Prof. Sean Davison gesels met SARIE oor nuwe boek ná genadedood-herrie en 3 j. huisarres

akkreditasie
Het genade ’n prys? In Sean Davison, ’n professor in biotegnologie, se geval beslis. Sy medemenslikheid om drie mans te help om hul eie lewe te neem het hom drie aanklagte van moord en ’n vonnis van drie jaar huisarres op die hals gehaal.
The price of mercy
Sean Davison.

Davison het wêreldwyd bekendheid verwerf toe hy in 2010 in Nieu-Seeland vir moord aangekla is nadat hy sy ma, Pat, gehelp het om te sterf. Toe is hy vir vyf maande onder huisarres geplaas.

Sy daad het gelei tot hewige debatte oor genadedood en mense se reg om met waardigheid te sterf. In sy boek, The Price of Mercy (Melinda Ferguson Books, R320*), kyk hy terug op alles wat sedertdien in sy lewe gebeur het, hoe dié keuse om sy ma te help hom op ’n koers van aktivisme gedwing het.

Hy het ’n openbare figuur en uitgesproke aktivis oor genadedood geword, en hy het in 2012 die pro-genadedood organisasie DignitySA gestig. 

Nadat hy destyds in 2011 na Suid-Afrika teruggekeer het, is hy oorval deur mense wat hom om hulp gevra het. Vir hulle was die gehalte van hul lewe so ellendig dat hulle gevoel het daar’s geen hoop op ’n pynlose, beter lewe nie . . . die dood was die enigste uitkoms. 

Een van hulle was dr. Anrich Burger wat ná ’n motorongeluk ’n gevangene in sy eie lyf geword het. Aanvanklik was dit om sy steun aan DignitySA te gee, ’n organisasie wat hom beywer om die wet oor genadedood in Suid-Afrika te verander. Maar daar het gou ’n vriendskap en vertrouensverhouding tussen Davison en Burger ontstaan. Hulle het diep dinge gesels.

Sean praat met die media vroeër vanjaar.
Sean praat met die media vroeër vanjaar. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Vir die eens aktiewe jong dokter het sy situasie onhoudbaar geraak, en ten spyte van sy optimistiese karakter het hy Davison gevra om hom te help om te sterf.

Dit was ’n skok en het Davison laat wroeg, maar Burger het ’n oortuigende argument geopper: “. . . it wasn’t fair that while most could choose to commit suicide, it was illegal to help someone who was not able to do so themselves. He [Burger] strongly believed that the law discriminated against quadriplegics” – bl. 17.

Dr. Burger se verhaal word breedvoerig vertel en ook alles oor die ingrypende gebeure wat tot sy keuse om selfdood te pleeg gelei het. Davison vertel hoe sy lewe en die van sy gesin ontwrig is deur sy menslike besluit om Burger te help.

In 2018 het Davison ’n sabbatsjaar van sy werk as professor in biotegnologie aan die Universiteit van die Wes-Kaap geneem. Hy en sy gesin het oorweeg om na Australië te emigreer en was op besoek aan die land.

Terwyl hulle daar was, is Davison deur ’n speurder van die Suid-Afrikaanse polisie gekontak en gevra dat hy hom moet kom sien.

Davison het geantwoord hy sal hom laat weet wanneer hy in Suid-Afrika is, want hy het tussen die lande gependel vir sekere werksafsprake.

Davison se vrou, Raine, en kinders was nog in Australië toe hy na Kaapstad gereis het om ’n konferensie by te woon. Toe hy die speurder gaan spreek het, is hy summier in hegtenis geneem en in ’n sel gegooi. En van moord op Burger aangekla.

Dit was ’n geskarrel om ’n regsverteenwoordiger te kry en aansoek om borgtog te doen.

DignitySA, Davison se vriende, asook emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu het hulle by hom geskaar. Davison se regsverteenwoordiger se aansoek om borgtog is toegestaan en hy kon vir Raine kontak en inlig van die verwikkelinge.

Hulle moes dringend besluite neem om die gesin se toekoms te verseker. Maar hy het nooit versaak deur haar gevoel nie. Raine het hom ten volle ondersteun, want sy het geglo hy het geen misdaad gepleeg nie. “You helped someone who was begging for help, you did a good thing” – bl. 97. 

Vir Davison was dit nie ’n maklike pad nie. Die gewag vir sy saak om voor te kom (hy het uiteindelik op drie aanklagte van moord verskyn) en die gewroeg oor of hy tronk toe sal moet gaan, het ’n hoë emosionele prys gehad.

Toe hy ’n vonnis van drie jaar in huisarres opgelê is, was dit eintlik iets om te vier. 

Dis nietemin duidelik uit sy vertelling dat dit ’n erge straf was, veral as hy vertel hoe sy huisarres hom en sy gesin geaffekteer het. Sy huisarres het in Junie 2022 tot ’n einde gekom. 

Sou hy dinge anders gedoen het, weggestap het van die “right-to-die campaign”, vra hy in die laaste hoofstuk van sy boek. “. . . not a chance. I have given so much of my life already and there is no reason to walk away now. Although it has been long, difficult and traumatic at times, I have no regrets. It was a small price to pay. The price of mercy” – bl. 208.

Ek het per e-pos met Sean Davison gesels.

The price of mercy, sean davison

Anrich Burger praat op bl. 20 oor hoe hy “the happy disabled game” moes speel. Dink jy mense sonder enige gebreke kan regtig die emosionele wroeging van ’n kwadrupleeg se situasie verstaan? Die harde werklikheid van ’n lewe lei met ’n liggaam wat nie funksioneer nie, is nie iets waaraan mense sonder gebreke dink nie. Dink jy dit het ’n rol gespeel in Anrich se keuse om sy lewe te beëindig? 

Dis regtig vir iemand wat able-bodied is onmoontlik om die afgryslikheid van die lewe as ’n kwadrupleeg ten volle te verstaan. Ja, ons het ’n oppervlakkige begrip van die lyding wat met so ’n gebrek gepaardgaan, maar nie ’n diep insig in die kompleksiteit van die lyding dag na dag, vir die res van hul lewe nie.

Dit was menslik van Anrich se vriende en geliefdes om aan te hou om hom te bemoedig om te wíl leef, al was hul begrip en ondersteuning vir sy begeerte om te sterf die ding wat hy die graagste wou hê.

Ek dink nie die reaksie van ander mense het ’n rol gespeel in Anrich se keuse om sy lewe te beëindig nie. Hy wou sterf omdat die gehalte van sy lewe so verskriklik was en omdat daar geen realistiese moontlikheid was dat dit ooit sou verbeter nie. 

Jy praat in die boek oor Anrich se versoek om hom te help sterf teenoor om jou ma te help. “Sometimes, the most innocuous-looking decisions have the greatest consequences” – bl. 25. As jy nou terugkyk, sou jy Anrich se dilemma anders benader het?

Ek is ’n mens. Mense help ander mense wat ly – dis die waarmerk van medemenslikheid. Wat sou dit van my sê as ek van Anrich af weggestap het? Selfs as ek terugkyk na wat met my gebeur het, het ek geen berou oor ek hom gehelp het nie.

Sean tydens ’n perskonferensie in 2012.
Sean tydens ’n perskonferensie in 2012. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Hy het aanhoudend die datum waarop jy hom moes bystaan met sy selfdood, uitgestel. Hoe sleg was die emosionele impak op jou en Raine, al het sy jou ten volle ondersteun? 

Om te weet ek gaan Anrich help om te sterf was vir my stresvol. Dis nie ’n natuurlike of instinktiewe ding om ’n ander mens se lewe te beëindig nie, selfs al ly hulle.

Elke keer as Anrich ’n datum vasgestel het waarop hy wou sterf, moes ek myself geestelik voorberei daarvoor. Met elke uitstel en hervasstel van die datum het dit my emosioneel uitgemergel.

Ek het nooit dat Anrich agterkom hoe dit my affekteer nie, want ek wou nie hê dit moes ’n faktor wees in sy keuse van wanneer hy wou sterf nie.

Raine is ’n baie sterk vrou en het die stres waaronder ek was, verstaan.

In die nawoord van die boek skryf jy oor selfdood en die dood. Waarom dink jy het mense so ’n groot probleem om tot berusting te kom oor die dood? En is dit moontlik die rede vir hul veroordeling van selfdood?

Ons is geneig om gesprekke oor die dood te vermy, en dit lei tot ’n gebrek aan begrip oor selfdood. Dood is nie ’n gemaklike onderwerp om oor te praat nie, want ons wil nie doodgaan nie, en ons wil nie hê ons geliefdes moet doodgaan nie.

Hoe dit ook al sy, as ons meer openlik daaroor gesels, sal ons die dood makliker kan hanteer wanneer dit wel deel van ons lewe word, dalk wanneer ’n bejaarde ouer of grootouer sterf.

Die moderne samelewing omarm nou kwessies wat voorheen ongemaklik was om te hanteer, soos gay-regte, MIV, aborsie en dwelmmisbruik.

Dis nie meer taboe nie, maar onderwerpe vir die etenstafel en vir die klaskamer; hierdie openlikheid het beslis ’n beter opgevoede samelewing met meer begrip tot gevolg. Dis nou tyd om oop te maak oor kwessies rondom die dood.

 

The price of mercy, sean davison
Cancel My seun, Flynn, maak origami vir Liebhard.

 

Ek wil oor Liebhard (’n kwadrupleeg en iemand met wie jy bevriend geraak het) vra, want dis duidelik dat hy jou uitgedaag het om anders na feite te kyk, dikwels vanuit ’n perspektief waaraan jy nooit voorheen gedink het nie. ’n Voorbeeld is die gesprek waarin hy jou gevra het hoe jy sal voel as jou penis afgekap word, want dit is hoe dit vir hom is, omdat hy geen gevoel in sy genitalieë het nie. Hoe het die gesprekke met hom jou siening oor sekere kwessies beïnvloed?

Liebhard het my konstant uitgedaag en my insig gegee in die lewe van ’n kwadrupleeg.

Om werklik die lewe van ’n kwadrupleeg te verstaan moes ek myself een verbeel. Liebhard het my laat insien dat ek nie net oppervlakkig moes kyk nie, naamlik net dit wat ek met my oë sien nie.

Deur dit te doen, het ek bewus geraak van die lae van kompleksiteit verbonde aan die lyding van ’n kwadrupleeg.

Die penis-gesprek is inderdaad ’n skokkende voorbeeld waarmee die meeste mans met afgryse kan vereenselwig; dit was sulke voorbeelde wat my opregte empatie met sy situasie gegee het.

The price of mercy, sean davison
Die brief van Aartsbiskop Tutu

Wat het emeritus-aartsbiskop Tutu se ondersteuning en vriendskap vir jou beteken? Hy het ná sy dood steeds ’n invloed op Suid-Afrikaners se sienswyse vanweë die standpunte wat hy ingeneem het en die rol wat hy gespeel het om mense meer begrip vir mekaar te laat kry. 

Aartsbiskop Tutu se ondersteuning het ’n reuse-verskil gemaak vir my, veral die eerste keer toe ek vir Anrich Burger se dood in hegtenis geneem is en hy onmiddellik sy steun aan my toegesê het.

Toe ek gearresteer en van moord aangekla is, was baie mense geskok en verward oor wat gebeur het, maar toe aartsbiskop Tutu so vinnig reageer en my openlik ondersteun het, dink ek dit het enige gedagte dat ek werklik iemand vermoor het, onmiddellik versag. 

Hierdie vraag kom uit die linkerveld en is heel moontlik onregverdig: Het jou huisarres jou ’n gevoel gegee van hoe dit moet wees om gevange gehou te word in ’n liggaam wat nie funksioneer nie, soos ’n kwadrupleeg of iemand met ingeslot sindroom?

Ver uit die linkerveld, maar ’n interessante gedagte!

Huisarres het nie vergelyk met die lewe van ’n kwadrupleeg nie, maar die vooruitsig van ’n lewe in die tronk het wel ’n soortgelyke gevoel van vrees veroorsaak.

The price of mercy, sean davison
Die familie by Kaappunt in 2012 voor ons vertrek na Australie¨.

Hoe het die afgelope jare jou kinders geraak en verstaan hulle waardeur jy gegaan het?

Hoewel dit nie ’n lewe in die tronk was nie, was dit ’n straf, en dit was nie ’n normale lewe nie. Dit was moeilik vir my gesin, veral die kinders.

Aan die begin van my huisarres moes ek vir my vyfjarige dogter verduidelik ek kan haar nie meer vir wandelings in die park vat of na die winkel vir ’n roomys nie.

My jong seuns is blootgestel aan dinge waaraan geen kind blootgestel behoort te word nie: genadedood, moord, die tronk, huisarres.

Al die kinders het drie jaar van herinneringe aan normale gesinsaktiwiteite en avonture verloor. 

Wat is die belangrikste ding wat mense moet bybly as hulle jou boek gelees het?

Ons sien nie wat ons nie wil sien nie. Tog, as ons ons kop en hart oopmaak vir die kwessies rondom die dood, sal ons dit baie makliker kan hanteer wanneer dit deel van ons lewe word.

Ons gaan almal geliefdes aan die dood afstaan, en ons gaan almal sterf. Dit sal net baie makliker wees as ons daaroor praat en ons voorberei daarop.

Daar is baie goeie mense daar buite en baie slegte dinge gebeur met hulle aan die einde. Wat dit die moeite werd maak om die lewe te leef, is geen nietige vraag nie, of inderdaad wanneer daai punt kom wanneer die dood verkieslik is.

Tog, die antwoord moet gegrond wees op ons eie individuele opinies, en dit moet deur ander gerespekteer word.

*Prys onderhewig aan verandering sonder vooraf kennisgewing.


JONGSTE UITGAWE

Julie/Augustus-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees