Deel

Dié kinderboeke is perfek vir jou kroos hierdie skoolvakansie

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Hierdie boeke is heerlike leesstof en boonop gaan die klompie stories jou kind op ’n prettige manier help om iets oor die lewe te leer.
Boeke.
Foto ter illustrasie: Getty Images.

Haal die angel uit jou kind se nagmerries met ’n slaapstorie waarin nagmerries opgeeët word. Kinders moet weet dis okei om anders te wees en dat hulle groot drome mag koester.

En ’n vreemdeling is iemand wat nog nie jou vriend geword het nie! Om deur moeilike tye te kom, is die hulp van vriende onontbeerlik.

hulp

‘Die Nagbeer’, Ana de Moraes, vertaal deur Philip de Vos (Human & Rousseau, *R160)

Vir die meeste klein kinders is slaap ’n onnodige euwel. In ’n wêreld waar alles nuut en opwindend is, voel slaap soos tydmors. Gooi nare drome in die mengsel en dis ’n resep vir ’n nagmerrie teen slaaptyd.

Die oulike slaaptydstorie is nie net om jou kleingoed rustig te maak nie, maar ook om hul vrese vir die donker nag te paai.

Die rymvertaling deur Philip de Vos is boeiend en strelend en vertel die storie van ’n beer wie se gunstelingpeuselhappie, nagmerries is.

Saans, as alles stil is buite, ry hy in sy nagbus, opsoek na kinders se nare drome, in ruil vir lekker drome oor reënboë en eenhorings. Aan die begin van die boek is daar ook instruksies om jou eie Nagbeer-wegneemboks te maak, waarin kinders hul slegte drome vir die Nagbeer kan bêre.

Die oulike storie haal die angel uit nagmerries vir die meeste kinders. Die Nagbeer is ’n fantastiese boek wat beloof om onmiddellik ’n treffer in enige huis te word. – Marteli Brewis

 
hulp

‘Waag dit!’, Lorna Gutierrez met illustrasies deur Polly Noakes (Jacana, *R130)

In hierdie inspirerende storie word kinders uitgedaag om te droom, te aspireer, te vertrou en bowenal, om ander te inspireer.

Die oulike illustrasies wys kinders dis oukei om anders te wees. Op die openingsblad verskyn ’n seun in ’n tutu, omdat hy van ballet hou. En dis nie iets waaroor hy gespot moet word nie. Dit moet aangemoedig en omarm word deur ander kinders.

Jy mag ook van kleins af vir mense vertel waarin jy glo, soos die skets met die meisie wat ’n plakkaat ophou met ’n boodskap oor die kwessie wat sy wil bevorder: “Sê nee vir plastiek.”

Kleintyd reeds kan aktivisme vir die regte kwessies so aangemoedig word. En as jy raaksien iemand word nie reg behandel nie, kan jy daardie kind help deur vir iemand daarvan te sê. So word boeliery in sy spore gestop.

Daar is baie maniere om dapper te wees, vertel die skrywer van die boek. Sy doen dit sonder om te preek, maar deur kinders deel van die verhaal te laat voel.

Die boekie kan kinders help om gemaklik te raak in hul eie vel, juis omdat hulle anders is. Die rymformaat en vloeiende waterverf sketse skep ’n heerlike leesritme vir hardop-lees. Die boek is ook beskikbaar in Engels as Dare. ’n Aanwins vir elke kind se boekrak. – Phyllis Green

hulp

‘Hotel Ietermagô’, Dianne Hofmeyr met illustrasies deur Theodore Key (Tafelberg, *R175)

Ietermagô se wêreld word op sy kop gekeer wanneer Aardvark langs hom intrek. Aardvark krap Ietermagô se geordende lewe en roetine heeltemal deurmekaar.

Aardvark bly praat en praat en praat en kom gedurig met nuwe planne na vore. Planne soos dat hulle ’n hotel moet begin. Ietermagô stem later in, maar slegs as daar sekere reëls nagekom word. Reëls wat sal verseker dat niemand in die hotel sal kan tuisgaan nie!

Eendag besluit Aardvark hulle moet rivier toe stap om te gaan swem. Aardvark val in die water, maar hy kan nie swem nie. Gelukkig red Seekoei hom.

Die verhaal draai om ’n onwaarskynlike vriendskap en beklemtoon hoe belangrik dit is om altyd ander in moeilike tye te help. Die geïllustreerde storie is op jonger lesers wat self kan lees gemik en is heerlik komies.

Dis in Afrikaans vertaal deur Elsa Silke en die illustrasies is deur Theodore Key. – Karien Labuschagne

hulp

‘Die groot kompetisie’, Marieta McGrath met illustrasies deur Daniela Hammond (Naledi, *R170)

Elke jaar in Woudstad word daar kompetisie gehou. Pryse word uitgedeel aan die grootste, kleinste, fluksste en luiste dier – om net ’n paar van die kompetisies te noem. Louis Luidier wen elke jaar die prys vir die luiste dier. Dis geen verrassing nie, want hy is immers ’n luidier!

Hierdie jaar het sy buurvrou, Liena Luidier, egter groot planne om dié prys weg te rokkel. Sy bou ’n masjientjie wat blare vir haar pluk! Louis besef hy sal ’n plan moet maak, anders is hy sy titel kwyt.

Hy bou ’n toestel wat nie net blare pluk nie, maar vrugte ook en dit boonop skil en kerf.

So begin ’n wedywering tussen die twee om die ander een uit te stof as die luiste dier in die woud. As die werk deur die masjiene gedoen word, kan die twee mos doen wat hulle die beste doen, en dis niks!

Dan breek die groot dag van die beoordeling aan. Wie gaan met die prys wegstap? Of is dit ’n kwessie van slim van sy baas?

Hierdie oulike storie leer kinders dat kompetisie regverdig en op ’n gesonde manier moet plaasvind. Jy kan jouself in die voet skiet as jy ten alle koste wil wen. – Karien Labuschagne

hulp

‘Die onderonsie’, Claude Boujon, vertaal deur Amelia de Vaal (Protea Boekhuis, *R150)

Dit gebeur dat jy vir lank goeie vriende is met iemand, en op ’n dag stry julle oor ’n simpel ding. Nou fokus julle so op die simpel ding waaroor julle stry dat julle skoon vergeet van jul vriendskap. Tot die oomblik wanneer iets gebeur wat julle altwee bedreig en julle saam moet werk om die bedreiging af te weer.

Dis presies waaroor hierdie boekie gaan. ’n Bruin haas en ’n grys haas is goeie bure, tot die dag wat dié twee aan die stry raak. Eers is dit die een se rommel wat rondlê, dan is die ander een se radio wat te hard is. Wat nog te sê van die wasgoedlyn wat die een haas se uitsig bederf!

Wat as ’n onderonsie begin het, raak uiteindelik ’n vuisgeveg.

Die twee hase is so besig om mekaar op te foeter dat hulle nie die honger jakkals sien wat hulle bekruip nie. Om nie opgevreet te word nie, moet die twee hase die vuiste laat sak en saamwerk om te ontsnap.

Wat is die les? Moenie dat simpel goed ’n goeie vriendskap tot ’n einde bring nie. – Phyllis Green

 

hulp

‘Wonderfully made’, Tshwanelo Serumola met illustrasies deur Subi Bosa (Pan Macmillan, *R190)

Die boekie is gemik op meisies met ’n donker vel, maar ek voel elke vroulike leser sal by die storie baat.

Brown girls are risk takers, move makers and planet shakers.We can be scientists, artists, engineers or any other kind of pioneer. Brown girls are brave, we follow the example of others. Women who came before us – our sisters and mothers.”

Jy is wie jy is en jy is mooi soos wat jy geskape is. Of jy nou lig, donker of ’n ander kleur is, dis nie ter sake nie. Wat wel tel, is dat jy enigiets in die wêreld kan wees.

As jy gemaklik in jou vel is, sal groepsdruk jou nie van jou aspirasies en drome laat afsien nie. Die boekie help meisies om selfvertroue aan te leer en om van jongs af trots te wees op hul herkoms.

In vandag se wêreld waar dit so maklik is om iemand te body shame, is die les ’n waardevolle een – nie net vir meisies nie, maar ook vir hul mammas. Jy kan ’n superheld wees, maak nie saak hoe groot, watter kleur of wat jou herkoms is nie. Jy moet net in jouself glo.

Die boekie is ook beskikbaar in Setswana en isiXhosa. – Phyllis Green

 
hulp

‘Op Pappa se skouers’, Niki Daly (Tafelberg, *R170)

Dis lekker om saam met Mamma, Gogo en Tata skool toe te stap. Maar die dae wat jou Pappa jou op sy skouers tel en so met jou skool toe stap, is werklik uitsonderlik. Hierdie storie beklemtoon goeie familieverhoudings, maar fokus op die belangrike een tussen pa en seun.

Op die staptog na die skool sien die stappers elke dag iets anders, want Mamma, Gogo en Tata stap nie dieselfde paadjie nie.

Die seuntjie se gesinslede leer vir hom verskillende lesse. Mamma se les gaan oor om betyds te wees, Gogo weer leer hom mededeelsaamheid en Tata laat hom sorgvry toe om net te kan speel.

Op sy pa se skouers sien hy alles egter heeltemal anders, want daar voel hy asof hy die wêreld aan sy voete het.

Op ’n insiggewende manier word die kind deur hierdie verhaal gelei tot die besef dat elke familielid ’n spesiale rol in sy lewe het. – Phyllis Green

* Prys kan verander sonder vooraf waarskuwing  

Skryf vandag nog in vir SARIE Voorbladgesig 2023!

Dertien jaar gelede het die eerste wenner van SARIE Voorbladgesig op ons voorblad gepryk – Alrie Velleman van Gqeberha.

Verlede jaar was Brittany Smith ons wenner.

En nou is dit tyd om ons 13de Voorbladgesig te kies. Dalk is dit jou jaar!

Dit is ook die vierde jaar dat ons SARIE Nuwe Gesig, spesiaal vir leerders van gr. 10 tot gr. 12, aanbied.

Ons vennoot van die afgelope vyf jaar, die Isa Carstens Akademie, kry boonop ’n nuwe spanmaat, African Extracts, en sáám is ons opgewonde om te sien wie vanjaar met die voorblad wegstap.

Gryp die geleentheid aan om deel te wees van iets besonders!

JONGSTE UITGAWE

Mei/Junie-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees