Renosters in Suid-Afrika steeds bedreig op Wêreld-renosterdag

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Vandag is Wêreld-renosterdag. Sedert 2011 word hierdie dag jaarliks op 22 September gevier om bewustheid te skep vir die bedreiging wat dié skaars reuse in die gesig staar. Skokkend genoeg word Suid-Afrika se renosters steeds geteiken deur stropers in al ons wildtuine.
Renosters
Foto ter illustrasie: Getty Images.

Vroeër vanjaar het die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Barbara Creecy, bevestig 259 renosters is tot dusver vanjaar in Suid-Afrika gestroop. Dis tien meer as oor dieselfde tydperk verlede jaar.

KwaZulu-Natal is die swaarste getref met ’n verlies van 133 renosters. In die Krugerwildtuin is 82 renosters vir hul horings gestroop. Volgens minister Creecy bly die vraag na renosterhoring ’n bedreiging vir die oorlewing van die diere.

Baie maatreëls is al ingestel om te sorg dat die diere nie uitsterf nie, veral in die Krugerwildtuin wat een van stropers se grootste teikens is. Johan Jooste en Tony Park vertel meer hieroor in hul boek, Rhino War, oor alles wat al in die Krugerwildtuin gedoen is om die oorlog teen renosterstropery voort te sit.

Rhino War, Johan Jooste, Tony Park

Alida Vos deel haar indrukke van Rhino War, Johan Jooste en Tony Park(Macmillan, *R340)

Die gewilde Tony Park se naam op die omslag van die boek het my oog dadelik gevang. Goeie roep van Johan Jooste om hom te betrek, want dit kan net bevorderlik wees vir renosterbewaring en ook vir verkope van die boek.

Waarop ek glad nie voorberei was nie, was die magdom interessante inligting en vertellings van die afgetrede generaal-majoor. Mense sê mos die waarheid is erger as fiksie; dit was nog nooit so waar soos in hierdie boek nie.

In 2012 is Jooste aangestel om die veldwagteraksie in die Krugerwildtuin te herorganiseer en te paramilitariseer om die slagting van renosters teen te werk. Die destydse uitvoerende hoofbeampte van Sanpark, dr. David Mabunda, het sterk gemotiveer vir sy aanstelling.

Vandat Jooste in die park begin werk het tot die dag waarop hy tot siens gesê het, sorg die gebeure in sy lewe vir aangrypende leesstof. Sy ondervinding in die weermag en daarna toe hy die wêreld oor gereis het vir die maatskappy waarvoor hy gewerk het, het goed te pas gekom.

Hy het nie net die veldwagters met aanvanklik teenkanting  positief ingestel gekry nie, maar het ook self geld ingesamel om die eenheid te bemagtig. Een van die groot skenkers was die seun Harold, van die skatryk Amerikaner Warren Buffet.

’n Groot geldelike skenking, asook helikopters, het die veldwagters se aksies versterk. Hoe die skenking amper gekelder is en baie van ons renosters dalk nooit beskerm sou word, sal enige leser se bloed sommer laat “kook”, soos my pa dikwels gesê het.

Dat ’n mens met ’n opdrag soos die van Jooste (ten spyte van politieke klippe wat in sy pad gerol is) volhard het, is prysenswaardig. Sy leuse was “dink groot, begin klein, tree vinnig op.” Duidelik ’n goeie een, moontlik vir baie van ons.

In 2017 is bekend gemaak dat die aantal renosters wat deur stropers uitgewis is met 20 persent afgeneem het. Sukses teen die stropers het gekom nadat die veldwagters deeglik opgelei en ’n gedugte teenstropingseenheid gevestig is, honde ook ingespan is, asook die oprigting van Meerkat, ’n gevorderde opsporingstelsel waarvoor Jooste hom beywer het. 

Net voor die skryf van hierdie, lees ek op Netwerk24 dat drie stropers in die Krugerwildtuin gevang is. En karkasse van dooie renosters is gevind. Die stryd gaan voort, maar vir mense soos Johan Jooste kan ons, maar ook ons nageslag, nooit genoeg bedank of ondersteun nie.

* Prys onderhewig aan verandering sonder vooraf kennisgewing.

JONGSTE UITGAWE

November/Desember-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees