Deel

Van begrafnistoebroodjies tot karwagte: Dís hoekom 56 skrywers SA kies

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
‘Hierdie land: Daar is iets aan Suid-Afrika – 56 skrywers vertel’ met ’n voorwoord deur Nicol Stassen bestaan uit kort sketse en enkele gedigte.

‘Hierdie land: Daar is iets aan Suid-Afrika – 56 skrywers vertel’ (Protea Boekwinkel, *R295)

hartland

Die bydraes is werklik uiteenlopend en sal verskillende emosies by die leser ontlok. Tog troos dié boek en maak elke skrywer se woorde jou hart warm. Al weet ’n mens daar lê vir elke Suid-Afrikaner in dié land ’n uitdagende pad voor.

Riana Scheepers is ’n Boogskutter en is dus ook ’n ewige reisiger. Daar is altyd ’n dringende roepstem binne haar om te reis, om elders te wees. Vir haar is dit “onmoontlik om één ding uit te wys. [Haar] verbondenheid aan hierdie wye, droewe, befokte land is ’n sintuiglike ervaring. Dit is nuanse en skakerings, ’n vervlietende weerkaatsing, die geheim van ’n gedagte.”

FOTO: Liani Scholtz

Die goed laat haar diep verlang en daarom keer sy altyd terug van haar reise af, om daardie verlange na haar land te stil.

Vir elkeen van die skrywers is dit iets anders wat Suid-Afrika vir hulle besonder maak.  

Andries Bezuidenhout besing die waarde van ’n eier-mayonnaise-begrafnistoebroodjie, dié een ding wat dalk ware troos bied, teenoor die troos van standvastige rituele, die “voorgeskrewe dans van die lewendes met dié wat pas gesterf het?”

Marius Crous skryf oor melktert, Emile Joubert oor wyn en wingerde en Menán van Heerden oor rooibostee.

Ons was hier, en ons het oorleef en ons het geblom. En hier sal ons weer saam oorleef, en ons sal weer saam blom. Dis hoekom ek hier bly. Dis my heimat. Dis my komvandaan.

Vir ander skrywers is dit die natuurskoon in die algemeen, of ’n spesifieke landskap soos die Karoo, die Boland, Tafelberg en die Krugerwildtuin wat maak dat hulle ’n verbintenis met die grond het. En die verbintenis met diere word ook beskryf, en ook die taal want, sê Deborah Steinmair, sy kan rinkink in haar taal.

Selfs die gehate karwag kry ’n ereplek in die bundel in Natie Engelbrecht se humoristiese en deernisvolle skets. Dan is daar reis op agterpaaie en grondpaaie vir die skrywers, Richard van der Westhuizen en Réney Warrington, die bekoring van ‘paaie waar jy weer mens word.’  

Die uiteenlopende bydraes is die bundel laat jou net weer besef Suid-Afrika is ’n land wat onder jou vel inkruip. Maklik is dit nie om hier te woon nie, maar daar is net iets aan dié land.

Marié Heese Foto: Elna Faasen

In Marié Heese se woorde: “Ons was hier, en ons het oorleef en ons het geblom. En hier sal ons weer saam oorleef, en ons sal weer saam blom. Dis hoekom ek hier bly. Dis my heimat. Dis my komvandaan.”


Johan Jack Smith se skets: ‘Die soundtracks van die Kaap’ 

Dis sy liefde vir skryf in Afrikaans en sy agtergrond as grafiese ontwerper wat hom ’n suksesvolle redakteur maak, sê Johan Jack Smith. Foto: Melinda Stuurman

As kind was my blootstelling aan Suid-Afrika se landskappe beperk tot die omgewing naby ons huis in Virginia in die Vry­staat. ’n Sondag na Kroonpark in Kroonstad. ’n Naweek weg na Allemanskraaldam naby Winburg. Of ons jaarlikse drie weke-vakansie na Port Edward aan die KwaZulu-Natalse suid­kus.

Wat is die nut, die kinders kan nie eens swem nie, want die water is te donners koud.

Daar was natuurlik die familiekuiers – my tannie Evelyn se plot op Putfontein naby Springs en my pa se neef, oom Quar­tus, se pragtige plaas naby Colenso in Natal.

Die Kaap was ons nooit beskore nie. Ons het nie familie daar gehad nie en my pa het altyd gesê: “Wat is die nut, die kinders kan nie eens swem nie, want die water is te donners koud.”

Plekke soos die Noord-Kaap en die Weskus het ek eers be­leef as student – deur kunstefeeste of meisies wat daar gebly het. 

Soos die jare aanstap, dink ek gereeld aan dié plekke. Daai herinneringe gaan altyd gepaard met ’n spesifieke iets – iéts wat die mense van dié kontreie op ’n manier omraam. Wat dit meer epies maak – dit is musiek. 

Die mense is een ding. Die landskappe ook. Maar as daar musiek in die agtergrond is – oor die radio of deur oorfone op jou kop – raak iets meer spesiaal. 

Snaaks genoeg is dit die Noord-Kaap en die Weskus se sound­tracks wat altyd die hardste en duidelikste speel wanneer ek daai films in my kop terugspeel.

Lirette, ’n meisie met wie ek uitgegaan het as student, se ouers het op Carnarvon in die Karoo gebly. Ek het geen idee ge­had hoe dit daar lyk nie. Ek het die Kalahari se woestyn verwag.

Gedurende ’n Aprilvakansie is ek saam met haar Carnar­von toe in haar blou 1400 Datsun-bakkie. Ek het geslaap terwyl sy bestuur het. Naby Britstown word ek wakker met ’n gesing van haar kant af. “Skipskop” van David Kramer.

“Dit reën in die Karoo,” sê sy. Die vreugde op haar gesig tasbaar. Ek het dit eers later verstaan.

Die mense van daai kontrei wat ek ontmoet het, was van die vriendelikste mense wat ek nog teëgekom het. Hoe nader ons aan haar tuisdorp gekom het, hoe meer het die boere wat in hul bakkies verbygery het vir ons gewaai. Dit sien jy nie in die stad nie.

Dis asof hoe verder mens uit die stad ry, hoe vriende­liker raak die mense. Dit het my laat dink: Ek kan sien hoe­kom toeriste so mal is oor ons land. Ek dink nie dit gaan nét oor ons swak valuta nie. Dis hoe die landskap, en die mense, ver­ander oor ’n paar honderd kilo’s. Dis asof Suid-Afrika uit ’n klomp vreemde, uiteenlopende lande bestaan. 

Haar ma het altyd vroegoggend in die kombuis Sarah Bright­man geluister terwyl sy saam neurie. Alhoewel hulle in ’n dorpshuis gewoon het, het dit geruik soos ’n plaashuis – die reuk van vloerpolitoer en ou houtmeubels het jou neus gevul wanneer jy deur die gange stap.

Desember 1999 het ons gaan vakansie hou op Strandfontein aan die Weskus. Weer was ek ontnugter. Ek was gewoond aan die groen bosse en bome van Natal wat jou aan die hand lei tot in die blou see.

Hier was dit Karooysterklip en -koppies – en skielik – die oseaan. Weer was dit die mense van die kon­trei wat betower het – met die Klipwerf-boereorkes oor die kom­buis­radio met kreef in ’n pot, bure en vriende wat sommer skof­fel op die kombuisvloer.

Dit is egter die rit soontoe wat my die meeste bybly.

Ons is tweeuur in die oggend uit Carnarvon om die tog Strandfontein toe aan te pak. Toe ons deur die Knersvlakte ry, was “Die Mystic Boer” van Valiant Swart op my Discman – daar kon nie iets meer gepas wees nie. 

Die Kaap is vir my sinoniem met mense, plekke en sound­tracks. In 2003 is ons KKNK toe vanaf Bloemfontein en ons het feitlik die heelpad net Afrikaanse musiek geluister. Toe ons Oudtshoorn binnery het “Botteltjie Blou” van David Kramer gespeel. Hier het ek tuis gevoel.

Dié emosionele oomblik was wel al vroeër in aanloop met “Beautiful in Beaufort-Wes” van Gert Vlok Nel. Hoe kan ’n mens dan nie ’n traan pink nie?

Ek was al in Engeland en Skotland ook, met hul eie unieke soundtracks. Maar dis asof die liedjies hier op eie bodem dieper die oor inwurm. Hulle bly altyd bo-aan die charts.

Walkmans het verander in Discmans. Discmans in iPods. iPods in selfone. Jy het nie meer kassette, CD’s of radio-opvangs nodig nie – solank jy data het, is jy reg.

Foto ter illustrasie: pocket-lint.com
Foto ter illustrasie: pocket-lint.com

Maar op die ou end, bly die liedjies dieselfde. En ek is seker daar is ’n gunsteling êrens wat jy kan smee met die landskap, of met ’n spesifieke oomblik.

Ek durf nooit die langpad aan sonder ’n playlist nie.

As Suid-Afrika ’n lyf was, is musiek die hoendervel wat tydig en ontydig uitslaan op sy geleerde vel. Want wat is die lewe sonder ’n soundtrack?

* Prys kan verander sonder vooraf waarskuwing.

JONGSTE UITGAWE

Mei/Junie-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees