Lesers wêreldwyd kon nie genoeg van Christian Grey en Anastasia Steele kry wat die hoofrolle in die roman gespeel het nie. Daar was opvolgboeke en die rolprente het ook die lig gesien.
Skielik het mense wat nog nooit voorheen ’n boek gelees het nie, een opgetel, want almal het gegons oor die warm liefdestonele.
Selfs hier in Suid-Afrika het lesers beslis meer waagmoed aan die dag gelê met die keuse van romantiese fiksie. Nou het ’n plaaslike uitgewer ná die oorweldigende aanvraag oor erotiese fiksie in ’n meningspeiling besluit om stomende liefdesverhale in Afrikaans te publiseer.
Die Kontrak deur Erla-Mari Diedericks is die eerste titel in die nuwe Romanza Stoom-afdeling wat fokus op warmer liefdestonele vir lesers wat meer erotiese liefdesverhale verkies. Daar sal later vanjaar nog drie ander verhale verskyn. Romanza Stoom is deel van Penguin Random House.
Waaroor gaan ‘Die Kontrak’?
Marike se verloofde het haar verkul met haar vrouebaas. Dit het gemaak dat sy mans vir altyd afsweer en dat sy besluit om wild en wragtig in die oomblik te leef.
Sy verbind haarself in ’n kontrak aan Brett, ’n beroemde draaiboekskrywer. Hy is skatryk en boonop baie aantreklik. Volgens haar kontrak mag Marike nie op hom verlief raak nie, maar sy sal mildelik vergoed word om sy minnares en muse te word.
Dis mos nie ’n probleem vir die nuwe Marike nie? Tot sy besef hy is eintlik die droomman wat sy nog altyd wou hê. Wat nou van daardie kontrak? Sal sy die vonke tussen hulle kan deurstaan?
Lees hier ’n uittreksel uit ‘Die Kontrak’ deur Erla-Mari Dierdericks (Romanza, R100)
Twee glase vonkelwyn later kom een van die vlugpersoneel, Avia, nadergestap. Sy is ongelooflik mooi – lang bene in deursigtige swart sykouse, hoëhakskoene en ’n noupassende swart rok versier met goue epoulette. Sy lyk soos ’n model – en presies soos die vroue in Brett se rolprente.
Hulle volg vir Avia deur die helderbeligte loopgang wat direk na die privaatstraler lei. Toe hulle die kajuit binnestap, snak Marike vir die soveelste keer die week na haar asem. Die vliegtuig spreek van styl en geld.
Die hele kajuit is uitgevoer met okkerneuthout en wit leer. Twee wit leerstoele staan knus langs mekaar in die een vertrek met ’n leer-oopvoubank reg oorkant. Voor die twee leerstoele is ’n groot okkerneuthouttafel. Deur die glimmende houtafskorting kan sy ’n sitkamer sien met ’n groot bank reg voor die vliegkajuit.
Avia lei hulle na die twee leerstoele.
“Nog vonkelwyn?” vra sy terwyl hulle hulself gemaklik maak en hul gordels vasgespe.
“Waarom nie,” antwoord Brett. “Bring sommer ook vir ons ’n bak aarbeie, asseblief.”
Marike voel byna sy moet haarself knyp. Als is net té goed om waar te wees. Ná Avia ’n kristalbakkie vol helderrooi aarbeie voor hulle neersit asook ’n bottel ligpienk, droë vonkelwyn, draai Marike na Brett.
“Onthou jy die rolprent Pretty Woman?”
“Die een met Julia Roberts en Richard Gere? Vaagweg,” antwoord hy.
“Wel, in die rolprent bestel hy ook aarbeie en vonkelwyn. Dit bring glo die geur van die vonkelwyn uit.”
“Jy moet omtrent romanties wees as jy van daardie rolprent hou. Wat ’n stroperige klomp snert. Waar sal ’n man ’n prostituut van die straat af kry, vir haar duisende rande aanbied net om saam met hom rond te hang en dan boonop verlief raak?”
“Herinner dit jou nie aan ons situasie nie?” vra sy.
Hy draai na haar, sy oë onpeilbaar.
“In die eerste plek is jy nie ’n prostituut nie. In die tweede plek is ek aantrekliker as Richard Gere, en in die derde plek gaan niemand op niemand verlief raak nie.”
Marike rol haar oë.
“Genade, maar jy hamer omtrent daarop. ’n Mens sou sweer jy is onweerstaanbaar.”
Hy buk vooroor en tel ’n aarbei op; hou dit soos ’n versoeking voor haar lippe. Sy adem die vrug se soet reuk in. Dan gaan haar lippe vanself oop en hy plaas die aarbei in haar mond. Liggies vee hy met sy duim oor haar onderlip.
Die aanraking stuur rillings langs haar lyf af. Goeie rillings.
“Sien? Ek is onweerstaanbaar,” sê hy.
Dan druk hy doodluiters ’n aarbei in sy mond en neem ’n sluk vonkelwyn. Sy loer uit die hoek van haar oog na hom. Die man is reg. Hy is aantrekliker as Richard Gere.
“So, is dit die soort rolprente waarvan jy hou?” vra hy.
“Daardie rolprent was ’n lokettreffer!” protesteer sy.
“Dit beteken nie dit is ’n goeie film nie.”
“Wat, soos joune?” vra sy.
“Ja, soos myne. Ten minste eindig my rolprente realisties.”
“Met vroue wat alleen en snikkend met ’n gebroke hart eindig?”
Hy sit sy glas só hard neer dat van die vonkelwyn uitspat. Die oorywerige Avia is onmiddellik byderhand om dit op te vee. Haar hand raak aan Brett s’n – ’n paar sekondes te lank. Marike kry ’n messteek van ’n kyk.
“Dit is hoe verhoudings eindig. Met gebroke harte. Pyn. Verwerping.”
Meteens wonder Marike twee dinge: Wie het sy hart gebreek? En het hy en Avia ’n geskiedenis?
“So, jy en Avia . . .” waag sy dit die oomblik toe Avia voor in die loodskajuit is.
“Wat van haar?”
“Het julle ge-date?”
“Jaloers?” vra hy.
Vererg trek Marike haar denimbaadjie stywer om haar lyf.
“Natuurlik nie! Sy flirt net baie ooglopend met jou. En dis duidelik dat sy jou bed toe wil sleep.”
“Regtig?”
Hy hang speels uit sy sitplek en loer na waar hy Avia se rug en rondings van agter af kan sien.
“H’m, dalk moet ek dit oorweeg,” sê hy laggend.
Dan word hy ernstig.
“Nee, my pa het altyd ’n gesegde gehad: Never sleep with the hired help.”
Die ongenaakbaarheid van die stelling tref haar vol in die bors. Hired help. Presies wat sy is.
Dit is asof hy haar gedagtes lees. “Nie dat jy hired help is nie. Jy is my muse.”
Hy neem haar ken tussen sy vingerpunte. “Met jou is enigiets moontlik.”
Dan gee hy haar ’n ligte soen. Reg op die mond.
Die gebaar is so onverwags, sy kan vir ’n paar sekondes nie asem kry nie. Of dalk het sy net ophou asemhaal. Haar kop draai van die vonkelwyn en rondom haar is dit net donsige wit wolke waar sy kyk. Die gevoel is hemels.
“So, sê my, my liewe konserwatiewe blommetjie – het jy al daardie plakkertjies afgehaal? Of gaan jy die visse daarmee die skrik op die lyf jaag wanneer ons snorkelduik?”
Sy lag.
“Die stoom van die jacuzzi moes die gom sag gemaak het, want dit het maklik losgekom.”
“Sou nogal interessant gewees het as die blommetjies al in die jacuzzi afgeval het. Ek is seker jy het pragtige . . .”
“Komkommer-en-salmtoebroodjies?” vra Avia reg langs hulle.
Die vrou het die hele tyd in die sitkamer gestaan en tande tel. Marike is seker sy het elke woord afgeluister.
“’n Bietjie later, Avia,” antwoord Brett. “Hoekom neem jy nie ’n paar toebroodjies vir die loodse en eet sommer daar voor by hulle nie? Ek en Marike het ’n paar dinge om te bespreek.”
Avia se glimlag is perfek vriendelik, maar Marike kan ’n sweempie venyn bespeur; die vrou hou nie van haar nie, dit kan sy duidelik aanvoel.
“Kan jy ook die kajuitvensterluike laat sak, asseblief, Avia? Ons sal dalk nou-nou ’n bietjie dut.”
Avia druk ’n knoppie teen ’n muurpaneel en onmiddellik begin die luike om oor die vensters te sak totdat die kajuit in skemerte gehul is. Dan druk sy nog ’n knoppie en rye klein goue liggies skakel teen die muurpanele aan. Die effek is heel romanties.
Sodra Avia uit die kajuit is, draai Brett na haar. Hy glimlag ondeund.
“So, Blommetjie, is jy al ’n lid van die Mile High Club?”
“Ek het ’n naam. En dis beslis nie Blommetjie nie.”
“Genugtig, maar jy weet darem hoe om ’n sexy oomblik nek om te draai.”
“O, ek is jammer, maar dit is nogal moeilik om sexy te voel as ’n man jou Blommetjie noem.”
“Oukei, point taken. Maar jy’t my nog nie geantwoord nie. Marike, is jy lid van die Mile High Club?”
Natuurlik het sy al daarvan gehoor.
“Nee,” antwoord sy.
“Nee, nog nie of nee, nooit nie?” vra Brett.
“Heel moontlik nooit nie, want ek’s glad nie lus om iemand in ’n vliegtuig se toilet te vry nie. Dit lyk hoogs ongemaklik.”
Eers toe die woorde uit is, besef sy dat sy reguit in sy strik getrap het. Want hier, in dié luukse jet, is daar volop spasie en privaatheid. Hier is haar verskoning nie geldig nie.
Is dit waarom al die vensters toe is en Avia weg gestuur is? Het die man gedink hy gaan ’n wolkewoeps kry?
Maar hy bly aan sy vonkelwyn teug – die onskuld vanself. Dan draai hy na haar toe sodat hulle gesigte reg bymekaar is.
“Moenie bekommerd wees nie, ek stel nie voor dat ons seks het in die vliegtuig se toilet nie. Ook nie in die vliegtuig self nie, alhoewel die bank langs ons kan oopvou in ’n baie gemaklike dubbelbed.”
Sy lippe is verskriklik naby aan haar mond. Sy kan selfs nog sy soen van ’n ruk terug voel. Dan soen hy haar weer, maar dié keer meer innig, meer intiem.
Sy kan die soetbitter vonkelwyn op sy lippe proe, die hitte van sy tong. Dalk is dit die borrels, dalk die hoogte bo seespieël, maar sy voel lighoofdig en meteens baie lus vir hom.
Wat gaan aan met haar? Hoekom maak hy soveel drange in haar wakker?! Onthou jou belofte aan jouself, Marike. Leef. Waag. Wees wild. Vir één keer in jou lewe. Gebruik mans soos wat hulle jou gebruik.
Sy soen hom terug. Met oorgawe.
As hy haar uiteindelik ophou soen, glimlag hy breed.
“Ek dink jy is ’n vrou wat van uitdagings hou, so ek het ’n dare vir jou. Wat van ek maak jou ’n lid van die Mile High Club sonder dat ek aan jou raak?”