
In Strafjaart (Penguin, R270) deel ’n anonieme verteller sy ervaring van sy besoeke aan ’n familielid in die Pollsmoor-gevangenis asook sy aanraking met die mense rondom hom ... die bewaarders en ander mense wat familielede agter tralies kom besoek, maar ook die mense wat besig is met rehabilitasieprogramme in die tronk. Tussendeur vertel hy van sy navorsing oor skeepswrakke langs die kus van Afrika. Net soos hy ingetrek word by die gebeure rondom sy tronkbesoeke, raak jy gou ingetrek by die komplekse verhaal. Met van die karakters het jy intense medelye vir die omstandighede wat tot hul swaarkry gelei het. Ander laat jou koud oor hoe gewetenloos hulle die sirkel van geweld en misdaad voortsit, ten spyte van tweede kanse. Een van die temas wat Kemp in Strafjaart ondersoek, is juis die rehabilitasie van gevangenes en hoe baie meer gedoen kan word om vir hierdie mense tweede en selfs derde kanse te skep. Die verhaal laat jou lank nadink oor reg en geregtigheid.
Ek het met Theo Kemp gesels oor sy jongste boek, Strafjaart.
Hoeveel is fiksie en hoeveel gegrond op ware ervaring?
Dis moeilik om te sê presies wat wat is. Met Skool het ek verskriklik met die feite gewerk, terwyl ek met hierdie boek die navorsing vir later gelos het. En ek het my verbeelding meer vrye teuels gegee. Van die begin af het ek meer fiksionele elemente ingebring.
Wat was die sneller van die verhaal?
Ek het ná Skool lank gesukkel om weer te skryf. In ’n stadium het ek daar in Nkandla gaan rondkrap en gedink (lag) ek gaan daar iets beetkry, maar vinnig besef dis nie my storie om te vertel nie. Daar was niks wat regtig geresoneer het nie. Toe hoor ek van ’n familielid van my – ek en sy was eens baie close, maar het vervreemd geraak – wat in Pollsmoor is en ek het haar gaan besoek. Toe weet ek hier is ’n storie. Ons het mekaar in baie vreemde en tragiese omstandighede op ’n manier herontdek. Dit was die sneller. Maar ek kan nie net skryf nie. Ek beny nogal skrywers wat dit kan doen ... hoe jy met die voëlgesang in die oggend wakker word en dink hier gaan jy nou uit iets ’n storie skep. Ek kan nie so versin nie. Daar moet ’n raamwerk wees waarom ek kan bou en ek moet emosioneel in die ding ingetrek word.
Wat was die emosie wat jou ingetrek het in Strafjaart?
Eerstens die skok op ’n baie persoonlike vlak, die skaamte wat deur my gaan, die bevraagtekening van waar ek vandaan kom, die konflik met myself oor hoekom my familie beter sou wees as Pollsmoor, hoekom hulle nie verdien om gestraf te word soos ander mense nie. Maar ek was ook ongelooflik nuuskierig. Ek is deur Pollsmoor geprikkel die eerste oomblik wat ek by die bordjie “New Beginnings” verbygestap het. Hoe ironies, new beginnings. Dit was soort van, wat is hierdie? Ek vat jou selfoon af, ek vat alles van jou af, ek haal die oorbelle uit jou ore uit en ek gee vir jou ’n oranje oorpak en ek sê vir jou hier gaan jy bly. Ons sit jou in ’n plek in Tokai, wat aan die een kant hierdie gevestigde woonbuurt is en aan die ander kant uitspattige wynplase, en net oor die bult is die see. Die heeltyd kry jy te doen kry met die ontmensliking en die fisiekheid daarvan, waar jy letterlik sê ek straf jou met jou lyf.
Het jy al die
eerste keer wat jy by die tronk aangekom het, geweet jy gaan ’n storie maak van
jou ervarings?
My aanvanklike idee was net om my familielid te besoek. Ek het glad nie gedink ek gaan oor hulle skryf nie. Met “hulle” bedoel ek die bewaarders en die ander mense wat ek daar raakgesien het tot so ná die derde of vierde besoek. Dis toe dat ek besef het ek het die ongelooflike behoefte om elke ding wat ek raaksien, neer te skryf. Jy kan nie ’n diktafoon of ’n potlood inneem nie, maar dit het my geweldig baie gehelp. Jou hare staan in elk geval regop as jy daar instap. Jy is so ingestel, jou sintuie so ingeskerp, dis nie moeilik om goed te onthou nie. Later het dit ’n spel geword van hoeveel detail ek kan onthou. Al is jou besoektyd maar dertig minute, spandeer jy ure aanneen daar. Die wag ... ek het baie gelees oor wasted time, die hele idee van wat jy doen met die tyd wat jy mors, maar wat jy eintlik nie mors nie. Ek klim nou in my kar en ry soontoe en dan gaan staan ek daar vir ure. Dis so ’n nuuskierige ledigheid en daai maak vir ’n interessante potjie.
Ná ’n paar besoeke het ek besef hier begin goed my interesseer, want nou ken ek ook al lekker die mense. Ons wag almal in die rye en mense begin vra hoe dit met daai een gaan. In die begin wou ek net wegkruip, maar later het ons begin gesels.
Het jy ’n basiese medemenslikheid ervaar wat julle aan mekaar verbind, een wat uit gedeelde smart spruit?
Ja. Dit was ’n interessante ervaring. Ek kom uit my bevoorregte omgewing, in die konteks van die mense wat daar is. Dan besef jy daardie mense se ervaring, gesien van waar hulle vandaan kom, is totaal anders. Om in ’n ry te wag is ’n schlepp. Jy moet tyd van die werk afvat. Dis ’n hele gedoente. So ek kan nie nog skaam wees of skuldig voel ook nie. Nog ’n sneller vir die boek was dat ek in daardie stadium die fourties gestrike het en die chemiese goedjies wou nie so lekker werk nie, en alles was so vreemd. Dit was ’n vreemde oorgang. Dit was ’n genaeltjiekykery van waar ek nou is, wat ek bereik het en waarheen ek op pad is. ’n Moerse eksistensiële krisis.
Is die navorser
in die verhaal se eksistensiële krisis gegrond op jou eie lewenservaring?
Ja. Dit was ook daardie konfrontasie van: Mag ek deur ’n eksistensiële krisis gaan as ander mense nie weet waar hulle hul taxigeld vandaan gaan kry om hul mense in die tronk te kom besoek nie? Ek weet my R10 is nie jou R10 nie, maar steeds. Jy voel so half ellendig skaam. Hoe durf jy depressief wees in ’n land waar mense regtig depressief is en dit nie eens weet nie? Ek wou vir die verteller uit sy eie omgewing teenvoeters daarvoor skep. Anders raak dit soos om te sê jy mag nie swaarkry nie, want mense in Afrika gaan dood. Ek wou nie in daardie cliché verval nie. Maar ek het my voorgeneem ek gaan nooit weer in ’n volgende boek vloek nie en ek gaan ook nie swaarkry nie.
In die boek verwys jy bloot na die navorser as “die navorser”. Jy gee hom nie ’n naam nie en sy vrou noem jy M. Waarom die anonimiteit?
Met Skool het ek pertinent my naam gebruik. Ek wou dit nie weer doen nie, want dan moes ek sy storie aanhou vertel van waar ek hom gelos het en hoe hy tot hier kom. En hierdie is nie my memoires nie. Ek wou dit meer oopmaak. Hoewel die navorser heeltemal in die storie is en sy gedagtegang die storie bepaal, wou ek hom ’n bietjie uitkry. Ek wou die gevoel skep dat hy amper soos ’n waarnemer is van alles wat hy ervaar, maar met al die hangups van ’n Afrikaanssprekende man wat dink hy is moerse verlig, maar eintlik is hy glad nie. Eintlik vrek hy van sy eie naïwiteit en tekortkominge. Toe ek sy vrou skep, toe dink ek sy moet darem seker ’n naam hê. Dit was eintlik ’n hebbelikheid om haar M te noem. Ek het gedink so kan ek op ’n ander manier hou by die waarheid, maar ’n bietjie misterie en nuuskierigheid rondom hulle skep.
Die navorser
is besig met ’n skripsie oor skepe wat aan die Suid-Afrikaanse kus verdwyn het.
Waarom dit as basisstruktuur inbring in die verhaal?
Ek werk in die stad en die berg is voor my kantoorvenster. En agter die berg is die see, die enorme ding, en jy kan nie loskom daarvan nie. Elke keer as ek in die windverwaaide Pollsmoor staan, ruik jy die sout en jy weet die see is weer eens net agter daai Kalkbaaibergie. Toe het ek besef mense is drenkelinge en hulle word meegesleur. Dis geweld en jy kom uit daai stroom van geweld en jy spoel elke keer maar weer in Pollsmoor uit. Dis regtig moeilik om daaruit te breek. In kontras daarmee wou ek die verteller iets laat doen wat amper onbenullig is. Die inligting wat hy versamel, hy doen dit net vir sy eie pretensieuse plesiertjies. Soos wat die verhaal ontwikkel het, kom die hele tematiek van waar ons met die skepe hier aangekom het. Jy dink die koloniale gesprek is verby, maar ons het nog nie regtig begin daarmee nie.
Hoe het jy
die navorsing vir die verhaal aangepak?
Ek het nie presies geweet waaroor ek navorsing moet doen nie. Ek wou nie soseer oor die korrektiewe dienste navorsing doen nie omdat die menslike aspek van die storie so sterk is. Toe ek deur ’n paar drafts is, het ’n paar goed my begin interesseer, soos die geskiedenis van die skeepswrakke. Ek het ook ongelooflik baie gelees oor restorative justice en hoe dit werk tussen individue en gemeenskappe en hoe jy dit kan genees. Hoe dit werk elders in die wêreld en hoe ver Europa ons op die gebied vooruit is. Ek wou nie tronke aanvat in die verhaal nie, ons almal weet hoe haglik die situasie daar is. Tronke in Suid-Afrika word nie gesien as plekke van rehabilitasie nie.
Jy vertel in Strafjaart van Wilson, wat by rehabilitasie in Pollsmoor betrokke is en glo dit kan werk.
Ja, want dit het vir hom gewerk. Toe ek hom ontmoet – hy is ’n werklike mens – toe kry ek uiteindelik my storie van hoop. Ek het na ’n paar van sy byeenkomste in die tronk gegaan. Sulke mense is vir my die onwaarskynlike helde. Wilson het my laat glo mense verdien tweede en derde en vierde kanse, totdat daar weer ’n moord in jou gemeenskap plaasvind. Dan voel jy weer as iemand ’n lewe geneem het, verdien hy nie nog ’n kans nie. Die moordenaar moet eerder in die openbaar tereggestel word. Jy kry amper so ’n primitiewe woede, ’n vergeldingsdrang.
Op bl. 220 sê Sydney: “Almal in Pollsmoor het ’n storie”, en dan gaan hy aan om te praat oor pa’s ... Dis ’n sterk stelling om te maak, dat die afwesige pa bydra tot die geweld.
Dit is, maar dit was vir my absoluut tasbaar oral. Soos wat ek bewus was van die lyflikheid van mense wat agter glas is, was ek bewus daarvan. Al wat ’n gesprek is wat deurkom, is van die afwesige pa. Dit gil. Ek dink daar is nogal ’n studie te maak van die afwesige pa teenoor die afwesige ma, want daar is nogal vir my ’n verband. Ook in die familielid se omstandighede in die verhaal, ja, die ma was wreed en sy het opgeneuk, maar die impak van die pa se afwesigheid, om nie te weet wat van hom geword het nie ... Daar is nie teenwoordigheid nie, daar is nie afsluiting nie, en dit het ’n groter impak. Die stilte is erger as die matriarg se vergrype.
Wat is die
belangrikste ding wat jy geleer het uit die skryf van die boek?
Wat ek hier geleer het, wat ek nie geleer het met Skool nie, was totale empatie, soveel so dat dit vir my amper oorweldigend is. Ek dink ek judge minder, want as jy kinders het soos ek nou, sien jy almal, of hulle skurke is en of hulle dobberend is of wat ook al, dis iemand se kind. Dit klink so cheesy. Die ander ding wat ek geleer het, is ons moet maar almal in ’n ry gaan staan en ’n bietjie gesels. Ek wens ons kan meer tyd inrig vir wasted time, om te gesels met vreemdelinge. Ek het besef ons is nie goeie getuies vir mekaar nie. Ons luister nie, ons gee nie eintlik om nie. As jy so gedwing word om stil te bly, dan hoor jy wat die antie sê van hoe maak jy roti en jy luister na haar resep vir kerrie. Dit hoef nie alles hartverskeurend te wees nie. Dis alledaagse doodmenslike goed.