Tony Park en Johan Jooste gesels oor stropery: ‘Ons kon baie meer renosters in Afrika gehad het’

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
“As die res van Afrika die helfte, of selfs ’n tiende, gedoen het wat Suid-Afrika gedoen het om renosterstroping te bekamp, kon ons baie meer renosters en olifante op dié kontinent gehad het.”
Rhino Wars

“Ons kan almal baie krities wees oor ons regerings en wat gedoen word. Maar ons moet nooit uit die oog verloor wat wel gedoen is nie, veral as ons kyk na die omstandighede waaronder die natuurbewaarders werk, en dit wat hulle ervaar het in die stories wat hulle vertel.” 

So sê Tony Park. Hy is die medeskrywer van die onthullende boek Rhino War (Pan Macmillan, *R350) waarin afgetrede generaal-majoor Johan Jooste vertel van die “oorlog” wat teen renosterstropers gevoer word en die strategieë om renosterstroping in die Krugerwildtuin te bekamp.

Jooste is in 2012 deur dr. David Mabunda, toe uitvoerende hoofbeampte van Sanparke, genader om die bewaarderkorps van die Krugerwildtuin te konsolideer en te paramilitariseer in ’n poging om die stygende dodetal van renosters te stuit.

In daardie stadium was 618 renosters reeds doodgemaak, waarvan ongeveer die helfte in die Krugerwildtuin.

By die perskonferensie in 2012 waar Jooste aan die media voorgestel is, het hy beklemtoon hy is nie ’n Messias wat alleen die vloed van sterftes kan omkeer nie, maar dat sukses “depends on the collective collaboration and commitment from the men and women tasked with the responsibility of conserving our heritage” – bl. 20.

In die boek vertel hy ook van die aanvanklike teenkanting wat hy van die bewaarderkorps gekry het, hoe hy eers aan hulle moes bewys dat hy saam met hulle wil werk, want hy glo: “Our strength begins with our people” – bl. 39.

Jooste verduidelik dit was ’n massiewe uitdaging. “Ek is aangestel ses maande ná ’n uitgebreide staking van die hele bewaringskorps. Ek het ingestap op die uitval van daai staking, en het met ’n klomp probleme te doen gehad.

“Die veldwagters het nie logistieke ondersteuning gekry nie en daar was leiergroepe wat teensinnig was. Maar ek het die teorie van change management so goed geken, want vir die laaste tien jaar van my loopbaan in die weermag was ek daarby betrokke.

“Ek het nie tyd gehad om die teksboek te volg nie. Die dringendheid was daar en ek moes van die begin af hardloop. Dit was ’n geval van om alles gelyk te doen: Die projekte te begin, die mense aan my kant te kry, geldinsameling.

“Ek het van die begin af geglo in deursigtigheid. Of dit nou goed of sleg is, jy moet deursigtig bly. Dit was nie ’n gewildheidskompetisie nie.

“Saam met die deursigtigheid het aanvaarding, geloofwaardigheid en legitimiteit gekom en die leiers het gevoel hulle moet my ’n kans gee.”

Die boek lees soos ’n aksieverhaal en Park vertel nie bloot Jooste se verhaal en stippel strategieë uit nie. Hy gee kleur aan die gebeure deur ook die natuurbewaarders se stories in te sluit op ’n boeiende en eg menslike manier.

Hy en Jooste is deur ’n gemeenskaplike vriend wat in Australië woon aan mekaar voorgestel, waarvoor hy dankbaar is. Soos alle mense wat passievol oor die wildlewe van Suid-Afrika is, het hy Jooste se aanstelling van die begin af met groot belangstelling gevolg.

“Ek woon naby die Kruger, dis my agterplaas. As skrywer wou ek die ou graag ontmoet, net om hom te leer ken. Maar ek het nie gedink dis moontlik nie, omdat hy besig was om ’n oorlog te voer. So, toe Ray bel en sê Johan wil met my gesels, het ek ’n ‘fan boy’-oomblik gehad. Ek kon dit amper nie glo nie.”

Rhino Wars Johan Jooste Tony Park
Johan Jooste

Jooste vertel ’n boek was nie deel van sy planne nie, maar hy het tydens die Covid-grendeltyd notas gemaak, omdat hy van sy ervarings wou deel.

“My gedagte was eerder die maak van notas wat hulle by die kollege kan gebruik. Ek en Arina, my vrou, lees Tony se boeke, want dis altyd so goed nagevors. Niks is uit konteks nie. Een Sondag sê ek vir haar ek sal graag met Tony wil gesels, want ek kan hom baie tyd spaar met navorsing.

“Sy boeke bring begrip vir Afrika. Dis toe dat ek vir Ray vra om my in verbinding te sit met Tony. Toe het ons ge-Zoom en ge-Zoom en ge-Zoom en toe gaan bly ek ’n week by hom in Sabiepark.

“Ons liefde vir die bos en ons militêre agtergronde het gemaak dat ons die boek baie gemaklik saam kon skryf. Ek is net te bly Tony kon die storie vertel, want my manier van skryf sou niemand wou lees nie, dit sou lekker staccato wees.”

 
Rhino Wars Johan Jooste Tony Park
Tony Park

Tony het onmiddellik geweet daar is ’n storie om te vertel. “Wanneer ek ’n idee vir ’n verhaal kry, kry ek so ’n tinteling in my vingers. Toe Johan begin om sy storie te vertel, het ek daai gevoel gekry. Dit was nie nét ’n generaal se memoires nie, dit was ’n stórie.

“Hoe meer ek gehoor het, het ek geweet ons moet Pan Macmillan nader. Ek het al agt biografieë geskryf, maar het nog nooit saam met iemand gewerk wat so baie soos Johan voorberei het nie. Hy het ’n groot deel van sy verhaal in ’n ordelike, logiese manier geskryf.

“Een van ons eerste konsepte was dat ons die boek in hoofstukke sou verdeel volgens die relevante dele van die storie: wildbewaarders, stropers, tegnologie, veranderingsbestuur en lesse geleer. Maar ek het gou besef ek kan dit soos ’n roman aanpak. Met die skryf van niefiksie is dit beter om dit soos ’n roman te benader, want dan het jy die sleutelelemente van beskrywing, tydsverloop en dialoog. Ons wou lesers verplaas tot binne-in die deurslaggewende oomblikke en deel maak van die gebeure deur die veldwagters se ervarings. 

“Johan is baie nederig en dit kan moeilik wees vir ’n skrywer. Ek het geleer ‘show, don’t tell’. Met Johan was dit nie ’n geval van ‘ek het dit gedoen, ek het dat gedoen nie’. Ons het sy prestasies gewys deur die aksies van ander.

“Ons sien die veldwagters is beter opgelei en beter toegerus. Ons sien vooruitgang op die tegnologiese front. Alles is tot ’n groot mate deur Johan gedryf en dis beter vir my om dit deur ’n reeks staaltjies te wys. Op die manier kan die leser self aflei wie is aan die hoof van sake en wat word bereik.

“Johan moes my soms terughou sodat ek dit nie ’n Tony Park-roman met te veel aksie maak nie. Ons kon dit wat gebeur het ook nie nietig maak nie, want dit gaan oor die verlies van menselewens en van renosters.

“Ons moes respekvol wees teenoor die bewaarders, hul privaatheid en ook die stropers en die hele kwessie. Johan het my heeltyd daarop gewys dat ons nie die stropers die vyand noem nie, hulle is ons teenstanders.” 

Gewone besoekers aan die Krugerwildtuin dink nie aan die omstandighede waaronder die veldwagters moet werk nie, veral nie die wat op buiteposte is nie.

Johan: Ek praat van die donker kant van die Kruger en ons moes aan daai donker kant werk om die omstandighede te verbeter. Dit was onaanvaarbaar dat die mense nie ondersteun is soos hulle behoort te wees nie.

Uniforms was twee jaar laat, toe kry ons boonop uniforms wat ná drie wasse uitgewas is, en boonop lewer hulle toe kunsleerstewels af.

Arina het daardie eerste Kersfees saam met my al die buiteposte besoek. Terug by die huis het sy gesê dit kan nie so wees nie. ’n Veldwagtersbuitepos hoef nie ’n put te wees nie. Toe begin sy Project Relax, waardeur ons kyk dat ons in elke basis ’n booster insit.

Dan kan die veldwagter darem daarvandaan bel en satelliettelevisie opvang. Ons het gekyk na die kookgeriewe, selfs ’n jungle gym ingesit vir die kinders vir wanneer hulle vakansies daar is.

Later het sy hulle gehelp om groentetuine te begin. Sy het geld gaan soek vir daardie projek en die Kersbesoek het elke jaar ’n groot ding geword. “Ranger Wellness” het ek later as ’n formele plan opgeskryf. 

Julle skryf baie oor die posttraumatiese stres wat die veldwagters ervaar. Vertel meer.

Johan: Ons het vir Rethea Myburgh-Fincham, ’n sielkundige, aangestel om die bewaarders te help. Sy het so gewild onder hulle geword. Ons het ook ’n private maatskappy gekontrakteer om wanneer mense in kontak was vir hulle berading te kom doen in hul taal.

Advokaat Coert Jordaan is aangestel om na al die regsaspekte te kyk om vir die veldwagters regsondersteuning te gee. Elke keer met die dood van ’n stroper word die veldwagter ondersoek en ’n moorddossier geopen. Die stres wat dit bring, is erg.

Dink waardeur die veldwagter gaan: Hy is dikwels in lewensgevaar, in die middel van die nag in die veld. Al wat hy sien, is daai stroper se geweerloop wat blink.

Tweedens is daar die gevaar om vervolg te word as daai voorval plaasgevind het. Daarmee saam is daar die stres by die huis met verhoudings wat nie altyd lekker funksioneer nie.

Ook die kwaadgeit van die gemeenskap. Wanneer hy in die supermark in die plaaslike woonbuurt loop, is hy nie meer ’n held nie, hy is die villain. Dit was toksies.

Daarom is Project Relax en Project Embrace so belangrik. Met Project Embrace het ons van die ereveldwagters, welsynwerkers en sielkundiges in spanne gebruik om elke kwartaal met die mense te praat oor meganismes om al die probleme te hanteer.

Daai projekte duur vandag nog voort. Dis een van die belangrikste dinge, om die longevity van die mense te verseker, want die stres takel die mense af.

Uit die boek is dit duidelik dat Johan en Arina ’n verenigde front vorm. Wei uit hieroor asseblief.

Tony: As jy dink Johan is nederig, dan is Arina nog meer ekstreem. Sy is ’n quiet achiever. Sy werk steeds by ’n NRO ook. Ek moes hard aan al twee van hulle werk om oor hul prestasies en goeie dade te praat. Hulle is doeners, nie praters nie.

Arina doen so baie agter die skerms, maar sy verwag nooit enige aanprysing of dat daar aandag op haar gevestig word nie. Dit maak haar ongemaklik.

Johan: Van die 35 jaar wat ek in die weermag was, was Arina 30 jaar daarvan saam met my. In my tweede loopbaan het ek internasionaal gewerk en was tot drie keer ’n maand oorsee. Toe ek 60 was het ons vir die14de keer getrek.

Arina het haar werk by die NRO behou en moes pendel tussen die Kruger en haar werk. Sy kon alles hanteer, om twee huise aan die gang te hou, maar dat Jonty, haar hond nie saam Kruger toe kon verhuis nie – daaroor het sy lang trane gehuil.

Johan, vertel meer oor jou balanseertoertjie: Jy moes ’n span lei, die plan vir die pad vorentoe skryf en gaan soek na finansiering. Die plan wat jy geskryf het, het die tekortkoming aan tegnologie uitgewys wat julle nodig gehad het om die werk te doen. Ek kry die indruk jy het aan die deure van kontakte wat jy in jou tweede loopbaan gemaak het, gaan klop om te help.

Dit was ’n baie groot storie gewees. Ranger corps, stof op die skoene, karkasse . . . Toe verbeter ons die lugvleuel, die hondevleuel. Toe was daar nog nie tegnologie by nie. Daar was nie geld nie, ek moes daai geld gaan haal.

Dan vlieg ek Londen toe, Washington toe, maar eintlik het ek nie tyd om oorsee te gaan nie! Ek sit oorsee en sien daar is nog drie karkasse.

Ek kon my vaardighede gebruik om R400 miljoen te gaan mobiliseer met no strings attached.

Die Vredesparkstigting het mooi gehelp, sowel as die ereveldwagters. Maar nou sit jy met daai sak geld. Maar wie bestuur nou daardie projekte van miljoene rande? Dit was moerse moeilik. Die hantering van burokratiese rompslomp het onnodige stres gevat. 

Verduidelik die aanpassing van strategie om renosterwesies in die veld te red.

Tony: In die verlede is renosterkalfies in die veld gelos om op hul eie te probeer oorleef. Een van die bewaarders met wie ek gesels het, gehard maar getraumatiseerd deur konflik in die veld en deur die dooie renosters wat hy al gesien het, het vertel hy kon alles hanteer.

Wat hom gebreek het, was om die renosterwesies in die veld agter te laat.

Ons skryf in die boek hoe die bestuur van die wesies aangepas is, dat Johan-hulle eers gaan kyk het na The Rhino Orphanage en ervaar het hoe hard hierdie mense werk om die wesies te laat oorleef sodat hulle weer in die veld kan aanpas.

Net daar is besluit om die wesies soontoe te stuur en so het die renosterwesies ’n kans op oorlewing gekry. Daar is baie emosionele staaltjies in die boek van die bewaarders se interaksie met die wesies tydens reddingspogings wat jou werklik roer. 

Kan ons praat oor die honde wat ingespan word om stropers op te spoor.

Johan: Tony was baie slim om die storie van die honde op ’n emosionele manier te vertel, van die band wat tussen die hanteerder en die hond bestaan. Vat nou maar die bloedhond/dobermann-kruising met die naam Hitler.

Dié hond het met die onbenydenswaardige naam aangekom, maar hy wou net werk en sy hanteerder gelukkig hou. As Tony nie die staaltjies vertel het nie, was dit net ’n feitelike stelling van ja, ons het honde gebruik

Dit was aanvanklik nie so maklik om die honde in te bring nie, want ek moes eers die natuurbewaarders oortuig dat hulle ’n bydrae kan lewer. Dis baie ekstra werk vir die manne want die honde moet versorg word, gevoed word en opgelei word as ’n werkende span.

Tony: Hitler is ’n ongelooflike hond. Die spesifieke kruising van rasse het gesorg vir ’n hond met ’n uitstekende vermoë om ’n spoor te kan optel, maar hy loop regtig die ekstra myl, want hy kan intelligente besluite neem wanneer die stroper sy spore probeer verbloem.

Heelparty mense het ook uitgewys dat die gebruik van die honde in die park die risiko van die bewaarders en die stropers verklein. Dit help om skietgevegte te voorkom. Dit was regtig ’n game changer. 

Wat is die grootste les wat julle geleer het deur die boek?

Johan: My tyd in die Kruger het vir my die dertien beginsels van oorlog beklemtoon. Een daarvan is die keuse en handhawing van jou doel. Jy moet seker maak jy kies die regte doel en dat dit uitvoerbaar is. Daar is altyd ’n manier.

Tony: ’n Mens dink jy weet iets van renosterstroping, maar ek het geleer die omvang van die probleem was baie groter as wat ek gedink het. So is die omvang van die bewaarders se pogings ook baie groter as wat die meeste mense weet.

Vir my is dit ’n inspirerende storie om ’n leier soos Johan te kry wat ’n haglike situasie moes beredder en in ’n relatief kort tyd regtig ’n verskil gemaak het. 

*Prys onderhewig aan verandering sonder vooraf kennisgewing.

JONGSTE UITGAWE

Januarie/Februarie-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees