Dié outobiografie behoort die sportwêreld aan die gons te hê en sal ook vir lesers ’n geleentheid gee om meer oor Rassie Erasmus te wete te kom.
In ’n mediaverklaring is bekend gemaak Rassie: Stories oor rugby en die lewe, die memoires van Rassie Erasmus, gaan deur Pan Macmillan SA in Suider-Afrika en deur Pan Macmillan UK in die res van die wêreld uitgegee word. Die boek sal in die derde kwartaal van 2023 verskyn.
Rassie werk saam met die bekende joernalis David O’Sullivan om sy lewensverhaal te vertel. Lesers sal uit die perd se bek hoor van alles wat in Rassie se lewe gebeur het, op en weg van die rugbyveld, want Rassie sal op sy kenmerkende openhartige manier gesels oor die voorspoed en teëspoed in sy lewe.
Die Springbokspeler, provinsiale afrigter, en hoofafrigter wat die nasionale span na die Rugbywêreldbeker-sege in 2019 en ook in die aanloop tot 2023 se Wêreldbeker gelei het, is bekend vir sy uitgesprokenheid.
Hy is immers al ’n paar keer geskors omdat hy skeidsregters en beamptes op Twitter gedurf kritiseer het. Rassie het ’n gebore rugby-instink en het die vermoë om ’n wedstryd te lees.
In sommige kringe word hy geniaal genoem. Ander mense noem hom roekeloos, maar een ding is seker, Rassie doen dinge op sy manier en hy staan altyd by wat hy sê en doen.
David O’Sullivan het aan SARIE.com gesê toe hy deur PanMacmillan genader is om saam met Rassie aan die boek te werk, het hy net vir ’n sekonde gedink voordat hy ja gesê het. Hy is opgewonde en is baie entoesiaties oor die projek.
Hy en Rassie het laat verlede jaar ’n baie lang eerste ontmoeting by ’n wynkelder naby Durbanville (waar Rassie woon) gehad om te beplan hoe hulle die boek gaan aanpak.
“Ons het gepraat en gepraat en gepraat en nogmaals gepraat. Intussen het Rassie na my huis in Johannesburg gereis, waar ons ons in my studeerkamer toekluister om weereens te praat en die stories uit te sif,” vertel David.
“Ek doen ook navorsing en lees baie wyd om gebeure te identifiseer wat in die boek moet kom. Rassie hou van ‘spreadsheets’ en daarom sit ons alles so uiteen sodat ons gefokus kan werk. Ons vergader ook gereeld vir lang tye via Zoom.
“Maar lesers moet nie net ’n suiwer rugbyboek verwag nie. Rassie is brutaal eerlik oor sy lewe en ons delf terug tot in sy kinderjare, sy pa se dood en alles wat hom as mens gevorm het. Die eg menslike verhaal gaan oor meer as net rugby en ek dink dit gaan lesers verras.”
“Al het Rassie in die openbare oog hierdie reputasie van omstredenheid, is dit nie wie die ware Rassie is nie. Eintlik is hy geweldig privaat, maar wanneer dit oor rugby gaan en wanneer hy op televisie verskyn, gaan dit vir hom oor wat reg is vir die oomblik vir die spel.
“So, dis nie om ’n show off te wees dat hy as water boy op die veld verskyn nie, maar dis om die geleentheid ter voordeel van rugby te gebruik. Ons het nog ’n pad om te loop om die boek te voltooi, maar ek kan lesers verseker hulle sal die mens agter die persoonlikheid werklik leer ken.”
Rassie Erasmus sê in die mediaverklaring oor die boek: “My rugbylewe, as speler en afrigter, was nog altyd in die openbare oog. My passie vir die spel is daar vir almal om te sien. Baie mense het ’n opinie oor my. Maar baie min mense ken die ware ek. Dié boek stel my in staat om vir julle te vertel wie ek werklik is.”
“Dit is vir Pan Macmillan ’n voorreg om Rassie se memoires uit te gee. Sy persoonlike verhaal op en weg van die veld, van jong seun tot speler en daarna afrigter, sal Suid-Afrikaners van alle agtergronde vermaak, inspireer en boei. Rassie is ’n nederige baanbreker wat ’n reusebydrae tot die spel rugby en op ander terreine gelewer het,” sê Terry Morris, besturende direkteur van Pan Macmillan SA.
Die boek sal terselfdertyd in Afrikaans as Rassie: Stories oor rugby en die lewe en in Engels as Rassie: Stories of Life and Rugby uitgegee word.