Intrige rondom stamselnavorsing dryf dié spanningsroman

akkreditasie
Intrige, wedywering, moddergooiery en burokrasie op die gebied van stamselnavorsing voer die botoon in Zelda Bezuidenhout se boeiende spanningsverhaal.

In Die waarde van stil bure ly die hoofkarakter, Magdaleen Verster, aan oorlewingskuld nadat haar identiese tweelingsuster, Misha, op 30 aan ’n hartaanval dood is. Maggie kon niks vir Misha doen nie en sy sukkel om oor die verlies te kom. Sy voel nou soos ’n halwe mens, iemand wat nie weet hoe om voort te gaan met haar lewe nie . . .

 inspirasie, woorde

Om van haar ma se versmorende koestering te ontsnap verhuis Maggie na ’n skakelhuis in Melville. Sy maak eerste vriende met haar buurman Darius se kat, Ruby, en daarna met dié eksentrieke wetenskaplike wat onder groot geheimhouding stamselnavorsing vanuit sy laboratorium in sy agterplaas doen. Maggie voel verlore sonder Misha, maar sy het nog haar kindervriendin, dokter Puleng Manthoro, en dié se ma, Evalyn, om haar te ondersteun. Die ambisieuse en slim Puleng is besig met haar hospitaaljaar en is eintlik vir Maggie meer soos ’n kleinsussie. En dan is daar Maggie se vriend, Zack, ’n staatmaker vir haar, maar iemand met sy eie kruis om te dra. Sy 5-jarige seuntjie, Ben, is ’n parapleeg ná ’n motorongeluk. Zack het bestuur en sy eksvrou neem hom kwalik, al was hy nie vir die ongeluk verantwoordelik nie.

Zelda verduidelik ’n gesprek tussen ’n wetenskaplike en ’n mediese dokter wat oor die huidige stand van stamselnavorsing gesels het, het haar verstom as gevolg van die intrige, wedywering, moddergooiery en veral die hoeveelheid burokrasie wat op dié gebied bestaan. “En toe dink ek, dalk moet my nuwe roman ’n skeut van hierdie sappigheid tap.” As dit nie vir Ruby se rondlopery was nie, sou Maggie nooit van Darius se navorsing geweet het nie. Hy is so swygsaam daaroor, en paranoïes dat hy geen data op sy rekenaar dokumenteer nie. En hy het eers seker gemaak hy kan Maggie met sy geheim vertrou.

Soos wat die vriendskap en vertroue tussen Maggie en Darius verstewig, ontbloot beide hul geheime aan mekaar. Maggie besluit om hom te oortuig om sy kennis te gebruik om

’n verskil aan Ben se lot te maak. Sy kon niks vir Misha doen nie, maar dalk kan sy Ben se lewe vergemaklik. Meer kan ek nie weggee oor die storielyn nie, behalwe in die geheim word ’n mediese span saamgestel met die hulp van Puleng om Darius se navorsing vlerke te gee. Maak jou reg vir ’n verraderlike kinkel wat jou soos ’n vuishou in die maag tref.

Dié boeiende roman ondersoek temas van identiteit, herkoms, verlies, vriendskap, vergifnis en verraad. Die gebeure sleur jou mee en jy kan nie anders as om aan te hou lees nie.

Ek het per e-pos met Zelda gesels oor Die waarde van stil bure (Kwela, R280).

 
 inspirasie, woorde
Foto: Alet Pretorius

Wat was die vonk vir die verhaal?


Ek het vir my redakteur by Kwela Boeke, Carolyn Meads, ’n nuwe roman vir volwassenes belowe vir haar 2021-publikasielys. Maar in die grendeltyd het ek verstrengel geraak in ander projekte. Teen September 2020 het ek nog nie aan die boek begin dink nie, wat nog te sê al iets geskryf. Net mooi in daardie tyd het ek in die geselskap van ’n wetenskaplike en ’n mediese dokter gesit, wat oor die huidige stand van stamselnavorsing gesels het. Ek was verstom oor die intrige, wedywering, moddergooiery en veral die hoeveelheid burokrasie wat op dié gebied bestaan. En toe dink ek, dalk moet my nuwe roman ’n skeut van hierdie sappigheid tap. 

Het jy die aanhaling van Nietzsche spesifiek gesoek om vir die boek te gebruik en waarom juis dié aanhaling? 

Nee, dis ’n aanhaling waarvan ek al jare bewus is. Eintlik sedert ek vir Mia, ons dogter, se peetma gesê het ek besef ek maak ontsettend baie foute as ’n ouer. Dalk nie dieselfde foute as my eie ma nie, maar splinternuwe, vars foute. My vriendin het my gevra of ek lief is vir Mia. Toe ek verontwaardig antwoord, “Natuurlik!”, het sy gesê dan kan ’n mens dit nie regtig foute noem nie. Ek glo die meeste ouers doen wat hulle dink reg en voordelig vir hulle kinders is. Dis maklik om terug te kyk en die “foute” raak te sien. Die meeste karakters in Die waarde van stil bure se aksies – hoe irriterend, hardkoppig of gewaagd dit ook al is – het liefde en omgee as wegspringplek. Dit geld vir albei die ma’s in die verhaal – Alida Verster en Evalyn Manthoro, maar dit geld veral vir Magdaleen. 

Hoe het jy jou hoofkarakter, Magdaleen, en haar identiese tweelingsussie geskep?

Dekades gelede het ek iemand geken wat haar identiese tweelingsuster verloor het toe hulle maar 28 was. Die jong vrou se diep hartseer en amper roekelose gedrag in die tyd kort ná haar verlies het my nog al die jare bygebly. Maar Magdaleen se karakter, en die manier waarop sy in die boek optree, is natuurlik heeltemal fiktief.

Tweelinge is fassinerend! Identiese sibbe wat net ná geboorte geskei en deur verskillende mense aangeneem is, ontmoet mekaar jare later en vind byvoorbeeld uit dat hulle hul honde dieselfde naam gegee het. Of dat dieselfde tande op dieselfde tyd gaatjies gekry het. Kyk gerus na die Netflix-dokumentêr Three Identical Strangers. Jou mond sal oophang. 

Wei uit oor Selle-selle en sym-sym, die troetelnaam wat Evalyn die tweeling noem.

Evalyn noem hulle so (die Engelse same-same wat sym-sym of selle geword het) omdat sy hulle veral as kinders nie van mekaar kon onderskei nie. Die werkstitel van die boek was aanvanklik “Selle”. Ek het gedink dit was vreeslik slim omdat dit op soveel vlakke werk. Die tweeling (wat “dieselle” is), die stamselle, die simboliek van die identiese skakelhuisies, ensovoorts. Maar soos dit maar gebeur in die boekmaakproses, het NB se bemarkingspan nie van die titel gehou nie. Ná vele ander voorleggings het hulle uiteindelik Die waarde van stil bure goedgekeur. Vandag is ek baie bly hulle het, want ek is gek daaroor en kan nou self sien dat “Selle” nie sou werk nie. Maar so was die hele manuskrip reeds deurtrek met verwysings na “Selle” en “Sym-sym”. Ek het gevoel dit werk nog steeds en dit toe maar daar gelos. 

Magdaleen hou ’n joernaal waarin sy hoofsaaklik vir Misha skryf. Wil jy meer oor hierdie skryfterapie van haar vertel?

Om in ’n dagboek te skryf is aanvaarde terapie om chroniese posttraumatiese stres te verwerk. Daar was nog soveel wat Magdaleen vir haar suster wou sê. Sy dink in ’n stadium: “Hierdie was veronderstel om die beste deel van ons lewens te wees.” Hulle wou saam reis, die Inka-roete gaan stap, by mekaar se troues wees . . . Deur vir haar suster te skryf “deel” sy nog haar lewe met die mens wat sy die beste geken het.

Magdaleen skryf in haar joernaal: “Al wat ek weet, is dat ek nie meer weet nie. Ek weet nie meer hoe om te lewe noudat ek nie meer een van twee is nie.” Is dit iets waarop jy in jou navorsing oor tweelinge afgekom het, of was dit die natuurlike uitvloeisel van Maggie en Misha se susterskap? 

Dit was meer ’n natuurlike uitvloeisel van my werksmetode. Ek probeer myself altyd boots and all in ’n karakter se vel giet. Hoe moet dit voel as jy nog altyd ’n spieëlbeeld van jouself byderhand gehad het – ’n hartsvriendin wat nes jy lyk en soms selfs die blaam kon deel wanneer jy droogmaak, op wie jy jou idees kon toets, met wie jy jou diepste geheime en grootste vrese kon deel? En hoe sal dit voel as daardie persoon skielik net verdwyn? ’n Mens voel seker nooit weer heeltemal normaal nie. Trouens, dit was nog een van die boektitels wat oorweeg is: “Half normaal”.

Magdaleen en Misha het ’n uitsonderlike verhouding met Puleng. Dis ’n komplekse situasie in ons samelewing met verwikkelde verhoudings. Gee jy om om uit te wei?

Die drie jong vroue in die boek – een dood en twee lewend – het saam grootgeword en mekaar se lief en leed gedeel. Puleng se ma het in die tweeling se ouerhuis gewerk; hulle beskou mekaar as susters. Ena Jansen se boek oor stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste, Soos familie, het my net weer laat besef hoe eiesoortig Suid-Afrika is wanneer dit by hierdie huishoudelike verbintenisse kom. Om terselfdertyd die mees intieme dinge in jou lewe met iemand te deel, maar (in soveel gevalle) bitter min van daardie persoon se lewe te weet, is absurd. 

Maggie en Zack: “Eintlik is Zack die enigste persoon wat nie eienaardig optree wat haar tweeling se dood aanbetref nie.” Wil jy meer sê?

Baie van ons het nooit geleer hoe om “daar” te wees vir mense wat ’n geliefde verloor het nie. Ek is self skuldig hieraan en is geneig om mense wat in diepe rou is, te vermy. Dit maak my ongemaklik en daar kan dikwels ’n simpel ding uit my mond borrel. Maar toe my geliefde broer onlangs dood is, het ek maar net weer besef: ’n Mens het tog ’n behoefte om oor daardie mens te praat wat so wreed weggeruk is. Daar is ongelukkig net ’n paar vriende wat dapper genoeg is om die terrein te betree en net te luister, sonder om oplossings of nuttelose trooswoorde aan te bied. Die feit is, ’n mens is ontroosbaar. Maar min mense besef dit.

Vriendskap is weer ’n deurlopende tema in die verhaal. Daar is Maggie se onwaarskynlike vriendskap met Darius, dan haar vriendskap met Zack en haar vriendskap met Puleng. Waarom is vriendskap so ’n onwrikbare deel van al jou verhale? 

Hierdie gaan soos ’n cliché begin klink, maar vir my is die lewe ’n ongenaakbare ding. Jy kom alleen die wêreld in en alleen gaan jy weer hier uit. Konneksies wat jy met mense maak terwyl jy op aarde is, is eintlik jou enigste regte bates. Dit, en om ’n hond te hê.  

Ek wil meer weet oor haar vriendskap met Darius, want sy kan gesprekke met hom hê oor haar emosies, iets wat sy nie met enige van die ander mense in haar lewe kan doen nie. Waarom? 

Ek vermoed dis juis omdat hy ’n relatiewe vreemdeling is. Hy is ’n linkerbreinpersoon wat prakties oor dinge is en nie in emosies verstrengel raak nie. En onthou, sy het haar eie pa op ’n redelik vroeë ouderdom verloor. Dalk sien sy in hom ’n vaderfiguur.

Magdaleen het ’n vreemde manier om die verlies van Misha se dood met seks te probeer gesond dokter. Dis ’n interessante kinkel in die verhaal. Hoe het jy daarop besluit? 

In Magdaleen se geval gaan dit eintlik meer oor ontsnapping. Sy vergeet vir daardie uur of wat terwyl sy seks het met iemand (met wie sy geen emosionele band het nie), wie sy is en dat sy haar tweelingsuster verloor het. Dis haar manier om die oorweldigende gevoel van verlies te hanteer. Sy voel ná die tyd ook skuldig, want seks met vreemdes is nie iets wat die “ou” Magdaleen sou doen nie. Daardie skuldgevoelens dien as straf. Sy straf haarself omdat sy aan oorlewingskuld ly. 

Hoe moeilik was dit om al die mediese inligting op so ’n vereenvoudigde en verteerbare manier in die storie in te skryf? 

Ek dink dit het gehelp dat ek self nie ’n enkele wetenskaplike breinsel besit nie. My bronne moes dus in baie eenvoudige taal vir my probeer verduidelik hoe alles werk, en ek het dit dikwels nog verder vereenvoudig.

Hoe skryf jy, plot jy die verhaal eers uit, het jy van die begin af ’n idee waarheen jy beweeg met die storielyn?

Nee, glad nie. Ek het seker iewers in my onderbewuste geweet ek wil skryf oor ’n persoon wat geïsoleer voel. Amper al my stories en boeke gaan oor sulke karakters. Toe ek op die tema van stamselnavorsing besluit, en ook dat dit in die Johannesburgse voorstad Melville moet afspeel, het die verhaal begin momentum kry. Ek het self in my dertigs as enkellopende daar gewoon.

Doen die karakters wat jy vir hulle beplan?

Hulle verras my deurentyd. Party natuurlik meer as ander!

Jy lewer sosiale kommentaar oor onder meer dinge soos afwesige pa’s, die huwelik as instelling. Is dit vir jou belangrik om sosiale kommentaar in jou verhaal te lewer?

Dit is nie iets wat ek met opset doen nie, maar ek glo ook nie daarin om op eiers te loop as ek ’n storie skryf nie. Daar is skrywers wat dit regkry om heeltemal neutraal te wees of ’n ander jas aan te trek, maar my eie perspektief en waardestelsel skemer maar altyd deur.

Die plekke waarteen die verhaal afspeel – hoe pak jy die navorsing daarvoor aan? Was jy al in die Seychelle? 

Ja, ons het toevallig ’n woonstel in die Seychelle wat ek aan vakansiegangers uitverhuur. Wanneer daar nie gaste in is nie, gaan ons soms self daarheen. Dit is dikwels werkende vakansies wat bestaan uit verf en timmer en regmaak. Ek is dus vertroud met die omgewing, die kos, die kultuur, ensovoorts. ’n Seychelle-vriendin het my met die Kreools in die boek gehelp. Melville ken ek baie goed. Ek het sommer vir Magdaleen by die einste skakelhuisie waar ek self gewoon het, laat intrek. 

Wat was die moeilikste van hierdie boek?

Ek het baie makliker aan hierdie boek geskryf as aan my eerste roman, Die dekonstruksie van Retta Blom. Ek dink die moeilikste gaan wees om oor die boek te praat sonder om spoilers te gee!

 

 

JONGSTE UITGAWE

SEPTEMBER/OKTOBER 2021

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees