Lief vir krimi-stories? Hier is 4 resensies van boeke wat jou sal boei

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Gesoute krimi-lesers sal onmiddellik weet wie Luna Joubert, Aella O’Malley, Thys Krige en Olof de Meyer is. Dis die hoofkarakters waarrondom Jeanette Stals, Dibi Breytenbach, Peet Venter en Jan Vermeulen hul spannende verhale geweef het.

Boeke
Foto ter illustrasie: Getty Images.

Dié vier se vernuf om misdadigers aan die pen te laat ry, stel nooit teleur nie. Papier is lankmoedig en die verhale bied geregtigheid vir die slagoffers. 

‘Bloedbande’, Jeanette Stals (Lapa Uitgewers, *R290)

Bloedbande is die vierde boek in die Luna Joubert-reeks, maar ek het dit gelees sonder dat ek enige van die vorige boeke gelees het. Die verhaal staan volwaardig alleen.

Luna ondersoek ’n dubbele moord op ’n eienaar van ’n kwekery in Stellenbosch en sy vrou. Daar was geen tekens van struweling nie en die polisie sukkel om sin te maak van die voorval.

Terselfdertyd kom Mike Grant weer in Luna se lewe, en al lyk hy baie anders, bly Luna sy klop aan haar deur antwoord. Die aangetrokkenheid wat hulle in die verlede gehad het, is nog nie weg nie.

Dié speurder het ’n diep spoor in haar lewe getrap toe hulle saam aan ’n saak in Mauritius gewerk het. 

Boeke
Foto ter illustrasie: Getty Images.

Soos Luna se ondersoek verdiep, begin sy op tone trap. ’n Vername sakeman in Stellenbosch hou nie van hoe naby aan die waarheid Luna met haar ondersoek kom nie, want dit dreig om al sy skelmstreke te ontbloot. 

Ek het die verhaal baie boeiend gevind, en kon tot en met die einde nie die raaisel self oplos nie. Die interessante karakters maak dat ek beslis die eerste drie boeke, Katoog, Vermis en Dag Drie, ook gaan lees, veral om meer agtergrond oor Luna en Mike se geskiedenis te kry. – Deidre Reinhardt

Boeke
Foto ter illustrasie: Getty Images.
  

‘Stom Gode’, Dibi Breytenbach (Lapa Uitgewers, *R290)  

Misdaad en geweld is temas wat Suid-Afrikaners daagliks in die nuus teëkom. Dié Laaste aflewering in die O’Malley-speurreeks neem ons op ’n reis deur die bos waar daar verskeie raaisels is om op te los.

Aella O’Malley sterk aan in Avignon, Frankryk, nadat sy ernstig beseer is in haar vorige saak. Saam met haar geliefde, Christophe LeBlanc, is sy stadig maar seker besig om weer haarself te word.

Sy dink dat sy selfs opgewonde is om terug te gaan huis toe, Opathe toe, totdat ’n Zoeloekind op straat by haar vir kos bedel. Hy praat glad nie Frans nie.

Hy verstaan wel Afrikaans, maar hy kan nie verduidelik hoe hy in Frankryk opgeëindig het nie. Al inligting wat hulle wel uit hom kan kry, is sy ma se naam al die pad terug in Suid-Afrika.

O’Malley kontak dadelik vir speurder MacLachlan in Suid-Afrika en vra hom om ondersoek te gaan instel na die ma. Dis die laaste ding waarvoor hy kans sien, want hy het skaars ’n week oor voordat hy uit sy woonstel moet wees.

Tog vat hy saam met sersant Khumalo die pad Opathe toe om die kind se ma te gaan soek. Daar aangekom, betrek kolonel Venter hulle by ’n ondersoek wat renosterstropery, korrupsie en drie lyke in die veld behels.

Wanneer O’Malley van Frankryk af terugkeer, word sy dadelik ook by die ondersoek ingetrek. Die seun terug in Frankryk bly ook by haar spook, want wat het sy ma met die hele spul uit te waai?

Breytenbach hou jou aan die raai met wie agter die gebeure sit. Die spanning is snaarstyf gespan tot die laaste bladsy wanneer al die drade vernuftig bymekaar geknoop word.

Stom gode is die laaste boek in Dibi Breytenbach se Gode-reeks. Dit volg op Dowe gode en Blinde gode.  - Antoinique van Staden

Boeke
Foto ter illustrasie: Getty Images.
 


‘Die dooies praat nie’, Peet Venter (Lapa Uitgewers, *R270)

In dié sesde verhaal in die Thys Krige-reeks word Thys met korrupsie en moord gekonfronteer. Tydens ’n hewige storm probeer Thys ’n meisie help, want haar Mini Cooper het in ’n sloot vasgeval.

Hy wil nie regtig betrokke raak nie, maar sy beweer sy word agtervolg. Die mense op haar spoor is op soek na ’n dokument wat sy dringend by iemand moet kry.  

Gelukkig is Thys se huis naby en hy nooi haar om saam met hom na sy huis te gaan sodat hulle droog kan aantrek. By die huis aangekom, stel sy net daarin belang om die dokument elektronies aan Petro de Wet te stuur.

Petro is ’n joernalis wat haarself daarvoor beywer om staatskorrupsie aan die lig te bring. Thys kan nie glo die noodlot het Petro weer oor sy pad gebring nie. Daar volg binne ure ’n ontvoering wat blyk ’n moord te wees.

Thys is vasberade om die moordenaars vas te trek, maar dan kruis sy pad met die betrokkenes in die dokument getiteld, “Lebole”. Die mense wil die inhoud van die dokument tot elke prys geheim wil hou.

Waar Thys Krige betrokke raak, volg geweld altyd.

Aanvanklik lyk dit vir Thys asof die dokument nie regtig van veel waarde is nie. Die dokument moedig die jeug aan om deel te word van die “final struggle” en dui op ’n moontlike tweede Marikana.

Maar wie is so desperaat om die dokument terug te kry dat hulle bereid is om moord te pleeg daarvoor? Sal Petro veilig wees, as Thys ondersoek instel?

Hoe nader Thys aan antwoorde kom, hoe verder voel dit vir hom asof hy van die lewe wat hy graag wil hê, af beweeg.

Die verhaal is vol kinkels en hou jou tot op die laaste bladsy vasgenael. Die ander boeke in die reeks is Dieper as bloed, Ou bloed, Waar boosheid broei, Plasenta en Brand. – Antoinique van Staden

Boeke
Foto ter illustrasie: Getty Images.


‘Spieëltjie, Spieëltjie’, Jan Vermeulen (Lapa Uitgewers, *R280)

Olof de Meyer het ná ’n vierdubbele hartomleiding, asook die trauma van sy vorige misdaadondersoeke as forensiese profileerder van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) afgetree.

Sy hulp word egter ingeroep wanneer dit lyk asof Lucinda Winterbach, hoof van die mode-agentskap Elegant Queens Acadamy, se model-studente deur ’n reeksmoordenaar geteiken word.

Die naakte lyke van van haar wenners word onder in swembaddens in die omgewing gevind, met hulle klere netjies langsaan opgevou. Daar is baie vrae rondom hoe hulle dood is en wie verantwoordelik kan wees.

Olaf is ’n forensiese profileerder met ’n skitterende reputasie, maar dié onverklaarbare verdrinkings van die jong modelle laat hom kopkrap.

Hy word geteister deur verwronge beelde van die meisies én homself, en daarom twyfel hy aan sy oordeel en instinkte. En dan is daar nog al die persoonlike drama tussen hom en kaptein Beth Jordaan van die SAPD met wie hy in ’n verhouding is.

Boonop het Lucinda self ’n paar geraamtes of twee in die kas, en is haar pastoor-seun Luca, ’n haan onder die (heeltemal te jong) henne . . .

Hierdie verhaal hou mens deurgaans aan die raai oor wie die skuldige is!

Die finale boek in die vierluik oor Olaf de Meyer is lekker spannend. ’n Mens is amper jammer om van Olof afskeid te neem, want dit voel of hy nog het om te vertel.

Die reeks het afgeskop met Die vyfde Aspoester, daarna volg Ondier en Nagjagter – Nadia de Jongh 

* Prys onderhewig aan verandering sonder vooraf kennisgewing.

JONGSTE UITGAWE

November/Desember-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees