SA skrywer kry onaangename verrassing

akkreditasie
Shubnum Khan Foto: Nurjahaan Fakey
Shubnum Khan Foto: Nurjahaan Fakey
Nurjahaan Fakey
Stel jou voor, op ’n dag bel iemand jou en vertel jou foto word wêreldwyd gebruik om produkte te verkoop en dienste te onderskryf. Hoe sou jy reageer?

Die skrywer Shubnum Khan vertel in haar boeiende memoires, How I Accidentally Became a Global Stock Photo (Macmillan, R290), van dié ontstellende ontdekking. ’n Vriendin in Kanada wou by haar weet of dit haar foto is in ’n advertensie wat mense aanmoedig om na dié land te emigreer. Dit was inderdaad sy. ’n Fotosessie waarvoor Shubnum ’n paar jaar gelede by die universtiteit geposeer het, was die oorsprong. Sy het daardie dag ’n vorm onderteken, maar was onder die indruk dit was om die fotograaf toestemming te gee om die foto’s vir sy portefeulje te gebruik. Min het sy geweet sy teken dat haar foto aan ander partye verkoop kan word. Toe sy na haar foto op die internet gaan soek, het sy op ’n swetterjoel advertensies en veldtogte afgekom waarin haar foto die produk of diens bemark. Een daarvan nogal vir ’n velverligter, ’n produk wat sy in haar ganse lewe nooit gebruik het of sal gebruik nie.

In daardie stadium was sy reeds ’n gepubliseerde skrywer wat vir ’n paar literêre pryse benoem was. Dit was net nie gepas dat haar gesig aan produkte gekoppel word nie en sy het haar tot die fotograaf gewend en versoek dat hy nie haar foto verder verkoop nie.

Sy het oor die insident getwiet en dié storie het wêreldwyd aandag getrek, tot so ’n mate dat sy op die ou einde onderhoude toegestaan het aan die BBC en CNN en verskeie koerante en tydskrifte in ander lande.

Sy skryf hierdie storie in haar memoires omdat sy ’n bewusmaking onder jong vroue wil skep om nie goedsmoeds deel te neem aan gratis fotosessies nie, veral as jy nie die fynskrif in die kontrak gelees het nie. Vir haar was die insident dubbel so erg omdat sy van nature eintlik skaam en teruggetrokke is. En die debakel het ongevraagde aandag op haar gevestig. Al skryf sy humoristies oor dié staaltjie en ander in haar lewe, is daar ’n onderliggende erns en bevraagteken Shubnum haar eie identiteit, haar rol in die samelewing en die verwagtinge wat ander mense van haar het. As leser leer jy baie van haar kultuur, godsdiens en haar verbintenis tot familie en vriende. Jy voel saam met haar sterker as jy die laaste bladsy toemaak. Jy glo soos sy dat enigiets in die lewe moontlik is as jy dapper genoeg is om daardie eerste tree te gee.

 

Ek het per e-pos met Shubnum oor haar memoires gesels.

Vertel kortliks wie Shubnum Khan is.

Ek is ’n skrywer en kunstenaar van Durban. Ek het reeds een roman op die rak, Onion Tears, en ek is besig met my tweede roman. My memoires, How I Accidentally Became a Global Photo, het pas verskyn. Ek is mal oor teken, lees en reis en ek hoop om stories te skryf wat vroue inspireer om hul eie pad te volg.

Jy vra die vraag oor identiteit wanneer jy skryf dat jy die vierde dogter in ’n Indiese gesin is. “Boys, as we know, are the pride and joy of a family; they’re supposed to be protectors and providers and symbolise wealth and strength. They can do no wrong” bl. 7. Voel jy die perspektief van die gemeenskap waarin jy gebore is, is onregverdig?

Ek skryf vanuit my Indiese gemeenskap se perspektief, maar ek dink dieselfde gebeur in baie ander kulture. Daar word na seuns gekyk as die superieure kind, so dis moeilik om nie gefrustreerd te voel nie. Vroue doen al die werk, maar kry bitter min erkenning. En dit gebeur omdat ons in ’n patriargale kultuur lewe en aanhou om die kultuur voort te sit.

Hoe moeilik is dit om oor jou eie lewe te skryf? ’n Afrikaanse skrywer het vir my gesê sy skryf oor haar lewe as ’n manier om te probeer sin maak daarvan. Waarom skryf jy oor jou lewe?

Ha! Dis presies dit. Ek dink jy kan net in retrospek sin van dinge maak. Dit is moeilik om oor my lewe te skryf, veral as jy jouself so weerloos vir die lesers maak. Maar in ’n mate is dit ook bevrydend ombloot jou gevoelens en gedagtes te deel; dis ook wonderlik. So, op ’n manier is dit moeilik, maar die beloning is dit werd.

Jy skryf in die boek hoe ’n gebroke hart die koers van jou lewe verander het. Hoe het dit jou lewe beïnvloed?

Dit het my verander. Dit was eerlikwaar die eerste keer dat ek deur so ’n moeilike ding gegaan het en dit het my na ’n baie donker plek geneem. Ek was net sonder hoop en dit was lank voor ek beter begin voel het. Dit het my baie hard na myself en my lewe laat kyk en uiteindelik het dit my teruggebring by die mens wat ek wou wees. Jy leer ’n wilde soort empatie vir ander en dit het my voortgestu op my reis. Dit het my ’n sagtheid geleer wat ek nie voorheen geken het nie, en daarvoor is ek dankbaar.

“A recurring theme throughout most of my life is that I’ve never fitted in” bl. 30. Heimlik dink ek baie van ons voel so. Wil jy uitwei oor waarom jy so voel?

Ek het net gevoel ek kan nie altyd by almal aansluiting vind nie, veral soos wat ek ouer word. Terwyl almal gereed maak vir ’n huwelik en kinders, het ek daarvan gedroom om die wêreld te sien, om te skryf en om nuwe mense te ontmoet. Ek het nie ingepas by hoe ek vertel is ek veronderstel is om te wees nie en dis iets waarmee ek gesukkel het. Eers toe ek by ’n skrywersresidensie met ander skrywers van oor die wêreld gepraat het, geskryf, gelees en vir wandelings gegaan het, het ek regtig gevoel dat ek dalk genoeg is. Soort van, miskien is die mens wat ek wil wees, goed genoeg.

Ek is geskok oor hoe daar teen reisende Moslems gediskrimineer word soos wat jy in jou boek vertel. Jy skryf hieroor met baie selfspot en humor, maar dit moet tog pynlik wees om soos ’n verdagte behandel te word?

 

Ja, maar ek dra nie ’n hijab of lyk ooglopend Moslem nie. Ek dink ek het dit makliker. Party van my vriende en familie moes al agterbly vir ekstra ondervraging of om deursoek te word, en baie het selfs vlugte gemis. Soms is die situasies so ongelooflik dat dit belaglik word en jy kan net met humor daaroor skryf om die aandag te vestig op hoe crazy dit is.

In die boek sê jy jy is nie ’n dapper mens nie, maar dan vertel jy hoe jy stoksielalleen na ’n afgeleë dorpie in Kasjmir gegaan het om daar te gaan skoolhou. Wat het jy oor jouself geleer deur dié ervaring en die ander uitdagings wat jy op jou reise moes trotseer?

Dat jy nie weet of jy iets kan doen totdat jy dit doen nie. Almal is bang, maar jy moet net probeer, dis dán wanneer die lewe interessant raak. Elke enkele keer wat ek gedink het ek kan iets nie doen nie en dit dan doen, het dit my sterker laat voel en dis baie belangrik as jy in hierdie wêreld wil bestaan.

Wanneer jy reis, stap jy in die stede van jou bestemmings, want “To know a city is to step in the rhythm of its heartbeat” bl. 190. Jy spreek die wens uit dat jy so in Suid-Afrikaanse stede kan stap. Wat weerhou jou daarvan om dit te doen? 

Wel, dis net nie veilig nie. Ek wens ons kon meer in ons stede stap want ek dink ons sal sodoende soveel meer leer oor ons land en ons mense. Maar as ’n Suid-Afrikaner en boonop ’n vrou, voel dit soms net onmoontlik, want jy moet die hele tyd bewus wees van jou omgewing en wat jy aanhet en wat jy saam met jou dra; dis bloot net te uitputtend.

Jou eerste roman is vir ’n paar literêre pryse benoem. Hoeveel druk sit dit op jou as skrywer?

Ek dink nie soseer dis die eksterne druk nie, eerder interne druk – ek wil goed skryf en ’n boeiende storie vertel, maar dis veral moeilik as jy konstant jou eie skryfwerk bevraagteken.

Vertel meer oor hoe jy skryf. Het jy ’n spesifieke plek, vaste tyd of roetine?

Ek dink ek sou ’n baie beter skrywer wees as ek nie so lui was nie! Ek skryf beslis beter soggens wanneer my kop vars is en wanneer die wêreld nog nie in my kop ingebars het nie. Ek kan nie enige plek skryf nie, ek hou daarvan om struktuur te hê; dus, by ’n skoon lessenaar terwyl dit stil is, werk die beste vir my. Ek wens ek kon een van daai skrywers wees wat in die park ’n skootrekenaar uitpluk en begin skryf!

Hoe begin ’n stuk skryfwerk vir jou en wat maak dat jy skryf?

Vir die boek het ek probeer om elke oomblik waarin ek ’n konneksie met myself gevoel het op te roep. So, daar is baie snaakse stories hier, maar ook klein oomblikke van refleksie oor die lewe. Dít maak dat ek skryf, om oomblikke te vind waar jy aan jouself vashou en jou bestaan verstewig. Partykeer kan skryf so vervelig voel en dan gaan jy net deur die aksies en jy weet dis nie goed nie. Maar ander kere, op ’n goeie dag, is dit net wild en wonderlik en jy voel enigiets kan gebeur. 

Hoe het die Covid-19-pandemie jou emosioneel geraak en kyk jy nou anders na die lewe?

Dis ’n moeilike vraag. Soos ek reeds gesê het, jy kan dinge net helder sien in retrospek en op die oomblik voel ek net doodmoeg van alles. In terme van skryf was die grendeltyd goed vir my, want ek was gedwing om op my boek te fokus. Maar noudat ek na die werklike wêreld moet terugkeer, vind ek daar is niks om in te stap nie . . . Tog is ek optimisties oor die toekoms, ek moet wees, óns moet wees, om deur dit te kom.

 

JONGSTE UITGAWE

NOVEMBER/DESEMBER 2021

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees