Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe

akkreditasie
Johannes de Villiers glo jy moet jouself blydskap gun, al is jou lewe nie perfek nie. Hoe meer jy ruimte maak vir blydskap, ongeag waar jy in jou lewe is, sal dinge vir jou in plek begin val.

In sy boek Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe (Tafelberg, R275) verduidelik hy hoe lewensvreugde vir elkeen moontlik is. Hy gee ook praktiese wenke wat jy in jou lewe kan toepas. Blydskap en vreugde is iets wat jy kan aanleer.

 

Lees hieronder ’n uittreksel.

’N RESEP VIR DANKBAARHEID

Dankbaarheid maak jou gelukkig én dis gratis.

En tog kies ons dikwels om ondankbaar te wees.

Hoe dan so?

Helaas is daar ’n belangrike deel van dankbaarheid waarvan min mense jou vertel: Dankbaarheid verg werk. Dit gebeur nie sommer vanself nie.

So hier, vir almal wat meen hulle sou by ’n ekstra bietjie dankbaarheid in hul lewe baat kan vind, is ’n lys van tegnieke waarop ek al afgekom het wat mens kan help om dankbaarheid aan te leer. Party kom uit die ou wysheidstradisies of die positiewe sielkunde. Enkele is net dinge wat ek in my lewe uitgetoets het en wat gewerk het. Dalk kan jy ’n paar byvoeg.  

1. ’n Dankbaarheidsdagboek

Oprah Winfrey het al meer as 20 jaar gelede die lof van dankbaarheidsdagboeke besing.

Dit werk so: Jy kry ’n boekie en hou dit langs jou bed. Elke aand voordat jy gaan slaap, skryf jy vyf dinge neer wat dié dag gebeur het en waarvoor jy dankbaar is. ’n Kollega het jou werk gekomplimenteer. Die stukkende verkeerslig op pad werk toe is herstel. Jou kind het al sy kos opgeëet. Sulke klein goed.

Aanvanklik, veral as jy nie baie ingenome met jou eie lewe is nie, gaan jy teësinnig in jou boekie skryf, want jy gaan dink daar het nie veel in jou dag gebeur om voor dankbaar te wees nie. Jy sal lank moet dink voordat jy met iets vorendag kan kom. Maar ek sweer met my hand op my hart, as jy net lank genoeg daaroor dink, gaan jy elke aand met vyf goed vorendag kan kom waarvoor jy dankbaar kan wees. As jy hier by die vierde item op jou lysie trek (“die aartappelskyfies wat ek by die vulstasie gekoop het, was lekker”) gaan jy besef daar was heelparty dinge in jou dag waaraan jy nie veel aandag gegee het nie, maar wat terugskouend tog iets is waarvoor jy dankbaar kan wees. Die tweede aand gaan jy makliker met ’n lysie vorendag kom. Die derde aand nog makliker.

En dan gaan die dankbaarheid die res van jou dag insypel. Jy gaan jouself betrap dat jy deur die loop van die dag om jou rondkyk op soek na goed wat jy later in jou boekie kan skryf. Die kassier het vir jou geglimlag. Daar’s iets vir jou boekie! ’n Rooi vink het buite jou venster kom sing toe jy wakker geword het.

Maak ’n nota daarvan sodat jy dit later in jou boekie kan sit! Daar is bloeisels aan die jakarandas. Jou hande ruik lekker nadat jy hulle met seep gewas het. Jou kind of kat het in jou skoot opgekrul terwyl jy TV gekyk het. Later begin jy wens daar was plek vir 10, 20, selfs 30 dinge in jou boekie.

Dis nie dat daar meteens meer goeie dinge in jou lewe begin gebeur het nie. Jou oë het bloot oopgegaan.

Ek het ook ’n verdere voorstel wat jou selfs meer as ’n dagboekie kan help: Fokus op vyf dinge wat jy nóú met jou sintuie kan ervaar en waarvoor jy dankbaar kan wees. Laat ek verduidelik.

As jy snags ’n lysie van jou seëninge maak, is dit steeds iets waaroor jy terugdink nadat dit gebeur het. Maar wat sou gebeur as jy op ’n oomblik in die middel van jou besige dag stilstaan en jouself vra: “Wat is daar nou in hiérdie oomblik wat ek kan sien, hoor, ruik of voel om voor dankbaar te wees?”

Pleks daarvan om ’n dankbaarheidsdagboek te hou, het ek begin om ’n klokkie op my selfoon te stel wat vyf keer deur die loop van die dag op onverwagse tye lui (ek gebruik ’n toepassing genaamd Mindfulness Bell). As dit lui, los ek als waarmee ek besig is, kyk om my rond en vra myself: Wat let ek op waarvoor ek nou dankbaar kan wees?

Byvoorbeeld, op hierdie oomblik waar ek sit en skryf, brand my kaggel. Ek het die wonder van ’n draadlose luidspreker wat eenkant musiek vanaf my iPad speel. Ek dra lekker warm, snoesige winterklere. Al tien my vingers kan nog lekker tik sonder enige rumatiekpyne of artritis. Eenkant langs my lessenaar staan ’n stapel boeke wat ek op my rug op die rusbank gaan lê en lees wanneer ek hierdie manuskrip voltooi het. Dis vyf dinge net hier in een oomblik. Dankie, dankie, dankie, dankie en dankie.

Ek hoef nie eens ver te gesoek het nie.

2. Maak ’n groot bohaai oor dinge wat reg verloop

Dié tegniek het ek by AJ Jacobs geleer.

Jy ken seker daai gevoel as jy in ’n openbare toilet inloop en al die hokkies is vol. As jy ’n groot nood het, gaan jy ’n bohaai maak.

“Hoekom is ek altyd so ongelukkig? Hoekom tref die teëspoed my altyd op die ergste moontlike tyd?”

Of as jy in die supermark wag om te betaal en jy besef die tou waarin jy jou bevind, beweeg stadiger as al die ander toue, die tannie heel voor in die tou het begin om haar bronsgeld uit te tel en die kassier moet ’n bestuurder nader roep om haar voorraad vyfrandmunte aan te vul. “Dis nou tipies – ek beland altyd in die stadigste tou!”

As jy mooi daaraan dink, is daai woordjie “altyd” irrasioneel. Ons het die neiging om ’n veel groter bohaai te maak wanneer dinge skeefloop as wanneer hulle reg afloop, met die gevolg dat die teëspoed in ons geheue veel duideliker uitstaan en ons dink dinge gaan “altyd” verkeerd.

Het jy al ooit in ’n openbare toilet ingeloop waar daar ’n beskikbare hokkie was en hardop verklaar: “Ek is so gelukkig, ek kry al weer ’n oop hokkie!” En het jy al ooit wanneer jou tou in Checkers vinnig beweeg na iemand agter jou gedraai en gesê:

“Kyk net hoe lekker werk dinge vir ons uit, ons het die vinnigste tou gekry!”

Waarskynlik nie. Die meeste mense maak ’n groot bohaai as dinge skeefl oop en laat die goeie dinge ongemerk verbyglip. Kyk of jy jou belewenis van die lewe anders kan kleur deur ook ’n bohaai te maak wanneer dinge reg verloop. “Wil jy nou meer, daar is vandag in die winkel piesangs wat nog ’n volle vyf dae voor hul vervaldatum oorhet!” “Watwo! Ek het pas vyf groen verkeersligte agtereenvolgens aangetref, die heelal is aan my kant!”

’n Navorser genaamd Richard Wiseman het eenkeer probeer vasstel wat dit beteken as mense sê hulle is gelukkig (in die sin van die Engelse woord “lucky”, mense met wie onverdiende goeie dinge gereeld gebeur).

Hy deel toe ’n groep mense in twee – een helfte is diegene wat hulself as gelukkig beskou, en die ander helfte ’n groep wat kla die noodlot is altyd teen hulle. Wiseman het vir elke deelnemer aan sy eksperiment ’n eksemplaar van dieselfde koerant gegee en gesê hulle moet kyk hoe vinnig hulle die foto’s in die koerant kan tel. Die oefening het die ongelukkige mense gemiddeld twee minute geneem. Die gelukkiges het dit gemiddeld in net ’n paar sekondes afgehandel.

Hoe so?

Op bladsy 2 van die koerant was ’n banieropskrif in groot letters: “Hou op tel, daar is 43 foto’s in die koerant.” Boonop was daar op bladsy 10 ’n verdere boodskap: “As jy nou ophou tel en vir die navorser sê jy het hierdie boodskap gelees, kry jy $200.” Die “gelukkige” mense was dié wat oplettend was en die boodskap raakgesien het.

Daar was vir die gelukkige en ongelukkige groep ewe veel geleentheid vir goeie dinge om te gebeur. Maar mense wat hulself gelukkig noem, is toe al die tyd die mense wat meer aandag aan hul omstandighede gee, meer mindful is en die goeie dinge oplet wat oor hul pad kom. Ongelukkige mense kyk die goeie dinge mis en dink hulle het ’n nare lot in die lewe getref. As jy ooit dink jy het niks om voor dankbaar te wees nie, kan jy jouself gerus vra of jy nie dalk net beter aandag moet gee nie.

3. Kry beter woorde vir dankie

Daar is ’n tipe dankie wat weinig vir enigiemand beteken. Dis die dankie wat ’n blikstem uit ’n masjien opsê nadat jy ’n treinkaartjie gekoop het. Of die dankie wat die meeste van ons prewel vir ’n kassier wat ons inkopies aan ons oorhandig. Jy doen dit uit gewoonte, jy het zero daaroor nagedink en dit is onmoontlik om uit dié dankie af te lei of jy regtig enige mate van opregte dankbaarheid voel.

Navorsers aan die Wharton-sakeskool in die VSA het gekyk watter uitwerking verskillende bewoordings het as mense dankie sê. Hulle het bevind ’n frase wat begin met die woorde “Ek is dankbaar dat jy_…” het ’n veel groter impak as net ’n gewone “dankie”.

Probeer dit. As jy môre jou motor se tenk by ’n vulstasie laat volmaak, moenie net “dankie” sê nie. Probeer ’n ander formule.

“Ek is dankbaar dat jy my tenk vol brandstof gemaak het.”

Kyk of jy ’n verskil sien. Ek voorspel die persoon wat jy bedank, gaan ’n oomblik in sy of haar spore vassteek, jou in die gesig kyk en glimlag.

Dis nie omdat die woorde een of ander towerkrag het nie. Bloot deur die formuleagtige “dankie” deur ’n ander stel woorde te vervang, het jy aan die persoon voor jou gekommunikeer dat jy nie op autopilot is nie, dat jy besin het oor wat jy gaan sê en dat jy toe die deurdagte besluit geneem het om haar of hom vir hul hulp te bedank.

Vir ’n oomblik bevind jy jouself in ’n werklike vlees-en-bloed menslike interaksie, eerder as om soos ’n zombie deur die wêreld te beweeg.

 4. “Wat het vandag in jou lewe gebeur waarvoor jy dankbaar is?”

Op ’n soortgelyke noot as die bostaande het ek ’n nuwe manier uitgedink om ’n gesprek met mense af te skop. Die meeste van die tyd begin ons gesprekke met ’n totaal sinlose vraag: “Hoe gaan dit?” Feitlik niemand verwag ’n weldeurdagte antwoord nie, en as iemand die dag wel ’n opregte antwoord gee (“sleg” of “noudat jy vra, my kat is bietjie siek”) voel ons so half geïrriteerd dat hulle die bedoeling van ons vraag misverstaan het.

So, ek het ’n nuwe vraag waarmee ek gesprekke afskop: “Wat het vandag in jou lewe gebeur waarvoor jy dankbaar is?”

Dit is veral ’n goeie ysbreker as jy met ’n groep mense aan die begin van ’n slypskool werk. Die eerste persoon vir wie jy vra, is dikwels uit die veld geslaan. “Niks,” antwoord hulle. Dan moet jy hulle bietjie aanhelp. “Het jou wekker betyds afgegaan? Was daar kos in jou yskas toe jy gaan kyk het? Het jou motor gewerk toe jy die sleutel draai?” Die tweede lid van die groep vir wie jy vra, antwoord ’n bietjie makliker. Teen die tyd dat jy by die tiende persoon uitkom, hop hulle al op en af in hul stoel om jou te vertel van al die goeie dinge wat dié dag in hul lewe gebeur het. Die volgende keer as mens dieselfde groep mense sien, het hulle klaar iets gereed waarvan hulle jou wil vertel.

Probeer dit. Help bou aan ’n kultuur waarin mense die seëninge om hulle raaksien.

5. Waardeer klein wonderwerkies

Dié tegniek kom ook van AJ Jacobs. Het jy al ooit opgelet hoe baie dinge is klein wonderwerkies? Oorkant my in die vertrek staan ’n bal-en-klou-stoel. Wie op aarde was so talentvol om ’n bal-en-klou-stoel se pote uit te dink? Dis een van die slimste en mooiste vorms op aarde. As ek dit raaksien, voel ek vir die anonieme ontdekker besonder dankbaar.

Daar is soveel regtig slim goed rondom jou en die meeste daarvan is uitgedink deur ’n mens wat jy nie ken nie, maar wat jou lewe merkbaar beter gemaak het. Wie het byvoorbeeld ’n rekenaarmuis uitgedink? Dis nie ’n voor die hand liggende uitvinding nie. As een persoon dit nie uitgedink het nie, sou ons seker nou nog met die op- en afpyltjies van ons sleutelborde gesukkel het om oor ’n skerm te beweeg soos in die 1980’s. So, duisend dankies aan die uitvinder van die muis.

Of die ligskakelaar teen jou muur. Dis nie sommer net vanselfsprekend nie. Geslagte van mense het elektriese ligte aangesit deur toue te trek wat uit die plafon of van kandelare gehang het. Dink hoe gereeld het daai toue in vroue se beehives en bollas vasgehaak. Dink hoeveel keer het jou gaste die tou hardhandig losgepluk, waarna die huisbaas op ’n leer moes klim om dit weer vas te maak. Iemand het eendag gaan sit en ’n veel beter sisteem, die ligskakelaar, uitgedink. Dankie, wie ook al jy is.

Skoenveters. Ritssluiters. Velcro. Kougom. Moerskroewe. Elkeen van dié goed is iewers uitgedink deur ’n genie waarvan ons nie weet nie, wat ons nooit persoonlik kan bedank nie, maar wat ons lewe mateloos verbeter het.

Eendag, eeue of selfs millennia gelede, het ’n persoon in Sentraal-Amerika op ’n donkerbruin boon in ’n boom afgekom. Hy het sy lewe gewaag toe hy dit afgepluk en daaraan gekou het; dit kon giftig gewees het. En tog het hy die lewe vir almal ná hom radikaal verander. Vandag beskou ons sjokolade as iets alledaags, maar iemand het dit ontdek en so een van die grootste vreugdes op aarde ontsluit.

Dankie, Sentraal-Amerikaanse sjokolademens!

6. Tafelgebed

Jy hoef nie eens gelowig te wees nie. Sê bloot iets op voor ete om jou te herinner dat ’n netwerk van letterlik duisende en duisendemense en diere meegewerk het om jou kos te verbou, pluk, verwerk, verpak, verskeep, verkoop en te berei.

Godsdienstige mense ken eeue lank reeds die wysheid van ’n tafelgebed, hoewel daai “segen-eten-nimmer-vergeten”-tipe wat party mense so aframmel waarskynlik nie veel impak op enigeen se gemoed het nie. Probeer eerder iets wat uit die hart kom.

Vir mense wat nie noodwendig wil bid nie, is daar ’n ritueel wat “gathas” genoem word. Jy herinner jou en jou tafelgenote vir ’n oomblik dat julle dankbaar kan wees vir die kos voordat julle begin eet. ’n Eenvoudige een sal tipies soos volg lui:

“Miljoene wesens, die son, die maan, die wind en die aarde, het almal meegewerk om hierdie kos vir my moontlik te maak. Mag ek die krag wat hierdie kos my gee, gebruik om die wêreld vir almal ’n beter plek te maak.”

7. Hou op kla

Die teenoorgestelde van dankbaarheid is kla. Skop die kla-duiwel onder sy alie en kyk hoe verbeter dit jou bui.

Baie mense raak ongelukkig as jy hulle vra om nie te kla nie. Dis ons plig om te kla as ons in ’n winkel slegte diens kry of as ons politici ons inloop, redeneer hulle. Om nie te kla nie, is om ’n slaansak te raak wat hom- of haarself laat misbruik.

Dié argument is twak. Dit verwar kla met bemagtigende kritiek. Die doel van kla is om iets af te takel, terwyl bemagtigende kritiek iets wil opbou. Jy kla wanneer jy probleme uitlig sonder

om oplossings voor te stel. Bemagtigende kritiek word altyd vergesel deur planne vir hoe mens dinge kan verbeter. Klagatte is daai mense wat op werkvergaderings sit en elke idee afskiet sonder om ’n alternatiewe voorstel aan te bied. Bemagtigende kritici daag met ’n lys van werkbare planne op.

Klagte: Dit reën al weer, ek gaan nat raak en heeldag in my klam klere ongemaklik voel!

Bemagtigende kritiek: Dit reën, waar kan ek ’n sambreel of ’n reënjas kry?

Klagte: Jou hond blaf te veel.

Bemagtigende kritiek: Het jy al oorweeg om vir jou hond ’n speelding te koop sodat hy nie smiddae so verveeld raak nie?

Klagte: Ek is oorgewig.

Bemagtigend: Het jy vir my die nommer vir ’n oefengimnasium?

’n Klaery maak slagoffers van mense – dit laat jou en die mense om jou moedeloos en ongemotiveerd voel. Bemagtigende kritiek gee jou en die mense rondom jou ’n roete na ’n beter situasie.

8. Moenie als te maklik maak nie

Hierdie wenk is nogal teenintuïtief en jy gaan dalk skepties snork as jy dit hoor, maar dit is iets wat die meeste wysheid stradisies in die geskiedenis ontdek het: As jy die seëninge in jou

lewe wil waardeer, moet jy dit soms opgee. As jy ’n week lank met loodskoene rondloop en hulle dan uittrek, gaan jy baie lig voel.

Ek sê nie jy moet op ’n plank slaap of koud stort nie, hoewel ek mense ken wat albei doen en beweer dit maak hulle baie gelukkig. Maar as jy al op ’n dieet was, dan sal jy waarskynlik onthou dit het jou gehelp om meer dankbaar te voel vir die kos wat jy kry. Eet ’n week lank valerige kos sonder sous en jy begin oplet dat daardie kos smake het waarvan jy nooit geweet het nie omdat dit deur ryk geursels verberg was. Drink ’n week net water en jy sal begin oplet water is nie net neutraal nie – ’n lekker glas water het ’n smaak wat vir die beste sauvignon blanc niks terug hoef te staan nie. Jou ontbyt proe tien keer lekkerder as jy dit later in die oggend eet wanneer jy werklik honger is.

Ons sal later in die boek meer oor eenvoud gesels, maar een van die waardevolste lesse wat jy in die lewe kan leer, is dat jou wêreld vol is van dinge waarvoor jy dankbaar sou kon wees as dit nie agter allerlei ander luukshede en bederf weggesteek was nie.

 

JONGSTE UITGAWE

September/Oktober-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees