Dié skrywer het reeds ’n paar ander boeke op haar kerfstok. Sy het haar hand gewaag aan kinderverhale en ook aan ’n biografie oor ’n vrou wat deur geweldige trauma in haar huwelik gegaan het.
In haar moordromans toor Botha met Afrikaans. Haar beskrywings is terselfdertyd poëties en angswekkend. Die stories is goties, strak en morbied, wat dit perfek maak om te lees op koue, donker aande.
‘Vlug van die nag’, June Botha (Naledi Uitgewers, *R200)
In die donkerte van die nag vlug Luna van ’n gruwelike moordtoneel. In haar bloederige arms hou sy ’n baba vas, die dooie slagoffer wat vermoor is, se kind.
Luna laat ’n moordraaisel agter, toegedraai in geheime. Dié raaisel moet hoofspeurder Jört oplos. Maar Jört vind vinnig uit dat die antwoord op die raaisel oor meer gaan as net wie skuldig en wie onskuldig is.
Te midde van die verwarring verloor hy sy hart op die skynbare moordenares Luna.
June Botha is ’n woordtowenaar met ’n rou skryfstyl. Sy vang die leser onkant met die mooiste beskrywings van emosies en gevoelens, soveel so dat die leser elke woord ervaar.
Al is die skryfwerk pragtig, skiet die storie egter in sommige opsigte tekort.
Vlug van die nag word meer beleef as ’n romantiese gesinsdrama, eerder as ’n moordverhaal.
Die romanse neem dikwels oor en laat dele van die verhaal meer soos erotiese fiksie voel. Nietemin, Botha se skryfstyl maak op vir die storielyn, en vir liefhebbers van pragtige Afrikaans, sal ek hierdie boek beslis aanbeveel.
‘Huil van die Naguil’, June Botha (Naledi Uitgewers, *R220)
Huil van die Naguil speel af by ’n gastehuis met al die skandes en geheime wat daarmee saamgaan. Daar is ’n reeksmoordenaar op vrye voet wat die gaste en personeel van Savannah Game Lodge op hol het.
Botha is geïnspireer deur Sweedse misdaaddramas en haar storie eggo ’n soortgelyke donker, koue atmosfeer. Sy het die vermoë om die leser op ’n reis in die polisiewêreld in te neem sonder om dit vervelig te maak.
Hoewel die moordraaisel realisties voel, is daar ander dele van die storie wat nie so realisties is nie; byvoorbeeld, die romanse tussen Avive en Braam, twee van die hoofkarakters. Die romanse ontwikkel te vinnig en los die leser met baie vrae.
Tog bevat die moordroman ’n fassinerende misterie en is dit die moeite werd om te lees.
Ek moet darem iets byvoeg oor die omslae van die twee boeke. Dis vir my besonder treffend en het gemaak dat ek die verhale graag wou lees. Dit voel ook asof die omslae die geheimsinnige en koue atmosfeer van die stories weergee.
* Prys onderhewig aan verandering sonder vooraf waarskuwing.