UITTREKSEL: Ma se skok, haar kind is die skoolskieter

akkreditasie
’n Ma se lewe het onherroeplik verander, nadat dit haar seun net negentien minute gevat het om tien mense af te maai in ’n skoolskietery.

Die 17-jarige Peter Houghton van die dorpie Sterling in Amerika het een oggend finaal geknak ná jare se boeliery deur mede-skoliere en ander inwoners van sy tuisdorp. Omdat hy kunstig en sensitief was, het die ander kinders reeds van kleins af op hom gepik. Lucy, sy ma, het hom probeer help en emosioneel sterker maak om hierdie aanslagte af te weer. Maar ’n ouer kan ook net soveel doen.

In Negentien minute plaas Jodi Picoult skoolskietery in die kollig. Sy ondersoek die faktore wat aanleiding kan gee tot dié drastiese aksie deur ’n tiener. Wat was die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het? Hoe het die dorp en sy inwoners bygedra daartoe dat ’n liefdvolle jong seun vir negentien minute in ’n monster verander? Picoult vertel die verhaal nie net uit Peter se oogpunt nie, maar ook uit die van sy ma, Lucy. Die gebeure wat in die hofsaal afspeel, beklemtoon die lang aanloop wat bygedra het tot die afgryslike skietery. En watter komplekse faktore almal ’n rol speel.

Lees hieronder ’n uittreksel uit Negentien Minute deur Jodi Picoult (Jonathan Ball, R220) wat deur Daniel Hugo in Afrikaans vertaal is.

Jodi Picoult FOTO Verskaf

Lacy het spesiaal vir haar seun aangetrek. Al is dit amper vyf-en-tagtig grade Fahrenheit buite, dra sy ’n truitjie wat sy uit ’n boks op die solder gedelwe het – ’n pienk Angora-een wat Peter so graag gestreel het toe hy klein was, asof dit ’n katjie was. Om haar pols is ’n armband wat Peter vir haar gemaak het toe hy in graad vier was, gemaak van klein stukkies tydskrifpapier wat hy in helderkleurige kraletjies gerol het. Sy dra ’n romp met ’n grys motief waarvoor Peter eenkeer gelag het. Hy het gesê dit lyk soos ’n rekenaar se moederbord. Haar hare is netjies gevleg, want sy onthou hoe die vlegsel deur Peter se gesig gevee het toe sy hom die laaste keer naggesoen het.

Sy’t haarself belowe: maak nie saak hoe moeilik dit alles word nie, maak nie saak hoe al hierdie vrae haar hart breek nie, sy gaan nie haar oë van Peter afhaal nie. Vir haar sal hy wees soos die foto’s van wit strande wat ma’s wat geboorte moet skenk soms saam hospitaal toe bring as fokuspunt. Sy gesig sal haar dwing om te konsentreer, selfs al is haar pols onreëlmatig en haar hartklop oneweredig. Sy sal vir Peter wys dat daar steeds iemand is wat onwrikbaar oor hom waghou.

Toe Jordan McAfee haar na die getuiebank roep, gebeur die eienaardigste ding. Sy loop die hofsaal binne saam met die hofordonnans, maar in plaas daarvan om na die kleinerige houtbalkon te stap waarin getuies sit, beweeg haar liggaam uit sy eie in die ander rigting. Diana Leven weet waarheen sy op pad is voordat Lacy dit self besef. Sy staan op om beswaar te maak, maar besluit dan daarteen. Lacy gee vinnige treë, haar arms plat teen haar sye, tot voor die verdedigingsbank. Sy kniel langs Peter sodat sy gesig die enigste ding in haar gesigsveld is. Toe steek sy haar linkerhand uit en raak aan sy gesig.

Sy vel is nog steeds so glad soos ’n kind s’n, warm onder haar aanraking. Toe sy haar handpalm om sy wang vou, vee sy ooghare oor haar duim. Sy het haar seun tot dusver gereeld in

die tronk besoek, maar daar was nog altyd ’n rooi streep tussen hulle. Dit – die gevoel van haar kind onder haar hande, lewend en werklik – is die soort geskenk wat jy elke nou en dan uit sy boksie moet haal en in die lig hou, jou daarin verlustig sodat jy nie vergeet dis nog steeds jou eiendom nie. Lacy onthou die oomblik toe Peter die eerste keer in haar arms gesit is, steeds taai van verniks en bloed; sy rou, oop mond – rond vanweë sy eerste skree; sy arms en bene oopgesprei in hierdie skielike, oneindige ruimte. Sy leun vooroor en doen nou dit wat sy die eerste keer gedoen het toe sy haar seun ontmoet het: maak haar oë toe, stuur ’n gebed Boontoe en soen sy voorkop.

’n Hofordonnans raak aan haar skouer. “Mevrou,” begin hy.

Lacy skud sy hand van haar af en staan op. Sy loop na die getuiebank en maak die hekkie se grendel oop, laat haarself binne.

Jordan McAfee loop na haar met ’n boks sneesdoekies in sy hand. Hy draai sy rug na die jurie sodat hulle hom nie kan sien praat nie. “Is jy oukei?” fluister hy. Lacy knik en kyk na Peter, haar glimlag soos ’n offer wat sy bring.

“U naam vir die rekord, asseblief?” vra Jordan.

“Lacy Houghton.”

“Waar woon u?”

“Goldenrodlaan 1616, Sterling, New Hampshire.”

“Wie woon saam met u?”

“My man, Lewis,” sê Lacy. “En my seun, Peter.”

“Het u ander kinders, mevrou Houghton?”

“Ek het ’n seun, Joseph, gehad. Maar ’n dronkbestuurder het hom verlede jaar doodgemaak.”

“Kan u vir ons sê wanneer u die eerste keer op 6 Maart bewus geword het dat daar iets by die Hoërskool Sterling gebeur het?”

“Ek was oornag op roep by die hospitaal. Ek is ’n vroedvrou. Nadat ek daardie oggend ’n baba in die lewe gebring het, het ek na die verpleegsterstoonbank gegaan en almal het by die radio gestaan. Daar was ’n ontploffing by die hoërskool.”

“Wat het u gedoen toe u dit hoor?”

“Ek het iemand gevra om vir my in te staan en skool toe gery. Ek wou seker maak dat Peter oukei is.”

“Hoe het Peter gewoonlik by die skool gekom?”

“Hy bestuur,” sê Lacy. “Hy het ’n motor.”

“Mevrou Houghton, vertel my van u verhouding met Peter.”

Lacy glimlag. “Hy’s my baba. Ek het twee seuns gehad, maar Peter was die stiller een, sensitiewer. Hy het altyd ’n bietjie meer aanmoediging nodig gehad.”

“Was julle twee na aan mekaar toe hy grootgeword het?”

“Absoluut.”

“Hoe was Peter se verhouding met sy broer?”

“Dit was goed …”

“En met sy pa?”

Lacy antwoord nie dadelik nie. Sy voel Lewis se teenwoordigheid in die vertrek aan asof hy langs haar staan, en sy dink aan hom toe hy in die reën deur die begraafplaas geloop het. “Ek dink Lewis het ’n hegter band met Joey gehad, terwyl ek en Peter meer gemeen het.”

“Het Peter jou ooit vertel van die probleme wat hy met ander kinders het?”

“Ja.”

“Beswaar,” sê die staatsaanklaer. “Hoorsê.”

“Ek gaan dit vir eers toelaat,” antwoord die regter. “Maar wees versigtig met die rigting wat u inslaan, meneer McAfee.”

Jordan draai weer na haar. “Waarom dink u het Peter probleme met daardie kinders gehad?”

“Daar is op hom gepik omdat hy nie soos hulle is nie. Hy is nie baie atleties nie. Hy het nie daarvan gehou om polisie-en-dief te speel nie. Hy is kunstig en skeppend, ’n denker, en kinders het hom daaroor gespot.”

“Wat het u daaraan gedoen?”

“Ek het probeer om hom sterker te maak,” erken Lacy. Terwyl sy praat, rig sy haar woorde aan Peter en hoop hy hoor dat sy hom om verskoning vra. “Wat doen enige ma wanneer sy sien haar kind word deur ander geterg? Ek het vir Peter vertel ek is lief vir hom, dat kinders soos daardie niks weet nie. Ek het vir hom gesê hy is wonderlik en meelewend, goedhartig en slim, al die dinge wat ons as volwassenes wil wees. Ek het geweet dat al die eienskappe waarvoor hy gespot is op die ouderdom van vyf, in sy guns gaan tel teen die tyd dat hy vyf-en-dertig is. Maar ek kon hom dit nie oornag laat glo nie. Jy kan nie jou kind se lewe vinniger vorentoe draai nie, maak nie saak hoe graag jy dit wil doen nie.”

“Wanneer het Peter met hoërskool begin, mevrou Houghton?”

“In die herfs van 2004.”

“Is daar toe steeds op Peter gepik?”

“Erger as ooit,” antwoord Lacy. “Ek het selfs sy broer gevra om ’n ogie oor hom te hou.”

Jordan loop na haar. “Vertel my ’n bietjie meer oor Joey.”

“Almal het van Joey gehou. Hy was slim, ’n uitstekende atleet. Hy was net so gemaklik tussen volwassenes as tussen kinders van sy eie ouderdom. Hy … wel, hy was suksesvol in alles.”

“U was seker baie trots op hom.”

“Ek was. Maar ek dink dat, as gevolg van Joey, onderwysers en leerders ’n sekere idee in hul kop gehad het oor ’n Houghton-seun, selfs nog voordat Peter daar begin het. En toe hy uiteindelik daar kom en mense besef hy’s nie soos Joey nie, het dit dinge net slegter vir hom gemaak.” Sy sien hoe Peter se gesig verander terwyl sy praat, soos ’n seisoensverandering. Waarom het sy nie voorheen, toe sy die tyd gehad het, vir Peter vertel dat sy verstaan nie? Dat sy weet Joey gooi só ’n groot skaduwee dat dit vir hom moeilik is om sonlig te vind?

“Hoe oud was Peter toe Joey gesterf het?”

“Dit was aan die einde van sy tweede jaar op hoërskool.”

“Dit was seker verskriklik vir die gesin?”

“Dit was.”

“Wat het u gedoen om Peter met sy hartseer te help?”

Lacy kyk af na haar skoot. “Ek was in geen toestand om Peter te help nie. Dit was vir my moeilik om myself te help.”

“En u man? Was hy toe ’n steunpilaar vir Peter?”

“Ek dink ons albei het net probeer om elke dag te oorleef … Peter was eintlik die een wat die gesin bymekaar gehou het.”

“Mevrou Houghton, het Peter ooit vir u gesê hy wil mense by die skool seermaak?”

Lacy se keel voel of dit wil toetrek. “Nee.”

“Het u ooit enigiets in Peter se persoonlikheid gesien wat u laat glo het hy is tot so ’n daad in staat?”

“Wanneer jy in jou baba se oë kyk,” sê Lacy sag, “sien jy alles wat jy hoop hy kán wees … nie alles wat jy wens hy nié gaan word nie.”

“Het u ooit enige planne of notas gevind wat daarop gedui het dat Peter dié gebeurtenis beplan?”

’n Traan loop oor haar wang. “Nee.”

Jordan praat effens sagter. “Het u daarvoor gesoek, mevrou Houghton?”

Sy dink terug aan die dag toe sy Joey se lessenaar skoongemaak het. Hoe sy oor die toilet gebuk het en die dwelms weggespoel het wat sy in sy laai gevind het.

“Nee,” erken Lacy. “Ek het nie. Ek het gedink ek help hom. Ná Joey se dood was al wat ek wou doen, om Peter naby my te hou. Ek wou nie sy privaatheid skend nie. Ek wou nie met hom baklei nie. Ek wou nie hê enigiemand anders moet hom seermaak nie. Ek wou net hê hy moet vir ewig ’n kind bly.” Sy kyk op en begin harder huil. “Maar jy kan dit nie doen as jy ’n ouer is nie, want deel van jou werk as ouer is om hom toe te laat om groot te word.”

Daar is ’n geraas in die galery toe ’n man in die agterste ry opstaan en amper ’n televisiekamera omstamp. Lacy het hom nog nooit vantevore gesien nie. Hy het yl swart hare en ’n snor en sy oë spoeg vuur. “Raai wat,” tuimel die woorde by sy mond uit: “My dogter Maddie gaan nooit grootword nie.” Hy wys na ’n vrou langs hom en dan na een verder in die ry af. “Ook nie háár dogter nie. Of sý seun nie. Jou verdomde teef. As jy jóú werk beter gedoen het, kon ek steeds mý werk gedoen het.”

Die regter slaan met sy hamer op sy bank. “Meneer,” sê hy. “Meneer, ek moet u vra om …”

“Jou seun is ’n monster. Hy is ’n fokken monster!” skree die man, terwyl twee ordonnanse op hom afpyl, hom onder die arms gryp en by die hof uitsleep.

Lacy was eenkeer teenwoordig by die geboorte van ’n baba wat met net die helfte van haar hart gebore is. Die gesin het geweet dat hulle kind nie gaan bly lewe nie. Hulle het verkies om voort te gaan met die swangerskap in die hoop dat hulle net ’n paar oomblikke op hierdie aarde saam met haar sal kan deurbring voordat sy vir ewig weggaan. Lacy het in die hoek van die kamer gestaan terwyl die ouers hul dogter vashou. Sy het nie na hulle gesigte gekyk nie. Sy kon dit net nie doen nie. In plaas daarvan het sy op die mediese behoeftes van die pasgeborene gefokus. Sy het gekyk hoe die baba, stil en ysblou, een vuisie in stadige aksie beweeg, soos ’n astronout in die ruimte. Toe, een vir een, strek sy haar vingertjies en laat gaan.

Lacy dink aan daardie miniatuurhandjies, aan die wegglip. Sy draai haar na Peter. Ek is so jammer, vorm haar mond. Toe sit sy haar hande voor haar gesig en huil hartverskeurend.

JONGSTE UITGAWE

Januarie/Februarie-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees