Deel

Barbara Kingsolver se meesleurende verhaal oor weeskind wen Pulitzer-prys – lees weer ons resensie

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die skrywer Barbara Kingsolver het vir haar boek ‘Demon Copperhead’ die Pulitzer-prys vir fiksie gewen. Sy deel hierdie oorwinnig met Hernan Diaz vir sy boek ‘Trust’.

Lees weer ons resensie van hierdie aangrypende boek.

Resensie

Ek het ’n swak plek vir ’n rooikop, al van Pippie Langkous se dae af, en meer onlangs daardie sexy Skot van die Outlander-boeke. 

Nou’s daar ’n nuwe rooikopkarakter wat my hart gebreek het: Demon Copperhead. Dis my moederhart waarvan ek nou praat, want Demon is ’n weeskind wat ondanks sy hope sjarme, vele talent en potensiaal die pad lelik byster raak. 

Barbara Kingsolver se nuwe Bildungsroman – háár David Copperfield – het beslis onder derduisende Kersbome gewag. Wat ’n geskenk van ’n boek is dit nie, swaar en ryk soos ’n vrugtekoek wat weke in brandewyn gelê het.

Haar boeke is almal baie verskillend, met goue drade van deernis vir die mens en sy omgewing wat sy altyd deurtrek. 

weeskind


Demon Copperhead (Faber & Faber, *R325) speel af in Kingsolver se hartsland, haar geliefde Appalachia. Dis die VSA wat ons nie dikwels te sien kry nie, en wanneer dit wel iewers opduik, is dit as grappies oor dom Hillbillies. Dit steek Kingsolver duidelik dwars in die krop.

Die groot sosiale kwessies op haar radar met hierdie boek is die pynpilkrisis in die VSA, wat gedryf word deur gewetenlose farmaseutiese verkoopsmense en dokters wat lankal hul Hippokratiese eed vergeet het, of dalk nooit geken het nie.

Kombineer dit met die stukkende pleegsorgsisteem en ’n mediese stelstel wat op sy beste hinkepink en dis duidelik dat die onbeholpenheid van die verslaafdes en hul geliefdes nie te wyte is aan een of ander morele gebrek of domheid nie.  

Daar is ’n hele geskiedenis daaragter en jy sal die konteks teen die einde van die boek baie goed verstaan, sonder dat dit voel of daar gepreek is daaroor. Die mense van die streek is eenvoudig besonder kwesbaar vir sosiale euwels. Kans vir ontsnapping is min.

Kingsolver is beslis ’n aktivis vir haar kwessies, maar sy is eerstens ’n skrywer van fiksie – ’n gedugte een. ’n Boek slaag immers net as die storie lekker is. Moet dus nie dat die swaar temas jou afsit nie.

Demon se storie, in sy eie woorde, is meesleurend. Ons ontmoet hom op ’n punt in die toekoms waar hy vertel hoe hy grootgeword het. Hy’s skaars uit sy tienerjare, maar het al meer lief en leed ervaar as meeste ou mense.

Die storie slaag ook besonder goed as ’n insig in hoe ’n tipiese tiener se kop werk (of raas). Interessant genoeg was die verskeidenheid tienerkarakters vir my meer oortuigend en eg as die paar sterk vroue wat in die boek ook ’n groot rol speel.

Dis asof Kingsolver se verbeelding ’n effense afstand nodig het om in oorvloed te werk.

Miskien laat die uitdaging van andersheid – sy is immers nie self ’n verslaafde tienerseun nie – die waarnemende natuurwetenskaplike in haar na vore kom sodat sy navors en slyp tot die karakter soos ’n regte mens voor jou staan. Naak. 

Andersheid kan ’n strik wees vir minder bekwame skrywers. (Dink maar net aan die talle, selfs goeie, manlike skrywers wat dit net nie regkry om heeltemal oortuigende vrouekarakters te skep nie.)

Kingsolver se geheime bestanddeel om andersheid eg te maak, is haar opregte deernis. Sonder om doekies om te draai, vertel sy ’n harde, harde storie, met soveel hart en geen sentimentaliteit nie. Dis rou en ontstellend en mooi.


Demon Copperfield is ’n kragtoer van ’n formidabele skrywer wat met elke boek haarself oortref. Lees dit, jy sal nie spyt wees nie!

* Prys onderhewig aan verandering sonder vooraf kennisgewing.

JONGSTE UITGAWE

Mei/Junie-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees