Klipvreter wat weg vir vroue in joernalistiek baan se storie vertel: ‘Sy was ’n ware baanbreker’

akkreditasie
Nellie Bly het die pad gebaan vir vroue in die Victoriaanse era om die wêreld van die joernalistiek te betree. Dié beroep was hoofsaaklik die domein van mans. Vroue kon oor koekies en tee, konserte en balrokke skryf, ja. Maar hulle durf nie hul pen aan harde nuus gewaag het nie.

louisa treger nellie bly
Louisa Treger

In haar jongste boek skryf die Britse skrywer, Louisa Treger, hoe Nellie dit reggekry het om vir haarself ’n loopbaan as nuusjoernalis uit te kerf.

Sy het ’n geleentheid by die Pittsburgh Dispatch aangegryp om stories oor die miskende en arm werkersklas te skryf. Toe die redakteur onder skoot kom van die adverteerders, het Nellie geweet haar dae daar is getel.

Ook dat sy nie bloot oor sosiale gebeure sal kan skryf nie, dis nie in haar aard nie. Sy het stoksielalleen na New York verhuis, waar sy alles moontlik gedoen het om ’n werk by die New York World te kry. 

Toe sy dit uiteindelik regkry om die redakteur te sien, vra hy haar wat sy hulle kan bied. “I shall fake madness. I’ll get myself committed to the lunatic asylum on Blackwell’s Island [. . .] I want to find out how the insane poor are really treated. Then I’ll write it up.”

In daardie stadium was die koerante vol stories oor hoe swak pasiënte in instellings vir geestessiektes behandel word. Ná ’n geredekawel het Nellie en die redakteur van die New YorkWorld ooreengekom dat sy die storie moet doen.

Nellie Bly.
Nellie Bly. Foto: Getty Images.

Dié verhaal van hoe Nellie in Blackwell beland het, wat sy alles daar ervaar het en hoe sy uiteindelik ná tien dae deur die koerant se regsverteenwoordiger uitgekry is, het sy in haar berigte vir die New York World geskryf en die growwe misbruike en swak behandeling van pasiënte ontbloot.

En sy het deur haar dade ’n nuwe tipe ondersoekende joernalistiek laat posvat.

Louisa Treger se roman, Madwoman (Bloomsbury, sowat R330), val in die genre van biografiese fiksie, die soort verhale waarin sy spesialiseer.

Haar inspirasie kom van baanbrekervroue, vertel sy een Sondagoggend terwyl ons oor ’n koppie tee gesels.

Haar eerste boek, The Lodger, het oor die modernistiese skrywer Dorothy Richardson gehandel, ’n tydgenoot van Virginia Woolf en die minnares van die skrywer H.G. Wells.

In The Dragon Lady was die fokus op Virginia Courtauld. Dié lewenslustige vrou het ’n eksotiese tatoe gehad wat teen haar been op gekronkel het nes ’n slang, en sy was ’n geskeide sosiale vlinder nes haar tydgenoot, Wallis Simpson.

louisa treger nellie bly

Maar hoe het Treger aan die storie van Nellie Bly gekom?

Toe ek klaar was met The Dragon Lady, het ’n vriendin geweet ek is op die uitkyk vir ’n nuwe onderwerp vir ’n boek. Sy het my gevra of ek al van Nellie Bly gehoor het, want sy is die soort vrou oor wie ek skryf.

“Sy het geweet ek is gek oor klipvreter-baanbrekervroue en het geweet ek sou aanklank by Nellie se lewensverhaal vind, al was dit die eerste keer wat ek van Nellie gehoor het. Ek het onmiddellik begin oplees oor haar en sy het my tot so ’n mate betower dat ek eenvoudig haar verhaal moes vertel.

Hoe het jy die navorsing vir die boek aangepak?

Plek speel ’n baie belangrike rol in my skryfwerk en ek het na New York gereis om Blackwell’s te besoek. Die eiland is intussen gegentrifiseer en is nou bekend as Roosevelteiland.

Van die gestig vir geestelikversteurdes is net die agthoekige toringblok, nou deel van ’n woonstelgebou, vandag nog oor.

As jy op die eiland staan, kan jy die liggies van Manhattan aan die oorkant van die rivier sien. Vir my was daar ’n diep hartseer-gevoel verbonde aan die eiland en sy geskiedenis.

In Nellie se dae was daar ’n tronk, ’n armehuis, ’n pokkehospitaal en die gestig. Hoe hartseer om te dink dat die uitgewekenes van die Amerikaanse gemeenskap 130 jaar gelede hierheen gestuur is. Om van vergeet te word.

Dit was ’n geval van as ons hulle nie sien nie, hoef ons nie te weet hulle bestaan nie.

Vandag gaan mense op die eiland aan met hul lewe sonder dat baie die geskiedenis van Blackwell’s ken.

Ek het ook alles wat Nellie Bly geskryf het, gelees, maar ook artikels wat oor haar geskryf is. Ek was gelukkig om toegang tot al die dokumente te kry in die Kongresbiblioteek in Washington, sowel as die New Yorkse Staatsbiblioteek.

Dit het my ’n gevoel gegee van wie sy was.

Hou jy streng by biografiese besonderhede en die tydlyn van jou hoofkarakter se lewe?

Ek skryf nie altyd chronologies nie, maar ek gee wel ’n uiteensetting van die belangrikste lewensgebeure.

Die gevoel van die karakter is vir my baie belangrik en daarom kan ek myself inleef in Nellie se lewe en die gesprekke wat sy sou voer, op papier voer.

Ek het probeer om so getrou as moontlik aan haar persoonlikheid te bly, maar ek het my eie beeld van haar geskep.

Dus, my roman kan beskryf word as ’n huwelik tussen feit en fiksie. Biografiese fiksie gee my die kans om in Nellie se kop te kom en om deur fiksie sekere temas in haar lewe sterker uit te lig. 

Sy is nie as Nellie Bly gebore nie. Waarom die naam?

Sy’s gebore as Elizabeth Jane Cochran, maar is altyd Pink genoem omdat haar ma haar in dié kleur aangetrek het. Later, toe mnr. Madden van die Dispatch haar artikels laat skryf het, wou hy hê sy moes onder ’n mansnaam skryf.

Sy was nie te vinde hiervoor nie en toe ’n kantoorjonge by die deur verbyloop en een van die gewilde liedjies van die Pittsburghse komponis Stephen Foster neurie, besluit sy net daar sy sal Nelly Bly heet.

Ek hou so daarvan, want dis eintlik so gepas: “Nelly Bly, Nelly Bly, bring de broom along, we’ll sweep de kitchen clean.”

Ironies genoeg is Nelly verkeerd gespel die eerste keer toe dit by haar artikel gebruik is, en so het sy Nellie Bly geword.

Vir die vroue in die gestig het sy Nellie Brown geword. 

Haar ambisie om ’n joernalis te word het nie haar familie se goedkeuring weggedra nie.

As kind het sy eintlik onkonvensioneel grootgeword. Sy het die kuns van storievertel en om haar verbeelding te gebruik by haar ma geleer deur die stories wat sy altyd vir Pink vertel het.

Haar pa aan die ander kant het haar aangemoedig om te leer en om die waarheid van versinsels te onderskei. So, dis eintlik logies dat sy graag ’n joernalis wou word. 

Maar ja, in die Victoriaanse era is vroue nie aangemoedig om ’n beroep na te jaag nie. Die norm was om te trou en om ’n gesin te versorg.

Daarom was haar ma en broers (ná haar pa se dood) ontsteld dat sy vir die koerant geskryf het. Maar sy het die geleentheid wat sy by Madden van die Dispatch gekry het, aangegryp.

Sy het geweet sy kan die afgryslike omstandighede waaronder vroue gewerk het, aan die lig bring in haar stories. Sy wou altyd oor die gemarginaliseerdes van die gemeenskap skryf.

Daardie tien dae wat sy in Blackwell deurgebring het, was haar groot deurbraak. Maar dit het ook gelei tot ’n geregtelike ondersoek na die omstandighede in die gestig en veranderinge is aangebring om dinge te verbeter.

Sy het dit moontlik gemaak vir ander vrouejoernaliste reg oor die wêreld om onregte bloot te lê. Sy was ’n ware baanbreker.

JONGSTE UITGAWE

November/Desember-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees