Meer as 500 renosters per jaar in SA gestroop

akkreditasie
In Suider-Afrika is renosterstropery ’n reusagtige probleem. In 2018-2019 is meer as 500 renosters per jaar gestroop. Dis ’n minimale daling teenoor die 1 000 renosters wat jaarliks tussen 2013 en 2017 gestroop is.

Reeds sedert die vroegste tye gryp dié kolos van die veld die mens se verbeelding aan. Meer as 30 000 jaar gelede het moderne mense al beelde van diere, insluitend renosters, op klipplate en grotmure in Afrika en Europa geskilder. Die grootste bedreiging vir renosters is stropery en habitatsverlies. Waar renosters eens deur Europa, Afrika en Asië gewandel het, word hulle deesdae beperk tot nasionale parke en reservate in Afrika en Asië. Aan die begin van 1900 was daar sowat 500 000 renosters in die wêreld; in 1970 het dit gedaal tot 70 000. Vandag is daar slegs sowat 27 000 renosters in die wêreld oor. Spesies wat kritiek bedreig word, is die Javaanse-, die Sumatraanse renoster en die swartrenoster. Die witrenoster en die groter eenhoringrenoster is op die lys van bedreigde spesies.

Organisasies, groepe en mense is in ’n stryd gewikkel om ons natuurlewe te beskerm en vir die toekoms te bewaar. Die volgende drie boeke handel nie net oor die bewaring van renosters en die natuur nie, maar gee ook ’n kykie in die lewens van dié uitsonderlike mense betrokke by die lewensbelangrike werk.

 
 inspirasie, woorde

Rhino Revolution, Clive & Anton Walker (Jacana, R350)

Die probleem rondom stropery van wilde diere is nie net tot Suidoos-Asië beperk nie, maar kom ook voor in elke land waar daar nog wild is. Die boek kyk na die lang pad wat Suid-Afrika reeds geloop het sedert die renosteroorloë in die 1980’s. Die debat rondom die handel in sekere wildprodukte, insluitend renosterhoring, kom onder bespreking, maar ook die korrupsie en die strafregstelsel. Spesifiek onder die kollig is die noodsaaklike behoefte aan groter betrokkenheid deur die plaaslike gemeenskappe, asook die koste van beskerming.

Daar word ook gekyk na die werk wat deur verskeie instansies gedoen word met betrekking tot toerisme, gemeenskapsbetrokkenheid, veiligheid en omgewingsopvoeding. Die vyf oorlewende spesies van renosters word ook kortliks bespreek. Die Walkers is van die grootste kampvegters vir die bewaring van renosters en om oplossings vir kwessies rondom die bewaring van die diere te vind.

 
 inspirasie, woorde

Saving the Last Rhinos, Grant Fowlds en Graham Spence (Jonathan Ball, R295)

In ‘Saving the last rhinos’ vertel Grant Fowlds van sy kinderjare op die familie se plaas waar hulle met skape en beeste geboer het, sy loopbaan in die familieboerdery en hoe hy later oorbeweeg het aanvanklik na wildboerdery en later na bewaring en toerisme.

Later begin hy Amakhala-wildreservaat saam met sy familie en sy broer William, ’n veearts in Kariega in die Oos-Kaap. Hier voer hulle ’n stryd teen stropery en lê hulle hulle ook toe op die rehabilitasie van beseerde renosters.In 2013 het hulle saam met Kingsley Holgate, skrywer, TV-persoonlikheid en humanitêre avonturier, die projek, ‘Rhino art’, begin. In die projek word papier en vetkruite aan kinders verskaf en hulle moet dan hulle gevoel oor die natuur en wat daarin gebeur, uitbeeld. Die kinders skets stropery, renosters wat geskiet word en stropers en bewaarders wat mekaar skiet. Dié sketse sal later aan skoolkinders in Viëtnam oorhandig word in ’n poging om die jeug daar bewus te maak van wat gebeur tydens die stropery van wildlewe. Ná ’n feitemissie in Viëtnam smokkel Fowlds selfs ’n paar gram renosterhoring uit die land uit om met genetiese toetse te bewys dat dié horing van ’n gestroopte renoster van Suid-Afrika afkomstig is.

In die boek beeld Fowlds die aaklige en hartverskeurende werklikheid uit oor stropery en wildsmisdaad. Hy rig ’n oproep tot aksie aan elkeen van ons.

 
 inspirasie, woorde

Zambezi Valley, The Lost Stronghold, Silvana Olivo (Camilla Singh, R295)

Operasie Stronghold word in 1984 deur Glen Tatham, destydse bewaarder van die nasionale parke, in Zimbabwe begin. Dit is ’n poging om die bedreigde swartrenoster van die Zambezi-vallei te beskerm. Tydens ’n besoek aan familie raak Silvana Olivio, ’n veearts van Italiaanse en Suid-Afrikaanse afkoms, betrokke by dié projek. Sy was net 21 jaar oud, toe sy die amptelike Italiaanse verteenwoordiger vir Operasie Stronghold word en moet help om bewustheid te skep oor die stryd wat gevoer word vir die beskerming van die min swartrenosters wat nog in die natuur oor is en hoe noodsaaklik dit is om hulle te bewaar.

In ’n dagboek skryf sy oor haar ervarings terwyl sy saam met beamptes en veldwagters van die Nasionale Parke werk, van hoe sy met die media skakel en hoe fondse ingesamel word vir uiters noodsaaklike toerusting. Die boek dokumenteer nie net die geskiedenis van Zimbabwe se pogings om die swartrenoster te beskerm nie, maar is ook ’n testament van ’n jong meisie se moed en toewyding om betrokke te raak by die bewaringsinisiatief. Daardeur vervul sy ’n droom om ’n verskil in die bewaring van wildlewe te maak, iets wat haar besonder na aan die hart lê.

Pryse is voorgestelde pryse en kan wissel van winkel tot winkel.

JONGSTE UITGAWE

NOVEMBER/DESEMBER 2021

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees