Dis ’n perd van ’n ander kleur besef skrywer wat vir haar 60ste verjaardag die Camino stap

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Vir haar sestigste verjaardag gaan stap ’n skrywer die Camino, maar vind gou uit dié pelgrimstog is ’n perd van ’n ander kleur. Zarine Roodt het haar ervaring van dié pelgrimstog neergepen in haar jongste memoires, ‘’n Dagreis ver’.
Camino
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images.

In 2018 het sy besluit om as aanloop tot haar sestigste verjaarsdag die Camino Portugués te stap. Om alleen te reis is niks nuuts vir hierdie memoires-skrywer en aanhanger van die sielkundige Carl Gustav Jung nie.

Sy het immers tien jaar vantevore op eie houtjie labirinte in Engeland gaan stap, maar sy het vinnig besef die Camino is ’n perd van ’n ander kleur. Niks kon haar voorberei vir die fisiese en persoonlike uitdagings wat op haar gewag het nie.

Zarine Roodt
Zarine Roodt. Foto: Verskaf.

Die Camino is ’n netwerk van verskillende roetes wat almal by die Katedraal Santiago de Compostela in die noordwestelike deel van Spanje eindig, waar die oorskot van die Apostel Jakobus glo begrawe is.

Dit is een van die drie gewildste Christelike pelgrimstogte van die Middeleeue, die ander twee is na Rome en na Jerusalem.

Meer onlangs is die Camino deur UNESCO as Wêreld Erfenisgebied verklaar. Dié pelgrimsroete lok jaarliks meer as 200 000 pelgrims.

In Mei 2018 is Zarine een van hulle en vertrek sy uit Porto in Portugal. Tussen haar en Santiago de Compostela lê daar ’n allemintige 280 km.

Gou kom sy agter dat die staptog heelwat anders is as die salige spirituele ervaring wat sy verwag het. Aan die begin was daar ’n oorvloed van rampspoedige gebeure. Probleme met haar stapstokke, nare ervarings met verblyf, voete wat vroeg-vroeg al so vol blase is dat elke tree pynlik is en nog vele ander vorms teenspoed.

Dit was genoeg om enigiemand in hul voornemens te laat twyfel, maar ten spyte van hierdie uitdagende eerste paar dae het Zarine deurgedruk en ook haar innerlike gekonfronteer.

Die fisiese uitdagings het mettertyd begin vervaag en sy kon oplaas die Camino se grootste bates ervaar en waardeer: Om te onttrek, om kop skoon te maak en diep asem te haal.

Hierdie boek is ’n wonderlike reisgids en mens leer eerstehands hoe die Camino werk. In al die dorpies is die mense vriendelik en behulpsaam teenoor die pelgrims en daar is ook ’n kameraderie tussen die stappers wat mens van regoor die wêreld ontmoet.

Dit het my sommer lus gemaak om ook te gaan stap!

Maar dis ook meer as nét ’n reisgids. Zarine beskryf met gevoel al haar persoonlike, sielkundige en emosionele wroegings. Sy skryf oor haar versugting na vrede wanneer geraas en rumoer ’n konstante deel van haar lewe is.

Sy vertel van haar besluit jare gelede om spiritualiteit as ’n plaasvervanger van formele godsdiens te ondersoek. Op die Camino ervaar sy hierdie spiritualiteit deur die natuur, wat haar aan ’n tempel laat dink waar sy kan “aanbid” soos sy te voet deur die landskappe beweeg.

Sy ontmoet mense wat haar erg ontstem en vanuit ’n sterk Jungiaanse perspektief ontleed sy dié gevoelens as projeksie vanuit haarself. Wat haar pla in ander is eintlik iets wat sy in haarself moet verander. Sy kom in konfrontasie met haar eie minderwaardigheid en sy en die Camino “baklei” met mekaar.

Sy neem jou op ’n innerlike reis saam met haar, en soos jy lees, begin jy self jou eie lewenspad evalueer. Zarine het ’n paar keer verdwaal op die Camino, maar ook dit het vir haar ’n dieper betekenis gehad.

Jou pad is jou eie en net jy kan jou eie weg vind.

Sy het besef dat die ware transformasie eers ná die Camino gebeur. Terug by die huis kry sy kans om die gewaarwordinge en beginsels wat sy opgetel het, toe te pas.

Sy maak vrede met haar ma se afsterwe en laat gaan van die laste waaraan sy al vir jare dra. Sy is sterker, kalmer en meer selfverseker.

Sy weet dat sy altyd verder na binne sal reis en sy los jou met die woorde van Carl Gustav Jung: “Daar is steeds meer van jou – meer om te ontdek, te vergeef en lief te hê.”

‘’n Dagreis ver’ deur Zarine Roodt word uitgegee deur Naledi (*R240)

'n dagreis ver, zarine roodt

*Prys is onderhewig aan verandering sonder vooraf waarskuwing.

JONGSTE UITGAWE

November/Desember-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees