‘Ons is al twee ’n vriendskap ryker’

akkreditasie
Die skryf van Schalk Burger se memoires het vir die sportskrywer Michael Vlismas ’n nuwe vriendskap in die sak gebring.

Michael, wat Schalk gehelp het om sy lewensverhaal te skryf, sê die hele proses was lewensverrykend. “Die groot bonus van dié boek was die vriendskap wat ek gekry het. Maar ek het ook ’n lewensles by Schalk geleer. Wanneer ons oor die kinders gepraat het, en ook oor hoe jy ’n Springbok grootmaak, het hy talle kere gesê jy moet jou kinders se lewe nie deur jou oë sien nie, maar deur hul oë. So is jy beter in staat om hulle te ondersteun en te help met hul drome. Dit bly by my, dié vriendskap en die raad oor kinders grootmaak.”

 inspirasie, woorde

Sportjoernalistiek het die twee aanvanklik by mekaar uitgebring. Michael skryf al jare oor gholf en het geweet Schalk is lief vir die sport en speel gereeld. Hy wou graag ’n gholfartikel met hom doen vir een van die tydskrifte waarvoor hy skryf. “Ek het dit gereël, uitgegaan na sy plaas toe en ons het vanuit die staanspoor lekker gekuier. Schalk vertel heerlike stories en ons het op sulke wye paaie gaan draai, dat ek besef het daar is veel meer aan Schalk Burger as rugby, gholf en wyn.” Dis wat die saadjie by hom geplant het vir Just a Moment: A memoir, ’n boek oor die wynmaker, rugbyspeler en familieman se lewe.  

Ek het met Michael en Schalk gesels oor Just a Moment: A memoir (Jonathan Ball, R275).

 
 inspirasie, woorde
Michael Vlismas saam met Schalk Burger. Foto: verskaf

Schalk, jy skryf in die nawoord van die boek jy is eintlik baie privaat en het nooit die behoefte gehad om jou lewensverhaal te skryf nie. Waarom vir Michael met jou memoires vertrou?

Ek het daarvan gehou dat Michael nie eintlik ’n rugbyjoernalis is nie. Rugby was net ’n gedeelte van my lewe. Hoe my lewe bymekaargekom het, was as gevolg van ’n verskeidenheid van omstandighede. Toe ons die boek begin het, het ek gedink ons gaan net ’n klomp lekker stories vertel. Toe begin Michael krap. Hy vra vrae en ek vertel hom wat gebeur het. Toe raak dit redelik ernstig en ek was self nie seker of die boek in die regte rigting gaan nie. Ek sê toe vir Michael ek moet eers daaroor gaan dink, want van die stories wat ek hom vertel, betrek my kinders. Hulle is baie na aan my hart. En dis maar baie moeilike stories wat ek eers met hulle moes bespreek. Ek wou nie hê hulle moet daarvan in die boek lees en dit moet koud op hulle afkom nie. Hulle het dit toe goedgekeur.

Ons wou eintlik die boek al in 2019 uitgegee het, maar die pandemie het gemaak dat die proses stadiger geraak het. Ek dink die groot vraag in enige mens se lewe is, wat wil jy wees en wat is jy. Dis basies waaroor die hart van die boek gaan. Jy moet nie so iets doen as jy nie die waarheid wil vertel en daar onder gaan krap nie. Dit het baie persoonlik geraak en was in ’n stadium vir my ongemaklik. Maar ek was nog nooit skaam oor my agtergrond nie. Dis ’n bietjie van ’n antitese, want my ma is ’n Rooms-Katoliek en Wallies. En my pa was verregs, deel van die Gryshemde van die Ossewabrandwag.

Ek het nooit die boek geskryf met ’n spesifieke doelwit nie. Dit het baie eerlik gekom en Michael was die regte mens. Ek kon party dae vir hom sê ek wil eers oor die storie wat ek vertel het, gaan dink. Dan skryf hy dit, wys dit vir my en dan praat ons daaroor. Hoe dieper ons gedelf het, hoe dieper was die ontdekkingsreis vir my.

 

Michael, om iemand se memoires te skryf is baie persoonlik, om te weet hoe ver om te druk om inligting te kry, maar om steeds die persoon se vertroue te behou. Was dit vir jou moeilik?

Ek het dit baie ernstig opgeneem, juis omdat dit iemand se persoonlike lewe is. In hierdie geval was die kinders en die dinge waardeur hulle is ook betrokke. Ek het niks hiervan ligtelik opgeneem nie, want iemand vertrou jou met hul lewensverhaal. Dit was vir my belangrik dat ek justice daaraan doen. Ek is al amper 30 jaar ’n sportjoernalis. Ek het oor sport begin skryf omdat sport vir my the ultimate mirror of the human condition is, meer as die prestasies. Sport het die mensdom vir my so mooi uitgewys. Ek wou dáároor skryf – die menslikheid van die sportsterre. Ek was nooit geïnteresseerd in die sensasie nie. Ek wou die storie van die mens vertel. Dit was vir my ’n wonderlike reis saam met Schalk, een waar ek sy vertroue gehad het om so ’n persoonlike verhaal te skryf. 

Schalk, daar is meer as een boek in jou lewe, veral as mens kyk na jou rugbyloopbaan en al die staaltjies wat jy daaroor kan vertel. Hoe het julle besluit wat word deel van dié boek en wat nie?

Die eerste sif is bepaal deur die hoeveelheid bladsye wat ons toegelaat is. Ons het ’n klomp stukke gehad waardeur ons gesif het om die boek aanmekaar te sit. Dis ’n samevoeging van my reis – as ’n kind, as iemand wat skool verlaat het, wat gaan studeer het, wat gaan werk het, en as ’n familiemens. Ek wou hê mense moet lees dat alles nie altyd uitwerk soos wat jy droom en waarvoor jy bid nie, hoe dinge op die pad gebeur en wat jy dan daarmee maak. Dié reis gaan ook oor die snaakse en verkeerde goed wat ek gedoen het. 

Jou kinderjare was nie weelderig nie. Jy het van vroeg af reeds gewerk om jou gesin te help. Het dit jou ’n honger gegee om suksesvol te wees?

As jy dink aan vandag se arbeidswet, dat jy nie mag werk as jy jonger as 16 is nie, dan was my werkery seker onwettig. Ek was 13 toe ek in ’n klerewinkel in die Paarl gewerk het. Dit was nie altyd lekker nie, maar aan die einde van die week kry jy jou pay cheque en jy weet jy kan help om die familie aan die gang te hou. Ek het ook koerante afgelewer. Om elke oggend vyfuur in die winter te ry van waar ons gebly het tot waar ek die koerante gekry het, dit te vou en uit te gaan . . .  As ek terugdink daaraan, dit gaan daaroor om op te staan, om dissipline te hê. Mens moes besluit of jy vorentoe wil gaan. Ek het ook wiskunde- en kitaarklasse gegee en nooit geld gevra nie, maar ek het gunsies gevra. Een ou, byvoorbeeld, het ’n oom gehad wat aartappels by hulle afgelaai het, dan het ek ook ’n kilogram aartappels gekry. Ons het onsself nie as arm gesien nie. My ma moes gaan werk toe sy en my pa uitmekaar is. Ons was upstanding, my broers was deel van die leerlingraad en so. Ek wil nie polities voorkom in die boek nie, maar ek het ’n ma gehad wat nie hoogs polities was nie, maar sy het wel haar eie siening gehad. Jy leer deur al die verskillende sienings hoe om mekaar se opinies te waardeer. Tussen alles lê die waarheid en jy moet jouself kan vind.

Schalk, wat bly jou by van die boekskrywery?

Dis ’n groot blootstelling van jouself. Ek is taakgeoriënteerd. Dit was ’n kwessie van ons gaan hieroor praat, ons kies ’n paar foto’s en toe ewe skielik is die boek klaar en ek besef mense gaan dit lees. Ek is nie iemand wat bekommerd is oor wat mense gaan sê nie, maar ek het vir Michael gevra of hy dink ons het die boek reg weergegee. Ons het nooit baklei of geredeneer oor wat om te skryf nie. Die grootste ding wat die skryfproses by my wakker gemaak het, is ek verlang na my ma. Ek het weer besef waardeur sy is om ons groot te maak. Ek verlang ook na my pa. Ek is nou op die plek waar hulle was, en my kinders is nou op die plek waar ek was. ’n Boek vang ’n deel van mens se lewe vas. Ek het nie regrets nie.

Dis soos om in ’n rugbywedstryd ’n televisie-oorsig te gee oor wat ’n speler gedoen het, maar in slow motion. Die wedstryd word nie in slow motion gespeel nie. Jy moet dit in real time sien. Dis ook hoe my lewe was, ek het daai goed in real time gedoen en wat die boek doen, is dit sit jou lewe bietjie in slow mo. Jy kan stop en kyk en daaroor dink. Dis maklik vir enige leser om dit te doen. Die boek laat my reflekteer oor baie goed en ek wil Michael bedank vir die mooi manier waarop hy dit gedoen het. Ek hoop lesers geniet my verhaal. Ek’s ’n eenvoudige ou wat ’n paar drome gehad het. Ek sê altyd vir my kinders, jy moet droom.

JONGSTE UITGAWE

SEPTEMBER/OKTOBER 2021

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees