'n Uitstekende boek wat die ‘huwelik’ tussen die ANC en SAKP duidelik uitspel

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Hierdie is ’n belangwekkende boek vir mense wat meer wil weet hoe die ANC dink en hoe hy al dekades lank deur die SAKP beïnvloed word.

“Terreur en Bevryding” deur Leopold Scholtz (Jonathan Ball, R285*

terreur en bevryding, leopold scholtz

Die verhouding tussen die ANC en die SAKP kan nie los van die stryd teen apartheid gesien word nie. Apartheid was die bindende faktor wat die twee bewegings  bymekaar gebring en gehou het.

Só skryf die bekende historikus en politieke ontleder dr. Leopold Scholtz in sy jongste boek, Terreur en Bevryding, waarin hy die verhouding tussen die ANC/SAKP, kommunisme en geweld tussen 1961 en 1990 in diepte bekyk.

Toe die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) en die ANC in 1961 besluit het om Umkontho we Sizwe (MK) te stig en die wapen op te neem teen die apartheidsbestel in Suid-Afrika, het MK vier opsies oorweeg: Sabotasie, guerillaoorlog, terrorisme en openlike verset.

Aanvanklik is sabotasie gekies, primêr om moreel geen politieke redes, maar as dit nie suksesvol was nie, sou daar oorgegaan word tot guerillaoorlogvoering en terrorisme.

Oudpres. Nelson Mandela was tydelik romdom 1960 ’n lid van die SAKP, maar hy het ná sy vrylating in 1990 ná 27 jaar meer pragmaties geword.

Dit staan soos ’n paal bo water dat Oliver Tambo, die ANC-president in ballingskap, in teenstelling met Mandela, nooit ’n ingeskrewe lid van die SAKP was nie.

Scholtz verduidelik die SAKP het in 1928 al opdrag uit Moskou ontvang om die ANC te infiltreer en metteryd die partyleiding oor te neem as deel van ’n beoogde revolusie in twee fases”: ’n nasionaal demokratiese revolusie (’n term wat die ANC vandag steeds graag gebruik, gevolg deur ’n Marxistiese-Leninistiese “diktatuur van die proletariaat - die massas)”.

In die dekades ná MK se stigting is dikwels daarop gehamer dat hy geweldlose verset teen apartheid gepleeg het, maar dat dit met brute geweld deur die apartheidsregering begroet is.

Die  verhouding tussen die ANC en die SAKP kan nie los van die stryd teen apartheid gesien word nie.

“Apartheid was die bindende faktor  wat die twee bewegings  bymekaar gebring en gehou het. Ofskoon Tambo geen ingeskrewe lid van die SAKP was nie, het dit die SAKP goed gepas om ’n niekommunis – formeel gesproke – as front aan die buitewêreld te toon,” verduidelik Scholtz.

Tog het die ANC se houding met Tambo as leier deur die jare steeds meer in ’n ortodokse Marxisties-Leninistiese rigting ontwikkel.

In die dekades ná MK, ook bekend as die Spies van die Nasie, se stigting is dikwels daarop gehamer dat hy geweldlose verset teen apartheid gepleeg het, maar dat dit met brute geweld deur die apartheidsregering begroet is. 

Dit het aan MK geen ander keuse gelaat nie as om tot geweld oor te gaan nie en slegs toe dit gedoen is, was die doel streng om bloedvergieting te vermy.

Die sabotasieveldtog het ondanks die feit dat daar sowat 190 voorvalle was, nie geslaag nie. Die saboteurs het ondanks die ANC se beloftes, nie veel gedoen om bloedvergieting te voorkom nie.

“Daar was geen teken dat die (apartheids-) regering bereid was om te luister nie. Bowendien was daar ook geen teken nie dat dit die swart massa tot opstand of selfs steun aan die anti-apartheidstryd gemobiliseer het nie,” skryf Scholtz, ’n voormalige adjunkrekdakteur van Die Burger.

Leopold Scholtz. Foto: Netwerk24
Leopold Scholtz. Foto: Netwerk24

In 1962 het die ANC op sy eerste konferensie nadat hy in Suid-Afrika verbied is, in Lobatse, Botswana, besluit om na die guerillafase oor te gaan. Dit het die vorm aangeneem van Operasie Mayibuye. Dit was ’n plan om die regering binne ’n relatief kort tydperk omver te werp.

Joe Slovo en Govan Mbeki het ’n groot rol in die opstel van dié plan gespeel, maar volgens Scholtz was dié plan met die voordele van agternakennis “uiters naïef en onrealisties”.

“Operasie Mayibuye was egter, om dit kragtens te stel, roekeloos en onrealisties.” 

Die plan was onder meer om ’n aanval van buite op Suid-Afrika te doen, gepaardgaande met ’n binnelandse opstand.

Dit sou afskop met ’n landing hetsy vanaf die see of vanuit die lug van vier groepe van 30 vegters elk. Dié groepe sou dan hul kragte verenig met ’n mag van 7 000 gewapende vegters in die Oos-Kaap, Transkei, Natal, Zoeloeland, Noordwes-Transvaal en Noordwes-Kaapland. Dit was gebaseer  op die voorbeeld van Kuba.

Die SAKP was die dryfveer agter die gewapende stryd, skryf Scholtz in dié boek met sy omvangryke bronnelys.

Teen 1978 - twee jaar ná die Soweto-onluste van 1976 het dinge droewig vir die ANC begin lyk en hy het besef sy gewapende stryd het gestagneer.

Die idee wat toe gegeld het, was gebaseer op die denke van die Kubaanse revolusionêr Chuevara. Dit was dat die gewapende stryd eers moes kom en dit dan tot ’n algemene opstand sou lei.

’n Nuwe benadering was nodig en ’n ANC/SAKP-afvaardiging het met die hulp van Rusland ’n besoek van 16 dae aan Viëtnam gebring. Dié afvaardiging het bestaan uit Tambo, Slovo, Chris Hani, Thabo Mbeki, Joe Modise, Moses Mabhida en Cassius Make.

Die SAKP se tweefaserevolusiemodel (die nasionaal demokratiese en die Marxistiese-Leninistiese ‘diktatuur van die proletariaat’), is iets waaroor sowel dié party as die ANC ná 1990 om begryplike redes grotendeels swyg.

Dit was ’n paar jaar nadat Viëtnam met ’n sogenaamde volksoorlog ontslae geraak het van die pro-Amerikaanse Suid-Viëtnamese regime en die Amerikaners wat hulle ondersteun het.

Ná dié besoek het Tambo-hulle besef die ANC-opstand het te eensydig op die militêre aspekte van die gewapende stryd berus.

Die ANC/SAKP het besef die politieke stryd is primêr, die wydste moontlike nasionale front moes om ’n minimumprogram gebou word om alle groepe in die stryd te bind, maar in die proses moes die “revolusionêre front (die ANC en die SAKP)” sy onafhanklikheid behou.

Dat apartheid onwerkbaar en immoreel was, kan as ’n gegewe beskou word. Maar, die feit dat die ANC/SAKP dit met ’n moontlik nóg immoreler kommunistiese diktatuur wou vervang, beklemtooon dat die geskiedenis bitter selde swart-en-wit-teenstellings ken; eerder verskillende skakerings van grys.

“Die SAKP se tweefaserevolusiemodel (die nasionaal demokratiese en die Marxistiese-Leninistiese ‘diktatuur van die proletariaat’), is iets waaroor sowel dié party as die ANC ná 1990 om begryplike redes grotendeels swyg.”

Die val van die Berlynse Muur in 1989 en die gepaardgaande verkrummeling van die kommunisme as internasionale magsfaktor het die omwenteling van die jare 1990-1994 ingrypend beïnvloed. Daardie paradigma het nie alleen ongeldig geword nie, maar inderwaarheid “’n geurtjie bygekry”.

Scholtz plaas in die boek die kollig op die “dodelike kombinasies van erge interne onverdraagsaamheid en onbekwaamheid binne die ANC/SAKP in ballingskap, die korrupsie deur ’n deel van die leierskorps en die ernstige menseregtevergrype in ANC-kampe in die buiteland”.

Scholtz hoop dié boek kan help om ’n meer genuanseerde beeld van die apartheidsverlede te skep.

“Dat apartheid onwerkbaar en immoreel was, kan as ’n gegewe beskou word. Maar, die feit dat die ANC/SAKP dit met ’n moontlik nóg immoreler kommunistiese diktatuur wou vervang, beklemtooon dat die geskiedenis bitter selde swart-en-wit-teenstellings ken; eerder verskillende skakerings van grys.

“Een misdaad plus nog ’n misdaad is nie nul misdade nie, maar twéé misdade. Dit geld ook vir die konflik van die apartheidsjare in Suid-Afrika,” sluit Scholtz af.

Net so gemaklik soos hy altyd politieke ontledende artikels vir Netwerk24 skryf, so gemaklik het Scholtz dié boek geskryf.

Dit is die moeite werd om dié maklik leesbare boek te lees en die Suid-Afrikaanse politiek beter te verstaan.

  • Sarel van der Walt is ’n politieke joernalis van Netwerk24.
 

* Prys mag verskil sonder voorafkennisgewing.

JONGSTE UITGAWE

Julie/Augustus-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees