Drie nuwe boeke: Wat is waar en wat is nie?

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
FOTO Unsplash
FOTO Unsplash
Wat vir mens na die waarheid lyk, is nie altyd die geval nie. As jy dieper kyk, is dit glad nie ’n refleksie van die ware toedrag van sake nie.

 In dié drie verhale speel die geheime uit die verlede ’n rol van hoe die hede gesien word. Dit beïnvloed ook die karakters se optrede.

spanning skildery

Gerugte van ’n ontvoering, Chris Karsten (Human & Rousseau, R310)

Harry Grimbeek is ’n huursoldaat wat sy brood in Afrika verdien en hy is in Johannesburg vir sy ma se begrafnis. Die oorsaak van Gusta se dood word aangegee as selfdood, maar is dít wat gebeur het presies soos die polisie bevind het?

Dis ook nie die enigste vraag waarmee die leser gekonfronteer word nie; ’n kunswerk wat 600 jaar oud is, word uit Gusta se woonplek vermis. Was dit ooit eg en uiters waardevol, of was dit net van sentimentele waarde vir die eensame vrou? Is iemand werklik ontvoer, of is dit net – soos die boek se titel aandui - ’n gerug, en deel van ’n spel wat slim gespeel word?

Van alle plekke speel Karsten se verhaal af in die Ponte Towers, die eens gesogte toringblok in Berea, wat sedert 1975 teen Johannesburg se horison pryk. Dis waar Gusta voor haar ontydige dood in ’n luukse dakwoonstel gebly het. Harry se huursoldaat-meelopers se adres is minder indrukwekkend; dis ’n kleinhoewe buite die stad waar een van hulle ’n groenteboerdery bedryf. Maar dis op hierdie manne wat hy staatmaak in oomblikke wanneer beskaafde interaksie met onderduimse samesweerders nie die verwagte resultate oplewer nie.

Privaat speurder Ella Neser is weer op haar pos en lei die ondersoek. Hoewel die verdagtes die hele tyd aan haar bekend is, weet die leser nooit met sekerheid wie uiteindelik aan die pen gaan ry nie. Boonop is daar deurentyd subtiele skimpe dat Ella en Harry se professionele verhouding dalk in iets meer kan ontwikkel.

Genoeg om te sê dat die verrassende einde die leser dalk gaan laat steier. – Susan Puren

 
geheime, boeke

25 Trappe na benede, Madelein Rust (Lapa Uitgewers, R290)

Die verhouding tussen ma en dogter kan baie kompleks en vol onderliggende drama wees. Melisandré en haar dogter, Renée Roux, kom glad nie oor die weg nie. Melisandré keur Reneé se leefstyl nie goed nie, want Renée werk as ’n waarsêer. As haar alter ego, Lisbé, geniet sy dit om met mense te gesels. Sy geniet haar ongekompliseerde lewe en voel dat sy vir mense in hul donkerste oomblikke ’n toevlug is. Tot die dag wanneer een van haar kliënte vermoor word. Kon Renée dalk gehelp het? Volgens die polisie was dit ’n ongeluk, so hoekom kan Renée nie die gevoel afskud dat iets verkeerd is nie? Sy voel verantwoordelik en loods haar eie ondersoek na die moord.

Maar Renée se eie lewe is egter vol van haar eie verlies. Melisandré wys amper nooit liefde aan haar dogter nie. Renée weet haar broer se dood jare gelede was net ’n ongeluk, maar sy sal nooit ophou voel dat dit haar skuld is dat hy dood is nie. Alhoewel Renée nou ’n volwassene is, regeer Melisandré steeds haar dogter se lewe met ? ysterhand. Sy kritiseer Renée se kleredrag en haar wilde bos hare. Renée staan magteloos teenoor haar ma en dit maak nie saak hoeveel wyn sy drink om vir haar self bietjie meer moed te gee nie, dié verhouding wil net nie verbeter nie. Renée voel al hoe meer alleen en kan die gevoel dat sy besig is om deur geheime verswelg te word nie afskud nie. Om antwoorde op die vrae oor haar lewe te kry, moet Renée eers die geheime van die verlede ten volle herroep. Maar is sy gereed vir hoe dit haar lewe onherroeplik gaan verander? - Antoinique van Staden

 
spanning

As jy van moord droom, Deborah Steinmair (LAPA Uitgewers, R300)

Maryna, Erin de Ridder se dogter, is as sesjarige ontvoer. Jare later word sy op die perseel waar ’n Chinese dwelmhandelaar vermoor is, gekry. ’n Polisievrou, wat goed is met gesigte onthou, het haar herken en haar teruggebring na Erin, met die hoop dat Maryna meer sal kan vertel. Maar Maryna swyg. Sy slaap baie en rook dagga.

Hier is nie drukkies en vertellings van verlore grootwordjare nie. Erin wroeg op haar eie en dink terug aan haar verlede en haar man van wie sy geskei is. En sy probeer sin maak van haar verlore dogter, wat swygend en baie oorgewig, weer deel van haar huis is.

As die polisievrou vermoor word, besef Erin hul lewe is ook in gevaar. Hulle vlug na ’n berghut en daarna na ’n vissersdorp in die Oos-Kaap, en uiteindelik terug tot by haar grootworddorp en jeugliefde.

Ma en dogter deel ’n liefde vir lees en kom op ’n manier oor die weg. Op haar grootworddorp kry sy meer inligting oor Maryna se ontvoering en neem sy groot besluite.

Steinmair slaag om die spanning hoofstuk vir hoofstuk stywer te draai. Oor  Erin se optrede aan die einde kan lesers verskil, maar hierdie leser dink Steinmair het ’n goeie slot vir die boek geskep. – Alida Vos.

Pryse is voorgestelde pryse en kan wissel van winkel tot winkel.

JONGSTE UITGAWE

Maart/April 2022

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees