
Oopmond, sy
wenverhaal, gaan oor Madeleine Taaibosch wat ’n hartoorplanting gehad het. Sewe
maande ná die oorplanting, vermoed sy dat dié hart wat sy gekry het, ’n gebroke
hart is. Die dokters verseker haar daar is niks met die skenkerhart verkeerd
nie, maar sy begin vreemde dinge sien – dinge uit die verlede en in die
toekoms. Verskillende intriges word meesterlik vervleg in ’n boeiende verhaal.
Vermeulen
was ook in 2015 die wenner van hierdie kompetisie met Asem, en is voorheen al twee maal met die Sanlamprys (goud in 2000
en silwer in 2017), die M.E.R.-prys, die Scheepersprys en ’n ATKV-kinderboektoekenning
bekroon. In Maart verskyn Vermeulen se krimi, Die vyfde Aspoester, ook by LAPA. Hierdie boorling van Namibië het
op veertien sy eerste kortverhaal in die destydse
jeugtydskrif Patrys gepubliseer. In 1998 voltooi hy ’n kursus in kreatiewe skryfkuns
aan die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Port
Elizabeth, en in dieselfde jaar verskyn sy debuutroman, Die laaste dans, by
Queillerie. In 2000 verskyn sy eerste jeugboek, Geraamtes dra nie klere nie. In
2006 word sy kortverhaal “In Ma se Stoof” in die kortverhaalbundel Van Spoke
Gepraat (Tafelberg) opgeneem.
Die Rooikop, die leeu en die handgranaat, Annelie Ferreira (Lapa Uitgewers, R140)
Adele voel heeltemal uit balans uit. Haar
geliefde vak, kuns, se punte is ewe skielik baie vrot. Sy sukkel om haar
selfportret te voltooi. Miskien is dit omdat sy niks van haar rooi hare hou
nie. Sy ontdek een middag ’n leeu in hul tuin. Al wat Adele nog in balans hou,
is Ruan, haar beste vriend. Dis ’n baie interessante en unieke verhaal. Dit
beeld Adele se emosies oor die warboel in haar lewe uitstekend uit. Avontuur,
romanse, aksie en humor maak dit ’n boeiende verhaal. Hou jou naweek oop, want
hierdie boek is ’n moet-lees. – Cailin
Spickett
Kupido.com, Annabel Allers, (Lapa
Uitgewers, R150)
Lea is kwaad. Haar vriendin,
Kaylie, het ’n vals profiel op Kupido.com (’n webtuiste waar jy veronderstel is
om die liefde van jou lewe ontmoet) vir haar geskep. Net toe sy dit wil uitvee,
wil iemand met haar gesels - Philip! Haar hart het nog altyd chocolates geklop as hy naby is, of
selfs wanneer sy net aan hom dink. Die enigste probleem is dat sy heeltemal
anders is as die meisie op die profiel. En dan is daar Werner, ’n seun wat haar
net nie wil uitlos nie! Dié liefdesdriehoek verskaf ’n humoristiese en interessante
tienerliefdesverhaal vol vermaak en leesgenot! – Cailin Spickett
Vlerke vir almal, Marion Erskine
(Human & Rousseau, R155)
Sewentienjarige Dewald se ouers het
besluit om hom na ’n nuwe skool te stuur nadat sy lewe ’n lelike knou gekry
het. Nuwe skool, nuwe omgewing, nuwe mense in sy lewe! Dit skep talle
uitdagings vir hierdie tiener wat boonop ’n hakkelprobleem ontwikkel het. En om
dinge te vererger, is hy ’n teiken vir een van die skool se grootste boelies.
In sy sielkundige sessies worstel hy met wat met sy eertydse beste vriendin,
Nicola, gebeur het en hy weier om daaroor te praat. Saam met sy nuwe vriende besluit
hulle om op sosiale media ’n ondersteuningsnetwerk te skep om die slagoffers van
boelies by te staan.
Die verhaal speel geweldig met jou
emosies: die beskrywing van Dewald se gevoelens in sy deurmekaar nuwe omgewing,
sy probleme en sy veldtog. Mens wil graag die slot van die verhaal bereik,
gelukkig of ongelukkig. – Cailin
Spickett
Hartklop,
Cecilia
Steyn (Human&Rousseau, R135)
Megan is vasberade om haar matriekjaar te geniet. Vandat sy kan
onthou, is sy verlief op haar broer Stephan se beste vriend. Volgens haar denke
is hy totaal behep met die meisies wat saam met hom op universiteit is. Dewald is
bekoor deur sy vriend se kleinsus wat in ’n mooi meisie ontpop het. Diep in sy
hart is hy ook verlief op haar. Maar mens kan tog nie met jou beste vriend se
kleinsus deurmekaar raak nie! Hulle spandeer die hele vakansie saam toe Dewald
saam met Stephan kom kuier. Dinge loop gou skeef wanneer die liefde blom en die
oorbeskermende Stephan uitvind wat aangaan. Hierdie boek is vol aksie en
emosies, hartstog en drama van die tienerlewe en liefde. - Cailin Spickett
Citygirl en die Swart Hings, Marga Jonker (Tafelberg, R125)
Nicole, ’n tiener, was glad nie
lus om gedurende die vakansie saam met haar ma na die Weskus toe te gaan nie.
Sy wou eerder in Pretoria saam met haar vriendin ’n perdespringkursus bywoon. Sy
is bekommerd oor hoe sleg haar vakansiefoto’s teen Chané se Mauritius-foto’s op
hul blog gaan lyk. Maar die Weskus is toe nou nie so sleg nie en haar foto’s is
op die ou end verrassend pragtig. Sy ontmoet nuwe vriende en hulle loop ’n
pragtige swart perd raak. Hulle probeer die wilde Spaanse perd vang, maar is
dit moontlik met ’n Cowboy se wilde plan?
Hierdie verhaal is spesiaal vir perdeliefhebbers. Dit is vol humor en
in gemaklike tienertaal geskryf. Soos jy lees, vloei die emosies deur jou en
dit voel asof jy regtig daar is. Dis ’n heerlike leesboek, dus, wees gewaarsku,
as jy eers begin lees kan jy nie ophou nie! – Cailin Spickett
Geïllustreerde gids tot die menslike liggaam, QA International (Protea Boekhuis, R250)
Hierdie gids is ’n ware pragboek, ’n
atlas wat die hele gesin kan gebruik om belangrike stelsels van die menslike
liggaam te verken. Die boek bevat kleurprente van verskeie dele van die liggaam.
14 hooftemas word behandel: selle en weefsel, struktuurbeskrywings van die skelet
en spiere, tot die limf- , senuwee-, asemhaling- en voortplantingstelsels.
Mediese terme, definisies en interessante bykomende inligting word gegee in
maklik leesbare teksblokkies en die geheel word saamgevat met ’n omvattende
woordelys en indeks wat dit maklik maak om iets op te spoor waarna mens soek.
Dit is nou die
perfekte geleentheid om te leer hoe en op watter manier jou liggaam werk.
Hierdie interessante boek verduidelik heel verstaanbaar alles van die menslike liggaam.
Die illustrasies is duidelik en verduidelikings is in Afrikaans en Engels. Dis
ook die ideale boek om te help met skooltake.
– Cailin Spickett
Waiting for your prince: A message for a young lady in waiting, Jackie Kendall (Destiny Image, R92)
Hierdie christelike boek sal jou
verskeie antwoorde oor die lewe gee. Dit beskryf jou as ’n unieke skepping van
God en spoor jou aan om as ’n spesiale individu te leef soos God se wil bepaal.
Jackie Kendall maak dit makliker om te verstaan wat God vir jou bestem en hoe
jy jou verhouding met die Here kan verbeter. Die boek wys uit dat dit maklik is
om foute te maak en lei jou op ’n christelike wyse op die regte pad om jouself,
jou skoolwerk en verhoudings te verbeter. Raad en bystand met die hantering van
lewenskwessies is ook byderhand. Indien jy op soek is na antwoorde oor
lewenskwessies, is hierdie die boek vir jou. – Cailin Spickett
13 Reasons why,Jay Asher (Puffin, R185)
Clay Jensen keer terug huis toe van die skool af en kry ’n vreemde pakkie in sy naam op hul stoep. Binne-in ontdek hy ’n klomp kassette wat deur Hannah Baker opgeneem is. Hannah was ’n klasmaat en die meisie op wie hy heimlik verlief was, maar twee weke gelede het sy haar eie lewe geneem …
Wanneer hy na die kassette begin luister, vertel Hannah dat daar 13 redes is hoekom sy selfdood gepleeg het, en dat as hy die kassette gekry het, hy een van die 13 redes is. Dit sluit aan by die kaart wat in sy sluitkas by die skool verskyn het. Reg deur die nag luister Clay na Hannah se kassette, volg die kaart deur die dorp en word eerstehands ’n getuie van haar pyn. Die pyn wat haar haar lewe gekos het. Wat hy hoor, sal ook sy lewe vir altyd verander.
’n Interessante kyk na mense wat selfdood pleeg en die soms simpel redes hoekom. - Dian Liebenberg