Oudjoernalis se meesleurende nuwe roman is ’n boeiende, maar ontstellende verhaal

akkreditasie
Hoe jy dinge onthou, is nie noodwendig hoe dit gebeur het nie. Dié donker familieverhaal loop terug op die spore van die verlede om die waarheid aan die lig te bring.

Rakie Bouwer se ma ruk die mat onder haar voete uit met die noem van haar broer se naam, Viljoen. Dié naam en al die herinneringe aan Viljoen het Rakie vir jare so diep weggesteek dat sy dit vir die eerste keer weer onthou.

Nou soek sy antwoorde. Sy onthou Viljoen is dood, maar weet nie hoe nie. Sy loop terug op die spore van haar verlede om antwoorde te vind.

Intussen daag haar tweelingsuster, Mara, ongenooid by haar woonstel op en besluit om daar te plak. Dit ontketen ’n tweestryd in Rakie, want sy kan nie saam met Mara lewe nie, maar ook nie sónder nie.

Mara, skrywer, noir, Rakie Bouwer
Marida Fitzpatrick.

Marida Fitzpatrick vertel uit die hoofkarakter, Rakie, se perspektief ’n boeiende, maar ontstellende verhaal in Mara. Oor hoe een lid van ’n gesin almal se lewe kan ontwrig en laat voel hulle skiet tekort.

Die openingsin, “Hoe het sy haar ma oorleef?”, gee reeds vir lesers ’n aanduiding dat dié ma allesbehalwe sag en moederlik is.

Salomé se onvermoë as ma het haar gesin verwoes en diep emosionele letsels gelaat.

Sensitiewe Rakie ly die meeste en noudat haar ma oud en siek is, wil sy foute uit haar verlede regstel in haar soeke na die waarheid. Maar sal sy die skokkende waarheid kan hanteer wanneer sy haar verlede volledig in die oë kyk?

Die meesleurende roman, Fitzpatrick se derde, raak aan belangrike temas soos geestesgesondheid, gesins- en liefdesverhoudings en die impak daarvan op individue se lewe.

Ek het per e-pos met Marida Fitzpatrick gesels oor Mara (Tafelberg, R295).

marida fitzpatrick, Mara
 

Waar kom jou liefde vir skryf vandaan? Wou jy nog altyd met woorde werk?

Ja, dit was daar vandat ek kan onthou. My ouers was albei lief vir boeke en taal en het seker van kleins af dieselfde liefde by my gekweek. My pa was ’n wetenskaplike, maar het as jong man gedigte geskryf, en my ma het by ’n biblioteek gewerk.

Ons het ook ’n buurtannie gehad wat soos my tweede ma was en steeds is, en sy is die wonderlikste storieverteller. Sy het altyd vir ons die stories vertel van die boeke wat sy gelees het en dan het ek en haar seuns aan haar lippe gehang.

As oudjoernalis is jy baie bekwaam om met die werklikheid en die dokumentering daarvan te werk. Het dit enigsins ’n invloed op hoe jy jou kreatiewe skryfprojekte aanpak?

Ja, ek dink dit het ’n sterk invloed. As joernalis wil ek altyd oor plekke en mense skryf wat vir lesers bekend is of minstens bekend voel, selfs al is dit fiktief. Die joernalistiek het my geleer dat daar ’n bekoring in die gewone is.

Die laaste keer wat ek en jy oor ’n fiksiewerk uit jou pen gesels het, was in 2009 met jou ‘chic lit’-boek, ‘Iemand vir ’n scoop?’. Destyds het jy vertel jy het die boek in ’n maand geskryf. Vertel meer oor die praktiese skryfproses van Mara? Hoe/waar/wanneer het jy die verhaal geskryf? En waarom het so baie jare verloop voordat jy weer fiksie geskryf het?

Mara het my baie langer geneem. Ek het dit as deel van ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns by die Universiteit van die Vrystaat geskryf, en die kursus het twee jaar geduur.

Daarna het ek vir jare aan en af aan die manuskrip gewerk en geskaaf totdat dit uiteindelik gereed was vir publikasie (hoewel ’n mens nooit voel enigiets is werklik gereed vir publikasie nie!).

Dit is dus altesaam ses jaar vandat ek met die skryfproses begin het, hoewel ek maar met rukke en stote geskryf en herskryf het. 

Wat was die vonk vir die verhaal?

In Mara se geval was dit ’n droom; ’n nagmerrie, om die waarheid te sê. Dit was een van daardie drome wat my bygebly het en toe besluit ek dit kan dalk ’n boek word. 

Vertel meer van Daniël, aan wie jy die boek opdra.

Daniël is my ánder baba, my hart se punt, en die rede hoekom ek die afgelope twee jaar net aan-en-af aan die manuskrip kon werk.

Hy’s in Mei 2020 gebore, net nadat Covid uitgebreek het. Ek dink sy generasie gaan eendag as die Coronials bekendstaan. En ek kan nou met gesag verklaar dat dit byna ewe pynlik is om geboorte aan ’n boek te gee as aan ’n baba.  

Hoe het jy besluit op die aanhalings van Kazuo Ishiguro, François de la Rochefoucauld en Damon Galgut voor in die boek? En wil jy die leser daarmee voorberei op wat kom?

Ja, ek dink daardie drie aanhalings bevat elkeen ’n soort leidraad vir die leser oor wat hulle te wagte kan wees. Dit kom natuurlik ook uit boeke wat ek baie geniet het, deur skrywers vir wie ek groot bewondering het. 

Jy gebruik ’n eerstepersoonsverteller vir hierdie intense verhaal. Was dit uitputtend om die heeltyd in Rakie se kop te bly? Wat was die moeilikste vir jou om van haar te hanteer?

Ja, as karakter was Rakie baie uitdagend, want haar psige is besig om uit te rafel terwyl sy hierdie raaisel probeer oplos. Maar dis vir my dikwels swaar om in my eie kop te wees, so dan is dit soms ’n verligting om eerder in ’n karakter se kop te bly! 

Wat moes jy navors om die verhaal geloofwaardig te kon vertel?

Geestesiekte, wat deurlopend ’n tema is sonder dat dit pertinent genoem word. 

Nog ’n sterk tema in die verhaal is die ma-dogter-verhouding. In hierdie geval is daar eintlik twee verhoudings ter sprake, dié van Salomé en Rakie, en dan dié van Rebecca en Rakie. Wil jy meer sê oor die kompleksiteit van die twee verhoudings?

Salomé doen haar kinders geweldige skade aan en Rebecca gee hulle dan die troos en die koestering waartoe Salomé nie in staat is nie.

Uiteindelik het Rakie ’n geweldig komplekse verhouding met albei, want in albei gevalle is daar sterk gevoelens van liefde en haat, skuld en verwyt, aanvaarding en verwerping.

Hoe kies jy die name vir jou karakters? Soek jy name met ’n betekenis, spesifiek Mara en Salomé? (Dis ironies dat Salomé volgens Bybelse betekenis vrede verteenwoordig en Mara “bitter” beteken.)

Ek speel maar met verskillende name tot iets reg voel. Snaaks genoeg was Mara se naam net dadelik daar. En ja, dis baie ironies dat Salomé se naam “vrede” beteken.

Dit was nie doelbewus nie, maar as ek nou daarna kyk, het almal behalwe Viljoen Bybelname.

Dikwels is ’n mens se onbewuste aan die werk met sulke besluite in die skryf van ’n boek, en dan sien ’n mens dit eers ná die tyd wanneer iemand soos jy ’n mens daarop wys. 

Vertel meer oor Salomé se karakter en hoe jy haar geskep het. Ken jy ma’s wat soos sy is?

Salomé is ’n wisselvallige, meestal koue ma wat ondanks haar beste pogings dit nie regkry om vir haar kinders deurlopende warmte en onvoorwaardelike liefde te gee nie.

Haar kinders is vir haar bloot verlengstukke van haarself of ’n spieël in wie sy ’n gunstige beeld van haarself wil sien terugkaats.

Sy kry nie hulp vir haar geestesgesondheidsprobleme nie en syself en haar gesin ontgeld dit.

Ek het onlangs ’n fliek genaamd The Lost Daughter gekyk waarin Olivia Colman die rol van ’n ma vertolk wat ambivalent voel oor moederskap en haar twee dogters erge emosionele letsels toedien. Daar was opmerklike ooreenkomste tussen haar en Salomé.

Ons is so gewoond aan die argetipiese rol van die moederlike, sagte, liefdevolle ma dat dit onthutsend is om ’n ma-karakter teë te kom wat dit nié is nie.

Die verhouding tussen Salomé en haar man en hoe sy hom behandel, het ’n effek op hoe Rakie haar gesinslewe ervaar en hoe sy met haar gesinslede identifiseer. Kan jy uitwei hieroor?

Soos almal in die gesin is Dawid ook ’n slagoffer van Salomé – haar narsisme, haar giftigheid, haar selfsug, haar verwoestende woedeuitbarstings. Maar uiteindelik is almal in die Bouwer-gesin, Salomé inkluis, die slagoffers van geestesiekte.  

Vertel ons meer van die liefde-haat-verhouding tussen Rakie en haar tweelingsuster, Mara.

Rakie en Mara kan nie met mekaar saamleef nie en kan ook nie sonder mekaar nie. Die twee is baie lief vir en afhanklik van mekaar, maar dryf mekaar ook teen die mure uit.

Mara en Rakie is mekaar se teenpole: Lig en donker, veilig en gevaarlik, bang en waaghalsig. Hulle trek mekaar aan, maar stoot mekaar ook af. Wanneer hulle saam is, is alles onstabiel en plofbaar.

Wanneer Rakie oor haar verlede praat, teken sy ’n duidelike beeld van ’n onstabiele ma en geweld in hoe haar ma teenoor die kinders optree, en selfs teenoor haar man. Waarom wou jy die tema van gesinsgeweld aanroer?

Ek wou nie doelbewus enige tema aanroer nie – die temas het maar hulself aangemeld namate die storie ontvou het. Maar ek dink die tema van geweld is net ’n subtema van die eintlike tema van geestesiekte en die dikwels vernietigende impak daarvan op ’n gesin, veral as dit nie erken en behandel word nie. 

Rakie het ’n verwronge selfbeeld. Is dit waarom sy sulke disfunksionele verhoudings met mans het?

Ja, dis een van die redes. Sy het geleer om altyd op haar hoede te wees vir ander. Sy het geleer dat ander mense gevaarlik is, veral wanneer sy vir hulle omgee.

Terselfdertyd gee haar verhoudings met mans haar ’n gevoel van mag – iets waarna sy smag omdat sy in haar gesin altyd ontmagtig was. Daarom kan sy nie verhoudings met mans weerstaan nie, selfs wanneer dit afbrekend en skadelik is. 

’n Deel van die verhaal, Rakie se kinderjare, speel tydens die apartheidsjare af en sy het ’n skuldgevoel oor hoe Rebecca behandel is. Waarom ervaar sy so ’n sterk skuldlas weens die sondes van haar vaders en is dit waarom sy so hard werk om vergifnis by Rebecca te soek?

Rakie se skuldgevoel teenoor Rebecca het meer te make met hoe Salomé haar behandel het as met apartheid. Dit gaan meer oor die persoonlike as oor die politieke.

Maar die sosio-politieke konteks waarbinne die verhaal afspeel is die rede hoekom Rebecca vasgevang is in die Bouwer-huishouding. 

Is dit vir jou belangrik om sosiale kommentaar te lewer op die omstandighede waarteen die verhaal afspeel? Voel jy jouself gedwonge om hierdie kwessies los te skryf?

Nee, glad nie. Ek vertel net ’n storie. Enige storie speel in ’n bepaalde tyd en teen ’n bepaalde historiese agtergrond af, en in hierdie geval is dit die 1980’s en 1990’s in Suid-Afrika, omdat dit is wat ek ken.

Ek het geen morele standpunt probeer inneem nie en sal myself nooit aanstel om my lesers die een of ander morele les te probeer leer nie. Ek probeer net ’n storie vertel wat mense aangryp en boei, met karakters waarmee mense hulself kan vereenselwig. 

Die verhaallyne loop parallel: Rakie se hede teenoor Rakie se onthou en terugkyk na haar kinderjare. Wat my opval, is hoe sy sekere gebeure as kind vertel en onthou, maar dat die onthou nie noodwendig die ware refleksie van gebeure is nie, veral as mens enduit lees tot by die ontknoping van die roman. Kan jy meer sê oor die dinamika tussen mens se eie onthou en die werklikheid deur ander se oë?

Die skrywer Damon Galgut het in een van sy onderhoude gesê: “Memory is fiction. All memory is a way of reconstructing the past. The act of narrating a memory is the act of creating fiction.”

’n Mens se eie onthou sal altyd verskil van die objektiewe gegewens of dieselfde gebeure deur iemand anders se belewenis. Die enigste vraag is hoeveel dit verskil en op watter maniere dit verskil.

Die leser kry die antwoord op hierdie vraag aan die einde van Mara.  

Dan, om terug te keer na die skryfproses, was dit maklik om Rakie se verhaal af te handel, en het sy jou van nature gelei tot die klimaks? Of moes jy hard werk om haar daarheen te dwing?

Nee, die oomblik dat ’n mens ’n karakter in ’n rigting begin dwing, moet jy jou hande van die sleutelbord lig. ’n Karakter moet doen net wat die karakter wil.

Ek weet jy is ’n groot leser. Watter skrywers het ’n invloed op hoe jy jou kreatiewe skryfwerk benader, of moet ek eerder vra watter skrywers inspireer jou om te skryf?

Alle goeie skryfwerk inspireer my. Elke keer as ek iets lees wat goed geskryf is, raak ek lus om self te skryf, en dan voel my eie pogings altyd maar power in vergelyking!

Hoe meer ek probeer skryf, hoe meer vermoed ek ek is eintlik net ’n geesdriftige leser.

My ma het wonderlike Afrikaanse boeke gehad en ek het dit as kind verslind – van ontspanningsfiksie tot letterkunde en alles tussenin.

Marita van der Vyver, Deon Meyer, Marlene van Niekerk, Etienne Leroux, Etienne van Heerden, Riana Scheepers, Dalene Matthee, Hennie Aucamp, PG du Plessis, Francois Bloemhof, Eben Venter, Eleanor Baker, Barry Hough, Jeanne Goosen, ag te veel om op te noem.

As student het ek die Engelse classics ontdek, en as grootmens skrywers soos Kazuo Ishiguro en Vladimir Nabokov.

Nogtans voel dit vir my of ek nog heeltemal te min gelees het in my lewe. Daar is soveel boeke op my boekrak waaraan ek nog nie eens geraak het nie.

Ek lees stadig en dit neem my baie lank om ’n boek klaar te lees. En nou – met ’n kleuter in die huis – is dit byna onmoontlik. 

Wat lê vir jou voor, is jy besig met ’n nuwe boek tussen al jou werk deur?

Ha-ha, nee, ek oorleef net! Elke keer as ek iets geskryf het, sweer ek dis die laaste. ’n Deel van my hoop die inspirasie pak my nooit weer nie!  

JONGSTE UITGAWE

September/Oktober-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees