In Marie Lotz se jongste spanningsroman, Polsslag, (Human & Rousseau, *R315) jaag Kaptein Alek Strauss en sy span dié reeksmoordenaar wat gereeld toeslaan.
Hy is ’n speurder verbonde aan die Spesiale Ondersoekeenheid, die Fiskale. Strauss se privaatlewe en eie geskiedenis kan self ’n storie of twee wees, maar in hierdie verhaal bepaal hy hom vir eers by die Drie-uur-moordenaar.
In ’n tweede storielyn ontvang ’n talentvolle juweliersontwerper, Marlia Heystek, ’n vreemde opdrag om in die geheim vyf luukse stukke juweliersware vir ’n uiters welaf en bekende sakeman te ontwerp.
Marlia is ’n enkelouer wat sukkel om kop bo water te hou en die vergoeding wat Leonard Adendorf haar vir die werk aanbied, gaan haar omstandighede merkwaardig verbeter.
Sy aanvaar Adendorf se opdrag maar moet katvoet loop dat haar moeilike baas, Rhyno Weidemann, nie uitvind waarmee sy besig is nie. Elk van die ontwerperstukke is vir ’n spesifieke persoon van wie Marlia slegs ’n beskrywing het.
Sodra sy die voltooide juweel aflewer, betaal Adendorf haar.
Dan sien sy koerantfoto’s van twee van die Drie-uur-moordenaar se slagoffers. Sy besef dat hulle albei die eksklusiewe juweliersware gedra het wat sy reeds aan Adendorf oorhandig het.
Intussen ontrafel kaptein Strauss en sy span die moorde, maar kry nie ’n verband tussen die slagoffers nie. Hulle kom uit verskillende beroepe en op die oogaf het hulle niks met mekaar te doen nie.
Wanneer die span tydens ’n glansgeleentheid in Sandton toeslaan, ontglip die moordenaar hulle. Strauss besef egter vinnig dat Marlia met die saak kan help en neem haar in vir ondervraging.
Haar kontrak met Adendorf verbied haar egter om oor die eksklusiewe ontwerperstukke of die opdraggewer te praat.
Marlia se bankrekening wys dis Adendorf wat haar betaal en uiteindelik word dit duidelik hoekom die moordenaar dié drie slagoffers gekies het.
Die skrywer neem die lesers op ’n senutergende reis saam met Strauss en sy span. Hy werk hom oorhoeks, het ’n verslawing anders as drank en dwelms.
Boonop hoor hy dat ’n vorige geliefde nie sondermeer uit sy lewe kan verdwyn nie. Terselfdertyd word dit ook al te duidelik dat die naïewe Marlia se finansiële geluk dalk nie gaan hou nie.
Lotz vertel ’n boeiende verhaal, maar aan die begin moet die leser kophou met die karakters, hul verbintenisse, die afwisseling van die tydslyne en die onderskeie storielyne.
Dié boek volg op Roofdier, Lotz se debuut waarin lesers die eerste keer met Strauss kennisgemaak het. Dis ’n skrywer om dop te hou.