In dié drie boeke speel leuens ’n groot rol, maar onthou: ’n Leuen bly ’n leuen!

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Daar is nie iets soos ’n klein leuen wat verskoonbaar is nie. Selfs ’n wit leuen het gevolge, al word dit vertel om iemand te beskerm. Boonop word ’n leuen gewoonlik deur iemand vertel wat weet wat die waarheid is, en wat bewus is hy gaan iets sê wat nie waar is nie.

‘Wit Leuen’ deur Ruan Kemp (Tafelberg, R290*)

Wit Leuen, Ruan Kemp

Dis alles behalwe ’n ligte wit leuentjie . . . ’n klein sondetjie wat dadelik gestraf word.

Aikôna, Ruan Kemp se tweede roman, Wit Leuen, is ’n properse homp vleis. Party dele is so taai soos biltong, die leser kou en kou en voel naderhand of hulle nooit in die boek gaan inkom nie.

Maar soos die wyses sal sê, om taai biltong te eet, is nie ’n straf nie dis ’n sening! Druk jy deur, sal jy gou agterkom dat Kemp se karakters in jou gedagtes kom tent opslaan en daar bly. Hulle is vreemd, kompleks, anders en blywend.

’n Vinnige traktaatjie oor Kemp se roman:

“Richter het ’n verlede, maar dis die hede wat hy ontglip . . . Saam met Margaret reis hy deur ’n nagmerrielandskap ’n bisarre avontuur in . . . Neal werk by die Buro Regse Aksie, waar hy stories opmaak sodat die staat kan gryp, maar hy wil wegkom . . . En vanuit ’n sekuriteitskompleks, tussen die woede en die wyn, skree Gehard uit teen die leuens. Helikopters, duikbote, kindersoldate, ongediertes, mensvreters . . . Wit leuen wemel van onwerklikhede, afdraaipaaie, en verrassings.”

’n Distopiese roman, soos dié van Kemp, is nie vir almal nie. Party lesers gaan gemaklik met die storie omgaan en sorgeloos verdwaal in Kemp se web van sinne, storielyne en sinspele. Ander lesers gaan voel of hulle in ’n labirint is, met geen einde in sig nie.

As jy ’n waardering vir die Afrikaanse letterkunde het, of ’n roman soek wat jou grysstof so bietjie gaan skud, tel gerus Wit Leuen op.

Liani Jansen van Rensburg

‘The Lies We Tell’ deur Niki Mackay (Orion, R305*)

the lies we tell, leuens

Terwyl haar filmmaker-man oorsee aan ’n nuwe projek werk, loop Miriam vir Ben, ’n kêrel uit haar verlede, raak. Sy spandeer die nag by hom, omdat haar dogter Tabitha dié nag by haar vriendin, Delia, oorbly, én Miriam se man is uitstedig met werk.

Die volgende oggend besef sy dit was ’n fout. Later die middag wag sy vir Tabitha om huis toe te kom, maar sy daag nooit op nie. Miriam kontak Delia, wat sê Tabitha is al vroeg die oggend daar weg.

Raad op kontak Miriam die polisie. Speurder Peter Branning word uitgestuur. Hy praat met Miriam en nadat hulle Tabitha se kamer deursoek, lyk dit asof sy genoeg klere vir ’n paar dae gevat het en nie net vir een nag nie.

Dus blyk dit dat Tabitha uit vrye wil nie huis toe kom nie en die polisie se vermoë om die saak te ondersoek, is beperk. Miriam vra vir Madison Attallee, ’n privaatspeurder, om te help om Tabitha op te spoor. Leuens uit die verlede word na die oppervlak gebring en dit beïnvloed die karakters se optrede.

Madison is geweldig eerlik en vir haar is dit nogal moeilik om Miriam te vertrou. Sy kom ook agter Miriam jok vir haar man oor wat aan die gebeur is, omdat sy bang is haar sogenaamde perfekte wêreld (eintlik, haar huwelik met ’n ryk man en gemaklike lewe) stort rondom haar ineen.

Die karakters is oortuigend en almal is nie noodwendig mense van wie jy gaan hou nie. Wees ook gewaarsku dat die verhaal nie vir sensitiewe lesers is nie, want Madison se ondersoek vlek ’n internasionale netwerk van dwelms en kinderprostitusie oop.

Dis ontstellend, maar geloofwaardig en ysingswekkend en die gebeure laat jou wonder oor hoe ver mense sal gaan om te kry wat hulle wil hê. Die komplekse verhaal het verskeie verrassende kinkels wat jou boei tot die einde

Karien Labuschagne

‘Liar’ deur Lesley Pearse (Penguin, R310*)

liars, lesley pearse, leuens
Lesley Pearse

Liar is die nuutste boek van gewilde Britse skrywer, Lesley Pearse. Die verhaal speel af teen die agtergrond van die sewentigerjare in Londen. Amelia White se kinderjare was traumaties, daarom wil sy as volwassene meer van haar lewe maak.

Amelia verkoop advertensies vir die plaaslike koerant, maar haar groot droom is om ’n misdaadverslaggewer te wees. Die dag toe sy die lyk van ’n jong vrou ontdek, stuur dit haar lewe in ’n nuwe rigting. Vinnig word daar allerhande gerugte en leuens oor die slagoffer versprei.

As eerste persoon op die toneel voel Amelia dit is haar plig om die waarheid oor die vrou se lewe te vertel, voordat die koerante nog sensasionele leuens publiseer. Met die goedkeuring van haar baas en die redakteur van die koerant begin sy in die slagoffer se verlede rondkrap.

Kort voor lank word nog twee vrouens vermoor en Amelia is oortuig daar is ’n konneksie tussen die drie slagoffers. Sy wil graag die raaisel oplos, maar kan sy die mense naaste aan haar vertrou? Wie vertel die waarheid? Wie kan sy glo?

Alhoewel drie vrouens vermoor is, was hulle nie die enigste slagoffers van geweld en mishandeling in die boeiende storie nie.

Danica Gouws

*Pryse is voorgestelde pryse en kan wissel van winkel tot winkel.

Skryf in!

Tyd vlieg. Dit voel soos gister dat beplanning vir die kompetisie SARIE Nuwe Gesig vir ons jonger lesers gedoen is – en hier soek ons nou al die derde Nuwe Gesig!

Dit is ook tyd om die 14de* wenner van SARIE Voorbladgesig, in trotse samewerking met Isa Carstens Akademie, te vind. Sedert die kompetisie in 2011 begin is, het lesers vir ons gewys hulle glo in die mantra #JyIsGenoeg deur in hul duisende in te skryf.

Hierdie is ’n geleentheid om jou storie te deel en ander te inspireer. Skryf in, jy is dit werd.

Skryf hier in!

* Twee jaar, 2016 en 2017, het elk twee wenners opgelewer.

SARIE Voorbladgesig en SARIE Nuwe Gesig: Hier’s jou reëls

 

JONGSTE UITGAWE

Julie/Augustus-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees