In hierdie verhale is dit liefde, vreugde, verlies, vrees en pyn wat mense nader aan mekaar bring. En natuurlik hoop, want dis die een ding wat mense deur ondraaglike lyding aan die lewe hou.
Belangriker nog is om nie geheime te hou vir die mense wat jy liefhet nie, al is die waarheid hoe moeilik om te verteer.
‘The Love of My Life’, Rosie Walsh (Mantle, *R340)
Emma, Leo en Ruby. Op die oog af is hulle die perfekte klein kerngesin. Saam met John Keates, die gesin se hond wat na jungle-musiek moet luister om sy senuwees te kalmeer, voer hulle ’n rustige en gelukkig bestaan.
Emma is passievol oor haar werk as marinebioloog en Leo werk vir die plaaslike koerant as skrywer van doodsberigte. Ná tien jaar saam weet hulle alles van mekaar. Wel, amper alles. Die lewe het soms die nare gewoonte om ’n mens te herinner dat ware geluk dikwels van korte duur is.
Emma het bloedkanker, maar al voel die toekoms onseker, lyk dit of die behandeling suksesvol is. Vir Leo is die enigste manier om die onsekerheid te verwerk om oor Emma te skryf.
Maar hoe meer hy navorsing doen oor die vrou wat hy liefhet, hoe meer besef hy dat Emma gedeeltes van haar verlede vir hom wegsteek. Wanneer hy haar wel konfronteer, gee sy sonder huiwering telkens ’n logiese verklaring vir sy agterdog.
Die standvastigheid onder Leo se voete begin bietjie vir bietjie meegee wanneer hy boodskappe aan ’n ander man op Emma se foon ontdek en sy daarna spoorloos verdwyn.
Walsh se vermoeë om ons in die donker te hou oor Emma se geheime verlede is meesterlik. Alhoewel omstandighede ook vanuit haar perspektief vertel word, word weinig leidrade gegee om gevolgtrekkings van te maak.
Wanneer die identiteit van die man met wie sy per selfoon kommunikeer bekend word, is dit amper te maklik om te raai wat die groot geheim is. Is hierdie bloot nog ’n storie van ’n buite-egtelike liefdesverhouding of is dit iets anders?
Niks is werklik soos dit op die oog af lyk nie. Walsh is beide vernuftig en geslepe in die manier hoe sy die komplekse web spin waarin Emma haarself verstrengel het en ons dan ook daarin vasvang. Wie se kant moet ons kies? Is Emma regtig die meanie in die storie?
The Love of My Life is ’n sobere aanmaning dat die lewe te kort is om geheime te hou van die mense wat jy liefhet, al is die waarheid hoe moeilik om te verteer. Daarbenewens het dit genoeg intrige en raaisels om selfs die skerpste lesers op hul tone te hou. – Sonja van der Westhuizen
‘The Seven Sisters’, Lucinda Riley (Macmillan, *R360)
Lucinda Riley se gewilde reeks, The Seven Sisters, is gegrond op die sewe susters van Pleiades. Volgens legende was elkeen van dié mitologiese susters unieke, sterk vroue. Party reken hulle was die sewe moeders wat die aarde besaai het met hul menigte kinders by die verskillende gode.
In die reeks word ses meisies deur die raaiselagtige Pa Salt van reg oor die wêreld aangeneem. Hulle word grootgemaak in die toweragtige Atlantis op die oewer van die Meer van Genève deur die oppasser, Marina, of soos hulle haar noem, Ma.
Die dogters word vernoem na die sewe susters, Maia, Ally (Alcyone), Star (Asterope), CeCe (Celaeno), Tiggy (Taygete) en Electra. Die sewende suster, Merope, het nooit haar verskyning gemaak nie en almal verwys na haar as “the missing sister”.
Wanneer Pa Salt skielik sterf, los hy vir elke dogter ’n brief, koördinate en ’n aanhaling om hulle op ’n ontdekkingsreis na hul herkoms te plaas.
Elke boek bestaan uit ’n suster se verhaal, die hede en die verlede, daar waar alles begin het.
Die boeke in volgorde is: The Seven Sisters (Maia), The Storm Sister (Ally), The Shadow Sister (Star), The Pearl Sister (CeCe), The Moon Sister (Tiggy), The Sun Sister (Electra) en The Missing Sister (Merope).
Hierdie reeks gaan oor die mense naaste aan jou: Familie. In die verhale is dit liefde, vreugde, verlies, vrees en pyn wat mense nader aan mekaar bring. En natuurlik hoop, want dis die een ding wat mense deur ondraaglike lyding aan die lewe hou.
Ek was mal oor die reeks en kan nie wag om die laaste boek oor die enigmatiese Pa Salt te lees nie.
Dié boek, Atlas: The Story of Pa Salt, behoort in 2023 gepubliseer te word.
Voor haar dood in Junie 2022, ná ’n vier jaar lange stryd teen kanker, kon Lucinda belangrike dele van die laaste boek skryf en het sy ook omvattende notas agtergelaat oor hoe die storie moet verloop.
Haar oudste seun, Harry Whittaker, het saam met haar aan die boek gewerk en sy het die wens uitgespreek dat hy dit moet voltooi in geval van haar afsterwe. – Alma Liebenberg
‘Seven Days in June’, Tia Williams (Quercus, *R355)
Dié boek deur Tia Williams was ’n absolute plesier om te lees. Wililams vertel die storie van Eva en Shane met tong-in-die-kies humor wat steeds die erns van tiener-trauma, siekte, en gebroke harte in ag neem.
Eva en Shane het 20 jaar gelede as tieners halsoorkop verlief geword. ’n Enkele week was genoeg om hul lewens onherroeplik te verander.
Vandag is albei gevestigde skrywers. Ondanks die feit dat hulle in dieselfde kring beweeg, het hul paaie nog nooit weer gekruis nie. Totdat hulle by ’n literêre geleentheid in dieselfde vertrek beland, en almal begin bespiegel oor die energie tussen hulle. Só skop ’n nuwe week in Junie af.
Dis dieselfde rolspelers, dieselfde gevoelens, maar ’n nuwe hoofstuk in albei se lewens. Is die band tussen hulle sterk genoeg om dit dié keer te laat werk? En wat het 20 jaar gelede daartoe gelei dat hulle vir twee dekades mekaar nie in die gesig kon kyk nie?
Blaai die eerste bladsy om, en vind uit! – Elmari de Vos‘The Silent Treatment’, Abbie Greaves (Century, *R198)
Frank en Maggie is al veertig jaar getroud en oortuig dat die liefde altyd oorwin. Tot hul woorde opdroog en hulle vir ses maande nie met mekaar praat nie.
Toe die stilte vir Maggie te veel raak, maak sy ’n besluit wat alles verander. Waar Frank langs haar hospitaalbed sit, berou hy sy stilswye. Selfs al is sy vrou in ’n koma, sien hy nie kans om vir haar die waarheid te vertel nie.
Terug by die huis ontdek hy Maggie se dagboek en kom agter dat hy nie die enigste een was wat geheime gehad het nie. Frank jaag terug hospitaal toe om die stilte tussen hulle te verbreek. Is dit te laat vir hulle om oor te begin?
Die storie word uit verskillende oogpunte vertel en wissel tussen die hede en verlede. Die volle prentjie word geleidelik duideliker in hierdie pragtige en hartverskeurende verhaal van liefde, verlies en hoop. – Danica Gouws
‘A Lady’s Guide to Fortune-Hunting’, Sophie Irwin (HarperCollins, *R330)
Debuutskrywer Sophie Irwin het die boekwêreld op indrukwekkende wyse betree met haar eerste roman, A Lady’s Guide to Fortune-Hunting.
Irwin se verhaal speel af in Regency Engeland, teen die agtergrond van al die sosiale druk wat vroue ervaar het, veral vroue sonder ’n fortuin.
Die elemente van Jane Austen saam met Irwin se spitsvondige skryfstyl, maak hierdie roman perfek vir liefhebbers van die Bridgerton-reeks. Maar soos met enige moderne interpretasie van geskiedenis, moet lesers maar die verhaal met ’n knippie sout neem.
Irwin se roman is nie altyd histories akkuraat of realisties nie, maar dit is beslis vol pret!
A Lady’s Guide to Fortune Hunting volg die avonture van ’n onkonvensionele heldin wat haarself op die Londense toneel plaas met een doel voor oë, en dis om ’n ryk man te vind.
Kitty Talbot het ’n fortuin nodig. Of eerder, sy het ’n baie ryk man nodig. Met sy dood het Kitty se pa haar agtergelaat met ’n massiewe skuldlas, asook die verantwoordelikheid om vir haar susters te sorg. Vandaar die soeke na ’n ryk man.
Die laaste ding wat sy egter verwag, is om ware liefde te vind. – Carmen Coetsee
* Prys kan verander sonder vooraf waarskuwing.