Kapenaar se fotografie-stokperdjie lei tot ’n merkwaardige boek oor die Anglo-Boereoorlog

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Tinus le Roux se stokperdjie is om geskiedkundige swart-en-wit- foto’s in te kleur. Vir dié militêre geskiedenis-geesdriftige is dit ’n vreugde om te sien hoe gesigte lewe kry wanneer hy die foto’s inkleur.

Hy het in 2013 werklik eers inkleurwerk as kunsvorm begin ondersoek en het gaan kers opsteek by Doug Banks, ’n meesterkleurkunstenaar van die Verenigde Koninkryk.

Banks spits hom toe op historiese militêre foto’s. Tinus se belangstelling en stokperdjie het gemaak dat hy in 2014 ’n Facebook-blad, genaamd “Boer War Colorized Photographs”, geskep het waarop hy sy ingekleurde foto’s oor dié oorlog geplaas het.

Soveel volgelinge het hom gevra of hy nie ’n boek van die ingekleurde foto’s wou saamstel nie. Dit het gelei tot die ongelooflike, interessante boek, Die Anglo-Boereoorlog in Kleur, waarin die ingekleurede foto’s ’n visuele oorsig van die Anglo-Boereoorlog gee.

‘Die Anglo-Boereoorlog in Kleur’ deur Tinus le Roux (Jonathan Ball Publishers, R289*)

Anglo-Boeroorlog

Le Roux vertel in die inleiding om “historiese swart-en-wit foto’s met behulp van rekenaarprogrammatuur in te kleur is ’n bevredigende stokperdjie. Maar dis ’n tydrowende proses, wat navorsing, geduld, uithouvermoë en toewyding tot perfeksie vereis, asook volgehoue aandag aan detail. Die oogmerk is altyd om dit lewensgetrou te laat lyk.”

In die Anglo-Boereoorlog het die twee Boererepublieke van Transvaal en die Oranje-Vrystaat teen die Britse Ryk te staan gekom. Die oorlog het vir dekades lank die Suid-Afrikaanse politieke, ekonomiese en sosiale landskap beïnvloed.

Soveel mense is in armoede gedompel weens lord Kitchener, opperbevelvoerder van die Britse magte, se verskroeideaardebeleid wat in die republieke geïmplementeer is.

“Gewasse en vee op Boereplase is vernietig en na raming is 30 000 plaashuise afgebrand of deur plofstof vernietig. Vroue, kinders en bejaardes, wat deur die Britte tot ‘ongewenstes’ verklaar is, is in konsentrasiekampe geplaas, waar duisende aan siektes en wanvoeding gesterf het.”

In hierdie eerste volume word die konvensionele fase van die oorlog van Oktober 1899 tot Junie 1900 met Lord Roberts se besetting van die Boererepublieke gedokumenteer. Die foto’s wys die Boeremagte se invalle in Natal en die Kaapkolonie, die besetting van Ladysmith, Kimberley en Mafeking, en van die bekendste slagvelde van die oorlog.

Le Roux hoop die boek sal help om die Anglo-Boeroorlog “ook in die 21ste eeu tuis te bring en sodoende ’n jonger geslag aan dié fassinerende en ryke geskiedenis bekend te stel.”

Daar was ook baie plaaslike fotograwe, soos Jan van Hoepen, Van Nes en die Lund-broers wat saam met die boere kommando’s in die veld was. Hulle het treffende beelde van die oorlog vasgevang.

Die vooruitgang in fotografiese tegnologie het gemaak dat die Anglo-Boereoorlog omvattende gedokumenteer is.

Professionele fotograwe het van oorsee af gekom om die oorlog af te neem en het die foto’s aan maatskappye, tydskrifte en koerante regoor die wêreld verskaf. Maar daar was ook baie plaaslike fotograwe, soos Jan van Hoepen, Van Nes en die Lund-broers wat saam met die boere kommando’s in die veld was. Hulle het treffende beelde van die oorlog vasgevang.

Die Anglo-Boereoorlog in Kleur laat mens werklik met ander oë na hierdie tragiese geskiedenis van Suid-Afrika kyk. Dis ook ’n waardevolle visuele bron vir enigeen wat meer oor dié konflik wil leer.

Vir hierdie leser het die kleurfoto’s die oorlog baie meer werklik en direk laat voel.

Wanneer ek na swart-en-wit foto’s kyk, is daar meer van ’n emosionele afstand en voel ek my nie so betrokke by die gebeure nie. As fotograaf is die hoofstuk aan die einde van die boek besonder interessant. Daarin deel Le Roux hoe hy te werk gaan in sy ateljee om die foto’s nuwe lewe te gee. Fassinerend!

Foto's uit die boek

Anglo-Boereoorlog
Pa en seuns gereed om op kommando te gaan.

’n Ateljeefoto van ’n netjies geklede pa en sy seuns wat almal die oproep tot oorlogsdiens beantwoord het.

Anglo-Boereoorlog
Lund fotograaf

’n Lund Brothers-foto van ’n fotograaf met sy driepoot-gemonteerde kamera en toerustingsak op die kruin van Spioenkop ná die verskriklike veldslag in Januarie 1900.

Anglo-Boeroorlog
Vooroorlogse foto van deelnemers aan 'n skietkompetisie.

Hierdie vooroorlogse foto toon deelnemers aan ’n skietkompetisie – insluitend lede van die Oranje-Vrystaatse Artilleriekorps.

In die tweede ry, derde van links en herkenbaar aan sy flambojante snor, is majoor Friedrich Albrecht, bevelvoerder van die korps. Hy hou ’n Mausersportgeweer vas, bekend as ’n “plezier”-Mauser.

Dié geweer het ’n agthoekige loop gehad en die greep se houtwerk was korter as die van die militêre diensgeweer.

Links voor is luitenant Boning, wat die prys vir beste skut met sy Mauser gewen het.

Anglo-Boereoorlog
Generaal Koos de la Rey.

Generaal Koos de la Rey, legendariese Boerekryger, het sy vaardighede as militêre bevelvoerder met sukses in belangrike veldslae soos by Magersfontein bewys.   

Anglo-Boereoolrog
Nonnie de la Rey

Generaal De la Rey se vrou, Jacoba Elizabeth (Nonnie) de la Rey, wat bekend geword het omdat sy internering in ’n konsentrasiekamp geweier het deur in ’n ossewa met haar kinders deur die veld te trek tydens die laaste 18 maande van die oorlog.

Anglo-Boereoorlog
Generaal Koos de la Rey se kinders.

Die De la Rey-kinders met hul pa se gewere. Die twee oudste seuns verskyn nie op die foto nie. Een van hulle, Adriaan, is in November 1899 noodlottig gewond tydens die slag by Modderrivier.

Anglo-Boereoorlog
Boere gereed om wagdiens te doen.

’n Groep brandwagte gereed om op wagdiens uit te gaan.

Anglo-Boereoorlog
Marico Kommando by Mafeking

Burgers van die Maricokommando in posisie en gereed. Die 15-jarige JDL Botha is derde van regs.

Anglo-Boereoorlog
Britte vuur op Boere by Magersfontein.

’n Koninklike Vloot-kanon, kaliber 4,7-duim, met die bynaam “Joe Chamberlain”, skiet op die koppies by Magersfontein.

Anglo-Boereoorlog
Jan van Hoepen en sy seun

Die fotograaf Jan van Hoepen met sy seun, Egbert, wat in Pretoria gevange geneem en na Holland gedeporteer is, synde hy ’n Nederlandse burger was.

Jan het ook na Holland teruggekeer ná die Britse oorname van die republieke.

Ná die oorlog het Egbert as gegradueerde na Suid-Afrika teruggekeer en ’n bekende argeoloog en direkteur van die Nasionale Museum in Bloemfontein geword, waar hy 28 jaar lank sou werk.

* Prys onderhewig aan verandering sonder voorafkennisgewing.

Meer oor Tinus

Tinus le Roux is ’n militêre-geskiedenis-entoesias wat nie net foto's van die Ango-Boereoorlog nou in kleur weergee nie, maar ook dié van die Tweede Wêreldoorlog, met spesifieke fokus op foto’s waar die Suid-Afrikaanse lugmag betrokke was.

Wanneer Thinus nie agter sy rekenaar besig is om foto’s te laat herleef nie, sal jy hom op sy bergfiets vind. Hy bestuur ook ’n meulemaatskappy in Kaapstad. Tinus was voorheen betrokke by Denel.

  • ‘Die Anglo-Boereoorlog in Kleur’ deur Tinus le Roux is ook in Engels beskikbaar as ‘The Boer War in Colour’ en die boeke word uitgegee deur Jonathan Ball.

Skryf in!

Tyd vlieg. Dit voel soos gister dat beplanning vir die kompetisie SARIE Nuwe Gesig vir ons jonger lesers gedoen is – en hier soek ons nou al die derde Nuwe Gesig!

Dit is ook tyd om die 14de* wenner van SARIE Voorbladgesig, in trotse samewerking met Isa Carstens Akademie, te vind. Sedert die kompetisie in 2011 begin is, het lesers vir ons gewys hulle glo in die mantra #JyIsGenoeg deur in hul duisende in te skryf.

Hierdie is ’n geleentheid om jou storie te deel en ander te inspireer. Skryf in, jy is dit werd.

Skryf hier in!

* Twee jaar, 2016 en 2017, het elk twee wenners opgelewer.

SARIE Voorbladgesig en SARIE Nuwe Gesig: Hier’s jou reëls

JONGSTE UITGAWE

Julie/Augustus-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees