‘My heilige bewondering vir boeke en skrywers lei tot skryf’

akkreditasie
So sê die internasionaal bekende kunsfotograaf Lien Botha wie se tweede roman onlangs verskyn het. Met Wonderboom, haar debuutroman, het sy in 2016 en 2017 drie pryse gewen: die Jan Rabie-Rapport-prys, die Eugène Marais-prys en Huisgenoot/Tempo se boek van die jaar.

Al was daardie boek ’n distopiese roman waarin die verhaal om ’n violis gedraai het, het kuns as tema deel daarvan uitgemaak. In Vin, Lien se jongste roman, vorm kuns die sterkste tema wat die verhaal dryf. Kunstenaar-kurator Vin Verster vertel haar verhaal. Die leser reis twee dekades saam met haar oor die wêreld waar sy aan kunsresidensies en -projekte deelneem, en beleef vanuit Vin se perspektief haar ervaring van die kunste.

 inspirasie, woorde

Die verhaal skop egter af met die ontstellende raaisel van ’n afgesnyde oor wat in die veld lê. Eers aan die einde van die roman word die leser weer met dié toneel gekonfronteer en leer wie se oor dit nou eintlik is.

Vin is ’n boeiende karakter, soms ook frustrerend, want sy is uitgesproke en ly ook aan ligte paranoia. Haar ouers is jare gelede vermoor, die skuldiges is nooit vasgetrek nie. Boonop het daar ook ’n skildery uit haar ouerhuis verdwyn rondom die tyd van die moord. Vin se verhouding met haar argeoloog-man, Ryk, versleg weens haar skoonfamilie se voortslepende dramas. Al hierdie elemente speel ’n belangrike tematiese rol en jy moet enduit lees om die raaisel te ontknoop.

Dié roman lees jy nie in een sessie deur nie. Dis vir lees en besin, weer lees en weer besin. In die proses word jy blootgestel aan ’n kunstenaar se binnewêreld en die inspirasie, sowel as die onbestendigheid, van die kunste.

Lesers kan die boek lees sonder dat hulle enige kunsagtergrond het, maar sou jy meer oor die kunswerke in die verhaal wou leer, kan jy hoofstuk vir hoofstuk daarna kyk op ’n toegewyde portaal op Botha se webblad. https://www.lienbotha.co.za/vin-visual-2021

 

Ek het per e-pos met Lien gesels oor Vin (Queillerie, R280).

 
 inspirasie, woorde
Foto: verskaf

Vertel my meer oor jou reis met skryf, hoe het dit gekom dat jy skryf en is dit van jongs af iets wat jy graag wou doen?

Van kleins af reeds het ek ’n heilige bewondering vir boeke en skrywers. Dit het begin met ons moeder, Helena, wat ons een maal ’n week na die biblioteek in Pretoria-Noord geneem het om boeke uit te soek. Sonlig wat skuins teen die boekrakke val, fluisterstemme, bladsye met eindelose avonture en karakters . . . alles daaromtrent was vir my magies.

In my beeldendekuns-loopbaan van die afgelope dertig jaar het ek gereeld met die interaksie tussen beeld en woord gewerk, soos in bv. Bloedlyn (1999), Groot Inkleurboek Safari (2003), Amendment (2006) en veral die disintegrerende beelde wat voor elke hoofstuk in Wonderboom (2015) verskyn.

Skryf is ’n droom wat ek vir baie jare gekoester het, en in 2011 het ek die moed bymekaar geskraap en aansoek gedoen vir die MA in Kreatiewe Skryfkuns by die Universiteit van Kaapstad. Die dag toe ek hoor my aansoek was suksesvol, was werklik ’n gelukkige dag in my lewe. Met Etienne van Heerden as mentor was Wonderboom die resultaat van dié studiejare tussen 2012 en 2014. 

Vin se grootste tema is dié van kuns. Jy is self n kunsfotograaf. Was dit die vonk wat die roman vir jou begin het, of was dit iets anders wat tot die ontstaan van die roman aanleiding gegee het?

Aanvanklik was die plan om ’n roman te skryf oor ’n begrafnisfotograaf – ’n ontnugterde fotograaf wat haar greep op die lewe en haar loopbaan begin verloor, en haar oplaas tot die dokumentering van begrafnisse wend om finansieel en geestelik te probeer oorleef. Die doodstema is ’n sinspeling op ’n nering se uitkalwing. Gelukkig het dié idee gesneuwel en het dit ooglopend geword dat ek met voldoende interessante materiaal sit waaruit ek ’n kunsroman sou kon prakseer . . .  en so het Vin geleidelik uit die water beweeg. 

Jou hoofkarakter, Vin, is n interessante teenstrydige mens. Daar is baie waarvan ek hou, maar dan sê sy iets wat my laat voel ek wil haar skud. Hoe het jy haar geskep en watter eienskappe het hulle eerste aangemeld in die proses?

Omdat ek uiteraard visueel ingestel is, is dit vir my belangrik om die karakters te “sien” sodat ons die pad saam kan loop. Vin se voorkoms het uit die staanspoor gevra na ’n weergawe van Scarlett Johansson, na aanleiding van foto’s wat in 2013 deur Paolo Roversi vir die Italiaanse Vogue geneem is.

 inspirasie, woorde
Lien se inspirasie bord. Foto: verskaf

Vir my was die volgende eienskappe belangrik in haar karakter: Haar ontnugtering met die (kuns)wêreld wat in tweestryd is met haar (aanvanklike) liefde vir kuns én vir die lewe, ten spyte van haar terugslae. Haar intense ervaring van die lewe in sy vele fasette, haar verwerking van verlies, haar ongeduld met beuselagtighede, haar onvermoë om werklik tuis te voel in Suid-Afrika en die ewige hunkering na ’n ander heenkome.

 

Vertel ook asseblief meer oor die rol wat water in die verhaal speel.

Water is ’n kardinale sleutel in die verhaal en die medium waarin sy voortgesleur word. Lesers kan gerus bedag wees hierop, want sonder water sou ek Vin nie kon skryf nie. Vin woon in seë, mere, riviere, sy swem tussen ander visse, sy beur land toe, dan weer terug water toe, sy swem deur skoonheid, aftakeling, asook deur vreugde en verdriet.

Ja, Vin sinspeel gewis op die vis se ledemaat.

Het die Covid-19-pandemie enigsins n rol gespeel in hoe jy die onderwerp van die boek benader het?

Die manuskrip was grotendeels voltooi teen die tyd wat die pandemie ons getref het, maar ek het wel in die daaropvolgende maande heelwat afronding gedoen op grond van twee keurdersverslae. En natuurlik het die visuele komponent midde-in die koors van Covid posgevat. Dit was ’n lafenis om juis in die grendeltyd die beelde van soveel kunstenaars en kunsstede te kon herbesoek en daaroor te kon mymer.

Vin verwys in haar lesings na die fotograwe David Goldblatt en Abrie Fourie. Vir my persoonlik lê hulle teenoorgesteld van mekaar met hoe hulle hul kuns toepas. Wat trek jou aan na die twee fotograwe se werk?

Ja, juis hul uiteenlopende sienswyses spreek boekdele van die wye blik wat die fotografiese medium bied. Goldblatt was onbetwisbaar die chronologiese en obsessiewe dokumenteerder van ons landskap en mense oor ’n tydperk van ongeveer vyftig jaar. Daar is ’n deurlopende beheerde passie en toewyding wat regdeur sy werk loop. Jy kan daarvan hou, of nie, maar jy kan hom nie ignoreer nie.

Abrie Fourie se benadering is ’n meer poëtiese en sydelingse blik. Sy fotografiese verkenning is vir my soos om in die sneeu te loop en wanneer jy omkyk te sien hoe jou spore ontbreek.

By albei is ’n empatiese blik van die menslike kondisie wel te bespeur.

Dit is insiggewend dat beide fotograwe op ’n stadium die vernuf van die skrywer Ivan Vladislavic ingespan het: Goldblatt met Double Negative (2010) en Fourie met Oblique (2011).

Vertel my meer van die verraad wat Vin ervaar het.

Die verraad spruit aanvanklik uit die geledere van haar man se familie wanneer haar skoonpa sterf, en die daaropvolgende ingrypende uitwerking op hul lewens en hul verhouding. Dit suggereer dan ook dat mens se familie nie noodwendig altyd aan jou kant is nie.

Ek ervaar dat Vin n probleem het met vertroue, veral in mans. Wil jy iets hieroor sê.

Dit spruit uit die dood van haar ouers en die feit dat daar nooit restitusie of vergelding was nie. Mens moet verstaan dat sy nie werklik die trauma van haar ouers se moord verwerk het nie. Ek dink nie dit is spesifiek mans wat sy nie vertrou nie, sy het tog goeie verhoudings met heelparty mans in die boek, benewens Ryk vir wie sy werklik lief is. Dink aan Dominic Blanc, Guy Lenoir, Loïc en Romain van Compagnie des Limbes, Brent Meistre en Jochen Sokoly. 

Vertel meer oor die foto-projek op jou webwerf wat hand aan hand met die roman loop.

Met Vin is die beeld- en klankmateriaal ’n tweede of aanvullende lees-ervaring op ’n ander platform. M.a.w die leser kan besluit hoe en tot watter mate die Vin-galery by die teks betrek moet word. Ek glo hierdie metodiek is ’n weerspieëling van die dinamiese tegnologiese tyd waarin ons leef, en die kreatiewe moontlikhede wat dit aan kunstenaars bied.

Vin se visuele komponent het laat “aangemeld”. Ek het vroeg verlede jaar Instagram betree en getob daaroor om met die toekomstige verskyning van Vin dié platform te gebruik as toonvenster vir sommige van die visuele materiaal. Kort daarna het Kerneels Breytenbach ook voorbrand daarvoor gemaak in sy keurverslag en aanbeveel dat ek moontlik my webtuitse daarvoor sou kon inspan. Ek was op daardie stadium juis in die proses om my bestaande webwerf ’n nuwe baadjie te gee, en so het dit voorwaar sin gemaak.

JONGSTE UITGAWE

SEPTEMBER/OKTOBER 2021

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees