Spook teister vrou

akkreditasie
Verhale oor die paranormale en spoke is so oud soos die berge. Maar bestaan spoke regtig? Op papier wel! En die stories is baie gewild!

inspirasie, boeke

In Tess Gerritsen se roman, The Shape of the Night (Bantam, R290) vertel sy ’n vreemde verhaal waar die werklikheid verweef word met die paranormale. Net soos die hoofkarakter, Ava, wonder jy ook uiteindelik wat is werklik en wat nie.Ava huur ’n huis in Tucker Cove om weg te kom uit Boston. Kwansuis om die resepteboek wat sy al moes voltooi het, uiteindelik klaar te maak. Daar sit meer agter haar vlugtog. Dit het te make met haar skuldgevoelens teenoor haar suster. Die gebeure word stelselmatig onthul soos wat Ava met haar gewete stoei.

Brodie’s Watch, die huis wat sy huur, was die droomhuis van ene kaptein Brodie wat sy lewe verloor het toe die skip waarop hy was, die Minotaur, gesink het. Die gerugte in die omgewing is dat hy in sy huis spook. Van die begin af voel Ava asof die huis haar verwelkom en insluk, maar terselfdertyd ook wegstoot. Daar is ’n vreemde energie teenwoordig en een nag word Ava wakker daarvan. Is dit Brodie se spook wat haar besoek en waarom voel alles vir Ava so werklik?

Voor Ava se koms was daar ’n klompie moorde, almal onopgelos. Ava is nuuskierig hieroor en sy wonder ook wat met die vorige huurder van Brodie’s Watch gebeur het. Waarom het sy so skielik opgepak en weggegaan en waarom is sy onopspoorbaar? Wie hou vir Ava dop en is sy regtig alleen in die huis? Stelselmatig kom al die geheime van Tucker Cove en Brodie’s Watch op die lappe soos wat Ava ondersoek instel. Is die gebeure in die huis net Ava se verbeelding of is daar regtig iemand saam met haar in die huis? En wie is die ware moordenaar?

Ek is gewoonlik mal oor Tess Gerrisen se verhale. In die een is die sentrale plot geloofwaardig en het dit my aandag behou. Daar is egter ’n paar goed waaraan ek langtand gebyt het. Miskien is ek te veel van ’n realis en boonop te skepties oor bonatuurlike wesens. Tog is dit ’n vermaaklike verhaal as jy vir ’n paar ure van jou eie werklikheid wil wegvlug!

inspirasie, boeke

The Wedding Guest, Jonathan Kellerman (Century, R270)

Brears en Garret se troue by ’n ongewone plek word bederf toe een van die bruidsmeisies die lyk van ’n mooi, jong vrou in die kleedkamer ontdek. Net hier onstaan ’n reuse raaisel, want niemand ken die vrou nie. Sy was ook nie ’n genooide gas nie. Die tema van die troue was 'Saints and Sinners' en die plek waar die troue gehou word, was voorheen ’n ontkleeklub. Die huwelikspaartjie het hul gaste gevra om volgens die tema aan te trek. Dit maak die gebeure besonder makaber.

Dr. Alex Delaware en luitenant Milo Sturgis moet probeer uitvind wie die slagoffer is en waarom sy vermoor is. Die manier waarop die moord gepleeg is, laat hulle vermoed die motief is persoonlik. Die kollig val op die bruid en bruidegom en hul naaste familie. Brears glo dis die werk van iemand wat haar groot dag wou saboteer, terwyl Garrett glo dis alles net ’n fout wat niks met hulle te make het nie.

Wanneer daar nog moorde op dieselfde manier plaasvind, moet Delaware en Sturgis die net wyer span om agter die kap van die byl te kom. Delaware se sielkunde agtergrond laat hom met ander oë na die verdagtes kyk. Hy sien leidrade raak wat vir ander hoogs onwaarskynlik voorkom.

Oudergewoonte neem Kellerman jou op ’n spannende kronkelpad met baie kinkels voordat jy aan die einde van die verhaal uitvind wie die moordenaar is. Wat bydra tot die genot van Kellerman se verhale is die dinamiese verhouding tussen Delaware en Sturgis. - Phyllis Green

inspirasie, boeke

A walk at midnight, Alex van Tonder (PanMcMillan, R270)

Ons leef in die era van #metoo waar die mishandeling van vroue meer aandag as ooit tevore kry. Van Tonder, van Kaapstad en tans woonagtig in Manhattan Beach, Los Angeles, se verhaal van Jane Ronson is ’n aangrypende riller of griplit.

Jane se karakter is kompleks. Oënskynlik is sy die perfekte ma en die ondersteunende vrou van haar man Colin, die goewerneur van New York. Tuis word sy fisies mishandel en afgekraak deur haar man wat haar wil verander in die minderwaardige vrou wat hy graag wil hê ten spyte van haar onafhanklike persoonlikheid. Jane is sedert haar kinderjare deur haar ma gemaan om stil te bly en haar drome af te skaal. Indirek is Jane mishandel omdat sy moes toekyk hoe haar pa haar ma aangerand het. Colin word onder vreemde omstandighede vermoor. Natuurlik geniet die ondersoek baie aandag vanweë Colin se politieke status.

Die kollig val op Jane in die ondersoek na haar man se dood, want sy het pas ’n riller gepubliseer waarin die hoofkarakter op dieselfde wyse as haar man vermoor word. Die Ronson-gesin, veral Jane, word deur die polisie ondervra. Hoe meer geheime uit Jane en Colin se verledes opgediep word, hoe vreemder lyk sy dood. - Mariette Postma

 
inspirasie, boeke

The Little Shop of Found Things, Paula Brackston (St. Martin’s Press, R230)

Xanthe en haar ma Flora koop ’n antieke winkel in die Engelse platteland in die geskiedkundige dorpie van Malbourough. Wat hulle nie weet nie is dat daar ’n spook in die winkel woon. Hierdie spook wil vir Xanthe na die sewentiende eeu terugstuur om haar dogter te gaan red. Indien sy weier of nie slaag nie, sal die spook nie skroom om Flora leed aan te doen nie.

Uit vrees besluit Xanthe om die spook te gehoorsaam. Sy vermom haarself as ’n dienskneg in ’n herehuis van vierhonderd jaar gelede. Sy ontdek geheime wat kan help om ’n onskuldige meisie in die tronkselle van die doodstraf te red, maar gaan sy betyds wees? Eerstens om die meisie te red en tweedens om haar eie ma se lewe te verseker?

Die verhaal het ’n heerlike spanningslyn wat gepaard gaan met romanse. Die uitstekende beskrywings van die alledaagse lewe van die sewentiende eeu is fassinerend. Die magiese elemente sorg vir ’n interessante storie en ek kan nie wag om die volgende boek van hierdie skrywer te lees nie.  - Danica Gouws

Pryse is voorgestelde pryse en kan wissel van winkel tot winkel.

 

JONGSTE UITGAWE

SEPTEMBER/OKTOBER 2021

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees