Mal oor historiese fiksie? Resepte en plagiaat laat dié roman prut

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Derde van die Britse kosskrywer Eliza Acton se resepte is in die negentiende eeu deur die bekende Mrs. Beeton, skrywer van ‘Mrs. Beeton’s Book of Household Management’, geplagieer.

Die skrywer Annabel Abbs het die storie van Eliza, die wêreld se eerste kosskrywer vir die middelklas, in ’n versameling ou kookboeke ontdek en besluit dis ’n verhaal wat vertel moet word.

In The Language of Food neem Abbs lesers op Eliza se ongewone lewensreis van digteres na kookboekskrywer en hoe sy eintlik haar tyd vooruit was in ’n domein wat deur mans oorheers is. Die agtergrond waarteen die gebeure afspeel, gee lesers ook insig in die groot verskil in sosiale status tussen base en klase van die 1830’s in Engeland.

Eliza se ambisie om ’n digbundel by ’n gerespekteerde uitgewer te publiseer, word in die kiem gesmoor omdat die manlike uitgewer glo vroue is nie in die wieg gelê om te dig nie.

Hy sal net belangstel om haar werk uit te gee as sy ’n resepteboek skryf. Met ’n swaar hart en ’n gevoel van mislukking vertrek Eliza terug huis toe. Net om daar aan te kom en te hoor haar pa het al hul geld verloor, op die vlug geslaan en die gesin aan hul eie lot oorgelaat.

Sy en haar ma verhuis na ’n nuwe dorp waar hulle betalende gaste moet inneem om te oorleef. En al kan sy nie kook nie, het Eliza geen keuse as om die kombuisdienste oor te vat nie.

Sy neem ’n jong meisie, Ann Kirby, in diens om haar by te staan. Ann het ook ’n passie vir kos en Eliza ontdek in die kombuis haar talent om resepte te kan skryf.

Hulle vorm ’n gedugte span en ontwikkel en toets geregte wat Eliza in haar resepteboek opneem. Die verhouding tussen hulle is ongewoon vir die era, omdat die sogenaamde hoër klasse nie veronderstel was om sosiaal met die laer klasse te meng nie.

Abbs sê sy hou daarvan om oor werklike mense te skryf, want hulle het so baie om ons te leer. Sy is spesifiek geïnteresseerd in vroue wat regtig geleef het, want so baie van hulle is misgekyk en vergete.

Haar navorsing oor haar onderwerpe is omvattend en soms kom sy op ongewone inligting af, soos dat ’n derde van Eliza se resepte deur die bekende Mrs. Beeton geplagieer is. ’n Fassinerende verhaal wat inspireer!

 
Annabel Abbs

Ek het per e-pos met Annabel Abbs gesels oor The Language of Food (Simon & Schuster, *R330).

Stel jouself voor aan SARIE-lesers asseblief.

Ek het eers in my 50’s begin skryf. Ek wou nie vroeër ’n skrywer wees nie, want ek het gesien hoe my ouers probeer oorleef op hul inkomste as skrywers!

Ek het ook geweet die alleenheid daarvan sou my nie in my twintigs en dertigs gepas het nie. Teen my veertigs was ek gereed vir tyd alleen, en was toe ook in ’n finansiële posisie waar ek kon skryf wat ek wou en nie volgens ’n uitgewer se opdrag nie.

Ek skryf steeds presies wat ek wil en wanneer ek wil. Dis ’n groot voorreg wat gewoonlik saam met die ouderdom kom (en ná ek ’n gewone werk vir 25 jaar gedoen het!). 

Wat trek jou aan om historiese fiksie te skryf en waarom jou verhale op ware mense grond?

Ek dink die antwoorde op die toekoms, wat ons nie kan voorspel nie, lê in die verlede. As ons verstaan waar ons vandaan kom en wat ons gevorm het, kan ons leer hoe om te leef en hoe om te word.

Ek hou daarvan om oor regte mense te skryf, want hulle het so baie om ons te leer. Ek is besonder geïnteresseerd in werklike vroue, want so baie van hulle is misgekyk en vergete.

Dis uit hul lewe wat ons inspirasie kan neem en kan voortgaan met die stadige proses om die patriargale wêreld waarin ons al so lank leef, af te breek – hopelik vir ewig.

Hoe begin stories vir jou, met ’n karakter, ’n openingsin of iets wat gebeur?

Al my stories begin met ’n vrou wat vergete is van wie ons kan leer, en van wie ek geleer het.

Die titel van die verhaal kom gewoonlik reg aan die einde, net soos die openingsin. Ek herskryf beide seker honderde kere. Maar die karakter verander nooit!

The Language of Food

Wat was die vonk vir ‘The Language of Food’?

Ek het die storie van Eliza Acton, die wêreld se eerste kosskrywer vir die middelklas, in ’n versameling ou kookboeke ontdek.

Die bekende Mrs. Beeton het ’n derde van haar resepte geplagieer, maar niemand buite sjef-kringe het geweet wie Eliza was nie.

Ek was nie seker of mense in haar sou belangstel nie. Maar tot my verrassing doen hulle! 

Vertel meer oor jou navorsing en of jy op iets ongeloofliks afgekom het?

Ek het haar op al die gewone maniere nagevors, in biblioteke, boeke en aanlyn. Sy het egter geen briewe of joernale nagelaat nie, net kookboeke en ’n versameling gedigte.

Toe kook ek my pad deur haar boek en ontdek haar deur die geregte wat sy berei het. Ek was verstom om te sien hoe goed ons voorsate geëet het, die wye verskeidenheid bestanddele, die gebruik van eksotiese speserye en vars kruie wat hulle uitgesnuffel het.

Hulle het oordadige geregte gemaak, sonder ’n yskas, stoof, mikrogolfoond of elektriese menger. Ek staan verstom oor die hoeveelheid werk en denke wat in hul kos ingegaan het.

Ek het ’n geheim in Eliza se verlede ontdek, maar kan dit nie onthul nie, want dit sal die roman vir lesers bederf. 

Hoe skep jy karakters? Het jy eers ’n prentjie van Eliza en Ann in jou kop gehad, of het dit met hul karaktereienskappe begin?

Ek het ’n paar feite gehad en dit gebruik, hoewel Ann grootliks fiktief is. Daar bestaan een portret van Eliza wat my gehelp het om haar te visualiseer. Haar stem was baie duidelik en sterk in haar poësie en haar resepte. 

Kook jy self en hoe het dit jou met die skryf van die roman gehelp?

Ja, ek kook graag. Ek skryf ook ’n blog oor gesonde kos en het selfs eenkeer ingeskryf vir ’n kookkompetisie van die tydskrif Elle en dit tot by die eindronde gemaak.

My ma en my skoonma is albei uitstekende tuiskokke, so kook is ’n belangrike deel van ons gesinslewe. Ek glo nie ek sou oor Eliza kon skryf as ek nie ’n ywerige kok was nie – dit het my dadelik insig gegee in wat sy probeer doen het en hoe moeilik dit was.

Byvoorbeeld, as jy nog nooit gekook het nie, het jy geen benul van hoe fisiek uitdagend dit is om tien eierwitte met die hand te klits nie!

Jy dra die boek op aan jou dogter, “Bryony, fellow writer and kitchen companion”. Vertel meer oor jul verhouding en watter rol sy in die skryf van die roman gespeel het.

Bryony is ’n briljante kok, hoewel sy vegetaries is en baie van Eliza se resepte bevat vleis. Sy skryf ook gedigte en fiksie. Sy het my baie laat dink hoe ’n jong Eliza sou wees.

Bryony het my ook help kook en om Eliza se resepte te proe, en sy verstaan ook die emosionele katarsis van poësie skryf.

Moeilikste deel van die boek?

Die boek was ’n vreugde om te skryf. Soms het dit gevoel asof die boek homself skryf. Die enigste probleem was dat Eliza se testament, tesame met haar briewe, haar manuskripte en konsepresepte verlore of vernietig was. Maar terugskouend was dit miskien meer van ’n hulp as ’n terugslag. 

Eliza het ’n ongewone verhouding met Ann, veral vir die tyd waarin hulle leef. Wei asseblief hieroor uit.

Hulle het vir meer as tien jaar saam gewerk in ’n kombuis wat donker, warm en vol roet en rook was. Dit was regtig baie ongewoon, want die meeste huishulpe het omtrent net ’n jaar gebly voordat hulle aanbeweeg het na ’n beter werk.

Ek weet ook daar was nie baie ander huishulpe in Eliza se huis nie. So, ek het geweet hul verhouding moes heelwat anders gewees het as die gewone baas-klaas-verhouding.

Daarbenewens verwys Eliza deurgaans na “ons” in haar kookboek – ek het dus geraai hul verhouding het beteken hulle het saam gekook.

Wat bewonder jy die meeste van Eliza?

Sy was uit en uit modern. Sy het daarop aangedring om haar volle naam vir haar poësiebundel en haar kookboeke te gebruik, wat uiters ongewoon was in daardie dae.

Sy was onafhanklik en het dit reggekry om haar eie inkomste te verdien – sonder ’n man. Dit was ook ongewoon in Victoriaanse Engeland. Sy was ook ’n uitmuntende skrywer!

Moes jy die storie plot om by die tydlyn te hou?

Ja, dis makliker om by ’n tydlyn te hou as jy jou boek op ware gebeure grond. Ek het die raamwerk van die begin af gehad. Die dele tussenin en wat ek uitgedink het, was baie meer organies. Maar ek het altyd geweet waarheen die verhaal beweeg omdat ek die trajek van Eliza se werklike lewe gevolg het.

Hoe skryf jy?

Ek skryf nog met die hand wanneer ek navorsing doen en notas maak. Ek het honderde Moleskine-notaboeke en dan ’n rekenaar vir die werklike manuskrip.

En ek skryf enige plek en enige tyd. Ek het vier kinders en ’n groot hond en het tussen die alledaagse gebeure in my gesinslewe geskryf.

Jou vorige boeke het literêre pryse gewen. Plaas dit druk op jou wanneer jy met ’n nuwe boek begin?

’n Mens moet skryf waaroor jy sterk voel, die verhaal moet jou verbeelding aangryp en nooit laat los nie. As ek my moet bekommer oor wat die uitgewers wil hê, of wat die lesers wil hê, twyfel ek of ek ooit ’n woord sal kan skryf.

’n Skrywer moet heel eerste vir haarself skryf, en tweedens vir ander. Eers as die skryfproses voltooi is, behoort die boek aan lesers, en dan moet die skrywer laat gaan.

Het die Covid-19-pandemie jou kreatiwiteit en die skryf van die boek beïnvloed?

Skryf was my ontsnapping tydens die pandemie. Ek het harder as ooit gewerk. Omdat ek altyd van die huis af werk, het ek nie die skok ervaar van skielik weg van die kantoor en jou kollegas te wees nie.

Ek het nie televisie gekyk of uitgegaan nie. Ek het na my gesin omgesien en geskryf, en dit was dit. Daar was soveel ekstra tyd! 

Is dit maklik om afskeid te neem van jou karakters aan die einde van ’n verhaal?

’n Mens sê nooit regtig totsiens nie. Hulle leef voort, en verander met tyd. Wanneer ek eendag doodgaan, sal al my karakters steeds in my gedagtes maal, maar ’n effens veranderde weergawe van hulle.

En daar is altyd die opwinding van ’n nuwe projek . . . The Language of Food word nou ’n televisiereeks (ek is ’n konsultant daarvoor), so ek gaan nog vir ’n geruime tyd my lewe met Eliza en Ann deel.

*Prys onderhewig aan verandering sonder vooraf kennisgewing.

JONGSTE UITGAWE

Julie/Augustus-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees