Uittreksel: Ware spookverhale van Suid-Afrika

akkreditasie
Suid-Afrika het ’n ryk geskiedenis aan die vertel van spookstories. Ek onthou maar te goed hoe ek as kind aan die vertellers se lippe gehang het. Net om bewend my kop onder die komberse weg te steek en te hoop daai spook kom besoek my nie daardie nag nie.
 inspirasie, woorde

My herinneringe aan opgemaakte spookstories is ruig, maar toe ek Daniël Lötter se boek, Ware spookverhale van Suid-Afrika (Protea Boekhuis, R250) onder oë kry, het ek besef baie van die stories wat so vir my vertel is, was nie opgemaak nie. Ooms, tantes en niggies en neefs het bloot die ou spookstories wat hulle seker op hul beurt as kinders gehoor het, oorvertel. Lötter skryf in die voorwoord Afrikaans hoef vir geen taal ter wêreld terug te staan nie as dit kom by vry, swets en spookstories vertel. "Spookstories is so deel van ons tradisie en herkoms, onder al Suid-Afrika se gemeenskappe en kulture, dat die beste pogings van ons verligte tye om hulle te verdryf, nie slaag nie." Hieroor is ek so bly, en meer nog oor die lekkerlees boek wat sorg dat die tradisie voortleef. Hy speur dié stories van die vroegste een af na en skryf waar dit vandaan kom. Die verhale is volgens tema ingedeel en maak dit maklik om te blaai na die afdeling wat jy volgens jou nuuskierigheid eerste wil besoek. Daar is verskynsels soos verjaardagspoke, spookmotors, voorbodes, sieners, saampraatspoke en nog meer.  

Lees hieronder ’n uittreksel oor spookhonde.

Spookhonde

Uit die ryke verskeidenheid van die diereryk, waarmee die mensdom al soveel duisende jare saamleef, is daar een met wie hy ’n onlosmaaklike band gevorm het: sy “beste vriend”, volgens die ou gesegde. Geen wonder nie dat die dier wat die meeste in spookstories opduik, juis die hond is nie. Daar is tientalle voorbeelde van legendes en kriewelhaar-vertellings kruis en dwars oor die wêreld oor hierdie verskynsel. In Suid-Afrika het ons ’n hele boel.    

Die hond van die Lange Kloof

Die Kransfonteinpad naby Joubertina in die Suid-Kaap het ’n wolhaarhond wat sedert 1938 aan menige mens verskyn het. Dié pad draai noord uit die R62 net voor die brug oor die Waboomsrivier, sowat ’n kilometer wes van die dorp af, en knap 6 kilometer verder loop dit deur ’n spruit, wat Jasfontein heet. Hier het honderd jaar gelede ’n veepos gestaan waarvan die laaste oorblyfsels skaars nog sigbaar is. Die veewagters het lankal verhuis, die kraal is vervalle en die skuiling is nou nog net ’n paar opgestapelde klippe. Dis net die hond wat nog waghou.

Op ’n herfsaand in 1938 is ’n boerseun van die kontrei met sy fiets hierlangs op pad. Die dinamo aan die agterwiel verskaf ’n flou ligstraaltjie, net genoeg om die pad voor die fiets uit te maak. Totdat dit in die steilte op pad na die laagwaterbruggie oor Jasfontein skielik doodgaan. Ongeveer honderd tree vorentoe skyn meteens ’n paar oomblikke lank ’n bol gloeiende lig. Die jong man bring die fiets tot stilstand en klim af. Skielik staan daar vlak voor hom ’n uitgegroeide wolhaarhond wat glimmend in die maanskyn met sy nekhare orent na die fietsryer staar.

Dadelik spring die seun terug op sy fiets en trap so al wat hy kan terug in die rigting waarvandaan hy gekom het. Agter hom hoor hy die hond hyg en telkens wanneer hy oor sy skouer kyk, is die dier vlak agter hom.

Skaars 800 meter verder gaan die lig van sy fiets opeens vanself weer aan en word dit doodstil agter hom. Die seun strompel 20 minute later natgesweet, uitasem en bewend by die naaste huis in, waar die ou tante hom met soet koffie lawe en slaapplek vir die nag bied.

??

Oom Freddie Kritzinger, sy vrou en dié se suster ry ’n tyd daarna van die plaasskool op Onser met die Kransfonteinpad terug Joubertina toe. Van die fietsryer se ervaring weet hy niks. ’n Paar kilometer van Jasfontein af gaan die motor se ligte meteens dood. Oom Freddie klim uit en maak die enjinkap oop. Hy buk oor die enjin om aan die elektriese drade te woel toe sy vrou haar kop by die venster uitsteek. “Daar kom ’n ander ryding aan,” sê sy. Oom Freddie draai om. Op die hoogte anderkant die spruit is ’n helder, gloeiende lig wat stadig nader kom. Nou klim sy skoonsuster ook uit en saam wag die twee op die aankomende motor.

En daar verdwyn die lig.

“Waar’s hy dan nou heen?” mompel oom Freddie nog, maar toe gee sy skoonsuster ’n angsgil en spring terug in die motor. Skaars tien tree van die motor af staan ’n yslike, glimmende hond met hare wat in koekerige toutjies van sy lyf afhang en twee oë wat venynig rooi gloei. Sonder omhaal spring oom Freddie agter die stuurwiel in en trap die lepel – ligte ofte not. Minder as ’n kilometer verder begin die ligte vanself brand en haal die Kritzingers Joubertina veilig.

Die volgende oggend neem oom Freddie die motor na die werkwinkel om die bedrading te laat nagaan. Daar is absoluut niks fout met die motor se ligte nie en nooit daarna het hulle ooit weer probleme gegee nie.

Rocky  

Die Brits-gesin woon in die middel sewentigerjare in ’n gerieflike, sonnige huis op ’n kleinhoewe 8 kilometer buite Pietersburg. Die voordeur na die toegeboude sonstoep is ’n dubbeldeur van glasruite in ’n ysterraam. Dis op dié stoep dat die Britse hul twee troeteldiere hou. In die een hoek, op ’n dwarspaaltjie, sit ’n makgemaakte witborskraai, Karools. Wanneer besoekers aanklop, is dit Karools wat normaalweg vriendelik groet met “more-more” en dan ’n lang fluitgeluid maak, soos hy aangeleer het by die treine wat hier naby verbyloop.

Karools se ander groot plesier is om te blaf, en dit dryf die ander troeteldier tot raserny. Rocky is ’n oorgewig Corgi met ’n genadelose humeur. Hy haat Karools en van vreemdelinge hou hy niks. Kom mense kuier, moet Rocky eers toegemaak word, want die kuite van enigeen wat dit te naby waag, byt hy dat die bloed spat.

Ná die befoeterde kortbeen se dood van ouderdom is dit ’n aardige ondervinding om te hoor hoe Karools sy blaf perfek naboots.

Een nag skuins ná middernag, meer as ’n jaar ná Rocky se heengaan, skrik mev. Brits wakker van glas wat iewers breek. Die volgende oomblik begin die histeriese geblaf op die sonstoep. Sy skud haar man wakker. “Ek dink daar is ’n inbreker. Hoor hoe blaf Karools.”

Die geblaf is nou oorverdowend en word afgewissel met ’n woedende gegrom wat hulle nog nooit by Karools gehoor het nie.

“Luister daar,” fluister mnr. Brits terwyl hy sy pantoffels aantrek. “Daar is twee honde wat blaf.”

Bo die geblaf en gegrom is die geluid van ’n tweede hond duidelik hoorbaar. En toe die pynkreet, gevolg deur voetstappe wat weghardloop oor die plaveisel voor die huis.

Sonder omhaal bel mev. Brits die polisie, wat spoedig opdaag.

“Julle kan dankbaar wees dat julle ’n goeie hond het,” sê die konstabel. “Hierdie ou wou julle seergemaak het. Kyk, hier het hy die glas langs die deurknop uitgeslaan. En hier onder is die glas gebreek waar die hond deur is.”

“Ons het nie ’n hond nie, Konstabel,” antwoord mev. Brits.

“Die glasstukke waar die inbreker die ruit gebreek het, lê aan die binnekant, Mevrou. En die glasstukke waar die hond deur die ruit is, lê aan die buitekant. En kyk hier, hier is oral bloedspatsels op kuithoogte teen die buitemuur. En dit,” sê hy en buk om iets op te tel, “lyk vir my na ’n stuk wat uit die broekspyp van ’n ou gaberdienbroek geskeur is. Daar is ook bloed aan. Nee, Mevrou, hierdie inbreker is beslis verjaag deur ’n hond wat van binne gekom en hom reg aan die kuit beetgekry het!”  

Die hond van Bulwer

Bulwer is ’n verlate, skilderagtige dorpie in die voorheuwels van die Drakensberge. Die hotel en die plaaslike watergat is omtrent al rede waarom die besoeker hier aandoen. Dis nietemin ’n pragtige omgewing met vriendelike mense, soos die antropoloog Frans Prins dit ook tydens sy besoek in 2009 ervaar. Hy is op die spoor van ’n ou Zoeloesangoma met wie hy wil gesels oor die tradisie van die geeste van die Boesmanvoorvaders.

Dit is laatmiddag toe hy vinnig op Bulwer stilhou om iets te eet, ’n koeldrank te koop en dan in die pad te val Howick toe. Die son is net mooi onder toe hy dorpuit ry en koers kies in die rigting van Boston.

Sowat 18 kilometer van Bulwer af begin die pad afsak na die vallei van die Umkomaas, en hier raak die pad gevaarlik. Dit is smal en steil met skerp draaie sodat dit moeilik is om enige aankomende voertuig te gewaar. Frans ry so vinnig hy kan op die verraderlike pad.

Meteens, toe hy om ’n draai ry, staan ’n uitgegroeide geelbruin Zoeloehond met spits ore reg voor hom in die pad. Vol verwagting staar die hond die aankomende motor aan, asof hy wag vir iemand om hom daar te kry.

Frans besef dadelik dat dit doodsake sal wees om nou rem te trap. Van uitswaai is daar ook geen sprake nie; daarom staal hy hom vir die onvermydelike slag.

Niks gebeur nie, behalwe ’n ysige koue wat deur die motor trek en ’n eienaardige hol kol op sy maag. Frans klim uit en begin om die motor soek. Daar is geen teken van die hond nie. Hy staan nog ’n oomblik of wat om tot verhaal te kom, en toe buk hy by die motor, neem sy selfoon en bel sy gasvrou op Howick, Sian Hall. Sy vra waar hy hom bevind, en dadelik werk die twee uit dat dit nog omtrent 40 minute Howick toe is. Hulle lui af. Frans klim terug in die motor.

Presies vyf minute later hou hy voor Sian se huis op Howick stil. Dis vir haar totaal onbegryplik. Die tyd van die oproep is duidelik op haar selfoon te sien en die kombuishorlosie wys dat daar niks meer as 5 minute verloop het nie!

Frans het niks ongewoons opgemerk nie. Vir hom het die rit, wat hy al telkemale afgelê het, doodnormaal voorgekom. Hy het geen verduideliking daarvoor dat sy 40 minute alles in Sian se 5 minute ingepas het nie. En nog minder kan enigeen van die twee verklaar wat die vreemde hond daarmee te make het.

Al gevolgtrekking is dat die een of ander vreemde tydglip plaasgevind het en dat die hond nie ’n spookgedaante was nie, maar ’n werklike dier uit ’n ander tydsgewrig, waarin Frans en sy motor ’n paar oomblikke lank was, ’n gewrig waarin die tydsverloop soveel anders as in ons s’n is dat die verdere verloop van die reis ook deurmekaargeraak het.

 

JONGSTE UITGAWE

NOVEMBER/DESEMBER 2021

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees