Deel

Boekuittreksel: Só help jy jou kind met verlies

akkreditasie
Volwassenes sukkel om verlies te verwerk. Dink net hoe erg moet verlies dan vir ’n kind wees. Solet Scheeres lei ouers in haar nuwe boek met teorie, praktiese wenke en aktiwiteite om hul kinders deur die verskillende prosesse van verlies te help.
Ouerskap
Foto ter illustrasie: Getty Images.

Die verlies kan die dood van ’n geliefde troeteldier wees, of dit kan ’n maat, ’n grootouer of ander familielid se afsterwe wees. Die radikale impak van ’n egskeiding op kinders moet nie onderskat word nie. Vir die kind kan dit sy hele lewe op sy kop keer.  

Jou kind en verlies (Lapa Uitgewers, *R250) is toeganklik geskryf en is ’n weldeurdagte werkboek waardeur ouers hulself kan bemagtig om hul kinders te help met die ervaring van verskillende tipes verlies.

In die voorwoord skryf Scheeres: “Mens wil graag glo dat kinders nie verdriet ervaar nie, maar hulle beleef dit wel. Vroeër of later sal selfs die heel vrolikste en gelukkigste kind eensaam, of verstote, of angstig en verward voel. Selfs as mens dit regkry om jou kinders teen die ergste hartseer te beskerm, sal daar tog ’n keer kom wat hulle een of ander vorm van verlies ervaar en daaroor sal rou.”

Sy verduidelik wat verstaan moet word onder verlies en rou, en gee wenke vir hoe om met kinders oor die dood te praat. Dit sluit in peuters, kleuters, laerskoolkinders en tieners en wat die onderskeie aanslagte behoort te wees vir verskillende ouderdomsgroepe in dié gesprekke.

Sy gee selfs ’n protokol vir skole vir wanneer ’n leerder sterf.

Die hoofstukke oor egskeiding is besonder nuttig in vandag se tye waar ons gemeenskap gebuk gaan onder een van die hoogste egskeidingsyfers in die wêreld. Die fokus is altyd op die welstand van die kind en hoe ’n ouer die kind moet help om verlies te verwerk.

Buiten vir die teorie, verskaf Scheeres interaktiewe oefeninge vir die verwerking van verlies. Dit sluit kunsprojekte en die maak van ’n herinneringboek in.

Die leeslys reg aan die einde van die boek is nuttig om gepaste boeke vir jou kind te kies vir ekstra leesstof. “Tydens die dood van ’n geliefde, en ook by ’n egskeiding, moet die waardevolle bydrae wat ’n boek kan lewer, nie onderskat word nie.”

Elke ouer behoort Jou kind en verlies aan te skaf as ’n praktiese gids waarna hulle keer op keer kan terugverwys.

Lees hier ’n verkorte deel van ‘Hoe om met kinders oor egskeiding te praat’:

Verdriet tydens ’n egskeiding

Vir kinders bly ’n egskeiding altyd ’n krisis. Wat vanselfsprekend was, verdwyn. Die ouers bepaal dat hulle gaan skei, maar die kinders skei saam. – Anoniem

Egskeiding is nie net één oomblik in ’n kind se lewe nie: Dikwels is daar vooraf lankal sprake van rusie en onmin in die huis. Die uiteindelike skeidingsproses kan partykeer uitgerek wees en natuurlik is die situasie ná die egskeiding ook opnuut anders vir die kind.

Een ding bly egter seker: Die situasie soos wat dit was, kom nooit weer terug nie. Kinders moet van hul vorige lewe afskeid neem. Daarom gaan hulle tydens ’n egskeiding ook deur ’n proses van rou.

Net soos volwassenes rou hulle ook nie op presies dieselfde tyd en op presies dieselfde manier nie. Daar is wel ’n paar stappe wat ’n kind een of meer kere moet gee. Dit is egter nie aan ’n spesifieke tydstip of orde gebonde nie. 

Ontkenning:

In die eerste instansie sal jou kind dalk die egskeiding wil ontken. Ná so ’n skok wend die kind haar na ’n mate van ontkenning om te kan oorleef en om langsaam die realiteit te konfronteer.

Kinders bly nog vir baie lank hoop dat hulle ouers in ’n fase is wat sal verbygaan en dat hulle weer sal herenig. Daarom is dit belangrik om voortdurend te beklemtoon dat die egskeiding finaal is, selfs al kom jy en jou voormalige maat nog goed oor die weg.

Vertel gereeld waarom julle besluit het om te skei en herinner jou kinders voortdurend daaraan dat dit nie hulle skuld is nie.

Woede:

’n Kind kan woedende en aggressiewe gedrag toon omdat sy voel dat julle haar benadeel of miskien omdat sy dink dat een ouer al die skuld dra vir die gebeure.

Woede en aggressie is ’n manier om uiting aan haar onmag in die situasie te gee. Die kind besef dat sy niks kan doen om haar ouers weer bymekaar te bring of gelukkig te maak nie, en dit kan haar baie kwaad of verdrietig maak.

Daarom is dit nodig vir ouers om die woede te aanvaar en die kind nie emosioneel in die steek te laat wanneer sy kwaad word nie. Ouers moet bly luister na wat sy sê en genoeg tyd en ruimte vir gesprekke laat.

Onthou om kinders ook voldoende tyd te gun om net lekker te speel – julle hoef nie die hele tyd te praat nie.

Onttrekking:

’n Kind kan ook heeltemal onttrek en niks sê nie. Dit is onnodig om heeltyd aan haar te torring, maar jy moet wel beskikbaar wees met jou volle aandag, wanneer sy dalk ’n keer wil praat of ’n speletjie saam met jou wil speel.

Somberheid of depressie:

Ná die fase van woede kan die kind terneergedruk en hartseer word. Soms is hulle ook fisiek moeg en knieserig. Dit gebeur gewoonlik wanneer ’n kind besef dat die situasie onherroeplik verander het.

Die verandering gaan natuurlik ook gepaard met nuwe onsekerhede en sy kan baie hieroor tob en selfs depressief raak.

Vrae maal deur die kind se kop soos: Hoe lyk die nuwe “normaal”? Hoe moet ek dit aan my maats vertel? Waar gaan die ouer bly wat uittrek? Wat gaan ek doen as my ouers nuwe liefdes kry?

Aanvaarding:

Uiteindelik sal die kind die nuwe situasie aanvaar. Hoe beter ouers met mekaar omgaan tydens die egskeiding, hoe gouer behoort die kind vrede te maak daarmee.

Natuurlik kan daar weer tye kom dat sy opnuut kwaad of hartseer of terneergedruk is soos wanneer een van die ouers weer trou of daar ’n nuwe baba gebore word.

Verligting:

’n Kind kan ook verlig wees omdat sy ouers skei omdat daar aanhoudende rusies was of miskien selfs geweld in die gesin was, maar selfs dan sal kinders soms nog emosies van verdriet, woede en verlies ervaar. 

verlies rou egskeiding dood

Moenie te lank wag nie

Dit is sekerlik makliker gesê as gedaan, maar mens moenie te lank wag vandat jy besluit het om te skei totdat jy die kinders vertel nie. Al baklei ouers agter geslote deure, voel kinders al die rusies, stiltes en onheil aan wat in die periode voor die finale besluit in ’n huis afspeel.

Kinders lees en internaliseer hulle ouers se emosies moeiteloos, al doen laasgenoemdes hulle absolute bes om die kinders “buite die geveg” te hou.

Ook babas en kleuters kan feilloos aanvoel wanneer daar groot probleme in die huis is en dit affekteer selfs die kleinste een.  

Die kanse is goed dat ouers in die tyd voor die aankondiging dat hulle gaan skei, nie genoeg met hulle kinders praat nie. Die dreigende egskeiding is immers voorop in hul gedagtes en hulle het dikwels nie die krag of tyd om rustig met ’n kind oor enigiets te praat nie.

Dit kan tot gevolg hê dat die verhouding tussen ouer en kind reeds agteruitgegaan het wanneer die aankondiging gemaak moet word. Dit kan baie help om ekstra moeite met jou kinders te doen in die periode voordat die egskeiding amptelik aangekondig word.

Om die aankondiging so maklik moontlik te maak, is dit nodig om oop kommunikasielyne en wedersydse vertroue tussen jou en jou kinders te hê.

Die groot vertel

Hoewel kinders gewoonlik natuurlik lankal vermoed dat dinge nie goed tussen hulle ouers verloop nie, bly die groot gesprek, wanneer ouers aankondig dat hulle gaan skei, iets wat die meeste kinders vir altyd onthou. Dit is daarom noodsaaklik om saam met jou eggenoot goed te besin oor hoe julle die nuus gaan oordra.

Dit is die beste as albei ouers vertel en aan al die kinders tegelyk. Indien daar besluit word om die kinders afsonderlik te vertel, sal daar van die kind wat eerste die nuus ontvang, verwag word om stil te bly tot al die ander kinders ingelig is. Dit is bykans ’n onmoontlike eis aan ’n kind van enige ouderdom.

As die eerste gesprek goed deur beide ouers hanteer word, sal dit die kinders op die lang termyn meer positief oor die saak laat voel. Maar dit is natuurlik glad nie so eenvoudig in die praktyk nie: Beide ouers gaan waarskynlik in so ’n gesprek in met opgekropte emosie en woede, en buitendien kan ’n mens vooraf nooit presies weet hoe kinders op die slegte nuus gaan reageer nie.

Moenie huiwer om professionele hulp in te roep as jy glad nie kans sien om die gesprek te voer nie.

Voor julle die kinders bymekaar roep, moet julle eers saam ’n taktiek uitwerk. Probeer om ’n logiese, chronologiese verhaal op te bou waarin julle kan verduidelik waarom die huwelik op ’n egskeiding uitgeloop het. Dit was die aanvanklike situasie, toe het daar dinge gebeur wat die situasie verander het, nou lyk die situasie só, en dit is wat nou gaan gebeur. 

Maak vooraf ’n lys van wat vir die kinders gaan verander en wat dieselfde gaan bly. Dit sal sorg dat julle hul vrae kan beantwoord en ’n sekere mate van sekuriteit skep. Dit is regtig nie ’n opsie om kinders in die duister te hou oor waarom julle gaan skei nie; kinders versin dan hulle eie verhaal wat totaal verkeerd kan wees.

Kies ’n goeie tyd om die gesprek te voer. Doen dit aan die begin van ’n rustige week wanneer daar nie verjaardae, eksamens en toetse of belangrike sportbyeenkomste is nie.

Wanneer julle die kinders vertel, is die fokus op die kinders, probeer om jou eie emosies te beteuel en gee hulle die kans om hulle emosies uit te druk. Luister goed na wat kinders sê en wys hulle dat jy hul gevoelens ernstig opneem.

Ouers moet hulle eerder oopstel vir die kind en baie goed luister. Deur dan en wan aan te moedig: “Ja?”; “Presies”; “Vertel maar verder”, kan jy die kind gerusstel en die vrymoedigheid gee om te praat.

Soms het kinders ook voorstelle oor hoe die proses kan verloop en kan julle gerus hierna luister. Dit is veral belangrik dat ouer kinders voel hulle wense word ook in ag geneem wanneer dit kom by sake soos wanneer en hoe lank ’n kind by ’n bepaalde ouer bly. Dit maak kinders magteloos en hartseer as alle besluite namens hulle geneem word.

Om na die kinders se wense te luister is egter anders as om kinders vryspel te gee om te kies wanneer en hoe hulle by watter ouer wil bly. Onthou, die finale beslissing word bepaal deur ’n deeglike, sorgsame, wettige ouerskapplan en nie deur die kinders se wense nie.

Die ouers moet tydens die gesprek langs mekaar sit. En moenie met mekaar baklei terwyl julle met die kinders praat nie. 

Verduidelik dat julle alles moontlik gedoen het om die skeiding te voorkom, maar dat dit nie gewerk het nie. Sê herhaaldelik dat die kinders geensins die skuld dra vir wat gebeur het nie en benadruk dat julle albei die kinders ewe lief het. 

Gee hulle genoeg tyd en kans om vrae te stel. Gee hulle ook genoeg ruimte om kwaad en hartseer te wees.

Vertel baie duidelik watter dinge dieselfde gaan bly – moenie net fokus op wat gaan verander nie.

Spreek af met die kinders hoe die nuus aan die familie, vriende en res van die wêreld vertel gaan word. Onthou dat kinders maklik sosiale media inspan om nuus die wêreld in te stuur.

Besluit saam hoe en wanneer en wie dit op sosiale media gaan sit. Spreek baie duidelik hieroor af. Dink goed na oor wat jy op sosiale media gaan kwytraak oor jou nuwe status, veral as jou kinders jou plasings kan lees. 

Dit is beter om te sê: “Ons maak mekaar nie meer gelukkig nie”, as om te sê: “Ons is nie meer lief vir mekaar nie.”

Sê eerder: “Ons bly saam jou ouers”, as om te sê: “Ons sal vriende bly”. In die praktyk is ’n goeie vriendskap meestal nie haalbaar nie.

Ouerskap
Foto ter illustrasie: Getty Images.

Nasorg en opvolggesprekke

’n Kind se rouproses gaan nie noodwendig presies soos dié van die geskeide ouer verloop nie. Kinders is dikwels besorg oor hul ouers en wil hulle nie met hul eie angste en vrese belas nie.

Selfs al lê ’n mens se eie hart in skerwe, moet jy bewus bly van jou kind se emosies en seker maak dat dit goed gaan, ook al lyk dit asof die kind nie ’n probleem het nie. Daarom is dit van groot belang om deurentyd in gesprek te bly.

Jy en jou eks kan nie alles volgens die boekie doen met die aankondiging van die egskeiding en vervolgens in ’n moddergooiery verval nie.

Maak seker dat julle dieselfde verhaal bly vertel oor waarom julle geskei het. Dit is nie ’n goeie idee om mekaar agteraf die skuld te gee nie, so plaas jy kinders indirek voor ’n keuse. Wees versigtig om nie die slagofferrol aan te neem nie: “Ek is nie die een wat wou skei nie, ek wou ons nog ’n kans gee. Ek is gelos vir ’n ander man/vrou.”

Voer moeilike gesprekke met jou eks op ’n plek waar die kinders julle nie kan sien of hoor nie. 

Onthou altyd dat jy ’n mede-ouer is en dat die kind sentraal staan. Kinders is nie ammunisie wat jy in die geveg kan gebruik nie. Kinders is ook nie ’n afpersmiddel wat jy kan gebruik om jou sin te kry nie. Moet ook nie besonderhede omtrent jou voormalige maat se nuwe lewe uitvis of deur die kinders belangrike informasie aan jou maat kommunikeer nie.

Wanneer die ander ouer die kinders kom haal, is dit goed om hom of haar in die oë te kyk en beleef te bly.

Geen kind hou daarvan as een ouer sleg van die ander praat nie. Bly eerder beleef en ordentlik in jul kommunikasie. Onthou, kinders het ’n ewige band met albei ouers. Ook al is julle geskei, bly julle as ouers verbonde. ’n Kind het die reg op kontak met, en die sorg en liefde van beide ouers.

Selfs wanneer die ander ouer geen besoekreg het nie, is dit beter om jou kind die beste van daardie ouer te gun. Om jou voormalige maat voortdurend af te kraak, laat jou miskien beter voel, maar dit saai angs en onsekerheid by enige kind.

Gee jou kind te alle tye die ruimte om lief te kan wees vir beide ouers. Spreek ’n vaste tyd elke dag af wanneer die kind die ander ouer kontak. Dit is veral belangrik terwyl die kinders nog klein is. Kinders hou van vastigheid en struktuur en so ’n kontakoomblik kan verhoed dat die kind te veel verlang of bekommerd raak oor die ander ouer.

Soms is ’n mens bitter kwaad en is dit byna onmoontlik om die eerste ruk ná die egskeiding beskaaf met mekaar te praat. In so ’n geval is dit beter om per e-pos te kommunikeer.

Dit gee die ander persoon kans om na te dink oor ’n antwoord en sal hopelik nie so gou op ’n rusie uitloop nie. Indien dit nie werk nie, kan julle nog altyd ’n derde, onafhanklike persoon vra om by die korrespondensie ingesluit te word sodat julle beskaaf met mekaar kan omgaan.  

Plak ’n briefie teen die yskas of teen jou spieël met die woorde: Wat is die belangrikste vir my kind? So herinner jy jouself voortdurend daaraan om op die regte sake te bly fokus. Wanneer jy jou voormalige maat bel, sit ’n foto van jou kind langs jou neer om jouself daaraan te herinner om gematig te bly tydens die gesprek.

Al klink dit hoe simpel, tel altyd tot tien voor jy iets sê, dit help regtig om koelkop te bly. En maak ’n punt daarvan om so min moontlik “ja, maar jy” te sê. Daar word beweer dat wanneer ’n mens glimlag, jy ook dadelik meer positief ervaar sal word deur die persoon met wie jy praat. Dit is ’n probeerslag werd.

’n Goue reël is dat hoe duideliker die afsprake is wat julle betreffende die kinders maak, hoe kleiner die kans op rusie en woede.

Probeer om nie in ’n kompetisie te verval van wie die beste en lekkerste ouer is nie. Kinders raak diep vermoeid wanneer hulle ouers mekaar heeltyd probeer troef met die duurste geskenke en lekkerste vakansies.

Uiteindelik bly ’n kind ook maar net ’n kind: op dae wat jyself miskien bitter swaarkry, kan jou kind, soos enige kind, gedrag toon waarvoor jy nie krag het nie. Die beste is om dan maar op jou tande te byt en jou bes te doen om jou kind nie met allerhande verwyte oor die egskeiding en jou groot verdriet op te saal nie.

Dit is belangrik om nie in ’n vegskeiding te verval nie. Alle navor sing dui daarop dat kinders wat onderhewig was aan vegskeidings, meer aggressiewe gedrag toon, slegter presteer op skool en soms selfs oorgaan tot jeugmisdaad.

Kinders weet soms nie hoe om ontslae te raak van hulle verdriet nie. Help jou kind deur hom te wys op die moontlikhede wat daar is, byvoorbeeld: om boeke te lees oor kinders wie se ouers geskei het, om ’n dagboek te hou, om ’n nuwe sportsoort te leer beoefen, om musiek te maak, om te teken of om net meer tyd in die buitelug deur te bring.

Speel self meer met jou kinders. As dit lyk of jou raad nie aanklank vind nie, moet jy dit oorweeg om professionele hulp in te roep.

* Prys onderhewig aan verandering sonder vooraf kennisgewing. 

JONGSTE UITGAWE

Maart/April-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees