Deel

Vir jou boekrak: Heerlike staaltjies en aangrypende verhale in die lug en op water

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Wanneer jy ’n passasier op ’n vliegtuig of skip is, is jy uitgelewer aan die kaptein. Dan hoop jy hy is verantwoordelik, akkuraat en vreesloos, sodat jy jou bestemming veilig kan bereik.

Robert Schapiro vertel in sy boek staaltjies oor sy 30 jaar as vlieënier aan die stuur van passasiersvliegtuie en ook van die bemanning se eskapades.

Andrew Pike fokus weer in sy boek op die passasierskip, Oceanos, wat op 5 Augustus 1991 sowat 10 km van Koffiebaai aan die Transkeise Wildekus gesink het. Dit was een van die wêreld se mees dramatiese en suksesvolste reddingsaksies.

Die twee boeke gee lesers ’n kykie in die wêreld van lug- en seevaart.

“Secrets from the cockpit” deur Robert Schapiro (Jonathan Ball Publishers, R270*)

vlieënier, eskapades, vliegtuig

Die subtitel van die boek is Pilots Behaving Badly and other Flying Stories en bestaan uit Robert Schapiro se vertellings oor sy 30 jaar as vlieënier.

Wanneer jy as passasier in ’n vliegtuig sit, hoop jy die volgende karaktereienskappe is van toepassing op die man aan die stuur van jou lugskip: verantwoordelik, akkuraat en vreesloos. In Schapiro se beskrywing van die lewe van vlieëniers op buitelandse vlugte vertel hy jou van dié eienskappe.

Maar hy skets ook die verskil tussen ’n bestaan in die wolke en die kaperjolle as die bemanning afkom aarde toe.

Die wenkbrou-lig-dele oor die kaperjolle van die kapteins as hulle oorsee tyd in hotelle moes omkry, is eintlik jammerlik-interessant. Nie net die bemanning se buitelandse liefdes en romantiese eskapades kry aandag nie, maar Schapiro vertel ook wat passassiers daar bo in die wolke aanvang.

Robert Schapiro. Foto: cityofhope.org
Robert Schapiro. Foto: cityofhope.org

Mense se gedrag is onvoorspelbaar en lei tot heerlike staaltjies.

Vir my was die interessantste deel Schapiro se staaljies oor sy tyd by Japan se Nippon-lugdiens en die vlugte wat hy tussen New York en Tokio onderneem het. As Westerling moes hy sekere Oosterse gebruike aanleer en noodwendig was daar ’n paar ergerlike misverstande.

Schapiro neem jou ook op sy  persoonlike reis van vasbyt en deursettingsvermoë om ’n vlieënier te word, ondanks die boeliegedrag wat hy in sy jongdae ondervind het. In sy 30 jaar as vlieënier het hy heelwat ervaar en beleef en hy gee vir lesers ’n goeie idee van wat ’n loopbaan in die wolke behels.

Schapiro is in 2017 oorlede aan mesothelioma, ’n tipe longkanker. 

“Against all Odds. The Epic Story of the Oceanos Rescue,” deur Andrew Pike (Jonathan Ball, R250*)

oceanos, skip, sink

Die Oceanos wat van Oos-Londen na Durban sou vaar, het in 1991 langs die Wildekus gesink. As joernalis het die drama wat toe op see afgespeel het en foto’s in die koerante van mense wat gered is, my destyds aangegryp. Met groot nuuskierigheid het ek dié boek oor die ramp begin lees.

Die skrywer, ’n prokureur wat spesialiseer in maritieme sake, was deel  van die ondersoekspan ná die skip se sinking. Feite en die menslike drama en optrede van die helde van die see-redding (én dis nie die Griekse bemanning nie!) sorg vir ’n uiters fassinerende boek.   

Die nodige agtergrond oor die skip self, die gevaarlike Wildekus, beskrywings van sommige van die passassiers en van die personeel word in die begin gegee. In latere hoofstukke kry die leser weer met die mense te doen. Soos die baas wat met een van sy werknemers ’n “stout” naweek op die Oceanos bespreek het, en toe danksy die see-drama uitgevang is.

Ten spyte van ’n waarskuwing dat golwe van 6 tot 10 meter op see verwag word, het kaptein Yiannis Avranos besluit om die oseaan aan te durf.

Maar die Oceanos het in die stormweer begin water skep en gekantel. Moontlike oorsake word deur Pike uitgelig, maar die reaksie van die mense aan boord, is wat my in ongeloof verder laat lees het. Nie almal het dadelik besef dat daar fout is nie. Die musikant, Moss Hills, wat baie dapper opgetree het, het wel. 

Nadat die noodoproep (met morsekode, aangesien satellietsein nie gewerk het nie) gemaak is, het ’n intensiewe reeks beplannings en optredes gevolg om mense van die sinkende skip te red.

Hierdie beskrywings van Pike is vir ’n leek besonder interessant. Veral as jy agterkom hoe moeilik dit was om passassiers in die stormnag in die lewensbote neer te laat, terwyl daar vooraf geen inoefening was nie. Dat die kaptein en van die bemanning ook gou gesorg het dat hulle in die reddingsbote kom, blyk waar te wees.

Die belangrikheid van die kuswag se seine (ons landrotte weet mos niks hiervan nie), die heldhaftige optrede van helikoptervlieëniers van die SA Lugmag en ook van sommige van die manskappe wat hul lewens die nag gewaag het, word uitgewys. Dat daar geen lewensverlies was nie, kan jy amper nie glo nie. Veral as jy lees hoe erg die stormsee die reddingsaksie bemoeilik het.  

* Pryse is onderhewig aan verandering sonder voorafkennisgewing.

JONGSTE UITGAWE

Mei/Junie-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees