Boeiende leesstof: Verraad, wraak, politiek en ’n bobbejaan op ’n man se rug

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
In Kirby van der Merwe se onthutsende nuwe roman het die hoofkarakter ’n bobbejaan op sy rug . . .
Kirby van der Merwe. Foto: Brenda Veldtman
Kirby van der Merwe. Foto: Brenda Veldtman

Hieroor sê Kirby dit help nie om die bobbejaan aan mense te probeer verduidelik nie – jy moet die boek lees om daardie bobbejaan te ervaar.

Maar wie en wat is Eugene, die man met die bobbejaan op sy rug? Hy is ’n middeljarige joernalis, wel belese en voer op die oog af ’n rustige bestaan in Johannesburg.

Dis nou tot die dag wat hy op sy staptog op die geologiese roete in die Walter Sisulu Botaniese Tuin in Witpoortjie gekonfronteer word deur ’n jong man wat hom wil beroof. Hy verdedig homself met mag en mening soos hy in sy jong dae in die ghetto’s van die Kaap onthou.

Die hoofkarakter is kompleks en dra ’n donkerte in sy psige, maar, soos Kirby self sê, lesers moet die boek lees om die bobbejaan te ervaar, en te verstaan.

Ná die noodlottige voorval waarin die aanvaller sterf, is Eugene se lewe nie meer dieselfde.

Die roman begin en eindig in die hede, maar Eugene kyk ook terug na sy lewe en die mense wat ’n rol in sy vorming gespeel het. Jy leer hom ken uit sy kinderdae, maar ook uit sy jeugjare toe hy uit die Kaap na Hillbrow uitgewyk het agter sy vriende aan.

Daar is Eugene se boesemvriend, Alan, en dan die mooi meisie, Jenny, op wie hulle albei verlief was. Hoe beïnvloed sy verhouding met dié twee mense die keuses wat Eugene in sy lewe maak?

Lesers moet fyn lees om al die leidrade wat Van der Merwe plant uiteindelik by die ontknoping van Eugene se lewe te bring. Verraad, wraak, politieke bewuswording en protes is temas wat aangeroer word. Die hoofkarakter is kompleks en dra ’n donkerte in sy psige, maar, soos Kirby self sê, lesers moet die boek lees om die bobbejaan te ervaar, en te verstaan. 

 ‘Eugene’ deur Kirby van der Merwe (Human & Rousseau, R310).

Eugene, Kirby van der Merwe

‘Eugene’ verskyn 23 jaar ná jou debuutroman, ‘Klapperhaar slaap nie stil nie’ (Kwela, 1999). Waarom dié lang tydsverloop?

Ná die verskyning van my debuut was ek joernalis by die tydskrifte Insig, Huisgenoot en die dagblad Beeld. Intussen het ek romans uit Engels in Afrikaans vertaal.

Hieronder is skrywer Chris van Wyk se Eggs to Lay, Chickens to Hatch na Daar’s ’n hoender wat ’n eier nie kan lê. Carol Campbell se Karretjiemense, ’n Huis vir Ester en Die skilpad se laaste traan. En Zoë Wicomb se October na Oktobermaand asook Meg Vandermerwe se Vrou van die klippesee

En jou opvolgroman is opsygeskuif of het jy daaraan gewerk?

Die skryf van ’n roman is moeilik. Vir my altans. Dit verg deursettingsvermoë en gefokusde aandag, en ek dwaal verskriklik maklik af op dwaalspore. Ek sien en hoor iets interessants, en ek wil meer uitvis. Ek loop rond, leen my ore uit en doen alles om die harde werk te omseil. Toe kom Covid-19. 

Het jy ‘Eugene’ tydens die Covid-pandemie geskryf, en hoe het die virus jou geraak?

Die pandemie het vir baie mense hartseer en verlies gebring. Vir my was dit ’n bedekte seën. Dít tesame met NB Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd.

Die inperking het my gedwing om te sit en werk. En die sluitingsdatum van die wedstryd was ’n mikpunt. Ek het my manuskrip ingedien.

Was jy verras dat ‘Eugene’ die kortlys van die Groot Afrikaanse Romanwedstryd gehaal het?

Ja en nee. Ek het die stuk so goed soos wat ek kan in die beskikbare tyd geskryf. Ek het ook geweet ek het iets spesiaals beet, al het ek toe nie die kans gehad om die verhaal, in die beskikbare tyd, in sy volle omvang uit te brei nie.

Ek het gehoop die manuskrip sou die beoordelaars betower en laat wonder: Sjoe, watse anderse eienaardige stem het ons hier?   

Wat was die vonk vir die boek?

’n Waarskuwingsbord by die begin van die geologiese roete in die Walter Sisulu Botaniese Tuin in Witpoortjie, Johannesburg: Hikers please note that it is advisable to walk in a group. This is a precautionary notice as we have had no reports of any incidents, however, we are aware that the fence has been removed in places and this may pose a risk.

Ek is lief daarvoor om op my eie te stap in ooptes en berge. Maar in ’n stadium was daar ’n vlaag aanvalle op stappers en bergfietsryers, etlike noodlottige aanvalle. Ek het twee keer begin dink voor ek staproetes en ooptes invaar.

Ek dink almal het hiperwaaksaam geword. Dít was die vonk.

Kan jy asseblief uitwei oor die dinge wat jou inspireer om te skryf? Hoeveel van ‘Eugene’ is deur jou eie verlede aangevuur?

Die roman is fiksie. Tog, die wêreld waarin Eugene leef, sy ervarings is outentiek. Want nes Eugene, ken ek ook die ghetto se strate, agterbuurte, langstoepe en vuilhoeke soos die palm van my hand. 

Eugene vertel sy eie storie vanuit sy perspektief. Hoe moeilik is dit om die hele tyd in sy kop te bly om die verhaal te vertel?

Ek gebruik ’n alomteenwoordige verteller wat so in Eugene se kop is, sy wêreld so goed verstaan en ken dat lesers, dink ek, maklik die skrywer, verteller en karakter kan opklits. Wat in hierdie geval dan seker ’n kompliment is.

Eugene is uiters kompleks as mens. Die verhaal is op ’n manier gevul met geweld. Wat maak dat geweld amper ingebou is in die DNS van ’n karakter soos Eugene en sy tydgenote?

Ek het die Johannesburgse sielkundige Ronélle Hart Jaspan genader juis oor die vraag voordat ek die manuskrip ingehandig het.

Eugene se default setting is om homself gewelddadig teen te sit wanneer hy in lewensgevaar is. Sou sy optrede en karakter geloofwaardig wees, gegewe sy agtergrond? Sy het ’n volwaardige kliniese verslag van ene Eugene opgestel. Dié verslag is in die manuskrip ingesluit, maar is uitgelaat uit die gepubliseerde roman.

Dit sou onnodig wees, want die leser kan op grond van Eugene se lewe en agtergrond self gevolgtrekkings maak. 

Het jy die verhaal chronologies geskryf en toe die hoofstukke rondom die tydslyn rondgeskuif?

Nee, ek het op ’n raamvertelling besluit. Dit plaas die vertelling in die huidige hiperwaaksame tyd waar almal, teen wil en dank, ontheemd en vervreemd voel.

Die roman begin en eindig in die hede (2017), twee jaar nadat Eugene op die geologiese roete in die Walter Sisulu Botaniese Tuin aangeval is.

Dié aanval tesame met Eugene se reaksie daarop én sy toevallige ontmoeting daarna met sy destydse twee boesemvriende, wat hy veertig jaar gelede die laaste keer gesien het, laat tuimel die verhaal dan dekades, ’n leeftyd, terug. Want hy glo die aanval en toevallige herontmoeting met dié eertydse vriende is deur die Bose bewerkstellig as weerwraak en vergelding. 

Kan jy meer vertel oor Eugene se bobbejaan en die rol wat hy in Eugene se emosionele toestand speel?

Ek weet ’n storie, ’n roman, werk wanneer karakters oorneem en my begin voorsê. Eugene en die ander karakters het my op ’n sleurtog geneem, en die bobbejaan het homself by Eugene aangemeld. Ek het gevind dit help nie om die bobbejaan aan mense te probeer verduidelik nie – jy moet die boek lees om daardie bobbejaan te ervaar. 

Jy is ’n visuele kunstenaar, sowel as ’n skrywer en ’n joernalis. Hoe beïnvloed die verskillende dissiplines die manier waarop jy jou kreatiewe skryfprojekte aanpak?

Ek werk aan ’n reeks “trauma-skilderye en -sketse” wat deur die karakter Eugene gemaak word. En dus deur Eugene onderteken word.

Wat lê nou vir jou voor?

Ek is reeds ver gevorder met my volgende roman, waaroor ek voordat dit voltooi is, geen woord rep nie.

  • SARIE se boekeredakteur, Phyllis Green, het per e-pos met Kirby van der Merwe gesels.
Skryf in!

Tyd vlieg. Dit voel soos gister dat beplanning vir die kompetisie SARIE Nuwe Gesig vir ons jonger lesers gedoen is – en hier soek ons nou al die derde Nuwe Gesig!

Dit is ook tyd om die 14de* wenner van SARIE Voorbladgesig, in trotse samewerking met Isa Carstens Akademie, te vind. Sedert die kompetisie in 2011 begin is, het lesers vir ons gewys hulle glo in die mantra #JyIsGenoeg deur in hul duisende in te skryf.

Hierdie is ’n geleentheid om jou storie te deel en ander te inspireer. Skryf in, jy is dit werd.

Skryf hier in!

* Twee jaar, 2016 en 2017, het elk twee wenners opgelewer.

SARIE Voorbladgesig en SARIE Nuwe Gesig: Hier’s jou reëls

JONGSTE UITGAWE

Julie/Augustus-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees