Volgens ’n aanvanklike ooreenkoms sou die onderhoud eers uitgesaai word ná De Ruyter sy pos as uitvoerende hoof van Eskom verlaat het. Nadat die onderhoud opgeneem is, is hy egter deur Larsen en eNCA gebombardeer met versoeke vir ’n vroeër uitsending.
Teen sy eie beterwete het hy geswig en is die land op Dinsdag, 21 Februarie 2023, geruk deur die skokkende onthullings wat uit De Ruyter se mond gekom het. Sy frustrasie oor sy werksverhouding met die nuwe voorsitter van Eskom se direksie, Mpho Makwana, het bygedra tot sy besluit dat eNCA die onderhoud vroeër kan uitsaai.
In sy boek, Truth to power (Penguin, *R340) verduidelik hy: “My werksverhouding met Mpho het verder versleg. Ek het gevoel ek is ondermyn deur die inmengerige nuwe raad, en het by geleentheid gevoel die voorsitter het my doelbewus probeer verneder.”
Dié nuwe raad en voorsitter het De Ruyter en sy span se werksaamhede probeer mikrobestuur, in teenstelling met die vorige raad en voorsitter met wie hy en sy span ’n uitsonderlike goeie werksverhouding gehad het.
Alle hel het losgebrand ná die onderhoud en De Ruyter se onthullings oor korrupsie by Eskom, sowel as ’n “senior politikus” se betrokkenheid by kriminele sindikate wat die kragverskaffer doelbewus teiken.
De Ruyter staan by elke woord wat hy gesê het, en daaroor het hy geen berou nie – al is dit harde stellings wat hy maak, sê hy in die boek.
Hierdie vervroegde uitsending het dan ook daartoe gelei dat De Ruyter op 28 Februarie Eskom se stof van sy voete afgeskud het en nie ’n maand later nie, soos hy aanvanklik met sy bedanking met die voorsitter van Eskom ooreengekom het.
As hy terugkyk op sy drie jaar by Eskom erken De Ruyter hy het die erns van beurtkrag onderskat toe sy termyn begin het. Met sy ervaring grootliks in die private sektor, was hy optimisties dat daar ’n vinnige einde aan beurtkrag gemaak sal kan word.
Maar burokratiese rompslomp en komplekse regulasies van die ten minste vyf verskillende departemente waaronder Eskom ressorteer, het alles uitsonderlik moeilik en ’n beslommernis gemaak.
Daar is Openbare hulpbronne en energie, Openbare ondernemings, Finansies, Handel, nywerheid en mededinging, en Omgewing, bosbou en visserye en elkeen van hierdie spesifieke departemente se ministers wat geken moes word in besluite.
Om dié situasie ten volle te verstaan, moet ’n mens die boek lees om te sien presies hoe ingewikkeld dit was om katvoet te onderhandel met al die betrokke ministers om die werk op die grond gedoen te kry.
De Ruyer verduidelik ook jarelange wanbestuur en nalatigheid het sake by Eskom nog moeiliker gemaak. Verouderde stelsels vir aankope, sowel as korrupsie met aankope, het gedeeltelik bygedra tot die swak finansiële posisie waarin Eskom hom bevind het.
Hy verduidelik ook die koste van elektrisiteit en hoe wanbetalings die werking van Eskom benadeel.
Die kragreus se verlammende skuldlas het die verkryging van lenings in die buiteland ekstra moeilik gemaak. In die buiteland is daar geld, maar vir groener energie, juis om die koolstofvoetspoor van energie uit steenkool in die wêreld te probeer teenwerk.
Son- en windkrag kan help om die druk op die bestaande krisis teen te werk, maar dan moet daar van regeringskant samewerking kom, om af te wyk van net steenkoolkragopwekking as die voorkeur vir kragopwekking.
Dinge by Eskom het stadig beweeg, want alles moes van die grond af opgebou word. Én daar moes van korrupte werknemers ontslae geraak word voordat daar noemenswaardige veranderinge bespeur kan word.
In Mpumalanga is vier kriminele kartelle geïdentifiseer wat Eskom se werk ondermyn en die organisasie leegbloei met onwettige aktiwiteite.
Die woord, sabbotasie, word verskie keer genoem wanneer De Ruyter in die boek van onbeplande krisisse praat. ’n Agterstand met instandhouding van kragstasies dra ook by tot onderbrekings in kragtoevoer.
Om die vloot ou kragstasies aan die loop te hou, is dit kardinaal dat instandhouding gedoen word, veral vir langtermyn effektiwiteit van die kragnetwerk.
Elke keer as instandhouding gedoen word, lei dit op die korttermyn tot beurtkrag. Volgens De Ruyter kan jare se verwaarlosing nie in ’n jaar of twee reggedokter word nie . . .
“Die oorlog wat in Eskom gevoer word, is een tussen integriteit en korrupsie, tussen uitnemendheid en onbevoegdheid, tussen goed en kwaad. En daar is mense van alle rasse en geslag wat aan elke kant van die skeidslyn veg.” - Bl.257
Is hy optimisties dat daar ’n verbetering in Suid-Afrika se benarde kragsituasie kan wees? De Ruyter glo dis in Suid-Afrika se hande om ’n oplossing vir die energiekrisis te kry, en hy hoop die wat die mag het, het die wysheid om nie nog ’n dekade te mors terwyl die land met wanhoop gevul word en die uitdagings net moeiliker raak nie.
Een van die harde lesse wat hy by Eskom geleer het, is dat daar ’n beperking is aan wat een mens kan doen. “Ons is almal afhanklik van mekaar vir sukses.”
Hy eindig sy boek deur terug te kyk op die patriotiese ambisies waarmee hy die werk as uitvoerende hoof van Eskom aanvaar het en of hy tevrede is.
Ten minste het hy die satisfaksie dat hy probeer het om dinge beter te maak, anders as die 28 kandidate wat die pos van die hand gewys het.
“Ek het my bes gedoen toe vele leunstoel-kritici handewringend was. Ek was die man in die arena, en ek weet ek het my kapot gemaak vir ’n verdienstelike saak.”
Waarom behoort jy die boek te lees? Hoe meer ingelig jy is oor alle kante van ’n saak, hoe beter opinie kan jy vorm.
Die boek is toeganklik geskryf, en selfs die komplekse werking van kragstasies wat De Ruyter verduidelik, is verstaanbaar. As leser kry jy ook ’n beeld van wie André de Ruyter is, waar hy vandaan kom en wat hom dryf, iemand wat nie skroom om sy sê te sê nie en wat daarin glo om die bul by die horings te pak.
Vir die span by Eskom saam met wie hy gewerk het, het hy net lof en waardering. Veral vir die wat nog glo in integriteit. Die opofferings wat hy in sy tyd by Eskom gemaak het, is genoeg om enige kameel se rug te breek.
*Prys kan verander sonder vooraf waarskuwing