Dié 2 boeke evalueer Suid-Afrika se huidige politieke atmosfeer en sê hoe ons hier gekom het

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Derde van die land se bevolking is afhanklik van maatskaplike toelaes, miljoene gaan slaap saans honger, daar is erge armoede en sowat 45% van Suid-Afrikaners is werkloos.

Pieter du Toit probeer in sy jongste boek verduidelik waarom Suid-Afrika in so ’n benarde posisie is. Daarteenoor ontbloot Jacques Pauw in sy nuwe boek die voortslepende korrupsie in die land verder en verduidelik hoe sleg die gevolge hiervan vir gewone landsburgers is.

politiek

‘The ANC Billionaires’, Pieter du Toit (Jonathan Ball, *R300)

Hierdie is een van die beste politieke boeke wat vanjaar in Suid-Afrika verskyn het.

Dit bied aan die leser meer insig oor die oorgang na demokrasie in die land en probeer verduidelik hoekom die land in die benarde posisie is waarin hy hom tans bevind.

Daar word veral aandag gegee aan die verhouding tussen die sakewêreld en die ANC wat gelei het tot die opkoms van ANC-biljoenêrs soos pres. Cyril Ramaphosa, die mynmagnaat Patrice Motsepe en die sakeman Saki Macozoma. Hulle het almal groot voordeel getrek uit bemagting.

Suid-Afrika is tans by ’n baie gevaarlike buigingspunt. ’n Derde van die land se bevolking is afhanklik van maatskaplike toelaes, miljoene gaan slaap saans honger, daar is erge armoede en sowat 45% van Suid-Afrikaners is werkloos.

Du Toit, ’n ervare en skerp politieke joernalis en ’n assistentredakteur van News24, haal oudminister Jay Naidoo, eerste sekretaris-generaal van die vakverbond Cosato, in die inleiding van die boek aan wat sê dinge in die land kon veel anders daaruit gesien het.

Hy meen Suid-Afrika kon ’n beter plek gewees het as die eertydse Nasionale Party-regering, groot maatskappye en die ANC destyds met die onderhandelinge vir ’n nuwe demokratiese bestel, bo hul ondersteuningbasis uitgestyg het.

“Polities het die Nasionale Party bo sy kiesers uitgestyg om gemeenskaplike basis met ons (die ANC) te vind. Kon ons dit nie met die ekonomie ook gedoen het nie?”

Hy sê dan sou die land hom nie in ’n situasie bevind het waar mense agter hoë mure, elektriese heinings en met gewapende sekureiteitswagte wegkruip en selfs te bang is om hul wonings te verlaat nie.

Dié boek handel in hoofsaak oor die verhouding tussen die groot maatskappye (insluitende die mynbedryf en maatskappye soos Old Mutual, Sanlam en Barloworld) en die ANC voor, gedurende en ná die onderhandelinge om ’n nuwe politieke bestel tot stand te bring.

In 1985 het Gavin Relly, toe die voorsitter van die mynreus Anglo American, ’n groep senior Suid-Afrikaanse sakelui na Zambië gelei om ’n afvaardiging van die ANC in Zambië te ontmoet. Die ANC was toe nog in ballingskap.

Dié besoek het gevolg nadat daar dadels gekom het van die langverwagte “Rubicon-toespraak” van die destydse pres. PW Botha. Daar is vooraf bespiegel Botha sou ingrypende politieke hervormings aankondig.

Relly en baie sakeleiers in die land was bekommerd, omdat Suid-Afrika hom in ’n diep en donker politieke gat bevind het. Politieke onrus was aan die orde van die dag. Daar was ’n noodtoestand.

Du Toit skryf Relly en ander in “Mainstraat 44”, Anglo se hoofkantoor in Johannesburg, was baie besorgd oor wat die verbanne ANC se beleid van kommunisme en sosialisme vir die land se ekonomie sou inhou indien dié party die bewind in die land se oorneem.

Anglo het met scenario-beplanning (met die bekende Clem Sunter aan die stuur) begin en ander maatskappy genooi om met hulle te begin saamwerk om iets te help doen aan die land se politieke toekoms.

Hulle was bang dat die ANC, soos hy met sy Vryheidsmanifes van 1955 aangedui het, banke, myne en groot industrieë sou nasionaliseer. 

Relly-hulle, wat gemeen het die ANC was nog vasgevang in die 1950’s, het met die ANC in gesprek tree, omdat dit duidelik was Botha en sy regering sou nie. Die NP-regering was nie gemaklik met dié ontmoetings van Relly-hulle met die ANC nie.

Die sakewêreld het geweet hy moes na sy eie belange begin omsien om te oorleef.

Naidoo sê dié vrese van Relly en die ander sakeleiers oor nasionalisering was geregverdig. Baie van die intellektuele ANC-swaargewigte het hulle met die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) vereenselwig. Die Sowjet-Unie was vir hulle dié model.

Anglo en verskeie ander groot maatskappye was oortuig dat die ANC op die hoogte gebring moes word van die moderne ekonomiese teorieë. Hulle wou die party daarop voorberei dat as hy die land sou oorneem, hy te make sou kry met ’n vryemarkekonomie.

Dit sou die land – en die ekonomie, insluitende groot maatskappye – erg benadeel het as die ANC sy rug op die vryemarkstelsel sou keer. In daardie stadium was sanksies teen die apartheidsregering boonop besig om die Suid-Afrikaanse ekonomie baie seer te maak.

Du Toit skryf daar is bereken dié besoek van Relly en ander sakelui was een van sowat 167 wat tussen 1983 en 1990, toe die ANC ontban is, tussen verskeie groeperings en die ANC in ballingskap plaasgevind het.

In ballingskap het die ANC se ekonomiese eenheid meestal gefokus op sanksies teen die apartheidsregering as op ’n alternatiewe ekonomiese beleid vir die land. Die politieke stryd om apartheid tot ’n val te bring, was vir dié vryheidsbeweging prioriteit.

Nadat pres. FW de Klerk die party op 2 Februarie 1990 uit die bloute ontban het (dit alles het saamgeval met die val van die Berlynse muur en die ineenstorting van die Sowjet-unie), het die ANC geskarrel om ’n beleidsmaking-kapasiteit te ontwikkel. Hulle het nie ’n behoorlike ekonomiese plan gehad nie.

Volgens Du Toit het Trevor Manuel, ’n latere minister van finansies, aan hom gesê Mandela, wat in sy dae in die tronk nasionalisering voorgestaan het, se siening oor nasionalisering het verander nadat hy in 1991 die Wêreldekonomiese Forum se sitting in Davos, Switserland, bygewoon het.

En dié lesse het nie gekom van Westerse lande nie, maar van lande soos China en Viëtnam wat noue bande met die ANC gehad het.

Die ANC-kaders wat jare lank in die buiteland was, het volgens Michael Spicer, ’n senior lid van die Anglo American-bestuur, nie ’n idee gehad van hoe Suid-Afrika verander het sedert hulle uit die land weg is nie.

Baie van die terugkerende kaders het niks besit nie. Hulle het nie geld gehad nie. Die ANC kon hulle slegs R2 000 per maand betaal. Só het baie van hulle afhanklik geraak van die hulp wat hulle van die sakewêreld ontvang het. Dit het gelei tot die skep van ’n nuwe elite.

Dit is ’n baie insiggewende boek en goed nagevors, soos die omvangryke bronnelys aandui. – Sarel van der Walt is ’n joernalis van Netwerk24.

politiek

‘Our Poisoned Land’, Jacques Pauw (Tafelberg, *R340)

Dié boek is ’n voortsetting van die onthullings oor staatskaping en korrupsie wat Pauw in sy topverkoper The President’s Keepers ontbloot het. Destyds het Arthur Fraser, voormalige spioenbaas van die Staatsveilgheidsagentskappe, probeer keer dat dié boek die winkelrakke haal. Hy het nie daarin geslaag nie. 

Met sy nuwe boek het Pauw hom die gramskap van die EFF en sy leierskap op die hals gehaal. 

Julius Malema, EFF-leier, se prokureur het in ’n brief aan Pauw se uitgewer daarop aangedring dat die boek onmiddellik aan die mark onttrek moet word en dat Pauw, sowel as NB Uitgewers, onvoorwaardelik om verskoning moet vra aan Malema, Floyd Shivambu, Mbuyiseni Ndlozi en die EFF as ’n geheel.

Die EFF voer aan die bewerings in die boek is vals en lasterlik. 

Een van die hoofstukke van die nuwe boek onthul beweerde skakels tussen Malema en die sogenaamde sigaretsmokkelbaas Adriano Mazzotti. Dié omstrede sakeman se naam is in Pauw se vorige boek gekoppel aan dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, toe sy ’n kandidaat was in die ANC-leierskapstryd teen pres. Cyril Ramaphosa.

Pauw skryf ook oor wilde EFF-partytjies waar die drank gevloei en seks aan die orde van die dag was. Dit was hoofopskrifte in die media ná publikasie van die boek. 

Veel ernstiger is Malema en Shivambo se finansiële konneksie met VBS Mutual Bank en die voordeel wat hulle daaruit getrek het ten koste van die arm kliënte wat al hul swaarverdiende spaargeld verloor het toe dié bank ten gronde gegaan het.

Pauw en die uitgewer het geweier om die boek te onttrek. Dié omstredenheid maak dat baie mense dadelik ’n eksemplaar van Our Poisoned Land onder oë wil kry. 

Destyds het Fraser se poging gehelp dat daar uiteindelik meer as 205 000 eksemplare van The President’s Keepers verkoop het. Die EFF gee uitstekende publisiteit vir Pauw se nuwe boek en plaas net meer aandag daarop. 

Waar oudpres. Jacob Zuma sentraal gestaan het in The President’s Keepers, fokus Pauw nou op die vergryping van sy lakeie wat hy laat plant het in die staatsdepartemente waar vraatsigtelik aan die trog gevreet kon word, sowel as diegene wat help om die korrupsie onder die mat in te vee.

Dié keer kom die voortgesette korrupsie en verval van Transnet, en meer spesifiek Prasa, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die Nasionale Vervolgingsgesag en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens onder die loep. 

Pauw ontrafel komplekse finansiële konneksies van staatskaping en korrupsie deur sy gesprekke met fluitjieblasers, ander rolspelers en die groot getalle dokumente wat hy bestudeer het. 

Gewone mense trek aan die kortste ent. Net om twee voorbeelde te noem: Daar is geen betroubare treindienste nie en misdaadsyfers het die hoogte ingeskiet. 

Dan praat ons nie eers van die miljarde rande wat uit staatskoffers verlore gegaan het vir die heropbou van infrastruktuur of die verskaffing van behoorlike openbare dienste nie.

’n Mens sou hoop onder Ramaphosa se presidentskap sou daar sedertdien meer vordering gemaak word om die korruptes aan die pen te laat ry.

Veral ná die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping waar soveel van die rolspelers in Pauw se boek moes getuig oor die afgelope jare se korrupte gebeure. 

Ongelukkig lyk dit of die leierskap van die ANC ’n onwilligheid het om mense te straf – baie van die oortreders is bloot geskuif na posisies uit die openbare oog waar hulle die party se beeld minder skade kan berokken. 

Pauw eindig die boek so: “Ramaphosa lacked courage and urgency in his first term as president. He now needs to change the course of this poisoned land. If he fails, we will again be at he mercy of the keepers.” 

Dis maklik om negatief te raak wanneer ’n mens hierdie boek lees, maar dan besef jy daar is ook nog goeie staatsamptenare wat wel voortveg om Suid-Afrika ’n beter plek te maak. Vir hulle, en vir onsself en ons kinders, moet ons bly hoop . . . – Phyllis Green

  • Dié boek het so goed verkoop dat NB Uitgewers onlangs laat weet het, dat hulle die oorspronklike oplaag met ’n tweede druk van die boek gaan aanvul.

* Prys onderhewig aan verandering sonder vooraf kennisgewing.

JONGSTE UITGAWE

Januarie/Februarie-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees