Marida Fitzpatrick, fiksie-uitgewer by Penguin Random House, is van mening dat uitgewers die publiek teen swak skryfwerk beskerm. “Ons sien baie swak skryfwerk; ons beskerm die publiek daarbuite teen swak skryfwerk. So wanneer ons goeie skryfwerk die mark kan instoot, gee dit ons oneindig plesier.”
In ’n mededingende mark is dit van kardinale belang om lesers nie teleur te stel nie. Vir ’n leesvraat soos Marida is haar werk suiwer plesier en bly die lekkerste ding in die wêreld vir haar om fiksie te lees.
En ja, vertel sy, sy bly opgewonde oor lees, al moet sy elke dag deur manuskripte werk. En wat gebeur as die manuskrip nie op standaard is nie en dis ’n gevestigde skrywer in jou stal?
“Alle skrywers beleef soms ’n minder goeie oomblik. Ek kan vir die VN gaan werk as onderhandelaar, want al wat ons doen van die môre tot die aand is om baie diplomatieke gesprekke met mense te voer.
“’n Mens moet baie versigtig werk met kreatiewe skrywers. Iemand wat fiksie skryf sit sy siel op die papier, al is dit genre fiksie of kommersiële fiksie, nog steeds . . . As jy ’n storie uitdink, lê jy jouself bloot op papier.
“Om dan vir iemand te sê jy is nie goed genoeg nie, is geweldig moeilik. ’n Mens moet dit ongelooflik versigtig en sensitief doen. Jy wil nie iemand se gees breek nie. Jy moet die skrywer oortuig jou voorstelle gaan die boek verbeter. So, dis ’n oefening in oorreding en in diplomasie.”
In 2002 het Marida haar loopbaan as joernalis afgeskop by Media24, waar sy tot 2018 in verskeie hoedanighede met nuus en aktuele sake gewerk het.
Op haar CV pryk ’n rits toekennings waarmee haar skryfwerk bekroon is, onder meer 6 ATKV Woordveertjies. Sy is ook die skrywer van ’n paar boeke, fiksie en niefiksie.
As gesoute joernalis, verslaaf aan stories en stories vertel, het sy in 2020 ’n impulsiewe skuif gemaak om die joernalistiek te verruil vir die uitgewersbedryf as niefiksie-redakteur by Lapa Uitgewers.
Hoe was die oorgang van joernalis na die uitgewersbedryf vir jou?
Dit was vir my ’n skrikwekkende skuif en ek het die impak daarvan onderskat. Die aanbod het uit die bloute gekom en ek het die besluit om die geleentheid aan te gryp, baie vinnig gemaak.
Toe ek my bedankingsbrief geskryf het, het ek ’n angsaanval gekry. Ek het gewonder wat en wie gaan ek wees as ek nie ’n joernalis is nie. Ek onthou ek het ’n beklemming om my hart gekry oor die vooruitsig dat ek nie meer ’n joernalis gaan wees nie.
Dit het my laat besef hoe verweef die joernalistiek met ’n mens se identiteit is, spesifiek in my geval. Ek het geweet ek gaan ’n draadjie daaruit moet trek, sonder om dit te breek.
Die uitgewerswese was nie soseer vir my vreesaanjaend nie, ek het uitgesien na die nuwe uitdagings. Dit was die wegstap van die joernalistiek wat my aanvanklik bang gemaak het.
Met joernalistiek is jy in die loopgraaf, sowel as in die publieke oog. In die uitgewersbedryf is jy as redakteur in ’n ondersteunende rol. Hoe het jy hierdie kopskuif aangepak?
Ek moes leer hoe om agter die skerms te werk en dit het my tyd geneem om die uitgewersproses te vertrou. As ’n joernalis is jy so gewoond om alles self en dringend te doen. Ek het met daardie mentaliteit die uitgewersbedryf bestorm en toe moes ek leer hier’s ’n ander ritme.
Ek het natuurlik losgetrek met harde nuusboeke en het met my elmboë in die tekste ingeklim, wat goed was. Om as niefiksie-redakteur te begin, was ’n goeie vuurdoop, omdat ek steeds met joernalistieke materiaal gewerk het.
As joernalis beoordeel ’n mens ’n storie baie anders as wanneer jy met ’n boek werk. Wat was die grootste les wat jy hieroor moes leer?
Die eerste ding wat ek geleer het, is ’n boek is nie net ’n lang nuusberig nie. Dis ’n hele ander medium. Die groot uitdaging met ’n boek is dat dit ’n baie langer raklewe moet hê.
Nuus is vlietend, selfs lang vorm joernalistiek waar jy 4 000-woorde artikels skryf.
Hierteenoor het ’n boek ewigheidswaarde, die inhoud moet ’n langer lewe hê. My eerste boeke was nuusboeke, oor Steinhoff en Bosasa. Daar het die joernalistiek my baie gehelp met die sin van dringendheid, sodat ek die boeke eerste in die mark kon hê.
My joernalistieke agtergrond het my ’n mededingende voordeel gegee in die uitgewersbedryf. Mense wat in die bedryf gebore is en daarin grootgeword het, het nie noodwendig daardie dringendheid nie. Hulle werk teen ’n hele ander pas. Maar ek moes leer om aan te pas, want dis nie ’n nuuskantoor nie.
Die joernalistiek het my wel geleer hoe om met inhoud te werk en as ’n mens weet hoe om met inhoud te werk, of dit ’n berig, artikel of boek is, dan sien jy gate en strukturele probleme.
Die joernalistiek is ’n wonderlike leerskool, veral as jy soos ek so lank daarin was. ’n Deel van om ’n redakteur in die uitgewersbedryf te wees, is om soos ’n projekbestuurder oorsigtelik ook met ’n boek te werk en dit moes ek aanleer.
Nie alle niefiksie boeke is nuusgedrewe nie. Waarna het jy gesoek wanneer jy ander niefiksie-manuskripte beoordeel?
Om ’n nuusboek raak te sien is eintlik maklik. Dis om eerste te wees met daai boek, waarin die uitdaging lê. Maar om die vondslysboeke, daardie wat nie nuusboeke is nie, reg te kies, moet jy soms ’n bietjie dobbel.
’n Mens gee ’n boek net uit as jy regtig daarin glo en jy dink dit gaan goed vaar.
Dit gebeur ook dat ’n boek soms nie goed verkoop nie, al glo jy dis ’n goeie produk en die tydsberekening was reg en die omslag was reg. Jy kan dan post mortem hou daaroor en niemand kan bepaal wat verkeerd geloop het dat die spesifieke titel nie goed verkoop het nie.
Dis eenvoudig deel van die besigheid en dit gebeur met alle uitgewers. Daar is altyd suksesse, sowel as boeke wat nie verkoop nie.
Kon julle sien dat die pandemie mense se leessmaak beïnvloed het?
Tydens die pandemie was daar baie spesifieke patrone. Fiksie het byvoorbeeld beter gevaar as niefiksie, want mense wou ontsnap. Met Covid was almal paniekerig, want die hele wêreld het deur iets gegaan wat ons nie ken nie.
Ons is eintlik nou nog besig om te ontrafel hoe Covid die mensdom verander het en ook mense se leespatrone en voorkeure. Daar was neigings tydens die pandemie wat ons kon identifiseer, maar ons het nog nie die langtermyn impak gesien van bv. e-boeke teenoor papierboeke, of op genres in fiksie nie.
Jy is onlangs aangestel as fiksie-redakteur. Hoe kies jy ’n manuskrip, veral as dit ’n onbekende skrywer is?
Met niefiksie gaan dit suiwer oor onderwerp. Die skrywer kan dus maar onbekend wees. Die skryfwerk maak ook nie altyd soveel saak nie, want dit kan reg getimmer word. Met fiksie lê alles in die skryfwerk, en die skrywer se stem en die skrywer se naam natuurlik.
Maar as dit ’n debuutskrywer is, gaan dit suiwer oor die skryfwerk en dis subjektief. Juis daarom gebruik ons anonieme lees- en keurverslae, sodat ’n mens ’n wyer mening oor iemand se skryfwerk kan kry as net jou eie.
Wanneer ek na die sogenaamde slush pile kyk, dan is daar manuskripte wat ek sommer dadelik afkeur, en dan is daar die wat ek vir ’n leesverslag stuur. Die eerste ding waarna ek kyk is: Kan die persoon skryf.
Dis ’n interessante onderskeid tussen niefiksie en fiksie. Met niefiksie is dit nie die eerste vraag nie. Dit gaan oor die onderwerp en ken die skrywer die onderwerp. Met fiksie móét die persoon kan skryf.
As die persoon nie die leser emosioneel kan betrek, of geloofwaardige karakters kan skep vir wie die leser omgee nie, dan maak dit nie saak hoe goed die storie is nie, want dit gaan nie werk nie.
Daar’s twee goed waarvoor ’n mens uitkyk met skryf: Die een is, rou talent, dus kan iemand ’n werklikheid skep waarin ’n leser hom kan inleef. Die ander ding is skryfvaardighede, met ander woorde weet jy hoe dialoog werk, weet jy hoe perspektief werk, weet jy hoe die skryfinstansie werk.
Dis goed wat skrywers kan leer by ’n slypskool of deur te studeer in kreatiewe skryfkuns, maar talent kan nie aangeleer word nie. Ons benodig altwee daardie elemente voordat ’n manuskrip publiseerbaar is.
As iemand wel die vonk het, maar die manuskrip is nie gereed nie, moedig ons die persoon aan om sekere kursusse te doen om hul skryfvermoë te slyp.
Jy moet met ’n verskeidenheid genres werk. Hoe swaai jy jou kop om te kyk na manuskripte in genres wat nie noodwendig in jou leessmaak val nie?
Snaaks genoeg is dit vir my nogal maklik. Ek skakel my persoonlike smaak heeltemal af. Wanneer ek werk is wat vir my lekker is om te lees, totaal irrelevant. Wanneer dit kom by kommersiële en populêre fiksie, kyk ek na genres en neigings en wat is vatbaar in die mark.
As dit kom by literêre fiksie, dan kyk ek na gehalte.
Sê nou maar jy kon enige skrywer in die wêreld uitgee, wie sou dit wees?
Ons gee Damon Galgut uit. Ek voel ongelooflik bevoorreg. As ek met Damon korrespondeer, dan is dit daai oomblikke wat ek myself moet knyp en vra of dit rêrig my werk is. Ook om onder meer met skrywers soos Irma Joubert, Chanette Paul en Hans du Plessis te werk . . . Dis wonderlik. In ’n fantasiewêreld as ek iemand kan kies, sal dit Kazuo Ishiguro en Margaret Atwood wees. Hulle sal ek graag wil uitgee. As uitgewer kan ek sê: Sommige skrywers is ’n droom om te lees, maar ’n nagmerrie om uit te gee. Ander is ’n droom om uit te gee, maar ’n nagmerrie om te lees.Kan ons praat oor Romanzas, want daar is steeds mense wat neerkyk daarop.
Romanza probeer nie iets wees wat dit nie is nie. Dis ’n onopgesmukte druknaam vir liefdesverhale. Ja, dis resepmatig, dit het gelukkige eindes, dit is voorspelbaar, en ja, die man en vrou kom altyd bymekaar.
Dit is waaroor die produk gaan. Dis wat ’n liefdesverhaal wêreldwyd is en dit is wat die lesers van liefdesverhale wil hê. Dis die produk wat hulle koop. So, om ’n Romanza iets anders te maak, dan is dit nie meer ’n liefdesverhaal nie.
Mense onderskat die belangrike rol wat liefdesverhale daarin speel om mense aan die lees te kry, om ’n liefde vir lees by jong meisies (en seuns) te kweek vir lees.
Wie van ons het op skool nie gesit met ’n Ena Murray wat ons wegsteek in ons wiskundeboek nie? Ons het almal daai liefdesverhale gelees.
Romanza probeer nie pretensieus wees nie en dis deel van die druknaam se sukses. Die leser weet wat hulle kry, en hulle kry dit. In vandag se wêreld waar daar so baie onsekerheid is, is dit vir die Romanza-lesers ’n trooskombersie, ’n ontsnapping.
Dit gee vir hulle daardie gelukkige eindes wat nie in die werklikheid altyd daar is nie.
Om daarop neer te sien is belaglik. Jy hoef dit nie te lees nie, maar jy kan nie ontken dat daar ’n enorme mark daarvoor is nie. Dis vir ons ’n baie belangrike druknaam en dis baie gewild. Ons gaan aanhou om dit uit te bou.
Wat gaan vir jou bevrediging gee as fiksie-redakteur?
Om goeie boeke uit te gee wat goed vaar. As ek dit kan regkry, sal dit fantasties wees. Ons beleef moeilike ekonomiese tye, almal het minder geld en boeke is ’n luukse.
Is jy ’n pliggie, want volgens jou CV lyk dit nogal so?
’n Kollega het eenkeer vir my gesê ek is die volmaakte produk van 400 jaar se Calvinisme. Ek is ’n pliggie. Met sommige goed gee ek selfs vir myself ’n pyn, maar met ander goed sal ek totaal en al rebelleer en teen reëls vasskop en dit breek.
Maar in my werk help dit om ’n pliggie te wees. Alles gaan oor skedule, beplanning en organisering. Dis die goed wat jy agter die skerms in plek moet sit.
In joernalistiek is jy net heeltyd besig om uur tot uur te leopard crawl deur die modder. In die uitgewerswese word ’n mens gedwing om meer langtermyn te dink, en met daardie goed probeer ek ’n pliggie wees.
Ons moet betyds wees, ons goed moet reg wees, niemand moet ’n vinger na ons afdeling kan wys nie.
Het jy nou al ’n vonds gehad?
Met fiksie is dit nog early days. Met elke goeie manuskrip wat in my inboks land, voel ek soos ’n kat wat room gekry het. Ek sal opvlieg uit my stoel en gaan ronddans in die gange. Ek hol die gang af en gil en skree van blydskap wanneer ek ’n goeie manuskrip kry.
In my niefiksie dae was dit nou aktuele boeke, en toe ek Magda Wierzycka ge-commission het en toe daai manuskrip land, dít was ’n oomblik.
Ek het onlangs Anoeschka von Meck se manuskrip gekry. Dit voel soos ’n geskenk, soos manna uit die hemel. Dit herinner my hoe gelukkig ek is om te doen wat ek doen.