Boekuittreksel: Ouers, kyk na jou optrede – dalk is jy die ‘probleemkind’ in die huis

akkreditasie
Hierdie uittreksel uit Jaco Strydom se boek gaan jou tot ander insigte bring. Ouers is vinnig om te praat van hul probleemkinders en om te sê die kinders is “washouts”, “dropouts” en droogmakers . . . Maar is dit so?

En lê die probleem regtig by die kinders?

Dié onderwerp roer Jaco Strydom in sy boek, Alle sondaars welkom, aan. Hy skryf ouers moet ook na hulleself kyk en bietjie dink oor hoe hulle optrede hul kinders kan affekteer.

Strydom is leier van Echo Jeugontwikkeling, en is ook deeltyds verbonde aan die Villiera Gemeente.

Hy skryf ook al vir jare ’n blog waarin hy mense aanmoedig om oop kop oor godsdiens te wees, om te dink en om betrokke Christene te wees.

“Alle sondaars welkom” deur Jaco Strydom (Lux Verbi, R220*)

Uitgegee deur Lux Verbi
Uitgegee deur Lux Verbi

Die boek bestaan uit “’n random mengelmoes gedagtes oor die wilde God en sy mense” wat die afgelope tien of meer jaar verskyn het as deel van Strydom se blog, of as rubrieke in verskeie publikasies.

Strydom se groot passie is om jongmense te help en in dié uittreksel fokus hy op ouers wat die groot probleem in hul kinders se lewe is.

Jongmense met probleemouers

Washouts, dropouts, droogmakers, probleemkinders . . .

Dit is maar van die name wat ons samelewing gee vir kinders met gedragsprobleme. Amper elke dag kry ek te doen met ouers wat hulp soek met die een of ander “probleemkind”.

En ek erken, daar is baie jongmense met ernstige gedrags- en gesindheidsprobleme. Wat my egter meer ontstel, is die hoeveelheid jongmense met wie ek te doen kry wat met “probleemouers” sit.

Die kreatiwiteit waarmee sommige van hierdie ouers droogmaak, is verbysterend. Baie ouerhuise funksioneer as niks anders nie as opneuk-opleidingfasiliteite.

Wanneer daar oor morele verval in ons samelewing gepraat word, is dit dikwels met verwysing na “die toestand van ons jeug”. Maar wat van die toestand van ons ouers?

Vergewe my as dinge hier ’n bietjie kras raak. Ek is waarskynlik nie baie objektief nie en ek het ietwat van ’n skewe beeld. (Mense kom klop nou nie eintlik by Echo aan om te brag oor hoe wonderlik ouers na hulle kinders kyk nie.) Ek besef ek is sekerlik besig om erg te veralgemeen, en dalk is ek die laaste een om te praat.

Maar, ons kan nie aanhou om jongmense met gedragsprobleme te oordeel terwyl baie van hulle bloot hul ouers se voorbeeld volg nie. Baie ouerhuise funksioneer as niks anders nie as opneuk-opleidingfasiliteite.

Die kreatiwiteit waarmee sommige van hierdie ouers droogmaak, is verbysterend.

’n Paar van die grootste droogmakers

Ouers wat nie ore het nie

Dit is ’n groot probleem by baie ouers. Hulle wil net nie hoor nie. Hulle skreeu, preek en kerm die hele dag. As ouers oor alles skree en raas, switch die kinders af. Die Here het vir ons twee ore en een mond gegee sodat ons twee keer meer sal luister as wat ons praat.

Vra ek jongmense wat ’n diep geheim of worsteling met my deel waarom hulle nie met hulle ouers daaroor praat nie, antwoord hulle dikwels: “Dit help nie, want hulle hoor my nie.”

Jou kinders sal dalk glo dat jy vir hulle omgee as jy wys dat jy in hulle belangstel deur ’n bietjie minder te praat en baie meer te luister.

Ouers wat nie grootword nie

Dis die ma van 45 wat elke tweede aand ’n ander ou by ’n karaokebar optel terwyl haar kinders maar na hulleself moet kyk. Of die pa wat elke keer al sy speelgoed uit die kot gooi as hy nie sy sin kry nie.

Ons kom ál meer by gesinne waar die pa nie wil werk nie en heeldag net sit en rekenaarspeletjies speel.

Sommige pa’s en ma’s het vasgehaak by ’n stadium in hulle kinderjare en hulle is dikwels te selfgesentreerd om dit raak te sien. Baie van hierdie ouers was lank gelede kinders van sulke “kinders”. Hulle is bang vir grootword. Hulle soek verlore aandag.

As jy wil hê jou kinders moet grootword, wys hulle hoe! 

Skynheilige ouers

’n Pa bel my oor sy 17-jarige seun wat rook.

“Rook jy?” vra ek hom.

“Ja,” sê die pa.

“As jy wil hê jou seun moet die rokery los, sal jy saam met hom ophou?” vra ek.

Sy reaksie hierop is dat hy eintlik net wou vra of ek “’n bietjie mooi met sy laaitie sal praat”. Hy wou hê ek moet mooi vir hom sê hy moenie dieselfde lelike dinge doen wat sy pa doen nie.

Uit die res van die kort gesprek kon ek aflei dat die pa net so teleurgesteld in my was as in sy seun. Ek het ook geweet dat die laaste een wat die “laaitie” sou motiveer om op te hou rook sy pa was. 

Ouers wat bank

’n Mens het tyd vir die dinge wat vir jou belangrik is. Dit is ’n eenvoudige woordsom wat amper elke jongmens kan maak.

En nog ’n probleemouer is ’n geskeide pa wat belowe om vir sy kinders te gaan kuier en dit nie doen nie. En die enkelma wat soveel aandag aan haar boyfriend gee dat sy haar kinders afskeep.

En die ryk besigheidsman wat tyd het vir vergaderings, werkfunksies en gholf, maar selde vir sy kinders.

As jy regtig omgee, sal jy tyd maak.

Ouers wat lieg

Baie ouers lieg vir hulle kinders. Hulle sê: “As jy dit weer doen, gaan ek jou straf.” Maar dan doen hulle dit nie. Hulle werk eerder met minder reëls of deel ’n kleiner straf uit.

Die boustene van alle verhoudings is vertroue, en vertroue se belangrikste element is waarheid. Ons neem tog die mense wat die minste vir ons lieg die ernstigste op.

Moenie jou kind se vermoë om die waarheid te hanteer onderskat nie. 

Ouers wat vuilspeel

Een van die wreedste dinge wat ons dikwels sien, is dat ouers wat geskei is die kinders gebruik om mekaar terug te kry.

Die ma doen byvoorbeeld alles in haar vermoë om te sorg dat die pa nie gereeld sy kinders kan sien nie, net omdat hy haar seergemaak het. Sy weet waar om hom die seerste te slaan. Baie geskeide ouers praat ook nie met mekaar nie, maar gebruik die kinders as boodskappers van griewe. 

Ouers wat lelik stout is

Geen ouer is perfek nie. Ons almal maak foute (vra my kinders), maar party ouers is lelik stout. En ek praat nie net van ouers wat vloek, kroek of so nou en dan jok nie. Ek praat van kriminele ouers.

Waar die meeste misdadigers van ander mense steel, steel hierdie ouers van hulle eie kinders. Dit is ouers wat so baie drink dat daar nie geld is vir kos of skoolboeke nie. Dit is wrede ouers wat hulle kinders liggaamlik aanrand, molesteer of met selfdood dreig.

Dit is asof daar iets in jou doodgaan wanneer die mense wat jou moes beskerm en liefhê so iets aan jou doen.

Soveel jongmense het al vir my vertel dat hulle ma gereeld sê sy wens sy het eerder vir ’n aborsie gegaan, want hulle maak haar lewe hel. ’n Meisie het my vertel dat haar ma jare lank geweet het haar pa molesteer haar, maar niks daaraan wou doen nie.

Die mense wat die naaste aan jou is, maak die seerste. En ouers vervul dikwels hierdie rol. “Dit is asof daar iets in jou doodgaan wanneer die mense wat jou moes beskerm en liefhê so iets aan jou doen,” sê ’n meisie in graad 9.

Soos undercover misdadigers, ry hierdie ouers dikwels met duur karre en sit met heilige smiles voor in die kerk.

Alle ouers van jongmense met ernstige gedragsprobleme is nie probleemouers nie. Daar is dikwels goeie, onselfsugtige ouers wat eerlik is, wat moeite doen en wat omgee. En tog ruk hulle kinders heeltemal handuit.

Om vandag ’n ouer te wees is geen maklike saak nie!

Moenie verwag dat jou kinders verantwoordelikheid vir hulle lewe sal aanvaar as jy nie verantwoordelikheid vir jou lewe aanvaar nie.

Iemand sê nou die dag: “As elkeen net by hulleself begin, sal die hele wêreld ’n beter plek wees.” Beter kan ek dit nie sê nie. Die beste ding wat jy vir jou kind kan doen, is om te sorg dat dit geestelik goed gaan met jou.

Gaan soek hulp as dit nodig is. Moenie verwag dat jou kinders verantwoordelikheid vir hulle lewe sal aanvaar as jy nie verantwoordelikheid vir jou lewe aanvaar nie.

Feit bly staan, baie ouers maak meer droog as wat hulle kinders ooit sal kan hoop om te doen. Totdat húlle eendag groot genoeg is om kinders van hulle eie te hê . . .

Here, help ons!

* Prys onderhewig aan verandering sonder voorafkennisgewing.

JONGSTE UITGAWE

November/Desember-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees