In die boeiende roman, Love Marriage (Virago, *R360), beskryf Monica Ali die kompleksiteit van romantiese verhoudings op so ’n manier dat jy self met ander oë na romantiese liefde kyk.
Wat trek mense aan na mekaar en waarna soek hulle in ’n verhouding en is daar onderliggende ervarings uit hul verlede wat hul ervaring van menslike konneksies onbewustelik beïnvloed?
Yasmin het in die spore van haar pa, ’n mediese dokter, gevolg. Sy probeer om die perfekte dogter vir Shaokat te wees, want haar rebelse broer, Arif, het ’n uiters gespanne verhouding met sy pa.
Arif is ook ’n toegewyde Moslem wat gereeld die moskee besoek in teenstelling met die res van die gesin. Shaokat glo Arif doen dit net om hom te irriteer.
Anisah, Yasmin se ma, ondersteun haar seun, al lyk dit of haar eie verhouding voldoen aan die maatstawwe van ’n ‘goeie’ Indiese verhouding – sy is onderdanig aan haar man, sy werk nie, vertroetel haar gesin met tradisionele Indiese geregte en doen goeie dade in die woonbuurt waar hulle woon.
Daar is ’n paar verwikkelinge wat Yasmin, sowel as Anisah, se rolle op sy kop keer. Arif se meisie is swanger en dit laat Anisah kant kies tussen haar eggenoot en haar seun.
Yasmin raak ontgogel oor haar eie verhouding met die aantreklike jong dokter, Joe Sangster. Hulle is verloof en beplan hul troue, alhoewel dié verhouding meer platonies van aard is, sonder enige openlike seksuele ondertone.
Wanneer kuise Yasmin uitvind Joe ondergaan in die geheim terapie vir sy seksverslawing, laat dit haar ’n klandestiene seksuele verhouding met ’n kollega aanknoop. Tog beur sy voort met die trouplanne.
Joe reël dat die Ghorami’s vir ’n ete na sy boheemse ma, Harriet, se huis kom in die gegoede buurt waar sy woon, sodat die ouers mekaar kan ontmoet.
Harriet is alles wat Anisah nie is nie en Yasmin is bevrees dat haar konvensionele ma geskok sal word deur Harriet, ’n uitgesproke en omstrede feminis wat daarop uit is om die maksimum publisiteit te kry om feminisme in die kollig te hou.
Verbasend genoeg vind Anisah aanklank by Harriet, wat haar aanmoedig om vir haarself op te staan rakende haar seun.
Terwyl Yasmin self konflik ervaar tussen haar ou identiteit as pligsgetroue en gehoorsame dogter teenoor haar nuwe waaghalsige identiteit, kom sy aanvanklik nie agter dat Anisah voor ’n krisis in haar huwelik te staan kom nie.
In die verhaal ondersoek die skrywer kultuurverskille subtiel deur hoe die karakters liefde benader en deur die tradisionele perspektiewe af te speel teen die onkonvensionele en meer liberale benadering tot liefde.
Maar sy wys dit ook in hoe mense praat, die aksent wat hulle gebruik en die vooropgestelde stereotipering wat verskillende rasse oor mekaar het.
Tog bly een ding soos ’n paal bo water staan; almal ervaar wroeging in hul verhoudings en word tot nuwe insigte gedwing daardeur.
Wie ons is en hoe ons liefhet is die deurlopende tema waarop die verhaal gebou is. Verhoudings én die liefde is kompleks. Verwagtinge oor liefde verskil meesal van die realiteit oor die liefde, en dan is daar boonop die kompromieë wat jy aangaan ter wille van die mense waarvoor jy lief is.
Ali het die vermoë om jou te laat lag en huil saam met die karakters. Jy ervaar ook empatie vir elkeen, maak nie saak hoe gebroke en vol geheime hulle is nie.
Dié menslike verhaal word met deernis vertel en lei die leser om met nuwe oë na gewone dinge te kyk.