Een van SA se voorste kanovaarders veg teen terminale kanker

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Oscar Chalupsky is een van die land se voorste kanovaarders en ystermanne. Hy is tans in ’n stryd teen terminale kanker gewikkel. Almal wat vir Oscar ken, weet hy het nie ’n gebrek aan selfvertroue nie. Dit is presies wat uit sy uitstekende en inspirerende boek, ‘No Retreat, No Surrender’, van hom duidelik na vore kom.
oscar chalupsky
Oscar Chalupsky.

Om ’n ongeneesbare kanker soos die beenmurgkanker wat by hom gediagnoseer is, die stryd aan te sê, het jy immers baie selfvertroue nodig. As dit nie hiervoor was nie, was hy waarskynlik lankal nie meer hier nie.

Chalupsky sê hy sal aanhou terugveg totdat ’n middel ontwikkel is om dié kanker te oorwin. Die kanker is in 2019 by hom gediagnoseer en hy is ses maande tyd gegun om nog te leef.

oscar chalupsky
My stamsel-oorplanting, 18 June 2020, toe ek die beenmurg ontvang het wat my lewe gered het.

Die 59-jarige Chalupsky leef steeds en hy hou aan om met sy seeski te roei, fiets te ry, gholf te speel, te oefen en te werk. Hy is veral dol daarop om op die see te roei. Hy sê hy is op sy gelukkigste wanneer hy die seesproei in sy gesig voel.

“Ek het die see se roepstem gehoor die dag toe ek as ’n jong seun my eerste roeiplank gekry het. Nou, byna ’n halfeeu later, kan ek die kreet van die see steeds nie weerstaan nie.”

oscar chalupsky
My eerste wen in die Port Elizabeth na Oos-London wedvaart in 1981. Ek het die branderski legende Tony Scott met ’n paar sekondes getroef. Scotty en ek is steeds vriende.

Chalupsky was ’n formidabele sportman. Op 15-jarige ouderdom het hy die ystermantitels by die Suid-Afrikaanse mensereddingskampioenskapsbyeenkoms vir juniors en seniors op dieselfde dag gewen.

Later het hy die bekende Molokai na Oahu-branderski-marathon in Hawaii 12 keer gewen en hy het Suid-Afrika in kanovaart op die Olimpiese Spele van 1992 in Barcelona verteenwoordig.

oscar chalupsky
My stamsel-oorplanting, 18 June 2020, toe ek die beenmurg ontvang het wat my lewe gered het.

Dié kleurryke karakter het in 2007 die Wêreldbeker-seeskibyeenkoms in Durban gewen. Boonop het hy agt keer opeenvolgens die moordende branderski-wedvaart tussen Port Elizabeth (nou Gqeberha) gewen.

Hy en sy broer, Herman, het boonop die Sella-kanowedvaart in Spanje in ’n dubbelkano gewen. Dis maar ’n paar van sy lang lys sportprestasies.

oscar chalupsky
Herman (voor) en ek ‘T-been’ die Spaanse kayak wat ons met opset omgetiep het toe ons in die voorste posisie was in die Villaviciosa-wedvaart op die Spaanse toernooi in 1988. Ons os beveel om vir die herstelkoste te betaal.

Chalupsky het oor die jare heen by die publiek ook bekend geword as die man wat bekendes ­– soos die Springbokrugbyspeler Naas Botha, Baby Jake Matlahla, die sokkerster Doctor Khumalo, ’n eerste Mej. SA, Peggy-Sue Khumalo, en die eertydse Bafana Bafana-afrigter Clive Barker ­– saam met hom in ’n dubbelkano aan die Dusi-kanowedvaart tussen Pietermaritzburg en Durban te laat deelneem.

Hy gee in die boek heelwat aandag hieraan.

oscar chalupsky
Saam met die sokker legende Doc Khumalo in die 1999 Dusi-kanowedvaart.

Dié bekende sportman se verhaal is ’n aangrypende een. Veral die deel waarin hy vertel hoe hy gehoor het hy is terminaal. 

“’n Steekpyn het my rug afgeskiet, soos ’n spies wat in my boonste ruggraat gedruk is. Dit was ondraaglik. Ek het nog nooit so iets ervaar nie, al was my hele lewe as uithou-atleet daaraan gewy om uiterste fisieke pyn te takel,” skryf hy in dié boek wat hy saam met die joernalis Graham Spence geskryf het.

Chalupsky vertel onder meer hoe hy die nuus ontvang het dat hy terminaal siek is en hoe hy besluit het om die siekte te beveg. Dit ruk jou.

Hy vertel van sy grootwordjare in Durban en hoe hy by swem, lewensredding-ystermanbyeenkomste en kanovaart betrokke geraak het. In al drie dié sportsoorte het hy baie gou presteer en ook later in gholf. Hy het ook presteer as ’n finansiële raadgewer en sakeman.

oscar chalupsky
Ek het die 2006/7 Wêreldbeker-seekskibyeenkoms in Durban gewen. Ek kon Hank McGregor eers in die finale kilometer verbysteek deur die wind en die seestrome tot my voordeel te gebruik.

Dié oud-Springbok beskryf in fyn besonderhede oor die wedvaarte waaraan hy wêreldwyd deelgeneem het. Baie van dié byeenkomste is baie rof en jy kry opnuut respek vir mense wat daaraan deelneem.  

Omdat Suid-Afrika weens die beleid van apartheid uit internasionale sport geskop is en die Olimpiese Spele Suid-Afrikaners vir 32 jaar lank nie beskore was nie, het Chalupsky in die 1980’s in die eertydse Wes-Duitsland gaan oefen en deelneem.

Sy pa, Paul, ook ’n topkanovaarder wat in die 1960’s die Bergrivier-kanowedvaart gewen het, was van Duitse afkoms. Oscar is vir die Wes-Duitse marathonspan gekies wat in Engeland aan die Wêreldkampioenskappe in Birmingham, Engeland, moes gaan deelneem.

Die Britte het egter geweier dat hy deelneem omdat hulle geweet het hy is ’n Suid-Afrikaner. Van toe af het die deure links en regs vir hom toegeslaan, maar die organiseerders van die Molokai na Oahu-branderski-marathon het hom nie toestemming geweier nie.

So het sy liefdesverhouding met dié wedvaart begin. 

oscar chalupsky
Ek en Mark Perrow by 1992 Olimpiese Spele. Hy is in 2020 in ’n ligte vliegtuigongeluk oorlede.

In 1992 is Suid-Afrika hertoegelaat tot die Olimpiese Spele. Chalupsky staan ’n hele hoofstuk aan dié Spele af.

In een van die laaste hoofstukke vertel hy ook hoe dit is om met kanker saam te leef. Hy sluit dié hoofstuk af deur te sê hy hoop om in 2023 weer aan die Molokraba-wedvaart in Brasilië deel te neem.

Die een groot les wat hy uit die lewe geleer het, is: Leef elke dag so intens moontlik.

Lees gerus dié boek, want Oscar Chalupsky laat jou diep dink.

oscar chalupsky


* Sarel van der Walt is ’n sportjoernalis van Netwerk24 wat al baie keer oor Chalupsky geskryf het.

  • ‘No Retreat, No Surrender’ (Penguin, R300) is beskibaar by alle toonaangewende boekwinkels.
JONGSTE UITGAWE

November/Desember-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees