiteindelik het hy meer as 100 rolprente gemaak, onder meer Place of Weeping, The Stick, Sarafina! en Mandela: Long Walk to Freedom. Anant se verhaal plaas die plaaslike rolprentbedryf in politieke konteks. Hy beskryf ook sy verhouding met die regisseur Darrell Roodt, met wie hy saamgewerk het aan van sy omstrede en politiek geïnspireerde rolprente. Op sy lewensreis het Anant ook verbintenisse gesmee met mense soos Nelson Mandela, Ahmed Kathrada, Fatima en Ismael Meer, vriende en mentors na wie hy opgekyk het regdeur sy lewe.

Die boeiende memoires vertel van toewyding, opoffering en harde werk, hoe die karaktereienskappe ’n kleintyd droom ’n werkliheid gemaak het. Vir fliekflooie is die boek ’n moet, maar selfs gewone lesers sal inspirasie vind in die lewe van een van Suid-Afrika se grootste rolprentmanne.

 

inspirasie, boeke

 

Starlite Memories - Misadventures in Moviemaking, Dov Fedler (Tafelberg, R290)

Dov Fedler, bekende spotprentkunstenaar, het in Johannesburg grootgeword en altyd gedroom om movies te maak. Veral nadat hy saam met sy ouers die rolprent Pinnochio gesien het. Sy pa het weer heeltemal ander verwagtinge gehad.

Hoewel hy in die tagtigerjare die kans gekry het om regisseur te wees, is dit nie die hoofstorie van die boek nie. Sy vertellings van sy grootwordjare in ’n Joodse huis laat jou van die tonele soos in ’n rolprent sien. Die Lebanese Kudsee-gesin was hul bure in Mayfair en Al  Debbo, mev. Kudsee se neef, het dikwels daar oorgebly. Dov se herinneringe aan  sy ontmoetings met die gewilde komediant is veral interessant.

Die Fedlergesin het later in Greenside gaan woon en daar het Dov gereeld gaan fliek. Op ’n keer het sy  fliekgeld uit sy sak geval. Taki, die kafeebaas langs die bioskoop, het vir hom die sikspens vir die fliek gegee. Taki Xenopoulos het in die sestigerare die Fontana-bakkery in Hillbrow begin en later die eerste winkel wat 24 uur oop was. Fontana-bakkery was baie kere my redding as ek laataand by Beeld gewerk het.

Met heelwat van Dov se herinneringe en vertellings kan ’n  mens identifiseer. Veral as jy Johannesburg in die tagtigerjare ervaar het. In een van die hoofstukke stry sy broer Mot met sy pa,  omdat hy wil wegbreek van die familiebesigheid in die drukkersbedryf.  Mot verduidelik dat almal oorskakel na die Litho-drukproses en sy pa dink hy weet nie waarvan hy praat nie. Wegbreek van jou ouers se manier van doen is sekerlik nie onbekend in baie huishoudings, maar Dov se skets hiervan is kosbaar.

Ek het die boek geniet, maar vermoed dit sal dalk meer tot ’n gehoor met heelwat meer lewensjare agter die blad spreek.  – Alida Vos.

Pryse is voorgestelde pryse en kan wissel van winkel tot winkel.

JONGSTE UITGAWE

Januarie/Februarie 2022

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees