In sy outobiografie leer lesers hom beter ken en verstaan. Hoewel dit ligte vermaak is, sal jy sukkel om jouself weg te skeur van sy stories.
As jy moeg is vir die doom en gloom waarmee die wêreld die mensdom tans peper, is dié Britse komediant se tweede outobiografie, A funny life, dalk net die boek wat jy moet nadertrek om te ontsnap van die realiteit.
Hierdie topverkoper sal jou laat lê van die lag, terwyl dit jou ook ’n dieper kykie gee in die lewe van ’n wêreldbekende superster wat bladsy na bladsy erken hy is ook maar net ’n mens.
Michael neem die leser saam op sy wipplank-lewensreis – van ’n jong getroude nuwe pa met derduisende rande skuld, tot een van die suksesvolste komediante ter wêreld. Sy wêreldtoer, Michael McIntyre’s Big World Tour het meer as 800 000 kaartjies in 20 lande verkoop.
A funny life is lig, lekker en baie snaaks. Michael se informele, dog eerlike skryfstyl, laat dit voel asof hy direk met die leser praat. Net soos in sy komedie-vertonings, dwaal Michael keer op keer af van die storie waarmee hy besig is, in die talle kronkelpaadjies wat sy lewe tot dusver geneem het.
Die boek is vol stories wat jou sal laat skaterlag, maar ook laat besef die lewe is nie altyd so eenvoudig vir bekendes soos wat ’n mens dink nie.
Die pad na sukses, vol hoogte- en laagtepunte, is ’n ewige stryd waar een vertoning of resensie jou kan maak of breek.
Hy verduidelik eerlik dat ’n komediant konstant besig is om te swoeg soos ’n mens soek na nuwe materiaal, en dat jy nooit weet of die gehoor dit gaan snaaks vind nie, tot dit te laat is.
“My lewe sou soveel makliker gewees het as ek my Live at the Apollo en Royal Variety vertonings kon doen tot ek oud en grys is, maar die waarheid is, niemand wil dieselfde grap twee keer hoor nie . . .” vertel hy.
Jy wil die boek sommer op een slag klaar lees. Dis heerlik om die Michael agter die verhoog se gordyn te leer ken en die leser besef hoe dapper en vol deursettingsvermoë die man is, agter sy masker van ligsinnigheid.
Michael skets sy verhouding met sy vrou, Kitty, as een van ware liefde en toewyding – ’n verfrissende teenpool van die normale ster-verhoudings waaroor die bitsige skindertonge so baie gis.
Sy eerlike blik op ouerskap en die uitdagings wat dit bring, sal jou ook uit jou maag uit laat lag. Michael se beskrywing van sy agent, Addison Cresswel, is fassinerend en word so goed gedoen, dit voel amper asof die leser hierdie enigma van ’n man persoonlik ken.
Alhoewel Michael aan die begin van die boek verklap hy is nie ’n groot leser nie (sy vrou lees genoeg vir beide van hulle) en hy is nog minder ’n skrywer, is sy unieke skryfstyl boeiend en vermaaklik.
A funny life (Macmillan, *R340) is ’n mengsel van emosie, humor en heerlike stories wat ure se genot sal verskaf. Daar is ook ’n teerheid, ’n eerlike hartseer aan sy storie wat jou lank sal bybly.
*Prys onderhewig aan verandering sonder vooraf kennisgewing.