Hy skryf roerend oor dié woorde wat opgedroog het in Hoerkind, Die memoires van ’n randeier (Penguin, *R280) waarin hy terugloop op die spore van sy lewe . . . Om sin van sy lewe en alles waardeur hy gegaan het te probeer maak.
Vir Herman was sy ma se verwerping ’n groot trauma wat hom uiters weemoedig gelaat het. Daardie swart hond wat destyds aan hom kom byt het, byt steeds. Dis iets waarteen hy nog sy hele lewe waak.
Ironies genoeg was dit juis ’n werpsel klein hondjies wat Herman se tong weer losgekry het.
Toe tannie Prins van die weeshuis hom een naweek saam huis toe geneem het, en hy die hondjies se koppies gevryf het, “toe praat [hy] weer”.
Woorde het later in sy lewe die ding geword waarmee hy sy brood verdien. Vandag is Herman ’n bekende woordsmit wat met Afrikaanse woorde woeker in sy rubriek vir Rapport.
Die rubrieke is deur Penguin in twee bundels gepubliseer. Vir die Sondagkoerant skryf hy ook weekliks huldeblyke oor bekendes wat gesterf het.
Maar in sy memoires tref Herman se woorde jou telkens. Sy storie is geen gewone, vervelige gebrabbel oor ditjies en datjies nie.
Met sy kaalkop herinneringe slaan hy gereeld jou wind uit, soos toe sy ma “eendag vir [hom] gesê het sy sou ’n dogter as kind verkies het. Dit is ontsettend wrede goed om vir ’n kind te sê, een wat onbeplan is en altyd in die pad gevoel het. Soos ’n ongenooide gas. ’n Hoerkind.” – bl. 68.
Alles was darem nie nét bitter en swart in sy lewe nie. Daar is die kuiers as kind saam met die randeiers, eksentrieke mense, in die plekke waar hy en sy ma gebly het.
Later in sy lewe was daar ook goeie tye saam met Babs Laker wat vir hom ’n mentor was. Dan was daar sy vriendskappe met digters soos Ina Rousseau, Barend Toerien en Sheila Cussons en die inspirerende rolle wat hulle in sy lewe gehad het.
Maar die donkerte was altyd sluimerend in sy lewe en wanneer hy oor die grootste verraad, sy verhouding met die gesiene joernalis Coenie Slabber, skryf, is die letsels diep en tekenend.
“My pa was nie ’n pa nie, alkohol het hom uitgehol. My ma was ’n spook in Namakwaland. Coenie was pa, mentor, vriend, maar ook molesteerder.” – bl. 72.
Dié interaksie met Slabber het Herman vuil en verward gelaat, en met skuldgevoelens. As jongeling was hy vasgevang in ’n situasie wat hy nie opgewasse was om te hanteer nie.
Baie jare later het Herman as volwassene saam met twee ander slagoffers van Slabber ’n klag van molestering by die polisie teen hom ingedien.
Jy kan nie anders as om ingetrek te word by Herman se opwindende loopbaan as vryskutjoernalis nie. Hy het wyd en syd gereis, skouers geskuur met bekendes in ’n blink lewe van drank en dwelms.
Dit was “tye van hard werk en hard speel”, ’n mallemeule van oppe en affe . . . Sy vergrype het Herman telkens van die wa laat val, dan moes hy homself optel, uitdroog en van vooraf sy lewe hervat.
Uiteindelik is bipolêre gemoedsteuring by hom gediagnoseer en moes hy medikasie daarvoor gebruik en terapie ondergaan.
Hieroor skryf Herman: Die terapiesessies “het my baie meer gehelp as enige van die vergaderings wat ek bygewoon het. Ek het geen selfvertroue gehad nie en kon eenvoudig net nie aan die skryf kom nie. [ . . .] Ek het met terapie aangehou, maar die woorde was weg.” – bl. 200-201.
Tog is dit juis sy sielkundige wat hom weer aan die skryf gekry het, toe hy Herman aangesê het om oor ’n traumatiese aanval op hom te skryf.
Dié “artikel oor die aanval op my het met groot fanfare in die Cape Times verskyn. Dit is ook in hul susterskoerante in ander dele van die land gepubliseer. Ek was woes aan die skryf en het soms twee stories op een dag in verskillende publikasies gehad.” – bl. 204.
Herman het volsirkel gekom. Die woorde was terug.
Gevra oor sy ervaring van stomheid as kind antwoord hy per e-pos: “Ek was stom, ek onthou dit. En ek het hoe ouer ek geword het, gedink ek wil nooit weer sonder woorde wees nie. Ek het verslaaf geraak aan woordeboeke, ek moes my tong vind én die woorde waarmee ek kon uiting gee aan my binneste.
“By tye was my tong ook ’n gevaarlike spies en kon dit skerp sny, maar deesdae is ek meer besadig. Daar is meer vrede. En ek leer nog elke dag nuwe woorde, want stom wil ek nooit weer wees nie.”
Die subtitel van die boek is ‘Die memoires van ’n randeier’. Voel jy steeds soos ’n randeier?
Ja, definitief, maar dit pla my nie. Ek vermoed ek is so mal soos ’n haas met geen filters nie.
Ek probeer minder vloek, maar nou ja, en ek kan soms lelik uitrafel, maar ek vermoed dit is die drama-opleiding wat van my so ’n karnallie gemaak het.
Jy skryf oor jou erge trauma toe jy kinderhuis toe moes gaan, die gemis, die swak selfbeeld ens. Jy verwys ook na die Peggy Lee-sindroom. Maar ek wil vra oor hierdie sin: “Jare later toe ek terapie gekry het, was dit my oerwond.” Hoe moeilik was dit vir jou as volwassene om terug te stap in jou verlede, na jou kindertyd, en om daardie oerwond se roof af te krap, sodat daar uiteindelik genesing kon plaasvind?
Hmmm . . . ek weet nie van genesing nie. Ek vermoed jy dra daardie oerwond vir altyd saam met jou. Maar jy leer hoe om dit te bestuur.
Daar is geen magiese oplossing nie. Terapie help, maar dit vang jou onverwags. Die leegheid, onsekerheid, donkerte, tog maar alles deel van die lewe
Ons is sterker as wat ons dink, ons is veerkragtig.
Die mens wat jy vandag is, het voorgeslagte wat miljoene jare terugstrek en hier staan jy, jy het dit alles oorleef.
Ja, dit is moeilik om terug te stap in jou verlede, maar niks was verniet of onnodig nie. Elke terugslag is ’n eelt op jou voet wat jou help om kaalvoet oor daardie berge te stap. Maar stap sál jy!
Om deur al jou kindertydherinneringe te werk om jou memoires te skryf, het jou ook al die randeiers met wie jy en jou ma te doen gehad het, opgeroep uit die verlede. Hoe het jou interaksie as kind met hierdie randeiers jou menswees en jou houding teenoor ‘underdogs’ gevorm?
Hulle het my wêreld verryk, my kop oopgemaak en my laat besef hoe baie verskillende en wonderlike mense daar rondom ons is. Dit was regtig ’n voorreg om as klein seuntjie ‘outsiders’ as deel van my vormingsproses te ken.
Ja, ek hét ongelooflike empatie met mense wat nie eintlik in die hoofstroom inpas nie.
Jy het as kind jou eensaamheid beveg deur jou te “omring met boeke, rolprente en, natuurlik, die radio.” Hoe het dit jou minder eensaam gemaak? En is boeke, rolprente en radio vandag nog deel van jou lewe?
Ja, dit is alles nog deel van my lewe en as enigste kind het al daai goed my verbeelding geprikkel en kon ek my in ander mense se lewens indink en inlewe.
Ja, dit het die eensaamheid besweer. Toe ek ouer word, het ek gesorg dat ek ’n vriendekring opbou wat lojaal is en ook van mekaar verskil.
Ek ken ryk, arm, mooi, lelike, oorgewig, maer, jonk, bejaard, noem op, hulle is almal familie. My vriende is my familie. Ek dink ook soos jy ouer word, is dit belangrik om jonger vriende te maak. Toe ek jonk was, het ek baie ouer vriende gehad wat my gementor het, vandag mentor jonger mense my weer.
Ek wil terugkom na die Peggy Lee-sindroom, want jy skryf op bl. 156 oor jou afwesige pa en jou gevoel van verwerping, dat jy “nooit goed genoeg” was nie. Is die Bedrog-Indringer-sindroom iets waarteen jy steeds moet waak in jou lewe?
Kyk, ek sukkel met daardie Bedrog-Indringer-sindroom, dit maak my mal, dit verlam my, dit ry my.
Elke keer as ek gaan sit om ’n artikel te skryf kry ek ’n paniekaanval en dink dat dit die grootste bollie is wat nog geskryf gaan word.
Ek het nou geleer om na daardie stem te luister en dan te sê: “Man, jy behoort tot die verlede, gaan sit eenkant sodat ek kan aangaan.”
En dan laat waai ek.
Jy het reg deur jou jonger lewe dramaklasse gehad en het gedroom daarvan om ’n akteur te wees. Waarom kon jy die droom nooit realiseer nie?
Ek wou ’n akteur word omdat ek gehou het van die verskillende karakters wat ’n mens kon word. Mettertyd het ek besef ek hou eintlik van die ritme en klank en geluide van taal.
Ek wou nie iemand anders wees nie, ek wou die woorde ervaar.
Die akteur Babs Laker het my reeds op sewe aan Leonard Cohen se musiek blootgestel. Oor die jare het sy my gedigte laat voorlees. Sy het my geleer waar om die klem op sekere woorde te sit.
Dit het my weer insig gegee in die ongelooflike vloeibaarheid van woorde, soos riviere, jy kan onder die oppervlak kyk, na die water luister, dit is daar onder waar die storie plaasvind.
Drama-opleiding was die belangrikste invloed op my skryfwerk en ook om na die wêreld met ’n derde oog te kyk.
Vir baie lank het jy Engels as voertaal gebruik in jou beroep. Dis maar eers later dat jy ’n terugkeer na Afrikaans gemaak het. Jy het ’n uitsonderlike manier van hoe jy jou uitdruk, asook die Afrikaanse woorde wat jy gebruik. Wat van Afrikaans laat jou tiek?
Dit het oornag gebeur, wys jou net jy kan nie altyd voorspel wat gaan gebeur nie.
Yvonne Beyers, deesdae redakteur van Huisgenoot, destyds redakteur van BY, het van my Facebook-plasings (in Engels) gelees en my gevra om iets vir haar te skryf.
Eers was ek opstandig, ek het gedink my Afrikaans is te geroes. Toe gaan sit ek en skryf oor my dae as tiener toe ek bevriend was met digters soos Sheila Cussons, Ina Rousseau en Barend J. Toerien.
Toe ek weer sien begin dans my vingers soos kinders oor die toetsbord. Ek was die verlore seun wat teruggekeer het. As ek in Afrikaans skryf kom my ma se stem na my toe. Dit is inderdaad my moedertaal.
Kyk, niemand kan sê jy het ’n vervelige lewe gehad nie. Die partytjies, die bekendes en die gefuif, gesnuif en gedrink. Het jy ’n bietjie van ’n selfvernietigingstreep, want elke keer as dinge lyk of dit vir jou goed gaan, ontspoor jy jouself?
Ek het daardie self-sabotasie ding in my. Maar soos ek ouer word sien ek as die rooi liggies op die paneelbord begin flikker en dan ruk ek myself reg.
’n Mens weet nooit wanneer jou skadukant jou skielik pootjie nie, dit is nogal skrikaanjaend. My wilde lewe is verby, ek is ouer, en ek kan sê: “Been there, done that, got the T-shirt, and it was fun while it lasted.”
Vertel my van die proses om vrede met jou ouers te maak. Voel jy jy het uiteindelik afsluiting en dat jy hulle kan vergewe?
Ek het hulle vergewe, omdat ek besef het ek is ook nie sonder foute nie. Soos die jare aangestap het, het ek besef hulle het hul eie demone waaraan hulle moes werk.
Hulle is/was slegte ouers, maar ook goeie ouers. Ek vermoed hulle was op hulle eie manier geknak.
Wat help dit my om wrokke teenoor hulle te koester? Ek was baie lief vir hulle.
Jy is ongelooflik lojaal teenoor mense wat baie lank deel van jou lewe is. Het hulle vir jou die plek van familie ingeneem?
Baie goeie vraag en ek het genoem my vriende is soos my familie. Ons kyk na mekaar en geniet die lewe saam, ons tyd hier is mos maar kort.
Wat was die moeilikste van om hierdie boek te skryf?
Dit was eintlik nie moeilik nie, ek het heerlik in my verlede gaan rondsnuffel, al was daar baie pyn. Want alles wat met my gebeur het, kan ek weer herwin en daaroor skryf, niks was onnodig nie.
Die beste van alles is ek het dit oorleef. Hier staan ek nog en basta!
Herman se mantra is die lied, ‘Ek sal staan’ wat deur Amanda Strydom gesing word. Die lirieke is deur Deon Opperman en dis getoonset deur Janine Neethling.
Ek Sal Staan
Ek was lank in die woestyn
Sonder water, sonder wyn
Met ’n honderdduisend duiwels aan my sy
En almal het gesê
Sy’t uiteindelik gaan lê
Vir haar is alles nou verby
Maar ek het stadig teruggeloop
Krom gebuk en afgestroop
My spore lê soos woorde in die sand
En soos Jona ingesluk
Uitgespoeg en reggeruk
Word ek wakker in ’n helder nuwe land
Jy kan my breek
Jy kan my slaan
Jy kan my sê dat ek moet gaan
Vat my hoop, vat my bloed
Vat my laaste druppel moed
Ek sal staan
Bring die wind
Bring donderweer
Bring die heelal om my neer
Ek sal staan
Ek sal staan, jy kan maar lag
Ek sal staan, stuur maar die nag
Maar ek sal staan