Van die vlaktes van Montana tot romantiese Parys

akkreditasie
Skrywer Janet Skeslien Charles kom uit ’n landelike gemeenskap in Montana. Sy het haar jongste roman geskryf vir al die Lilies van die wêreld, sodat kleindorpse meisies sal weet hul stories is net so belangrik en interessant soos stories wat in Parys afspeel.
 
 inspirasie, woorde
Janet Skeslien Charles. Foto: Anna Tochter.
Anna Tochter

So verduidelik Janet per e-pos oor waarom sy die storielyn van kleindorpse Lily, een van die hoofkarakters in haar boeiende roman, The Paris Library (Charles, R335), in die dorpie Froid in Montana laat afspeel. Janet laat die verhaal in Februarie 1939 in Parys afskop, in die aanloop na die Tweede Wêreldoorlog. Odile Souchet doen aansoek vir ’n pos by die Amerikaanse Biblioteek in dié stad. Haar groot liefde is boeke en haar droom word waar toe sy die werk kry. Haar pa, ’n polisiehoof in Parys, wil egter sy enigste dogter getroud sien en hy bring ’n tou van moontlike kandidate om Sondae by die gesin te kom eet. Uiteindelik kry een dit reg om Odile se hart te wen. Toe die oorlog in alle erns uitbreek, verset Odile en haar kollegas by die biblioteek hulle subtiel teen die Nazi’s deur aan te hou om boeke by die uiteenlopende lesers van die biblioteek af te lewer.

Dié storielyn wat afspeel van 1939 tot 1944, word afgewissel met die een in Froid, Montana, VSA, van 1983 tot 1984.

Lily is ’n eensame tiener wat meer uit die lewe wil hê as wat haar kleindorpse bestaan in Froid haar bied. Wanneer sy ’n skoolprojek moet doen, besluit sy om haar misterieuse buurvrou Odile te vra of sy ’n onderhoud met haar kan doen. Odile van die Amerikaanse Biblioteek in Parys woon nou op dié dorpie, die weduwee van Buck Gustafson, ’n Amerikaanse soldaat. Soos die twee mekaar meer begin vertrou, ontstaan ’n onwaarskynlike vriendskap tussen die jong Lily en die ouer Odile.

Tussen die blaaie van die roman word die leser bekend gestel aan die versetbeweging in Parys tydens die oorlog. Die aaklighede van die verraad en ondermyning in ’n gemeenskap word toegelig, hoe oorlog vriend teen vriend kan laat draai en wat mense sal doen om die aaklighede te ontkom. Tog is daar altyd die onbesonge helde wat onder moeilike omstandighede menslik en met waardigheid teenoor hul getroue ondersteuners optree. Die vir wie lojaliteit, etiese gedrag en menswaardigheid die botoon voer. Soos wat Lily meer leer oor Odile se lewe en die oorlog, besef sy dat die gras nie altyd groener is aan die ander kant nie. Froid is dalk vervelig en voorspelbaar, maar daar is ook inspirasie in die gewone te vinde.

 
 inspirasie, woorde

Ek het per e-pos met Janet Skeslien Charles oor The Paris Library gesels.

Vertel Suid-Afrikaanse lesers meer oor jouself, wie jy is en hoe jy begin skryf het.

Ek het grootgeword op ’n klein dorpie op die vlaktes van Montana, so ongeveer 30 minute se ry van die Kanadese grens af. Een van die bure was ’n oorlogsbruid van Rouen in Frankryk. Ek het gedink sy was ongelooflik dapper om haar familie, vriende en vaderland te verlaat om met ’n man te trou wat sy nie eens goed geken het nie. Omdat ek baie tyd saam met haar bestee het, wou ek ’n boek oor ’n oorlogsbruid skryf.

Ek het daarna gesmag om die buitewêreld te besoek, veral Frankryk. Eers het ek as ’n onderwysassistent gewerk en later ’n pos by die Amerikaanse Biblioteek in Parys gekry. Dis waar ek die stories van die internasionale span bibliotekaresses tydens die Tweede Wêreldoorlog gehoor het. Die twee storielyne het bymekaar gekom vir The Paris Library.

My liefde vir skryf kom van my liefde vir lees. Toe ek ’n kind was, het my ma my ouma wat nooit leer bestuur het nie, na die kruidenierswinkel en plaaslike biblioteek aangery. Op hierdie weeklikse ekskursies het ek geleer dat boeke net so voedsaam soos kos is. My ma en ouma het my bekend gestel aan boeke en my ma is in elke woord wat ek skryf.

Ek skryf al vandat ek twaalf is, maar noudat ek ’n paar boeke gepubliseer het, is ek ’n skrywer. Skryf is nie iets wat ek doen nie, dit is wie ek is. 

Hoe benader jy jou skryfwerk, met ’n streng roetine op ’n spesifieke plek?

Ek hou daarvan om soggens wanneer my kop vars is, te skryf. Ek het ’n stil plek nodig waar ek kan skryf en reflekteer. As ek vir ’n paar dae nie geskryf het nie, voel ek kriewelrig.

Is jy van nature aangetrokke tot geskiedkundige verhale?

Om die waarheid te sê, toe ek die boek geskryf het, het ek nie daaraan gedink as geskiedkundige fiksie nie. Ek het gedink dis ’n storie wat ek móét vertel. 

Wat was die vonk wat die verhaal van The Paris Library vir jou aan die brand gesteek het?

Ek het die storie van die heldhaftige biblioteekpersoneel wat die Nazi’s teengestaan het, by my kollegas gehoor. Toe ek navorsing gedoen het oor die direktrise, Dorothy Reeder, en haar vertroulike verslag oor die Nazi-besetting gelees het, het ek koue rillings gekry! Ek hoop lesers voel dieselfde as hulle van die moed van die Parysenaars in my roman lees. Lesers kan die vertroulike verslag hier lees: https://www.jskesliencharles.com/behind-the-book 

Het jy baie navorsing gedoen en was daar iets wat aan die lig gekom het wat jou verras het?

Die boek het tien jaar geneem om na te vors en te skryf. Ek het koerante soos Le Figaro en die Paryse uitgawe van die New York Herald asook tydskrifte van dié tydperk gelees. Ek het ook deur ’n paar jaar se uitgawes van die Library Journal gewerk om die sorge van bibliotekaresses te verstaan. Buiten geskiedenisboeke oor die Tweede Wêreldoorlog en die Koue Oorlog, het ek verskeie vroue se memoires – van boekverkopers tot bordeeleienaresse en joernaliste – gelees om meer te leer oor die lewe in Parys tydens die oorlog.

My grootste ontdekking was die inligting oor die lewe van die direktrise, Dorothy Reeder. Ek weet sy was ongelooflik dapper. Sy het aangebly as die hoof van die biblioteek toe die ambassadeur aanbeveel het dat alle buitelanders Frankryk moet verlaat. Tydens my navorsing het ek ontdek sy het, nadat sy Parys verlaat het, vir die Rooi Kruis in Florida geld ingesamel en mense van dié organisasie se werk bewus gemaak. Sy het ook bibliotekaresses opgelei by die nasionale biblioteek in Bogotá, Colombië. Toe keer sy terug na Europa saam met die Rooi Kruis. Sy het haar loopbaan afgesluit by die Library of Congress in Washington D.C. In die 1940’s het hierdie bibliotekaresse op drie kontinente gewerk. Hoe ongelooflik!

Hoe skep jy jou karakters en grond jy hulle op regte mense?

Agtergrond is vir my die belangrikste element. My boeke en karakters kom vanuit ’n sin van plek. Hoe mense optree, word bepaal deur waar hulle vandaan kom. Lesers het my vertel die biblioteek is ’n karakter in die boek. Ek het foto’s van al my karakters gekry, van die direktrise tot die Nazi’s se “beskermer van biblioteke”.

Een van my oogmerke met The Paris Library was om die ware verhaal van die regte bibliotekaresses te vertel. Dorothy Reeder was ’n ongelooflike vrou en dis so hartseer dat haar naam selfs in Parys onbekend is. Ek sal daarvan hou as lesers Dorothy leer ken en geïnspireer word deur haar geloof dat boeke brûe is. 

Die storie speel af oor twee tydlyne, hoe het jy besluit wanneer om dit tussen die hede en die verlede af te wissel? En het jy die verhaal uitgeplot?

Vir my is die hele punt van die roman die oordra van stories. Odile vertel vir Lily haar storie en die mense van die Biblioteek leef voort deur Lily. Sy hou hul nagedagtenis lewend. Ons is almal goed met praat, maar min van ons is goed met luister.

Aan die einde van die roman, by die gradeplegtigheid, sien ons Lily het regtig na Odile geluister. Sy herhaal nie net woorde van haar ouers nie, maar ook van die patrons van die Biblioteek. Al het Lily hulle nooit ontmoet nie, ken sy hulle baie goed. Sonder Lily is daar geen Parys-storie nie.

Dit het ’n hele paar maande geneem om die roman uit te plot. Ek wou hê die deel oor die Koue Oorlog van die 1980s’ moes die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog reflekteer. Albei dele van die boek begin met angs en onsekerheid. Én albei eindig op ’n positiewe noot, met ’n vredesberaad en die Bevryding.

’n Onwaarskynlike en verrassende vriendskap ontwikkel tussen Odile en Lily. Wat trek hulle na mekaar aan?

Behoefte. Hulle het mekaar nodig. Odile en Lily is baie dieselfde en kan by mekaar leer. Lily kan leer om te dink voor sy praat, en Odile kan leer om na ander uit te reik. Ek is mal oor vriendskappe oor die grense van generasies heen.

Boeke vorm die hart van die verhaal. Waarom boeke as die hooftema gebruik?

Ek is lief vir boeke en wil my passie deel. Ek hoop lesers sal die boeke wat ek in The Paris Library noem, self ontdek nadat hulle my boek gelees het. ’n Paar boekklubs het vir my gesê hulle het Their Eyes Were Watching God gekies as gevolg van my roman. Dit maak my baie bly.

Is jy besig met ’n nuwe boek?

Ek skryf ’n nuwe roman wat in Frankryk afspeel. Oor nog ’n ongelooflike bibliotekaresse wat nie die erkenning gekry het wat sy moet nie. Kom ons hoop dat vroue vandag erkenning sal kry vir alles wat hulle vermag. 

JONGSTE UITGAWE

SEPTEMBER/OKTOBER 2021

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees